Helene de Kock

Helene de Kock Keur 3


Скачать книгу

uitdrukking merk. “Buitendien, Mams, ek het Paul Hough ook oorgenooi. Sommer om te slaap ook.”

      Jacomien se mond val oop. “Nooit!” kry sy dit uit, maar her­stel vinnig. “O, dis gaaf, liefie! Ek sê mos altoos, Paul is gemaak om ’n gelukkige vrou se goeie man te wees!”

      “My liewe ma! Ek het die man bloot genooi omdat ek nou die aand ongeskik was met hom. Ek wil net my aansien herstel, nie my huwelikstaat verander nie!”

      Maar haar ma kyk haar kwaai aan. “Danien, jy kwel my baie. Dink jy ek het nie gesien hoe bleek jy was toe julle gister hier aangekom het nie? Wat pla jou so? Jy is nog net so ontwykend en ongedurig soos wat jy die vakansie was.”

      “Ag, Mams …” begin sy, onverklaarbaar tranerig, maar sy sluk dit weg, gooi haar arms om haar ma en hou haar styf vas. “Wees geduldig met my, asseblief.”

      “O, maar ek is! Maar nie almal gaan geduldig wees nie! Moe­nie met ’n man soos Paul Hough speel nie.”

      Sy kyk haar ma stom aan, toe fluister sy deur wit lippe. “Ma, ek is so verward en ek kan nie nou daaroor praat nie. Moet my asseblief net nie in ’n rigting druk nie.”

      Jacomien byt haar lip ontstemd vas. Die ellende in haar kind se oë kan sy nie miskyk nie. Miskien moes sy dit vroeër herken het, maar sy was só besig met haar ander kind: moeilike, koppige Frans met sy briljante verstand wat uiteindelik met die regte meisie gaan trou. Maar Danien – haar soet, stemmige kind – verkeer in nood. Dit sien sy nou so duidelik soos wat sy haar in haar jong, sensuele vroulikheid voor haar sien staan. Die beeldskone gesig met die groot oë vol emosie, die roering van die sensitiewe mond. En haar skraal lyf se sagte kurwes.

      “Kind,” sê sy gesmoord en druk haar teen haar vas. “Toe maar, toe maar …” Want toe maar is ál wat ’n ma eintlik tog kan sê, dink sy moeg.

      Danien staan ’n rukkie lank geborge in haar ma se arms, en toe sy haar sag wegdruk, glimlag sy. “Dankie, Ma.”

      Toe stap sy buitetoe om haar by die ander te gaan skaar. Frans en haar pa knip ook ’n uiltjie. Weliswaar net vir tien minute of so, want die parstyd is in volle gang en die werf ruik na mos. Dit roer in die wingerde soos wat almal hand bysit om die kosbare vragte gou genoeg af en in die gistenke te kry. Sy en Hilda verkneukel hulle juis in die manier waarop Henk soos ’n by ál agter Frans aanloop om niks van die oesbedrywighede mis te loop nie. Hy klouter selfs by die oop gistenke op om oor Frans se skouer te loer en dring daarop aan om presies te weet wat Frans se bevinding oor die jongwyn is.

      “Lekker om ’n gas te hê wat so in ’n mens se bedryf geïnteres­seerd is,” laat Karel Fouché terloops val. Ook Frans gesels lekker met Henk. Veral oor die regswese waarvan Henk, wat die praktyk betref, méér weet.

      Danien vly haar op ’n dekstoel langs Hilda neer en Frans skrik op. “Tyd om op te staan,” waarsku hy sy pa en Henk, en hulle lig hulle traag uit hul stoele. Daar lê nog ’n lang middag se harde werk vir hulle voor.

      “Ai,” sug Karel spytig. “Ek sal jou darem mis as jy eers in Leiden is, jong. Dit vat aan ’n ou man om heeldag so op en af in die wingerde te wees en nog sy oog in die kelder ook te gooi.”

      “Ek weet,” sê Frans beswaard. “Maar toe maar, dis net vir ’n jaar.”

      Henk staan hulle stil en beluister, toe kug hy en sê: “Oom moet maar vir my en Hilda en Danien met die volgende parstyd inspan. Nie dat ons veel weet nie, maar ons kan darem morele ondersteu­ning bied.”

      “Dis ’n gawe plan,” sê Karel en lag, en die drie mans begin aanstryk oor die werf in die rigting van die kelders.

      “Haai!” roep Danien hulle agterna. “Julle moenie te laat inkom nie! Ek het Paul Hough ook oorgevra!”

      Frans steek in sy spore vas, en selfs Henk lyk ligweg verbaas. Oom Karel kyk net om en loop weer aan. Frans lyk ’n oomblik lank besluiteloos, maar toe lig hy ’n waarskuwende vinger in Danien se rigting en wink vir Henk om aan te stap.

