op en gooi die laaste hap saam met die servet in ’n asdrom. “Kom,” sê ek. “Kom ons spring op ’n trein.”
As Nina teleurgesteld is omdat ek nie wil hê sy moet vir my “alles” gaan wys nie en haar eerder na ’n hool toe wil sleep, steek sy dit goed weg. Ek dink sy is eintlik bly. Van wanneer af hou Nina van “alles”?
Sy leun oor na my toe, staan so effens op haar tone en soen my op my wang, met daardie wonderbaarlike bos hare wat oor alles tuimel. Sy vat my hand en huppel vooruit, ligvoets, en sleep my agterna.
Een aand saam. Net een. Soos afgespreek, is Nina vroegoggend weg sonder om te groet. “Ek verpes koebaais,” het sy al hoeveel keer vir my gesê.
Die eerste keer, lank gelede, was ek vies vir haar. Ek wou die laaste bietjie lekkerte uit ons samesyn pers. Maar Nina was dalk reg, soos wat sy oor baie dinge dalk reg is.
Ek was gisternag teleurgesteld toe Nina in haar eie bed gaan inkruip het. Ons was al twee lekker vrolik, beslis nie dronk genoeg om seks in ’n kamer vol vreemdelinge te oorweeg nie. Ek wou haar net vashou. Ek weet sy slaap sleg op vliegtuie en sy wou die paar ure voor die taxi haar oplaai, gebruik om van ons malle swerftog deur Greenwich Village te herstel, maar ek wou haar herinner dis ons enigste aand saam, soos sy vroeër met my gemaak het.
My vriend François sê mens moet negentig persent van jou lewe toneel speel. As jy per ongeluk op iemand afkom by wie jy kan wees wie en wat jy is, moet jy verbete aan daardie iemand klou.
Maar my ervaring weerspreek sy teorie. By Nina moes en moet ek iemand anders wees, want by haar is die ware ek ’n dwaas.
Ek moes haar eenkeer by die lughawe aflaai, en die koebaai was voorwaar ’n mistroostige storie. Eers die gewone roetine. Toustaan, bagasie weeg, instapkaartjie. Ek het haar handbagasie tot by die punt gedra waar ek moes omdraai.
“Ai, Joe,” het sy gesê en met haar duim oor my stoppelbaard gevryf. “Jy kyk te min kak flieks. Dis hier waar jy my moet smeek om te bly.”
Ek het geraai iemand wag vir Nina by die aankomsaal aan die ander kant. Soos daar seker môre iemand vir Nina in die aankomsaal aan die ander kant sal wag. Ek het in die kroeg van ’n eetplek op die lughawe gaan sit, besef ek het skaars genoeg geld vir parkering gebring, ’n glas water bestel en besluit om Nina te vergeet, soos dit die held in ’n ander soort kak fliek betaam.
Hier’s hy weer, die ou met die fiets. Die twee trek nogal op mekaar, of hulle sou, as mens ’n fiets as “seningrig” kon beskryf. En hoekom kan mens nie? Die man is natgesweet en sy asem jaag. Die fiets, ’n donkerblou Raleigh, miskien bietjie meer gevorderd as die rooie wat ek op skool gehad het, lyk moeër as die man; seker dié dat die man hom teen die trappe op dra. Moeg of nie, die paartjie zoem by my verby, twee trappe op ’n slag. “Hi there,” sê die ou so in die verbygaan.
“Hi,” sê ek.
Hy mik boontoe, na die tweede verdieping, maar ná ’n paar trappe gaan staan hy en dra die fiets teen ’n meer ontspanne pas terug ondertoe. Hy wag vir my, sien ek.
“Joburg boykie. Right? Ek’s Michael,” sê hy. “Highlands North. Jou met daai meisie hoor praat.”
“Joe.”
Mens sien aan sy houding en sy fiets hy is nie ’n onlangse aankomeling met ’n reisplan nie.
“Hoe oud is jy?”
“Sewe-en-dertig,” sê ek.
“Ek het gewéét.”
“Wat geweet?”
“Ek en jy. Ek het hierdie gevoel gehad.”
Ek stel nie belang om te weet watse gevoel nie. Ek neem aan dis oor hy ook sewe-en-dertig is, al lyk hy ouer. Party mense vind sulke goed betekenisvol.
Dis koeler as wat ek verwag het. Ek wil net gou ’n baadjie gryp en hol. Ek het darem reg gepak; die Fodors-reisgids waarsku dat die temperatuur in Oktober vinnig kan styg of daal.
