Elsa Winckler

Omdat jy my liefhet


Скачать книгу

Peet het die geskiedenis van die ou dorpie goed geken en graag vertel hoe Herbert Vigne in 1846 die oorspronklike Weltevreden-plaas gekoop het, twee kleinerige stukke grond vir homself gehou en die res van die grond beskikbaar gestel het as gemeenskaplike landbougrond.

      Hy was die een wat die dorpie Greyton gedoop het, genoem na sir George Grey wat in daardie stadium goewerneur in die Kaap was.

      Vigne se erfgename het die plaas ná sy dood onderverdeel en tant Peet se huis is een van die oorspronklike ou Victoriaanse huise wat naby die destydse ingang van die dorpie gebou is.

      Tant Peet is weg sonder dat sy haar kon groet. Hulle het almal gedink daar sal weer ’n geleentheid wees om hulle geliefde tante te sien, sy was altyd so vol lewe. Tant Peet het by hulle ingetrek ná hulle ma se dood. Sy het huisgehou en die drie sussies versorg totdat hulle uit die huis is. Terwyl hulle op universiteit was, was hierdie plek hulle naweek- en soms ook vakansiehuis.

      Maar toe het hulle begin werk en almal het so besig geraak. Daar was altyd ’n goeie rede hoekom hulle nie kon kom kuier nie. En nou is tant Peet weg.

      Livie stap om na die kattebak en haal haar tas uit. Wat sou hulle tante besiel het om die vreemde bepaling in haar testament te plaas dat hulle elkeen vir ’n maand hier moet kom bly? Leen het nou wel ’n brief ontdek terwyl sy hier gebly het, maar dit was net aan haar gerig. Of tant Peet vir haar en Bella ook een gelos het, weet hulle nog nie. Daar is baie skoonmaakwerk oor, het Leen beduie. Hopelik kry sy ook ’n brief van tant Peet wanneer sy die res van die kaste uitpak en skoonmaak.

      Die tuin lyk versorg, sien sy. Vrolike gesiggies pryk kleurvol in die een bedding. Sy moet tog vir Leen ’n foto aanstuur van die blomme wat sy nog geplant het. Dis duidelik iemand versorg die tuin. O, ja, iewers in al die deurmekaarspul tydens Leen en Steyn se troue, het Leen genoem sy het iemand gevra om na die tuin om te sien, onthou sy nou.

      Sy sleep haar tas voordeur toe. ’n Rustigheid wat sy lanklaas ervaar het, spoel oor haar toe sy die deur oopsluit. Tant Peet het dalk tóg iets beet.

      2

      Bart is vroegoggend met sy bakkie voor tant Peet se huis. Dis begin Augustus, dis nog nagdonker, maar die girl het gesê vroeër is beter as later, so hy’s vroeg.

      Van slaap was daar in elk geval die vorige nag nie sprake nie. Na al Koos se voorstelle gister, het sy gedagtes bly draai om die huis wat hy wil koop. Daar is baie om te oorweeg. Hy is mal oor ouer huise, maar in die geval van ouer huise, so het Koos beduie, moet hy bereid wees om geld te bestee aan die dak, die elektrisiteit en moontlik die waterpype. Dalk moet hy mure uitslaan, ensovoorts, ensovoorts.

      Dis alles eenvoudige dinge, maar vandat hy op Greyton woon, was dit nog nie nodig om groot besluite te neem nie. Om huis te koop, sal die eerste een wees. Is dit die regte ding om te doen? Dis die vraag wat hom heelnag besig gehou het.

      En verdomp, die kere dat hy wel ingesluimer het, het Livie Mulder met haar stywe paar jeans en potblou oë hom besig gehou.

      Hy lig twee van die stoele uit en stap voordeur toe. Die madampie is hopelik tevrede met die skoon huis. Hy is bekend daarvoor dat hy enigiets doen, maar om huise te laat skoonmaak, is nou regtig nie deel van sy joppie nie. Maar hy het net gevoel hy kan nie toelaat dat Livie Mulder, of liewer Olivia Mulder, soos sy daarop aangedring het dat hy haar noem, in ’n stowwerige huis instap nie. Hy ken die familie, dis net ordentlik.

      Dis in elk geval hoe hy sy optrede regverdig. Hoekom hy hoegenaamd redes uitdink waarom hy dit gedoen het, weet hy ook nie.

      Bart sit die twee stoele by die voordeur neer en stap terug om die volgende twee aan te dra. Verlig draai hy terug om die ander te gaan haal. Daar is nog net twee stoele oor, dan sal hy die klokkie lui.

      Die volgende oomblik is daar ’n wriemelende, wollerige iets tussen sy voete. Wat de hel? Hy trap-trap om sy balans te behou, ’n hond tjank en die volgende oomblik foeter hy van die trappe af en beland op sy rug in die bedding voor die stoep. ’n Hond blaf opgewonde, die voordeur vlieg oop en die stoep word verlig.

