>
De Wet Hugo
WEB VAN DIE MUMMIE
Illustrasies deur
Shân Fischer
Human & Rousseau
Vir David Briz Pérez
1
Die gejeuk in Pippa se kop laat haar voel of sy gaan mal word. Sy krap verbouereerd met haar vingers in haar lang blonde hare. Maar dis nie dáár waar die irritasie vandaan kom nie. Die gejeuk is bínne-in haar kop!
Sy voel naar en haar maag draai asof sy gaan opbring. Haar oë begin traan. ’n Beweging in haar neusgat vang haar oog en sy gee ’n tree nader aan die spieël teen haar kamermuur. Sy lig haar kop effens om beter te kan sien.
In die spieël sien sy hoe haar oë groot ooprek en sy staar na haar eie gesig. ’n Piepklein spinnekoppie kriewel uit haar neusgat en hardloop teen haar wang af. Sy frons verskrik. Dit móét haar verbeelding wees.
Maar dan gebeur dit weer. En weer. En wéér! Honderde klein spinnekoppies stroom uit Pippa se neusgate. Sy maak haar mond oop om te gil, maar niks kom uit nie. Sy probeer weer, maar steeds niks. En dan weet sy skielik hoekom …
In die weerkaatsing van die spieël sien sy hoe ’n wollerige swart spinnekop so groot soos haar vuis stadig uit haar keelgat opklim tot binne-in haar mond. Die ding beweeg stadig oor haar tong en toe dit by haar lippe kom, steek die gedrog vas en hardloop weer vinnig terug in haar keelgat af!
Pippa sit uitasem regop en vee die sweet van haar gesig af. Sy het dit wraggies al wéér gedroom! Dieselfde nagmerrie oor die spinnekop wat eiers binne haar lê en van haar kop ’n spinnekopnes maak.
Die gerusstelling dat die nagmerrie verby is, laat Pippa se hart weer normaal klop. Sy blaas verlig ’n haarsliert uit haar gesig.
Dis Sondag en die laaste oggend van die vakansie wat sy op hulle familieplaas, Moordkuil, in die Moordenaarskaroo wakker word. Môre gaan hulle die lang pad Paarl toe aandurf, waar sy haar hoërskoolloopbaan in ’n koshuis sal begin.
Pippa swaai haar bene van die bed af en toe sy op die vloer trap, voel sy iets sags en grillerigs onder haar voet beweeg. Haar keel trek onmiddellik toe en al probeer sy hoe hard, kan sy nie gil nie.
Sy spring terug op die bed. Dan sien sy dit – drie Jelly Tots op die mat langs haar bed. Sy voel hoe haar wange begin gloei. Sy sal oor haar simpel vrees vir spinnekoppe móét kom. Die hoërskoolmeisies in die Paarl sal dink sy’s ’n regte bleeksiel as hulle moet weet sy kry die ritteltit omdat sy op ’n paar Jelly Tots getrap het. En sy sal sommer ook moet ophou om lekkers in die bed te eet! Haar ma het ’n yskasmagneet waarop staan: A moment on the lips and a lifetime on the hips. So sy ken daardie reël maar alte goed.
Onder in die kombuis hoor sy haar ouers werskaf. Sy hoop haar ma maak vanoggend spesiaal vir haar spek en eiers, soos net sý kan. ’n Koshuis-ontbyt sal beslis nie so lekker kan smaak nie.
Pippa maak haar kamerdeur oop en loop in die gang af, maar steek net daar vas. Iets is nie pluis nie.
“Waar?” vra haar ma met groot oë en haar hand op haar bors.
“In die skeur bo in die berg,” antwoord haar pa. “Hulle het dit nou gaan lossny. Ek het gesê hulle moet dit na die skuur toe bring. Ek wil eers kyk of dit sy is voor ek die polisie bel.”
“Dink jy dis die regte ding om te doen?”
Haar pa se oë verhard. Wanneer hy gespanne is, verloor hy gou sy humeur. “Wat anders dink jy …” begin hy, maar dan sien hy vir Pippa in die deur.
“Pappa, wat’s fout?” vra Pippa. “Het daar iets gebeur?”
“Nee, skat,” sê haar ma, maar haar oë soek hulp by Pippa se pa. “Dis sommer net …”
Haar pa se gesig versag. “Dis niks, Pips. Gaan na jou kamer toe. Jou ma en ek moet iets belangriks bespreek. Sy sal jou kom roep sodra ons klaar is.”
