die televisie bly sit wanneer die aankondiging kom dat die volgende program ’n gradering van seks, geweld en vuil taal het? Sit dit af. Moenie jouself daarmee besoedel nie. As ons Vader ons leer dat ons nie twee here mag dien nie, waarom steeds loterykaartjies van allerlei aard koop? Alle gelukstrekkings dien die geluksgodin. Kies wie jy wil dien, die Groot EK IS of die geluksgodin. As ons weet dat ons woorde saad word wat oor ’n dag of ’n maand soos ’n oes na ons gaan terugkom, waarom dinge praat wat God nie eer nie en ook nie uit geloof of ’n Goddelike verhouding kom nie?
As ons streef na heiligheid moet dit ons ingesteldheid word om in ons gees te groei en dít te vermy wat ons in ons sielsdimensie aan gewoontes verknog waarmee ons sukkel om te breek.
Dít is wat Lot nie reggekry het nie. Hy het gedink as hy onder die mense van Sodom bly, sal hy hulle iets kan leer, maar die teenoorgestelde het gebeur. Hul leefstyl het vir Lot so aanneemlik geword dat hy homself nie meer daarvan kon verwyder nie. Vandaar sy getalm om te vlug, vandaar sy vrou wat stokstil gaan staan het om terug te kyk. Vandaar sy dogters se totaal walglike plan om vir hulself ’n nageslag te bewerk.
Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai. Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai (Gal 6:7-8).
Hemelse Vader, dankie dat ek uit die Woord leer dat U heilig is. Ek bely dat ek nie regtig weet wat dit vir my beteken nie. In die Naam van Jesus bid ek dat U my asseblief leer wat u heiligheid behels. En leer my dan asseblief deur die krag en inspraak van u Heilige Gees om op die pad van heiligmaking te groei! Amen.
Hagar, die ma van Ismael
Die mens wik maar God beskik
Lees Genesis 16;
Genesis 21:9-21; Genesis 25:12
Hagar het waarskynlik met Abraham se eerste besoek aan Egipte deel van sy geselskap geword. Lees gerus weer die verhaal in Genesis 16 en sien in jou geestesoog die jong meisie wat ’n slavin is. Die Bybel verwys na haar as ’n Egiptiese meisie. Was sy as slavin gebore of was sy ’n gevangene van die een of ander heerser wat haar saam met ander “artikels” as buit in ’n triomftog huis toe gebring het?
Sien die beeld van ’n tenger, mooi meisie met wie jy empatie wil hê. Soos ’n lam ter slagting word sy gelei in ’n lewe waarin sy geen sê gaan hê nie. Wat sou haar geaardheid wees? Verwese en onderdanig? Skielik verander die prentjie, want daarvan weet ’n mens nie so mooi nie. My ouma sou gesê het “sy het lewe in haar lyf gehad”, want dié kind het kans gesien om haar teenoor Sara rammetjie-uitnek te gedra.
Wat ’n verhaal van kontraste is dít tog! Abraham, die sterk man van geloof wie se geloof1 hom tot geregtigheid gereken is (Rom 4:3); hy is die man wat meer as een keer die belofte van die Skepper van die heelal ontvang het ten opsigte van ’n baie groot nageslag. Abraham het beleef hoe dié God van geregtigheid met hom in ’n ritueel ’n verbond gesluit het (Gen 15). Volgens die verbond is Abram se naam ook na Abraham (vader van ’n menigte van nasies) verander (Gen 17:5) en Sarai se naam na Sara (Gen 17:15). Lees gerus die hele deel in Genesis 17:1-21.
Later het die HERE aan dieselfde Abraham verskyn en hy ontvang die blye tyding dat hy en sy vrou binne een jaar ’n baba sou hê (Gen 18:10-14) – ’n kind wat hy later, steeds in opdrag van die God van die belofte, op die berg Moria as offerande moes vasbind.
Hierdie Abraham het twee keer gelieg oor die feit dat Sara sy vrou was. Hy het toegelaat dat sy vrou hom ompraat om by haar slavin in te gaan. Dit is ook hierdie Abraham wat twee keer toegesien het hoe die slavin by wie hy ’n kind verwek het so saam met haar kind, heeltemal op haar eie, die woestyn in vlug.
Die eerste keer was terwyl sy swanger was. Toe dit die tweede keer gebeur het, was haar kind oud genoeg om baie goed te verstaan dat hy ’n pa het wat hom en sy ma weggejaag het. Hoewel ons in Genesis 21:11 lees dat die woord van Sara ten opsigte van Ismael baie verkeerd was in Abraham se oë, het hy dit steeds gedoen.
En dan is daar die genade van die God van liefde wat, ondanks die hele rits kontrasterende gebeure, toegelaat het dat daar na Abraham verwys word as die vader van alle gelowiges (Gal 3:7).
