hier gekom nesskop ’t. Want hy was nou sommer m’t een woord ’n oorlams mannetjie gewees.
Hy’t hierso angekom offie dorp an hom gebehoort ’t, alewig in ’n soet en so ’n bont borslap van ’n taai en sukke hoëhakskoene amper soos ’n vroumens s’n, net dikker. Dit was seker ok mar gewees solat hy die mense darem innie oë kan gekyk ’t, want hy was mar ’n kort mannetjie gewees. En sy haartjies was altoos gekam gewees of ’n Jirsiekoei die speul pas glykgelek ’t. Mar onner daai fensiegeite het sommer ’n renoster van ’n vel gesit. Kyk, hy’t nou nooit eers ’n gewone skimp kan gevang ’t nie.
Soos die keer wat hy daar innie hotel by die jaarafsluiting vannie kopperasie se direksie – ja daar ’t hy ok vir hom ingewurm – gesit vertel ’t hoelat hy einlik altyd, toet hy nog ’n kind gewees ’t, ’n seerower wil geword ’t. En toe sê ou Janus Stofkloof daar van dié kant af: “Nou, lat ’n man nou jou wense só kan verwesentlik, nè? Dit kry ons nie ammal reg nie.” En toet dit lyk of hy nie die punt gevat kry nie, sê ou Koos Vermele nog: “En toe loop word jy mar ’n gewone rower!” Mar wat, dié prekkereer ’t net gelag. Kop toe het hy sukke goed nooit gevat nie en al wat ’n skanne is wat hy hier oorgekom ’t, het hy m’t sy gelaggery geoorlewe.
En so was hy gewees van die heel eerste dag af wat hy hier angekom ’t. Hy’t daai tyd die Poskantoor se mense, vannie Posmeester af tot by ou Kytie Kraai wat innie sentrale gewerk ’t, se senewese heeltemal rou geskawe gehad soos hy vir hulle geverpes ’t oor ’n founlyn in sy eie kantoor – dis nou behalwe virrie lyn wat na sy ontvangsmeisietjie se kantoor toe geloop ’t en wat sy vir hom op ’n binnelyn mee kan deurgesit ’t. Toe ’t hulle mar ten einde raad solank virrie prekkereertjie ’n foun gegjee lat dié dan mar as ’n soort pand op sy tafel kan gestaan ’t totlat hulle nou vir hom ’n prevaatlyn ook kan gegjee ’t. En so ’t die dooie foun toe nou daar op sy tafel gestaan.
Op ’n mooi môre toe klop daar ’n man aan ’ie deur, en m’t wat hy die prekkereer se deur oopstoot, gryp die prekkereer die founbuis en hy praat kliphard oor ’ie ding solat die nuwe kliënt nou ook sil hoor wat vir ’n soort wetsman hy nou hier vir sy saak gekom nader ’t: “Nee,” sê hy virrie man aan ’ie annerkant, “ek is regtig jammer, meneer, al petaal jy my ook nou ’n duisent pônt, ek sil nie jou saak vir jou kan kom wen nie. Ek is oorvôl geboek tot omtrent Jannewarie se kant. Bel mar weer so ’n bietjie later, asseblief, want hier’s nou juis iemand wat my attensies nodig het…”
En hy druk die foun se praatgat m’t die een hand toe en hy sê virrie man by die deur, wat skoon verslae daar staan en kyk na die besige prekkereer: “Kom mar binne solank, meneer, ek lui nou net hierso af, maak jou mar solank tuis …” En m’t dié los hy weer sy hand oor ’ie praatgat en hy sê virrie man aan ’ie annerkant: “Nou mar dan hoor ek later van tyd weer van jou, nè. Tot siens.”
En toe kyk hy na die man wat so sôner woorde daar voor hom oppie stoel gekom sit ’t. En hy sien die man weet nou nie hoe om sy storie an te voor nie, oorlat hy so besig is en suffel gjeld vra vir ’n saak. En hy kyk na die man en hy sê vir hom: “Goeiemôre, meneer, en waarmee kan ek jou vandag help?”
Mar die man kyk hom nog steeds m’t ongeloof an.
“Dis mar hoelat dit in ’n besige praktyk gan, meneer. Sê mar gerus wat jou prebleem is. Hierie wêreld se mense kry natierlik voorkeur assit by sake kom, al moet ek vir julle êrens indruk,” prebeer Viljee’tjie die man anpor.
Dis eers toe wat die man aan ’ie annerkant vannie tafel sy woorde t’rugkry: “Nee, meneer, ek’t nie ’n prebleem nie. Ek’t einlik gekom om jóú prebleem op te los. Ek is vannie Poskantoor en ek’t meneer se foun gekom koenek …”
Die plaag van Bawel
Assit nie gewees ’t virrie hoogmoed vannie mensdom nie, dan’t ons ve’dag mekaar geverstaan in plaas van mekaar uitgeroei, soos wat nou die geval is. Want die Here ’t virrie mensdom ’n taal gegjee om m’t mekaar te kan praat oor hoelat die wêreld ten beste gebewerk kan geword ’t.
