Onverwags myne
Susan Pienaar
Satyn
1
Amanda gooi ’n swart mantel oor haar kliënt se skouers, maak dit vas en vat dan die lang, bruin hare in ’n hand saam. Sy kyk in die spieël na die tienermeisie: “So, wat doen ons vandag aan jou hare?”
Riana lig ’n arm uit die mantel, draai effens saam met die stoel om en beduie: “Ek wil dit in layers geshape hê, hier voorlangs en agter.” Die kliënt se oë gly suspisieus oor Amanda se hare: “Het jy … uhm … haarverlengings in?”
Amanda skud haar kop: “O gits, nee, jong. Dis my eie hare. Ek kleur ook nie.”
“Ek hou van jou amperse swart hare. In die lig het dit ’n rooi skynsel. Het julle ’n soortgelyke kleur waaruit ek kan kies?”
Amanda knik: “Ek sal die kleurkaart bring, dan kyk ons –”
“Dóén julle haarverlengings?” val Riana haar duidelik hoopvol in die rede.
Amanda knik en kyk rond. Haar volgende kliënt is te vroeg en sit reeds saam met twee ander vroue en wag.
Die vier haarkappers is almal druk besig. Hulle gaan weer tot laat moet werk, maar dis oukei, dis geld wat nie te versmaai is nie. Crazy Cut is nog maar ’n jaar oud en in sy babaskoene, en sy het elke sent nodig.
Amanda versit haar voete en voel hongerpyne knaag, maar glimlag om haar woorde te versag: “Ongelukkig kan ek nie vandag verlengings doen nie. Ons is eenvoudig te besig en dit neem nogal redelik tyd in beslag. Jy kan ’n bestelling maak vir wanneer jy weer wil kleur, dan doen ek die haarverlengings gelyktydig.”
“O, oukei,” sê die tiener, ’n bietjie afgehaal.
Amanda stuur die kliënt wasbakke toe, was haar skêr en kam en kry gou haar werkstasie in orde voor sy agtertoe stap vir ’n vinnige koppie tee. Die ketel kook reeds en sy gooi water op die sakkies tee in twee bekers toe Tessa, haar boesemvriendin en kollega, by die kombuisie inkom.
Tessa lyk stunning, met die ligrooi-pienk hare in ’n moderne styl, al moet Amanda dit nou maar self erken. Die naam Crazy Cut is Tessa se idee, “want,” het sy gesê, “jy is nie bang om nuwe en gewaagde style en kleure aan te pak nie.”
Tessa sit ’n wit sakkie op die toonbank neer, haal twee polistireenhouers uit en stoot een na Amanda toe. “Ek het Sara gestuur om vir ons toasted cheese-and-tomato sandwiches te kry. Laat ons gou eet voor hulle koud word en ons boonop van hongerte omkap.” Sy vat ’n groot hap en kou.
Amanda eet ’n happie en kreun: “Jy red my lewe. Mm, heerlik,” en dan moet sy keer dat ’n stuk tamatie onder uit die broodjie gly. Sy drink ’n slukkie tee, toe Sara binnekom. “Het al die kliënte drinkgoed gekry, Sara?”
Sara knik, haal koekies uit wat elk afsonderlik verpak is. “Ek kom maak nou juis vir die mense wat nog nie gekry het nie.”
Terug by haar werkstasie, blaas Amanda die tienermeisie se hare droog, loop meng die kleur wat hulle gekies het, en wend dit dan met ’n borseltjie aan terwyl die kliënt deur ’n eksemplaar van Women’s Health blaai.
“Oeee, kyk net die awesome to-die-for ou,” adem Riana en lig die tydskrif hoër vir Amanda om te sien. “Hy is sexy, nè?”
Amanda kyk gou na die man se gesig, lees dan die hoofopskrif: South Africa’s Most Eligible Bachelor of the Year. Haar oë glip terug na die man se aantreklike gesig. Sterk beenstruktuur, reguit neus en vierkantige ken met ’n gleufie in die middel. Sy hare is nogal langerig vir ’n man, maar die styl pas hom perfek. Die ligblonde hare is deurgeweef met twee skakerings van lig- tot medium brons, en weggekam van sy hoë voorkop af. Dis beslis die werk van ’n ekspert. Die hoeke van sy lippe lok effens boontoe en sy ligbruin oë glim geamuseerd.
Mm, ja, sy moet nou maar erken dat die man werklik drop-dead gorgeous is, maar self sal sy hom nie ’n tweede kyk gee nie.
Sy lig ’n seksie hare op, druk die kwas in die kleursel en wend dit aan. Sy veralgemeen seker, maar wat haar betref, is sulke dodelik aantreklike mans nie te vertrou nie.
