Anita du Preez

Fransi en die filmster


Скачать книгу

      

      Fransi en die filmster

      Anita du Preez

      Satyn

      1

      Die wêreld is nie vir sissies nie. Dit weet Fransi al van kleins af. Daarom plak sy haar bene stewig uitmekaar en trap vas met haar pa se ou weermagboots sodat sy die bonsende Black & Decker met albei hande kan vasvat. Die boor protesteer huilend, want die muur is klipsteenhard. Sy kan nie toelaat dat die ding haar rondruk nie, want sy weet presies hoeveel oë op haar gerig is. Wat net wag dat sy ’n voet verkeerd moet sit. Selfs al het sy drie paar sokkies aan om haar plek vol te staan.

      Sy lê met haar volle gewig vorentoe. Die boorpunt vind onverwags ’n sagte kol in die muur en ruk haar vorentoe. Dis bliksems seer, maar sy hou haar pose. Sy sit die boor nonchalant op haar gereedskapkis neer asof alles presies volgens haar berekeninge vorder, gryp haar kosblik en loop buitentoe asof sy nie weet dat almal botstil gaan staan om haar agterna te kyk nie. Niemand sal met haar goed lol nie, want almal hier rond weet: Jy raak nie aan Franscheska Fouché se jigsaw, haar spesiale bore of haar skelrooi Mac-lipstiffie en super lash mascara nie.

      Fransi is ’n doener en Fransi vat nie nonsens van kabouters nie. Sy het ’n woede in haar. Haar helpers weet. As sy sê hop, vra jy niks. Net hoe hoog. Want Fransi is nie bang nie. ’n Ding moet reg wees of jy moet aanbeweeg. Lós. Sommige sê dis dié dat sy Chris, haar eks, ook summier gelos het toe dit begin lyk of sy hart nie meer honderd persent in die verhouding is nie. Hy het glo skielik geskimp dat sy gewig aansit, terwyl hy aanvanklik lofsange gesing het oor haar “lieflike solid lyf”. Feit bly staan, Fransi hou haar nie op met ’n ding wat nie werk nie. En vandat sy en Chris uiteen is, is sy ekstra bedonnerd. Veral met mans.

      En dan is daar die ding wat al die ouens van Silver Eagle Film Studios toetentaal verwar. Franscheska Fouché is net so vertroud met die inhoud van haar yslike gereedskapkis as met dié van haar grimeersakkie. Daar is dié wat beweer dis die rede waarom Chris nie meer kans gesien het nie. Omdat Fransi beter kon saag as hy.

      Fransi gaan sit op haar gewone plek agter die studio se werkswinkel, tussen die uitgediende movie props. Dis op die voorste bankie in die ou rivierboot in die skaduwee van sy verflenterde afdakkie en afgetjipte vergulde krulle wat haar voorganger seker vir die een of ander Cleopatra movie uit hars en skrootyster moes fabriseer. Sy haal haar broodjie uit en skroef die dop van haar koffieflessie oop. Dis waarnatoe sy bedags wegglip van almal af. Veral dié wat gedurig wil weet wat iemand soos Fransi met ’n meestersgraad in beeldende kuns, wat haar eie propperse beeldhoustudio in Obs gehad het, dan nou by Silver Eagle Film Studios soek. Nogal as fabriseerder van fake props vir meestal derderangse films. Sy troos haar daaraan dat dit dié is wat nie van beter weet nie. Soos Vernon.

      Vernon Goosen. Haar assistent wat eenvoudig nie opgee nie. Wat nou na haar aangeloop kom om haar private oomblikkie hier agter die studio al weer te kom bedonner met sy toxic vibe.

      Fransi frons ergerlik en is dadelik diep spyt. Dis steeds uiters pynlik om haar voorkop te plooi ná die verdomde microblading-proses waarin sy haar tot haar bittere spyt deur haar vervlakste vriendin laat inpraat het. Omdat Felicity iemand, “só asseblief tog, tjommie”, nodig gehad het om haar nuwe tegniek op te oefen vir haar skoonheidsblog. Wel . . . miskien eerder omdat Felicity omtrent haar enigste oorblywende vriendin is, nadat almal kant gekies het tussen haar en Chris.

      Die gedagte plooi haar gemartelde broue dadelik weer terwyl Vernon in al sy glorie nader kom. Ergerlik hap sy aan haar komkommer-en-kaasbroodjie. No peace for the wicked.

      Hoekom het sy tog daardie dag in ’n swak oomblik met die vent in ’n persoonlike gesprek betrokke geraak? Sy het maar haar irritasie gesluk en sy dom vrae mooi probeer beantwoord. In die hoop dat sy met rus gelaat sou word as sy vir hom verduidelik dat haar inbox nie eintlik soggens oorloop van bestellings nie. Nie soos wat Michelangelo Buonarroti s’n in die 15de eeu moes gelyk het toe kuns dié big thing was nie. Toe ouens soos Michel ’n posh pozzie in die paleis gekry het om dinge tydsaam uit marmer te kap. Nie vandag meer nie. Néé.