Mar toe issie mensdom mos harrekoejawel. Plaas lat hulle hulle se werk geloop doen ’t, wil hulle mos toe by die hemel gan inkyk. En toe loop maak hulle die plan vannie toring. En van daai tyd af sit ons m’t die gesukkel van mekaar te verstaan. ’n Mens kan verstaan lat die Here liewerster mar hulle se taal deurmekaar gemaak ’t, solat hulle mekar nie geverstaan kan gekry ’t nie. Anners het dit vir Hom gekos om als weer te lat wegspoel.
Mar ek’t ok al baiekeers gewonner offie Here nie darem net so ’n bietjie ondeund gewees ’t toet hy die mense se tale deurmekaargekrap ’t nie. Want Hy moet heelwat plesier gehad ’t uit die gemors wat daar moet gekom ’t toet die speul elkene ’n anner taal gebeginne praat ’t. Dink nou net wat sil ’n ambagsman m’t ’n eppie sam gemaak ’t as dié elke keer wat hy vir hom ’n saag gevra ’t, vir hom ’n hammer angegjee ’t, of assie messelaar virrie handlanger gesê ’t om nog sement an te maak ennie handlanger sy muur, wat hy nou net opgetrek ’t, beginne afbreek ’t.
Dit moet sommer ’n heel anskoulike besigheid gewees ’t om al ’ie verskillende soorte misverstanne van bo af te kan gesit bekyk ’t. Dit moet ampers gewees ’t soos wat die keer m’t Eg Vannermerwe sam gebeur ’t. Net miskien ’n bietjie erger.
Eg wassie van hier rond gewees ’ie. Hy’t van elders af gekom. Ek meen amper lat hy op Kenavon gebore is en toe innie myne geloop werk ’t. Hy was ’n elektriésen gewees in een vannie span mense wat hier by ons innie hotel gekom bly ’t virrie wyl wat hulle die kragdrade hier rond gespan ’t ennie sabstasies gebou ’t. En hy’t uit beginsel uit net geweet van Afferkaans.
Oppie selle span was daar heelparty anner nasies se mense ok gewees: enjineers en hyskraandrywers en wat nog – ampers soos ’ie speul wat aan ’ie toring van Bawel gebou ’t. Dis net lat hulle klaar kinners vannie plaag van Bawel gewees ’t en mekaar vannie begint af nie geverstaan kan gekry ’t nie. Dit ’t hulle ampers ’n jaar gevat ommie paar myl elektriek draad hier by ons verby gespan te gekry ’t voorlat hulle vêderan kan geversit ’t.
Nou, allie ongetroude mense oppie span ’t innie hotel oppie dorp gebly en smôrs en saans daarso geëet. Ennie hotelman ’t vir elke kamer ’n stoel aan ’ie etenstafel gemerk. As jou kamer se nommer nou vyf gewees ’t, dan’t jy oppie stoel wat “vyf” gemerk gewees ’t geloop sit. Op dié menier was hy dan seker gewees lat elkeen wat daar gebly ’t elke dag kos gekry ’t en lat vannie anner mense oppie span nie ok sommer gekom ansit ’t nie. As jy op jou stoel geloop sit ’t, het jy jou kamersleutel virrie wyter moet gewys ’t, solat hy seker kan gemaak ’t lat jy ’n petaler is.
En op dié menier ’t Eg oorkant ’n anner nasie se mens aan ’ie tafel gebeland. Nét hul twee ’t aan dié tafel gesit. En oor hulle dieselle tyd die bus na hulle se werkplek toe gevang ’t, was hulle ok elke môre dieselle tyd aan ’ie brekfistafel gewees.
Ennie eerste môre wat hulle an ’ie tafel loop sit, toe gooi die anner nasie se mens sy servet op sy skoot oop, en Eg druk syne se punt voor by sy hemp in. En toet hulle sil beginne eet, toe knik die man vir Eg en hy sê vir hom iets soos “Bom Appeltiet”. En Eg dink nog lat dit darem ’n snaakse soort naam is om te hê, mar hy sê niks. En hy leun so oor ’ie tafel en hy steek sy hand uit en hy sê: “Eg Vannermerwe.” Ennie kêrel aan ’ie annerkant vannie tafel gjee so ’n laggie en toe val hulle weg m’t eet.
Die volgenne môre issit dieselle storie. Hulle ’t skaars gesit, toe steek die kêrel sy hand oor ’ie tafel en hy sê vir Eg: “Bom Appeltiet.” En Eg dink lat die kêrel darem erg kort van gedagte is vir ’n enjineer, mar hy vat die kêrel se hand en hy stel homself weer voor: “Eg Vannermerwe,” en hy begint sy pap te eet.
Toet dit die derde oggend weer gebeur, begint Eg te dink dié man kannie reg in sy kop wees ’ie, en hy’s nogals die ene wat die sabstasies moet opkoenek. Wat vir ’n gemors sil dié kêrel nie anvang as hy nie eers ’n mens se naam vannie een dag oppie anner kan geonthou kry nie? Mar hy groet hom toe mar weer, en hy stel homself weer voor.
Net wat hy klaar geëet