oomblik toe haar ma die deur agter haar toegetrek het, keer Pippa se gedagtes terug na wat sy vroeër die dag in die skuur gesien het. Sy het nie die moed gehad om haar ouers te vra of die mummie toe wel Annette is nie. Hulle was albei heeldag besonder stil, wat haar laat dink het hulle weet nie of dit wel sy is nie. En boonop was sy bang hulle kom dalk agter sy was by die skuur. Of dat sy haar mond sou verbypraat oor wat sy gesien het. Die laaste ding wat haar ouers nou nodig het, is om te dink hulle neem hulle mal dogter môre koshuis toe!
Pippa stap na die kamerdeur om die lig af te sit. Toe sy die skakelaar druk, voel sy hoe die hare agter in haar nek regop staan.
Vanuit haar donker kamer kan sy deur ’n gaping tussen die gordyne na buite sien. ’n Figuur is in die buitelig op die grasperk sigbaar. Kan dit die mummie wees? Pippa skakel die kamerlig vinnig aan en sit haar hand op die deurknop, maar dan bedink sy haarself. Haar ouers het so vreemd gereageer vandag. Sy kan dit nie nou aan hulle doen om histeries by hulle kamer in te storm nie. Sy moet dapper wees. Dalk is dit weer net haar verbeelding wat met haar op loop gaan.
Sy skakel die lig weer af. Sy het skaars ’n tree na haar bed toe geneem toe sy versteen. Die figuur staan nou nie meer op die grasperk nie, maar reg voor haar kamervenster!
Sonder om te dink, klap Pippa met haar hand na die skakelaar en die lig flits weer aan. Toe sy besef wat sy gedoen het, word sy paniekerig. As die ding met elke aan- en afskakeling nader kom, wat is volgende? Gaan die mummie dan deur haar kamervenster spring?
Miskien sal sy maar eerder met die lig aan slaap. Sy stap met babatreetjies tot by haar bed … en dan gebeur die ondenkbare.
Die hele huis en plaaswerf is skielik in donkerte gehul. Die onheilspellende stilte laat haar asem ruk. Sy maak haar mond oop om te gil, maar dan hoor sy haar pa se stem in die gang: “Bly almal net waar julle is. Die krag is af. Ek gaan gou kyk wat aangaan.”
Pippa draai verskrik na haar kamervenster. Soos haar oë aan die donker gewoond raak, kan sy in die maanlig die buitelyne van ’n jong meisie voor haar venster uitmaak. Maar dan begin die figuur swel, met agt pote wat soos tentakels uit die lyf kriewel.
Pippa steier in die rigting van haar bed. Sy gaan sit by die koppenent en vou haar knieë styf onder haar ken in. Die figuur voor haar kamervenster het in ’n reusagtige spinnekop verander!
Dan gaan die ligte skielik aan en haar kamerdeur swaai oop.
“Is jy oukei, Pippa?” vra haar pa.
“Ja, Pappa,” sê sy en probeer hard om haar stem normaal te hou. “Wat het gebeur?”
Haar pa skud sy kop moedeloos. “Eskom het gebeur, my kind. Maar gelukkig het ons ’n kragopwekker. Dit neem net ’n minuut vir die ou ding om aan te skop.”
Pippa forseer ’n glimlag.
“Is jy seker jy’s oukei?” vra haar pa.
“Ja, Pappa. Ek het net groot geskrik,” antwoord sy en giggel ongemaklik.
Haar pa lyk nie oortuig nie. “Nou maar goed dan,” sê hy. “Lekker slaap. En onthou, ons is baie lief vir jou.”
Haar pa skakel die lig af en begin die kamerdeur toetrek.
“Pappa,” keer Pippa hom.
“Ja, my kind?”
Vir ’n oomblik soek Pippa na die regte woorde. “Ek dink ek wil vannag met die lig aan slaap. En los my kamerdeur asseblief op ’n skrefie oop.”
Haar pa knik asof hy verstaan hoe sy voel. “Natuurlik.”
Sodra haar pa uit die kamer is, klim Pippa bewerig in die bed. Hoe gaan sy hierdie nag omkry? Sy is nou vir die eerste maal werklik bly dat sy die plaas môre-oggend gaan verlaat. Sy’s te bang hier. Iets voel nie reg nie.