Haar ouers se ongelukkige huwelik het sy merk op haar kindergemoed gelaat. Om nooit eendag met ’n uitsonderlike mooi man uit te gaan nie, is iets wat sy nie in ’n oomblik besluit het nie. Sy was op ’n kol nogal trots op haar aantreklike pa, maar toe sy oud genoeg word om te verstaan, het sy besef haar pa breek haar ma se hart oor en oor. Ná alles wat haar ma met hom moes deurmaak, was sy nogtans platgeslaan toe hy saam met die jongste van sy reeks minnaresse in sy motor verongeluk het.
Amanda se oë gly oor die kliënt se skouers na die Bachelor se klere. Sy kan haar kop op ’n blok sit dat die prys van daardie deftige pak klere haar suster se klas- en koshuisgeld vir ’n jaar sal dek. Die man se voorkoms is gepoleerd, maar alles omtrent hom sê dat hy pure man is.
Wag, laat sy liewer op haar werk konsentreer.
Amanda se kliënt lees ’n rukkie in stilte, sê dan: “Hoor net hier wat hulle oor Leonardo Anderson sê: “Dié biljoenêr is nie net eye candy nie … hy is ook ’n siviele ingenieur en daarby ’n fenomenale kok. Hy doen graag waaghalsige spronge vanuit sy vliegtuig. Glo ’n vriendelike en aangename mens, maklik om mee oor die weg te kom, en doen geweldig baie vir liefdadigheid. Leonardo sê sy ideale vrou het lang hare, enige kleur, en is oor die algemeen netjies en haar persoon goed versorg. Sy is ook selfonderhoudend, het ’n vurige geaardheid, maar kan ook saggeaard optree indien nodig. Leonardo is nie gereed om te trou nie, maar sê darem dat hy ook nog nie die regte meisie ontmoet het nie. Ons dink dis nuttig om dié briljante man naby te hê wanneer iets verkeerd loop. Ons wens alle meisies sterkte toe wat probeer om dié hartebreker los te slaan.”
Die kliënt sug hardop, sê dan droomverlore: “Die meisie wat hom darem kry …”
Amanda lig haar oë na die spieël in die hoekie waar ’n kleinerige foto van Larry opgeplak was. Twee weke gelede het sy dit afgepluk en stukkend geskeur toe hulle weereens ’n uitval gehad het. Eintlik moes sy geweet het dat Larry haar voorstel – dat hulle vir minstens ses weke geen kontak met mekaar moet hê nie – gaan probeer omvergooi.
Ag tog, as hy haar net wil ophou bel! Sy wíl hulle verhouding nie voortsit nie. Larry is nou nie juis skreeulelik nie, net doodgewoon, maar hy is ’n beheervraat wat haar persoonlike lewe probeer organiseer. Gmf, hy wil tot vir haar voorsê wat sy in ’n restaurant moet eet. Hoewel, as sy nou terugdink, het hulle miskien twee keer gaan uiteet. Larry gee nie graag geld uit nie, meestal wil hy by haar eet.
Nee, kyk, dit was nou rêrig die laaste strooi toe hy voor haar rekenaar gaan sit het en na haar inkomste- en uitgawestate wou kyk. Dit was hul laaste rusie en die rede hoekom sy voorgestel het dat hulle vir ses weke geen kontak moet hê nie. Sy het geweier om haar wagwoord vir hom te gee of in te tik, want Larry weet nie sy betaal haar suster se studiegeld nie; ook weet hy nie van haar motorpaaiemente by die bank nie, en sy wil dit so hou. Sy ken hom nou al ’n bietjie beter, besef hy is suinig, en weet dit sal nie sy goedkeuring wegdra dat sy Elena onderhou nie.
Omdat Larry en sy vier vennote hul staalmaatskappy van die grond af opgebou het tot ’n welvarende bedryf, dink hy sowaar hy weet meer as sy van haar eie onderneming af.
Amanda vat ’n volgende seksie hare en druk die kwassie in die kleursel. Sy gaan wragtig nie dat ’n man vir haar voorskryf wat sy met haar geld mag en nié mag doen en nie. Haar gemoed word meteens sommer ligter. Wat ’n verligting is dit nie noudat sy Larry nie meer gereeld sien nie! As hy tog net wil aanvaar dat ’n verhouding tussen hulle nie werk nie …
Amanda is klaar met kleur en sit die bakkie neer. Riana staar steeds na die Bachelor se foto’s waar hy met verskeie glansmeisies aan sy arm gekiek is. Sy sal liewer na haarself verwys as om haar raad en opinie oor aantreklike mans direk vir die tiener te gee. Amanda trek die mantel reg, beduie dan na die tydskrif: “Nee wat, ek kry liewer vir my ’n doodgewone ou en los daai eye candy hunks wat tussen meisies rondspeel vir Hóllywood-sterre en superryk meisies,” oordryf sy.
Riana kyk haar ongelowig aan: “Maar het jy dan nie ’n ou nie? Ek bedoel … jy is mooi en als.”
Amanda glimlag en stel die horlosie