      Maar, het sy Vernon gerusgestel, solank daar films gemaak word, is daar werk. En gelukkig is Suid-Afrika ’n gesogte venue omdat ons slim is, hard werk en veral goedkoop is. So, sy’s oukei, dankie. Sy maak enige props wat van haar verwag word, boots enige oppervlak na en giet meters en meters daarvan as die filmstel dit benodig. En sy doen dit verdomp goed.

      Vernon het entoesiasties saamgestem.

      Effens gepaai het sy gehoop dat hy, skinderbek-antie wat hy is, haar storie sou versprei aan al die nuuskieriges sodat sy dan uitgelos word.

      Maar nee. Daar is altyd daardie een wat net nooit die boodskap kry nie. Sy skink vir haar koffie in die houer se doppie en wag hom in.

      “Lekker is die sonnetjie vandag, nè,” flikflooi Vernon toe hy by haar kom.

      Ai tog. As dit nie was dat die vervlakste man so goed was in wat hy doen nie, kon sy hom lankal gepos het. Maar sy het hom nodig. Gee vir Vernon ’n objek of ’n oppervlak en hy weet presies hoe en waarmee dit nagemaak kan word. Of dit nou ’n vals neus of die dik ysterdeur van ’n Middeleeuse kasteel is, Vernon sien kans. Al irriteer hy meestal die dooie dinges uit haar uit, kan sy nie alles alleen doen nie. Daarom dwing sy haar om hom hoegenaamd te antwoord.

      “Uhu,” mompel sy, maar Vernon laat hom nie onderkry nie.

      “Weet Miss Fouché van die nuwe movie?” vra hy ewe vernaam, arms gevou met sy voet spoggerig gerus op die stuk fake blou brander wat onder die boot uitkrul.

      “Hu-uh.”

      “Ja. Die een met Matt Delmayer.”

      Fransi voel-voel in haar overall se gatsak na haar ciggies. Dan onthou sy, sy het opgehou. Wat sy raakvat, is haar selfoon.

      “Ja. Black Dune Rises of Black Dune of so iets.”

      Mens kan ook net soveel bog aanluister sonder om iets te sê.

      “En hy gaan daarin speel,” vra Fransi skepties, “dié Matt Delmayer?”

      “Jip. Dis wat hulle sê.”

      Fransi kan al weer nie help om haar eie reël van “do not engage and do not make eye contact” wat sy in sulke gevalle toepas, te oortree nie.

      “Asseblief, Vernon? Pure bullshit-storie. Black Dune Rises klink soos ’n goedkoop knockoff en Matt Delmayer speel nié in low budget-produksies nie. Hy is in ’n klas van sy eie.”

      “Ek sê maar net wat ek gehoor het. Mister Delmayer is glo upstairs as we speak.”

      “Nou hoekom op dees aarde sal Matt Delmayer juis hier na die gatkant van die wêreld toe kom?”

      “O, wel,” borduur Vernon voort, “Kaapstad is nie exactly die asshole of the world nie. Besides, ek het ’n voëltjie hoor fluit onse eie Charlize is nie die enigste award-winning actor wat op South African soil gebore is nie. En hy en ons eie CEO, Mister Muelle, is glo somehow ou connections.”

      “Wie vertel vir jou hierdie strooi?”

      “Ek het my contacts.”

      Fransi sluk liewer haar irritasie weg. Mister Know-it-all hoef allermins te weet sy het al self in swak oomblikke ure lank sulke nuttelose trivia oor die einste Matt Delmayer gesit en google.

      “Jammer, jy sal my nou moet verskoon, Vernon. Ek verwag ’n belangrike oproep. Asseblief?”

      “Dalk is dit Black Dune Rises se production. Ek het juis gehoor hulle kort nog ’n female lead.”

      “Het jy nie werk om mee aan te gaan nie? Hoekom gaan haal jy nie solank die resin-gietsels van daai rivierklippe uit die rubber moulds nie, huh? Hulle behoort nou mooi gestol te wees en ons moet omtrent nog veertig giet.”

      “Oukei, oukei, boss, I know when I’m not wanted . . .”

      Fransi laat haar assistent skouerophalend gaan. Mens mors nie jou energie nie. Choose your battles, and use your weapons, is haar ma se motto om te oorleef in ’n manswêreld. Haar ma weet. Ná vier seuns en ’n moeilike man in die huis. En Fransi weet ook. Want sy was ook daar. En as die heelal anders besluit