Ek groet Michael met ’n halfhartige waai van die hand, drafstap my kamer binne, glimlag vir ’n mooierige Argentynse vrou en haar man, gryp ’n baadjie uit die locker en drafstap uit.
Daar staan hy nog steeds. Michael.
“Hoekom so haastig? New York gaan nêrens nie. Koop vir my ’n bier, dan vertel ek vir jou ’n storie.”
Enigeen kan sien Michael se geldsake is oes. Sy klere lyk asof dit vir iemand anders gekoop is – en dit is seker, toe dit nuut was. As hy dit self uitgekies het, was dit by ’n charity shop.
Ek weet hy bedoel ons moet gesels, maar die laaste ding waarvoor ek nou lus het, is om na ’n Suid-Afrikaner se aanganery te luister. Ek wil juis aan daardie aanganery ontvlug. Aan daardie glimlag van hom wat so afdraand loop, kan ek sien sy lewensvreugde is gevaarlik min.
Eensaamheid is maar ’n ding, en ek het dit self al dikwels genoeg beleef om dit raak te sien en ’n bietjie deernis te kan hê vir hierdie ou met sy lendelam fiets en sy oë wat fokweet waarnatoe kyk.
Ek krap ’n vyfdollarnoot uit my sak. “Gaan drink jy solank ’n bier. Ek het dinge om te doen. Vertel my môreoggend jou storie in die eetsaal oor ’n koppie koffie.”
“Fokkof,” sê hy, vlieg om en dra sy fiets teen die volgende stel trappe op, nou net een trappie op ’n slag.
Tussen die twee verdiepings gaan staan hy en draai so halflyf terug na my toe. “Ja, jong – jy gaan eendag huis toe en dan gaan jy almal vertel van Mal Michael die kaksleg Jood wat in New York sy sinne verloor het. Druk jou omkoopgeld in jou gat. Golem!”
Hy storm boontoe. Nogal baie inligting vir ’n eerste ontmoeting. Ek vind sy selfbejammering en veral sy selfbeheptheid regtig snaaks. Hy dink iemand gee soveel om oor sy melodramatjie, wat nie eers naastenby oorspronklik is nie, dat hulle hom daarvoor verkwalik. Hy verbeel hom iemand, of dalk almal, verag hom omdat hy in New York bly pleks van Highlands North. Ag, tog. En Jood? Good grief. Lank gelede, voor ons tyd, was dit ’n ding, want die helfte van die land, my ma se broers inkluis, was Nazi’s. Maar nou? In 1999? Vir wat sou mens nóú oor Jode wil karring? Nee wat, Michael, wittes haat swartes en swartes haat wittes en jy’s blerriewil wit en klaar, okay?
Ek oordryf natuurlik. So erg is dit nie. Dis net dat die haters so baie geraas maak.
Ek raai Michael was ’n dienspligontduiker. Patriotisme, of propaganda voorgehou as patriotisme, was in die vroeë tagtigs nogal ’n ding. Maar daar was ander goed wat meer gepla het as ’n outjie hier en daar wat net mooi op die regte tyd verdwyn. Ek het dit self oorweeg en laat vaar.
Ek sal maar môre naby hom gaan sit met my toast en koffie en vriendelik groet. As hy teruggroet, sal ek sê ons moet later die bier gaan drink waarvan hy gepraat het.
Ek maak gewoonlik my planne vir elke dag soos die lus my pak, of ek vaar die strate in sonder ’n plan. Maar vandag het ek ’n plan. Nina het ’n foonkaart, ’n straatkaart en ’n boekie met kaartjies vir museums en ander toeristeplekke onder my kussing gelos. Seker as afskeidsgeskenk, ek weet nie.
Nou mik ek in die rigting van Central Park. ’n Mens kan ’n bus haal van die een kant na die ander, waar ek wil wees, maar hoekom sou ek? Dis immers ’n beroemde park en ek is ’n geesdriftige stapper.
Ek oorskat alewig my navigasievernuf, en hierdie dag is geen uitsondering nie. Ek gaan staan met ’n sug en haal die kaart uit my sak. Nog voor ek hom kan oopvou, stap ’n vrou nader en vra vriendelik waarheen ek wil gaan.
“Metropolitan Museum.”
Sy beduie hoe ek moet stap.
By die museum wys ek my kaartjie en sê nee dankie vir die gehoorstuk wat mens kan huur om jou die een en ander oor die kunstenaars en hulle werk te vertel.
Die Metropolitan. Ek wou lankal kom kyk het waar hang my skilderye. Die meesterlike, monumentale werke wat die skilderkuns van sy sterfbed laat herrys het terwyl kritici op graaf en pik langs die vars graf leun en elke nou en dan ongeduldig