badkamer toe. Sy slaap nog nie, hy weet. Hy borsel sy tande en gaan kruip onder die duvet in. Lê in die donker en dink met sy arms agter sy kop gevou.
“Jy is reg.” Hy steek sy hand na haar toe uit. “Dis nie jy nie … die bors, bedoel ek. Ek kan sonder ’n bors, maar ek kan nie sonder die res van jou nie.”
Sy vryf haar voet op en af teen sy kuit. Hy trek haar teen hom vas en streel oor haar borste terwyl hy aan Will en die stukkie dink.
Toe hulle liefde maak, fluister hy in haar oor: “Jy moet nêrens heen gaan nie. ’n Bors is nie ’n issue nie.”
* * *
Ingrid lê en luister na die mossies in die tuin. Die oggendlig skyn deur die oopgetrekte gordyne. Lewe. So eenvoudig soos dit, sê die voëltjies. Geen planne op die lange duur, leef net vir wat vandag gedoen moet word.
Op ’n manier het sy dit tog verwag, al het sy hard probeer om daarvan te vergeet. Ná die eerste knop en die toetse wat daarop gevolg het, het sy besluit om nie vir die lange duur te leef nie. Leef vir vandag en doen wat vandag gedoen moet word.
Sy én Adriaan. Hulle het saam gelag, tot begin fietsry en gesonder geëet. Net nou en dan oordaad in ’n goeie restaurant. Hulle was op ’n manier nader aan mekaar as voorheen.
En sy het besluit sy gaan nie elke aand haar borste onder die stort bevoel vir ’n voorbode nie. Het sy haar verbeel dat Adriaan ook anders aan haar borste begin vat het? Het hy ook onheil probeer naspeur?
Hy kom in met sy aktetas in die hand en sit haar beker koffie op die bedtafeltjie neer. “Ek moet waai.”
Toe hy oorbuig en haar soen, ruik sy die Aramis wat Magdi vir hom uit Londen gestuur het. By die deur draai hy om en kyk na haar, verdwyn dan gangaf. Sy luister hoe die Mercedes by die hek uitry.
In die badkamerspieël kyk sy lank na haar borste. Is dit regtig so dat ’n vrou nie haar borste is nie? Dis maar net are en weefsel en bloed. Jou hart en jou kop en wat jy is en wat jy voel oor mense en dinge sit tog nie dáár nie.
En dis nie te sê nie. Daar kan selfs ’n kleinkind in hulle toekoms wees. Sy en Adriaan kan nog baie reis, saam oud word. En sy weet sy’s meer as twee borste vir hom.
Sy trek aan en bel vir Soekie. “Sal jy kan wegloop vanmiddag? Ek het geselskap nodig.”
“Is iets fout?” vra Soekie.
“Nee, wat. Dis net … Ek het weer ’n knop in my bors.”
Dis stil aan die ander kant.
“Kom ons gaan eet vanmiddag iets by daai plek onder die bome,” sê sy vinnig. “As jy kan wegkom.”
“Ek sien twaalfuur ’n student, maar ek kom sodra ek klaar is. Is jy oukei?”
“Ja, wat.”
Sy groet en druk die foon dood, sit ’n oomblik deur die kamervenster en kyk. Bel vir Phoebie.
“Ek en Soekie gaan so eenuur iets eet, by die plek waar ons met jou verjaardag was. Kom jy saam?”
“Beslis. My ma kom kuier volgende week, ek het morele onderskraging nodig.”
Ingrid ry kantoor toe.
Sy groet vir Sandra wat voor die rekenaar doenig is, maak koffie, blaai deur haar dagboek. Tienuur moet sy die uitslae van die Uys-mense se kind met hulle bespreek. Sy sien op daarteen. Hoe vertel jy vir ouers wat met blink oë en vele verwagtinge voor jou sit dat hulle kind nie heeltemal universiteitsmateriaal is nie? Sy intelligensiekoëffisiënt is net nie ’n pasmaat vir die ambisieuse keuse wat hulle in gedagte het nie.
Dis onregverdig, dink sy soos vele kere tevore. Dié wat studies by ’n duur universiteit kan bekostig se telg het dikwels nie die vermoë nie. Dan kom sit hier kinders uit arm huise of die stad se townships en hulle het ongelooflike potensiaal, maar die ouers kan nie bekostig om hulle te laat studeer nie. Die groot gesukkel om vir hulle beurse te kry, en dan kan sy dit nie oor haar hart kry om vir hulle ’n rekening te stuur vir haar beroepsvoorligting nie.
Sy is nie ’n skerp sakevrou nie, sê Adriaan gereeld.
