belangrike en selfs internasionaal erkende politieke rolspeler, Mangosuthu Buthelezi en sy Inkatha-beweging, meer erkenning, speelruimte en veral inspraak te gee in die reformistiese prosesse wat in die land aan die gang was. Die ANC se doelbewuste poging om Buthelezi te marginaliseer, was eintlik ’n erkenning van sy en sy beweging se politieke belang.
Die onderhandelinge en driekameruitkoms van die Botha-regime se fokus op die politieke en grondwetlike verhouding tussen wit mense, Indiërs en bruin mense, het Buthelezi se verhouding met die Botha-regime, en spesifiek met Botha en Heunis, ernstig geskaad. ’n Vierde kamer vir stedelike swart mense, en selfs ’n grotere federasie of konfederasie tussen die politieke en staatkundige rolspelers van Suid-Afrika, was nie eens ’n ernstige debatspunt op Botha se reformistiese agenda nie. Daar was ook in hierdie opsig ’n dooiepunt.
In die internasionale wêreld onder invloedryke regerings en ander saakmakende partye en groepe was daar groeiende eenstemmigheid dat die oplos van dié dooiepunt slegs bereik kon word deur nakoming van die volgende noodsaaklike voorwaardes:
•Die vrylating van Prisonier 913 en alle politieke gevangenes wat deur die owerheid sekerheidsgevangenes genoem is.
•Die ontbanning van alle verbode organisasies.
•’n Verklaring van voorneme deur die regering van ’n skikkingsproses, waaraan veral die ANC, maar ook ander belanghebbende politieke partye kan deelneem.
•’n Ooreenkoms oor die kwessie van georganiseerde geweld.
Dié kwessies sou vanaf die middel 1980’s van deurslaggewende belang word.
DEEL 2
_______________________________
Die spelers en die spel
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.