      “Wat gaan hier aan?” roep Olivia vies.

      Bart lig sy kop. Sy mond raak droog, sy bloed verhit binne sekondes. ’n Pyn skiet af na sy lae rug, hy kreun hardop. Bliksem. Die vorige kere dat hy dokter Olivia Mulder gesien het, was sy mooi. Hy onthou veral die wasige besigheid wat sy aangehad het as een van Leen se strooimeisies. Maar die prentjie van haar in haar stywe pajamas of wat dit ook al is wat sy aanhet of nie aanhet nie, is nou vir ewig in sy geheue vasgebrand. Haar lang slanke bene, haar soepel lyf, haar lang, los hare – netjies afgeëts teen die lig wat agter haar skyn.

      “Bart? Is dit jy?” Dis duidelik sy is hoogs de hel in. Sy kom nader. “Wat maak jy dié tyd van die dag hier, dis nog nag! Wat het gebeur? Hoekom lê jy …? Aargh! Wat is hier onder my bene … moenie … wat dóén jy!” En met ’n gedempte gil struikel sy en val bo-op hom. Op die stoep bokant hulle blaf ’n hond vrolik.

      Sy arms vou om haar lyf, so asof dit die doodnatuurlikste ding op aarde is. Vir een heerlike oomblik voel hy elke sentimeter van haar sagte rondings teen hom. Sy pas perfek teen die lyne van sy lyf. Maar dalk yl hy, dalk staan sy nog op die stoep, dalk …

      Bokant hom begin sy kriewel en ’n paar interessante woorde wat hy regtig nie gedink het ooit uit die dokter se mooi mond sal kom nie, glip uit. “Los my!” beveel sy en probeer regop beur. Sy druk teen sy skouers, wriemel haar lyf bokant hom om te probeer regop kom, haar been glip tussen syne in en flippenbliksemhel. Al die asem verlaat sy lyf op dieselfde oomblik dat al sy bloed onder sy middel opdam.

      Sy trek haar asem diep in. “Ek glo dit nie, ek sukkel om regop te kom en jy … jy … los my!” pers sy deur haar lippe.

      Hy lig sy hande op terwyl hy sy bes doen om sy lag in te hou. “Ek hou jou nie vas nie. En Olivia,” sê hy sag, “jy lê bo-op my, jy wriemel en jy’s beautiful. Dís wat gebeur.”

      Die hond blaf deurentyd vrolik op die stoep. Olivia druk weer teen sy bolyf en dié keer kom sy regop. Brom-brom vee sy oor haar pajamas.

      “Is dit jou hond? Ek kan nie glo jy daag dié tyd van die nag by iemand se huis op én bring jou hond saam nie! Boonop –”

      “Dis nie my hond nie,” val hy haar in die rede terwyl hy regop kom. “En jy het gesê vroeër eerder as later, onthou?”

      “Vroeër beteken nie in die middel van die nag nie!” raas sy en vou haar arms om haar lyf. “Dis koud, dis nag en jy …”

      Haar stem klim al hoër, maar sy oë het vasgehaak op haar mildelike borste wat oplig toe sy haar arms vou en hy hoor nie meer wat sy sê nie. Sy het nie onderklere aan nie. Hy weet, want dieselfde rondings het minute vantevore netjies teen hom gepas. Oor die onwillekeurige reaksie van sy lyf het hy geen beheer nie.

      Sy struikel oor haar woorde en byt haar onderlip senuweeagtig vas. Sonder om sy oë van haar af te haal, kom hy stadig regop en druk sy hand in sy rug.

      “Moenie so vir my kyk nie,” raas sy en swaai weg. “En wat bedoel jy dis nie jou hond nie, wie se hond is dit dan?” Sy kyk rond. “En waar is die hond nou?”

      “Ek kon nie in die donker sien hoe hy lyk nie, maar ek wonder of dit nie Skim is nie. Ek het vir Leen belowe om na hom te kyk, maar ek het hom nog nie weer met ’n oog gewaar ná hulle troue nie.” Bart gee ’n tree, pyn skiet af in sy rug, ’n onwillekeurige kreun glip uit. Demmit, hy het so pas herstel van ’n werwel wat geskuif het. Die vallery het heel waarskynlik weer dieselfde werwel laat skuif.

      “Wat is fout?” Olivia kom vinnig nader. “Het jy seergekry?”

      “Dis oukei. ’n Ou rugbesering. Ek bring die res van die stoele,” kry hy uit en beweeg in die rigting van die bakkie. Elke tree is ’n pyniging, maar die laaste twee stoele gaan hy aflaai, al is dit die laaste ding wat hy doen. Uit hierdie vroumens se pad moet hy bly. Hy het laas as skoolseun só op ’n mooi girl reageer.

      By die bakkie lig hy die een stoel stadig uit. In die stoeplig sien hy duidelik vir Olivia staan, nog steeds arms gevou. Die bentwood-stoele is darem nie baie swaar nie, maar hy buig sy