Dit is goed om die gebeure in hierdie verhaal te oorweeg tesame met die hele kwessie van geloof en, daarteenoor, besluite wat toe nié in geloof geneem is nie. Besluite wat nie van God af kom nie, is tog nie geloofsbesluite nie. Ons neem besluite op twee maniere: óf omdat ons beleef dit is juis wat God wil hê ons moet doen, óf vanuit ons eie oordeel sonder om sy inspraak daarin toe te laat. Sulke besluite word vanuit ons sielsdimensie geneem – nie uit ons geesmens nie, maar uit ons vleesmens.
Besluite wat uit die vlees geneem word, baar nog meer vleeslike gedrag en die proses dra in sy momentum die moontlikheid dat baie mense seergemaak kan word.
In die verloop van die verhaal, veral met inagneming van Hagar, staan Sara sentraal. Toe die belofte kom dat daar vir Abraham uit die skoot van Sara ’n seun gebore sou word, het sy in ongeloof gelag. Maar sy was nie ál een wat gelag het nie. Genesis 17:17 onthul dat ook Abraham gelag het.
Ongeloof het die oorhand oor die twee mense gekry. Sou die belofte spanning veroorsaak het? Vanuit ongeloof het Sara besluit om sommer self ’n plan te maak. Sy het haar man oortuig om by Hagar te slaap. Hagar het geen sê daarin gehad nie en Abraham wat veronderstel was om ferm te staan, het Sara (in daardie stadium nog Sarai genoem) nie teëgegaan nie. Toe dit bekend word dat Hagar swanger is, het sy haar wangedra. Sy het haar meesteres geminag (Gen 16:4). Daarin het sy moeilikheid gesoek en dit is ook net mooi wat sy gekry het.
Het haar ongeloof en eiegeregtigheid Sara verder in ’n hoek gedryf? Sy kies om Hagar so sleg te behandel dat sy die woestyn in vlug. Dit is waar die Lewende God self die slavin besoek het. Hy verseker haar dat Hy háár sien, haar tóékoms en ook haar kínd se toekoms (Gen 16:11-12). Hy gee haar opdrag om terug te gaan en haar aan Sara te onderwerp.
Op grond daarvan dat Hy haar gesien het, gee die ongelowige meisie vir die Lewende God ’n Naam wat Hy waarlik laat opteken het. El Roi – die God wat sien, want Hy het haar, haar kind en hul toekoms gesien. Maar dit is hartseer dat al hierdie gebeure so vanuit die vlees plaasgevind het dat die ontmoeting met die Lewende God die slavin hoegenaamd nie in haar gees geraak het nie.
Toe Ismael 13 jaar oud was, is hy en sy pa, Abraham, op een dag besny. Die volgende jaar toe Ismael 14 was, is die seun van die belofte gebore. Toe Isak gespeen is, was dit weer Ismael se beurt om hom swak te gedra. Hy het Isak geterg op ’n manier wat tot gevolg gehad het dat Sara haar man gevra het om die slavin en haar kind weg te jaag (Gen 21:10). As dit ’n skildery was, sou ’n mens met ’n kwas hiér ’n bietjie kon vroetel en dáár iets kon byvoeg om behoorlik gestalte te gee aan die gevoelens van al die rolspelers in die verhaal. Maar dit is baie belangriker om te kyk na die keuses wat al die hartseer veroorsaak het.
Die soeke na die waarheid moet by só ’n geloofsvertrekpunt begin:
Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie (Heb 11:1, 1983-vertaling).
As “om te glo” begin daarby dat ons seker sal wees van die dinge wat ons hoop, is die eerste vraag: Waarop hoop ons? Die vraag het net een antwoord: as gelowiges hoop ons in die eerste plek op die karakter en wese van ons Vader in wie ons glo. Solank ons nie verstaan wie die God is in wie ons glo nie, kan ons nie werklik op Hom hoop nie. Die karakter van God vorm tog die boustene van sy wese. Eers wanneer ons dit verstaan, sien ons werklik kans om ons volkome op Hom te verlaat.
Die natuurlikste uitvloeisel van hierdie kennis van sy karakter, en veral die verstaan daarvan, is om ’n verhouding met Hom te bou. Uit die verhouding kom gesprek. Die gesprek bied geleentheid daartoe om besluitneming voor Hom neer te lê, want wanneer ons bid, moet ons weet dat Hy ’n werklikheid is, dat Hy luister en antwoord (Heb 11:6). Ons moet God leer ken. Ons moet weet dat Hy direk met elkeen van ons wil praat en dat ons sy stem moet leer ken. Daarsonder sal ons ook in die strik van Sara se Ismael-plan trap.
Abraham