Susan Pienaar

Onverwags myne


Скачать книгу

flippen brandarm en cheap lyk, maar dis nie te sê ek moet boonop in ’n krotbuurt gaan bly nie.”

      “Oukei, man, ek het maar net aan alternatiewe plekke gedink. Hou my op hoogte van sake. Bel jou ouers en sê jy het ’n ruk vakansie geneem. Ek sal die media te woord staan sodra hulle besef jy het … uhm … spoorloos verdwyn.”

      Leonardo frons. Ryan geniet die flippen situasie. Staan en voer hom alles met ’n lepeltjie in asof hy nie self kan dink nie. Hy sal ’n ander naam moet gebruik. Gelukkig kan hy sy twee vennote, Ryan, die ander ingenieurs en personeel vertrou om die fort te hou terwyl hy weg is. “Ek sal per e-pos met jou en almal in verbinding bly.”

      Ryan kyk op sy horlosie. “Maar eers gaan ek en jy inkopies doen, en daarna gaan ons na my huis toe waar ons jou hare gaan tackle.”

      Leonardo haal sy foon uit sy sak. Hy moet so gou moontlik met Bertus reëlings tref. Die voorvluginspeksie moet gedoen word en reëlings met die lughawens getref word.

      Amanda sit met haar knieë op ’n sagte kussinkie en blommetjies plant toe daar ’n ouerige mosterdgeel kar in die oprit stilhou. Sou dit ’n voornemende huurder wees wat na die kothuis langs hare kom kyk? Ai, sy mis tannie Hanna en hulle geselsies alte vreeslik. Dis so jammer dat die arme vrou se gesondheid amper oornag versleg het sodat haar kinders haar moes kom haal het. Gelukkig kyk hulle nou self na haar.

      Nee wag, laat sy liewer aangaan met blomme plant. Netnou lyk dit asof sy nuuskierig van geaardheid is. Sy druk die grond rondom ’n geel gesiggie vas en loer oor haar skouer.

      ’n Lang man klim uit, maak die motordeur toe, maar eers ná die tweede probeerslag kry hy dit darem toegeslaan. Hy lyk goed beduiweld toe hy om die kar loop en die kattebak oopsluit. Hy haal ’n groot tas met wieletjies uit en sit dit langs hom neer. Met ’n bonkige rekenaarsak in ’n hand, maak hy die kattebak toe, maar dit spring weer oop.

      Met ’n onderdrukte kragwoord, klap hy dit met ’n ferm hand toe en tel die tas op.

      Hy begin rondkyk.

      Gou sny Amanda nog ’n swart houer oop en haal ’n gesiggie met grond en al uit. Toe bedink sy haar. Sy is mos darem nie blind en doof nie, natuurlik weet die man teen dié tyd dat sy hom gehoor en raakgesien het.

      Sy wag tot hy amper oorkant haar is, leun dan effens agteroor op die kussing, glimlag en sê vrolik: “Goeiemôre.”

      Sy kan nie hoor of hy groet nie, kan ook nie sien of hy knik nie, want die son skyn agter hom en dit voel asof sy langerige hemp met die swart streepblokkies op ’n wit agtergrond haar oë skeel maak en haar kop laat draai.

      Die man stap ’n ent verby haar na die kothuis aan haar regterkant terwyl sy hom agternakyk.

      Amanda se mond val effens oop. Hy het die aakligste haarstyl wat sy in haar lewe gesien het. Grote genade, dit lyk asof iemand hom met ’n stomp snoeiskêr bygekom het. Daar is nou wel happe in sy hare gesny, maar daar is darem glans in die donker hare.

      Hy draai die sleutel in die deur se slot en kyk terselfdertyd onderlangs na Amanda.

      Sy hare hang oor sy voorkop en eindig net bo die dik donkerraambril, merk sy vlugtig op voor sy gou oorbuig om die plant in die gat te sit.

      O wel, sy het haar deel gedoen; hy kon haar groet volstrek nié gehoor het nie.

      Dis duidelik dat die man nie gepla wil wees nie.

      2

      Leonardo gaan staan voor die spieëlkas, sit die bril daarop neer en loop om die plek deur te kyk. Die meubels is voldoende en die huis skoon, nes die foto’s op die internet gelyk het.

      Hy gaan staan by die sitkamervenster en kyk buitetoe.

      Daar tel die meisie nou die kussing op, draai om en verdwyn daarmee uit sy gesigsveld. Sjoe! Sy het die mooiste lang hare wat hy in ’n lang tyd gesien het. Sy kom terug, loop maak die tuinslang oop en spuit die blomme nat. Haar denimkortbroek en geel bloes lyk vrolik teen die kleurvolle agtergrond van blomme en groen gras. Sy glimlag terwyl sy haar voete skoonspuit.