Frankenstein se geblaf bring haar terug na die werklikheid. Normaalweg sal sy hom laat inkom en vir hom ’n lekkerny gee om hom te troos. Maar vanaand sal sy dit nie waag nie. Want sy weet waarvoor Frankenstein blaf. Sy kan dit hoor. Dis groot, met agt pote. En dit beweeg stadig oor die huis se dak.
4
Jy’s eintlik baie gelukkig,” kondig die koshuisprefek met haar neus in die lug aan. “As jy in graad agt nie onder in die kelder slaap nie, is jou koshuiservaring nie volmaak nie.”
Pippa glimlag maar net. Sy het ’n vermoede die koshuisprefekte is maar net so beleefd omdat almal se ouers nog daar is. Dis waarskynlik net die stilte voor die ontgroeningstorm.
“Dan is ons baie dankbaar Pippa se kamer is hier onder in die kelder,” verbreek haar ma die effens ongemaklike stilte.
“Hier’s ons nou,” sê Neus-in-die-lug. Sy stap eerste by die kamer in, kiertsregop soos ’n professionele ballerina. “Ek sien jou drie kamermaats het reeds gearriveer en uitgepak.”
Pippa en haar ouers volg die prefek by die kamer in. In die middel is ’n heuphoë muurtjie wat die kamer verdeel. Twee staal-enkelbeddens wat reeds oorgetrek is, staan aan die regterkant van die muurtjie. Aan die linkerkant staan ook twee beddens, een reeds oorgetrek en een nie.
Die prefek wys na die leë staalbedjie en sê: “Daar’s jou plek.”
“Dankie,” sê Pippa terwyl sy die kamer versigtig waarneem. Sy’s verlig haar beddegoed lyk min of meer dieselfde as haar drie kamermaats s’n. Die hoofmeisie het al die nuwe graadagts laat weet hulle beddegoed mag nie bont wees nie. Hulle verkies glo eenvormigheid wat bydra tot die susterskap van die meisies in die koshuis. Al die beddegoed moet wit wees met óf fyn kolletjies óf dun strepe.
Op hulle naaste dorp kon Pippa en haar ma niks kry wat naastenby so lyk nie, toe moes hulle maar van ’n webtuiste af bestel. Haar eie beddegoed is vir haar die mooiste – klassiek en stylvol.
“Baie dankie vir jou hulp. Ons waardeer dit,” hoor Pippa haar ma sê terwyl Neus-in-die-lug by die kamer uitsweef.
“Pippa,” sê haar pa en sak af op sy knieë om onder haar bed te kyk, “ek wonder of hier ’n kragprop vir elkeen …”
Pippa luister nie verder nie. Sy kan nie. Dis asof ’n duisend koppiespelde gelyktydig in haar vel steek.
Haar ma se oë rek. Sy sit haar hande op Pippa se versteende skouers. “Wat is dit, Pips? Wat gaan nou aan?”
Pippa kan nie praat nie. Sy kan nie asemhaal nie. Sy lig haar arm stadig en wys na die vensterbank.
Haar pa is nou ook op sy voete. “Kalmeer, Pippa,” sê hy vinnig. “Dis maar net ’n tarantula. En dit kan jou niks maak nie. Dis in ’n glaskissie.”
“Dis Cleopatra. En sy’s my pet spider,” onderbreek ’n vrolike stem hulle.
Pippa draai om en sien ’n meisie met haar hande op haar heupe in die deur staan.
“En ek is nou super offended,” kondig die meisie aan, haar oë op skrefies getrek. Sy strompel nonchalant by die kamer in. Agter haar kom ’n amper identiese ouer weergawe van haar te voorskyn.
“Sy spot sommer net,” sê die jong vrou. “Siphokazi is ’n groot drama queen.” Sy steek haar hand uit na Pippa se ouers en hulle begin gesels.
Siphokazi kom staan voor Pippa met ’n breë glimlag. “Sorry,” sê sy. “Ek kon net nie die oomblik laat verbygaan nie. Ek is Siphokazi, een van jou nuwe roomies. Dis my bed hier langs joune.” Sy steek haar arms uit en gee Pippa ’n onverwagse druk. “En dis my ouer suster, Nomawabo. My ouers kon my nie bring nie. Hulle’s in Parys.”
Pippa glimlag en knik. Sy kan steeds nie ’n woord uitkry nie. Sy het te groot geskrik toe sy Siphokazi se troetelspinnekop sien.
“Die een in France!” sê Siphokazi vinnig. “Nie die Orange