      “Hou jou broer nie van Paul nie?” vra Hilda nuuskierig en lig haar op haar elmboë op om Danien stip aan te kyk.

      “Hy hou baie van Paul,” sê Danien rustig. “Ek hou ook baie van Paul.”

      “Ek sien,” sê Hilda vieserig, en Danien leun oor na haar toe om paaiend aan haar skouer te raak.

      “Ag, moenie vir my kwaad word nie. Ek kan werklik niks aan jou verduidelik nie. Glo my.”

      “Goed.” Sy sug. “Goed, goed. Kom wys my nou maar jou strooi­meisierok. Jou ma sê jy lyk soos ’n droom daarin. Die troue is oor twee weke, nè?”

      “Ja. Maar kom ek gaan wys jou.”

      Teen die tyd dat Paul opdaag, is die vroue nog vol troupraatjies en het tant Jacomien al ’n hartlike uitnodiging aan Hilda en Henk ook gerig. Nee wat, meen sy, hulle moet net die kans kry om ’n plaastroue by te woon. Die onthaal gaan hier onder die eike wees, en as dit reën, in die stoor. Dit gaan ’n ware oesfees wees! lag en beduie sy.

      Paul sit hulle glimlaggend en aanhoor. Frans het hom hoeka al genooi en sy antwoordkaartjie was van die eerstes wat terug­gekom het. Hilda bied aan om te gaan tee maak en tant Jacomien stap saam om die koek wat sy vroeër gebak het, te gaan sny.

      “Hulle laat ons natuurlik met opset alleen,” sê Paul ewe na­t­uur­lik. “En ek is bly, want ek weet jy wil gesels.”

      “Ja, is ek al vergewe?” vra sy.

      “Altyd,” sê hy stadig en met nadruk. “En, Danien, ek sal nie Alfons voor jou beswadder nie. Ek is opreg ontsteld oor sy aktiwiteite.”

      “As dit natuurlik ooit so is,” sê sy en kyk weg.

      Hy sug skaars hoorbaar. “Ja, as dit so is. Maar ek wil voorstel dat ons liewer nie weer daaroor praat voordat ons heeltemal seker is wat aan die gang is nie.”

      “En wanneer sal dit wees?” vra sy, eensklaps driftig.

      “Ek weet nie,” antwoord hy bot, en daar sak ’n stilte tussen hulle. Tog hinder dit nie. Sy kyk skuinsweg na hom. Sy oë lyk troebel en sy andersins lewenslustige gesig lyk moeg. ’n Skielike deernis kom oor haar. Hy verdien tog waarlik net die goeie.

      “Ek is bly dat jy gekom het,” sê sy sag, “die ruskansie sal jou goed doen. Vind jy jou praktyk baie veeleisend?”

      Hy lyk opgetoë oor die vraag en antwoord ernstig, maar vriendelik: “Ja. Maar ek dink enige werk waarin ’n mens jou hart stort, put jou noodwendig uit. Dit en bekommernis oor iemand vir wie jy omgee.”

      Sy knik plegtig en toe hy sy hand na haar toe uithou, plaas sy hare sonder skroom daarin. Hy vou haar vingers losweg in syne toe en sak terug in sy stoel. Sy vind dit ook nie gebiedend noodsaaklik om haar hand uit syne te trek nie, toe haar ma en Hilda met die teegoed kom. En sy ignoreer hul vraende blikke baie suksesvol. Paul Hough is my vriend, dit weet sy nou. My baie goeie vriend. En dis al wat ek nou werklik weet.

      Met aandete word daar vir Paul ’n plek langs Danien gedek en selfs Frans lig nie ’n wenkbrou daaroor nie. Die gesprek wentel met goedige gemak om die troue wat kom, die blyery in Leiden, en Danien se nuwe onderwyspos. Die Fouchés vra ook baie be­langstellend uit na Paul se praktyk, wel wetende dat sy ouers baie ver in Transvaal is en dit vir hom ook maar ’n aanpassing is om hom hier in die Kaap te kom vestig.

      Ná ete keer Frans vir Danien in die kombuis voor en sommerso ten aanhore van die huishulp, wat al jare der jare deel van Fleur du Vin se mense is, vra hy haar trompop: “Wat is dit met jou, sus? Jy lyk soos ’n gees. En jy is stokkerig vriendelik soos iemand wat in sy slaap loop. En waarom het jy Paul oorgenooi? Ek is bly om hom te sien, maar jy weet hoe ek voel oor absolute eerlikheid.”

      Sy sug kopskuddend. “Frans, ek en Paul is absoluut eerlik met mekaar en hy verkies nogtans om hier te kuier. Los my nou maar, toe wat. Sodra ek alles weet, sal ek jou alles vertel, glo my.”

      Hy betrag haar nog met ’n bekommerde frons. Toe trek hy haar nader en soen