weet dis slegte nuus wat kom. Baie sleg. Soos ’n doodstyding … Tog, toe die woorde kom, skok dit dieper as waarop sy voorbereid was.
“Ek wil ’n egskeiding hê.”
Buite dreun ’n motorboot oor die dam en die ganse snater teen die grensdraad vir ’n verbyganger. Kattebol kom spring op haar skoot, aan die bedel vir ’n bakkie melk. Maar al waarvan Nikka bewus is, is die vyf woorde wat uit haar man se mond gekom het. Wat nog steeds in die lug tussen hulle hang en wat haar lewe aan flarde geruk het. Dit kan nie wees nie. Hy is nie ernstig nie …
Ruan is wasbleek en sy stem ’n skor fluistering. “Ek is jammer, Nikka. Dis nie jou skuld nie. Om jou seer te maak is die laaste ding wat ek wil doen. Maar dis die beste uitweg …”
Sy het gedink haar glas is leeg, maar daar was blykbaar nog wyn oor. Sy moes die glas skeef gekantel het, want sy voel die nattigheid oor haar vingers drup. ’n Oomblik lank dink sy die natrooi strepe is bloed, en sy vind dit nie vreemd nie. Haar binneste pyn so verskriklik, dis logies dat daar bloed uit haar lyf sal kom.
Het Ruan gesê hy wil haar nie séérmaak nie? Hoekom het hy dan huis toe gekom om te praat, om te sê hy wil haar nie meer hê nie? Haar hart in stukke te breek … Sy sit die glas op die koffietafel neer, soek ’n sakdoek in haar mou en vee haar vingers droog. Dan tel sy die Siamese kat op en hou hom vas. Dis asof sy gerusstelling uit die roetinebewegings put en troos uit die warm lyfie teen haar bors.
“Egskeiding?”
Sy sê die woord asof dit ’n vloekwoord is. In die koerante en tydskrifte lees mens: twee uit drie huwelike eindig in die skeihof. Haar ouers is geskei toe sy vyf jaar oud was, die bure is uitmekaar en haar tante se man het met ’n ander vrou weggeloop. Dis so algemeen, die kerke preek nie eens meer daaroor nie.
Hoekom het sy gedink sý is immuun? Omdat sy met ’n man soos Ruan van der Hoven getroud is, wat sy al van hul skooldae af ken, wat standvastig en eerbaar is, wat sy vrou op die hande dra en nooit in die steek sal laat nie? Wat sy gedink het sy kén?
“Is jy ernstig?”
Ruan vryf weer met sy vingers deur sy hare, dan laat hy sy kop sak. “Dis beter so …”
“Béter?” Nikka kan nie glo sy het reg gehoor nie. Hoe kan ’n egskeiding beter wees as om getroud te wees?
“Beter as om jou aan ’n lyntjie te hou. Ek is nie die man wat jy dink ek is nie. Jy verdien beter.” Hy klink objektief, amper soos ’n vreemdeling.
“Ek wil nie ’n ander man hê nie!”
“Jy ken my nie.”
“Natuurlik ken ek jou!” Sy probeer om sagter en minder te praat. “Ek ken jou al dertien jaar. Hoe kan jy sê ek kén jou nie?”
“Mense word ouer; hulle verander. Word voor keuses gestel …”
“Ruan, ek …” Nikka sluk en haal ’n slag diep asem. “Ek verstaan nie wat jy probeer sê nie.”
Hy maak sy oë toe en laat rus sy kop teen die stoel se leuning. “Miskien verstaan ek self nie. My kop voel wollerig, asof dit vol watte geprop is.”
Hy is lank stil. Dan sug hy, maak sy glas met een teug leeg en staan op. “Ons praat in sirkels. Ek het vanaand ’n perskonferensie met rugby se Super14-borge. Ek wil gou gaan stort, dan moet ek ry. Los dit nou vir eers … Ons sal later weer praat, wanneer ons rustiger is.”
Nikka kyk na sy mooi hande wat met die uitstap sy hemp begin losknoop. Sy kry ’n glimps van sy breë, bruingebrande bors en die reguit lyn van sy skouers. Alles aan Ruan is mooi. Sy ekspressiewe, soenbare mond, sy groenbruin oë met die digte wimpers. Die blonde hare en lenige rugbylyf.
Die eerste keer toe sy Ruan gesien het, was in graad tien. Hy was ’n nuwe seun, van ’n ander skool af, uit die Kaap. Hy was in die A-klas, met wiskunde, chemie en elektronika – al die vakke wat die meisies beïndruk het, omdat dit vakke was waarmee hulle gesukkel het.