Maar sy weet ’n faktuur in die pos is lankal nie meer waaroor dit vir haar gaan nie. Sy lewer ’n bydrae, al is dit gering. Sy maak vensters oop vir mense wat dit andersins nie sou regkry nie. Universiteite kan net sóveel beurse toeken, en firmas is uitsoekerig. Gee die beurs vir die veilige belegging, die toppresteerders. En die banke soek sekerheid voor hulle ’n lening toestaan.
Dis haar missie om vir kinders met potensiaal geleenthede te skep. Daardie wat by kerslig in ’n township moet studeer, met vele sibbe saam in die tweevertrekhuis en moontlik fornikerende mense onder dieselfde dak. Daar ís nog firmas wat verby BEE-punte en -syfers kyk en op prestasie fokus.
Adriaan sê dikwels sy moet die werk los en by die huis op die bank gaan lê en die lewe geniet. Veral ná die eerste keer. Hulle het tog nie regtig die geld uit haar praktyk nodig nie.
Sy oorweeg dit soms, maar dan dink sy aan die grootoog-kinders wat met vele verwagtinge tóg op ’n wonderwerk hoop wanneer hulle in haar kantoor beland. En veral aan dié wat met geen verwagtinge nie voor haar kom sit. Die vele planne wat sy moet maak om vir hulle ’n lewe te help bedink, die dankbaarheid as sy dit regkry. Sy maak ’n verskil, sy weet, al is dit nie berge wat sy van die Kaap tot in Musina geskuif kry nie.
En sy dink ook aan Phoebie wat al jare lank langs die swembad lê en die verveling en gevoel van nutteloosheid wat sy dikwels op haar gesig sien – al sal Phoebie dit nie sommer erken nie. Jy kan ook net sóveel aardse besittings versamel en sóveel middagetes saam met vriendinne doen, weet Ingrid.
Sy antwoord e-posse en takel die lys firmas, baie van hulle onbekend, wat moontlik bereid sal wees om ’n kans te waag met ’n kind. Toe Sandra tien minute voor tien om die deur loer en sê die Uyse wag, trek sy Luan Uys se lêer met ’n sug nader.
Sy stap na die klein konferensievertrek langs haar kantoor. Wat sy deur die jare geleer het, is dat jy eerlik moet wees, al is dit hoe moeilik. As ’n kind nie op universiteit hoort nie, moet jy dit so diplomaties moontlik vir die ouers en die kind sê. En dan moet jy regstaan met alternatiewe. Die geld is beskikbaar en ’n kind se toekoms is op die spel.
Die Uyse is teleurgesteld, soos wat sy verwag het. Maar uiteindelik kry sy hulle tog opgewonde oor die kollege waar sy dink Luan gelukkiger gaan wees. Toe hulle met die pakkie brosjures onder die arm uitstap, bring Sandra tee.
Ingrid gaan staan voor die venster en staar na die klein tuin van die gerestoureerde huis waarin sy ’n paar vertrekke huur. Sy teug aan haar tee, vat ingedagte aan haar linkerbors. Weefsel en are en bloed wat dalk weer siek geword het.
Kort ná twaalf klim sy in haar motor en ry na die eetplek aan die buitewyke van Pretoria-Oos. Dit was glo jare gelede ’n plaasopstal, dié mooi ou huis met die laning bloekombome aan die regterkant. Hier, met voëls wat om jou kwetter, kan jy jou ’n wyle verbeel jy’s ver van die stad se gebeur, in ’n ander era selfs.
Sy sien Phoebie sit reeds by een van die tafeltjies met tafeldoeke in al die kleure van die reënboog. Sy parkeer onder ’n boom op die sypaadjie en waai vir haar.
“Julle dink seker ek’s altyd eerste hier omdat ek niks anders hét om te doen nie,” sê Phoebie sonder om te groet. Sy vee oor haar heupe. “Ek het gewig opgetel, nè? Ek is te bang om te weeg. Dit gaan my hart breek as ek opgetel het ná die hel van laas jaar.”
Ingrid glimlag. “Jy lyk mooi. En jy’s neuroties oor jou gewig. Jy is vyftig, jy gaan nóóit soos Twiggy lyk nie, altans, nie nou meer nie. Maak vrede daarmee en geniet die lewe. En Cassie is mal oor jou nes jy is.”
Phoebie wink die kelner nader. “Dis maklik vir jou om te praat. Jy is lank en jy was nog nooit vet nie. Ek’s ook nie so seker Cassie is mal oor my nie. My má kom kuier en dan is hy oor niks mal nie.”
Sy wink weer ongeduldig na die kelner. “Het julle light wyn?”
Hy knik en plaas ’n wynlys voor haar neer.
“Kom