Pippa wil eers iets sê, maar sy weet ook dis beter om onder sulke omstandighede nie met haar pa te redeneer nie.
Sy stap stadig terug na haar kamer en los aspris haar deur op ’n skrefie oop om te probeer luister wat haar ouers sê. Maar dan hoor sy haar pa se bekende voetstappe nader kom en hy trek die kamerdeur toe.
Dit keer Pippa egter nie om steeds met haar oor teen die deur te probeer luister nie. Sy sukkel om enigiets te hoor. Haar ouers fluister nou, maar sy kan tog sekere woorde uitmaak. Wie kan die “sy” wees waarvan haar pa aanhoudend praat?
Ná ’n paar minute wat soos ’n uur gevoel het, hoor Pippa haar ma se armbande aangeklingel kom. Sy spring op haar bed, gryp die tydskrif op haar bedkassie en gaan sit met gekruisde bene, kamtig verdiep in die artikel voor haar.
Die kamerdeur swaai oop en haar ma kom sit by haar op die bed.
“Pips,” sê sy en vat Pippa se hand. “Iets baie vreemds het vanoggend gebeur, my kind.” Haar ma forseer ’n glimlag, maar sy kan nie die spanning in haar gesig wegsteek nie.
Pippa se hart klop effens vinniger. “Wat’s dit, Mamma? Wat het gebeur?”
Haar ma sug diep. “Jakob en Jan het vroegoggend gaan bergklim, of so sê hulle. Niemand sal seker ooit weet wat hulle regtig daar bo gaan doen het nie, want dis moeilik om daar uit te kom.” Haar ma sug weer. “En toe klouter die twee glo op ’n manier af tot in die bergskeur.”
Pippa se mond val oop. “Tot in die grot?”
Haar ma frons effens. “Um … dis nie regtig ’n grot nie. Dis meer ’n skeur in die berg, maar ja, tot in die grot … of skeur … of wat ook al ’n mens dit noem.”
“En toe?” vra Pippa. Haar ma rek die storie nou te lank uit.
“En toe vind hulle iets … iets baie ongewoons … iets wat my baie onrustig maak.” Haar ma vryf oor die hoendervleis op haar arm. “Jou pa voel ons moet jou nie hiervan vertel nie. Hy’t gesê môre is ’n groot dag vir jou en hy wil nie hê jy moet jou oor dinge hier bekommer nie. Maar ek het hom oortuig jy moet weet. Ek wil nie hê ons moet goed vir jou wegsteek nie.”
“Ja?” vra Pippa versigtig. Sy wil bitter graag weet wat aangaan, maar om een of ander rede is sy bang vir wat haar ma gaan sê. “Wat is in die grot, Mamma?”
Haar ma se wange raak bleek. “Hulle het die liggaam van ’n meisie gekry wat daar hang, min of meer jou ouderdom.”
Koue rillings prik oor Pippa se arms. “Wie’s dit? Ken ons haar?”
“Ons weet nog nie. Jan en Jakob is natuurlik meer geskok as ons, so jou pa het die ander werkers gestuur om haar te gaan lossny en haar hier na die skuur toe te bring. As hy haar sien, sal ons dalk weet of dit Annette is …” Haar ma hou skielik op met praat en kyk ontsteld weg.
“Annette?” vra Pippa gou. Sy het beslis nie verkeerd gehoor nie. “Mamma, wie’s Annette?”
Haar ma skud haar kop hartseer. “Annette is ’n tragedie, my kind. Sy’s jou pa se grootste hartseer in sy lewe.”
Pippa frons verward.
“Annette was jou pa se jonger sussie. Twee jaar jonger as hy. Toe sy jou ouderdom was, het sy vermis geraak. Hier op die plaas. Dis waarom jou pa so oorbeskermend is oor jou. Hy’s bang hy sal jou verloor soos hy destyds vir Annette verloor het.”
Pippa skud haar kop in ongeloof. “Hoekom het ek nooit enigiets hiervan gehoor nie?”
“Dit was baie traumaties vir die familie. Dit was ná Annette se verdwyning dat jou ouma stom geraak het. Sy het glo net nooit weer gepraat nie.”