      Die donker hare blink met ’n rooierige glans in die son en hang tot amper in haar middel. Dis baie hare. Is dit alles haar eie? Haar neusie is fyn, haar gesiggie skraal … Sy is die mooiste meisie wat hy in sy lewe gesien het. Dalk omdat sy so spontaan en vreugdevol voorkom?

      Sjoe, daai lyfie en daai bene!

      Hy glimlag sinies. Dit kan nie haar eie hare wees nie, daarvoor is dit te lank en te perfek. Van sy vorige meisies het verlengstukke in hul eie hare gedra.

      Sy is kort, miskien so een komma ses meter, en fyn gebou met kleinerige hande en voete wat by haar lyf pas.

      Leonardo draai weg, druk ’n hand deur sy hare en sug. Hy het byna Ryan se kop afgebyt toe hy sy versnipperde hare in die spieël sien. Die kleur op die boks is ligbruin, so hoe de hel het sy hare so donker uitgekom? Maar dis gedane sake en help beslis, want die meisie het met afgryse op haar gesig na hom gestaar toe hy haar na hom sien kyk het.

      Hy het skoon vergeet van sy pet op die sitplek, maar darem onthou om sy skouers te laat hang.

      Dis nie ’n lekker gevoel wanneer ’n meisie met afsku na hom kyk nie; vir hom is dit ongewoon en vernederend, maar hy is hier om te werk, en meisies, veral stunning meisies soos daai girl daar buite, is nie op sy agenda nie. Hy glimlag wrang: “Dream on, Leonardo! Geen girl by haar volle verstand sal na jou kyk soos jy nóú lyk nie.”

      Hy haal sy skootrekenaar uit die sak, sit dit op die lessenaar neer en druk die kragprop in voor hy dit aanskakel. Gelukkig is hy geesdriftig oor sy ontwerp. Hy haal die lêer met sketse en penne ook uit die sak, want hy wil so gou moontlik begin werk en dit klaarmaak.

      Later vanaand sal hy sy klere ophang, dan gou gaan kos koop. Hy moet onthou om die lysie, met die nodige kruideniersware en skoonmaakmiddels wat sy huishoudster vir hom opgestel het, saam te vat sodat hy laatmiddag so gou moontlik by die inkopiesentrum kan klaarkry.

      Amanda drink ’n slukkie water.

      Tessa sit op een van haar gemakstoele met haar bene uitgestrek en haar voete op ’n tafeltjie met ’n handdoek daaroor. Sy druk room uit ’n buisie en begin haar voete masseer. “Jy het in die week by die werk iets gesê van ’n nuwe intrekker in tannie Hanna se plek. Is hy darem iets vir die oog?”

      Amanda sit die glas neer, vreemd ongemaklik om oor die man te praat. Sy sal maar moet vertel, anders gaan Tessa aanhoudend vrae vra. “Hy het verlede Sondag ingetrek. Hy het net ’n tas en ’n rekenaarsak uit sy kar gehaal. Tot vandag toe het ek hom seker drie keer skrams gesien. Soggens draf hy voor die son opkom en weer laataand. Ek dink nie hy wil gepla word nie. Hy sit seker heeldag voor daai rekenaar, want ek hoor nie die TV nie.”

      “Maar is hy aantreklik? Hoe lyk hy?”

      Amanda sug. Sy wil nie iets negatiefs omtrent die arme man sê nie. “Hy is lank, met donker hare en … uhm, hy dra ’n bril.” Sy skram liewer weg van sy hare af.

      Tessa frons. “Dit sê net mooi niks nie. Het hy ’n mooi gesig? ’n Mooi lyf? ’n Man wat gereeld draf moet ’n to-die-for lyf hê.”

      Ag, Tessa sal hom een of ander tyd self sien wanneer sy kom kuier. “Ek kon sy gesig nie mooi sien nie, want sy kuif hang amper tot by sy bril se raam. Sy hare is, dit … uhm, lyk nie goed nie. En sy klere lyk soos dié van ’n branderplankryer.”

      Tessa kyk nuuskierig na Amanda. “Soos wat?”

      “Sandale en kortbroeke wat bo die kuite eindig en oorgroot loshangende hemde met blompatrone op gekleurde katoen. Ek kon nie sy lyf sien nie.”

      “Is hy darem netjies … uhm, ek bedoel, is sy klere en sy hare darem skoon?”

      “Ek kon nie sien nie, want hy dra meestal pette. Jy sal glad nie van hom hou nie, Tessa, glo my. Hy is ’n nerd wat met krom skouers loop.” Amanda is skielik moeg vir Tessa se nuuskierigheid.

      Sy kan verstaan dat lang vroue soms met krom skouers loop om hul lengte weg te steek, maar mans