Ruan van der Hoven is gedurende die heel eerste oefening vir die skool se eerste rugbyspan gekies. Vleuel, omdat hy sterk gebou en vinnig was. Drieë druk was nie al wat hy kon doen nie, hy was ook ’n topatleet. By interhoër was Nikka een van die trompoppies wat die toeskouers op die pawiljoen histeries opgesweep het elke keer wanneer daardie wapperende vlasblonde kuif uit die groep weggebreek het om heel voor te hardloop en die 200 m en 400 m vir hulle skool te wen. Ruan van der Hoven was almal se held, veral die meisies s’n. Nikka was swewend op die wolke, halsoorkop en koorsig verlief op die Kapenaar.
Sy het elke tienerrubriek in die tydskrifte verslind, elke brief wat raad vra oor hoe om ’n seun se aandag te trek. Sy het ’n lys strategieë opgestel, maar dit was nie nodig om skalks deur haar wimpers te loer, ’n prikkelende sms te stuur of op die trappe “per ongeluk” in hom vas te loop nie. Ruan het die inisiatief geneem. Een pouse kamma ongeërg verbygeslenter waar sy en ’n groepie maats onder ’n boom hul toebroodjies sit en eet het. Hy het nie ’n gesprek probeer aanknoop nie, maar die kyk wat hy die fyn swartkopmeisietjie met die lang poniestert gegee het, het ’n sein uitgestuur wat duidelik gesê het: Ek sien jou. Ek wéét van jou.
Die volgende middag het hy saam met haar bus toe geloop en gevra of hy dalk langs haar mag sit. Asof dit nódig was om “dalk” by te voeg, hoegenaamd toestemming te vrá …
Die Kapenaar het die hele week saamgeloop, haar rugsak gedra en die sitplek langs haar in die bus opgeëis. Eers twee weke later het sy uitgevind hy het ’n motorfiets en dat hy die busroete in die totaal teenoorgestelde rigting gery het as waar hy in Waterkloof gewoon het. Toe sy hom daarna gevra het, het hy net gelag, haar hand vasgehou en gesê dis niks, sy’s dit werd – al daardie ekstra kilometers se draf terug skool toe om sy motorfiets te kry.
Ruan was so ordentlik, hy het haar eers ’n maand later gesoen, eers nádat hulle gekys was. Hy het vir haar ’n kysring gekoop en pligsgetrou smiddae na skool haar algebrahuiswerk vir haar gedoen. Alles was in pienk sellofaan toegedraai en die wêreld was ’n wonderlike plek. Selfs haar ma, wat hiperkrities en wantrouig was oor enige seun wat in haar dogter se rigting gekyk het, het erken die Van der Hoven-kêrel lyk op die oog af nogal skaflik.
Nikka was vyftien. Nou is sy agt en twintig en nog net so verlief op haar blonde Kapenaar soos tydens hul skooljare, universiteitsjare en sewe jaar van getroude lewe. Ondanks hul rusies en stryery wat die afgelope klompie maande al hoe gereelder voorgekom het. Dis die eise by die koerant en by die skool waar sy ’n onderwyspos gehad het wat stres veroorsaak het, het sy haarself wysgemaak. Ruan doen twee mense se werk en sy drie s’n. Haar klasse was onhanteerbaar groot, die fasiliteite power en haar hoof ’n sweepklapper wat met die leerlinge en sy personeel mors. Dit alles was faktore wat tot die wrywing bygedra het, asook haar en Ruan se finansies wat boomskraap is ná die koop van die hoewe by Hartbeespoortdam.
Hulle is nie stadsmense nie. Al het hulle op Tukkies geswot, wil nie sy óf Ruan permanent in Pretoria woon nie, nie eens in die buitewyke ver uit die middestad nie. Sy het van ’n plaas in die Bosveld gedroom, en hy van die see en die Kaapse berge.
Die ses jaar wat hulle uitgehou het in ’n goedkoop huurwoonstelletjie in Sunnyside was ’n foltering. Maar dit was die uithou werd, want op die horison het die hoewe by die dam gewink. Hulle het elke sent drie maal omgedraai. Maar hulle het ryk gevoel, want hulle het ’n droom gehad, en slegs hy wat nooit droom nie, is werklik arm.
Die hoewe met aalwyne en soetdorings en ’n uitsig oor die Magaliesberge en die dam was ’n droom wat waar geword het. Ruan het sy stukkie Kaap gehad en Nikka haar stukkie plaas. Maar dit was peperduur, eintlik onbekostigbaar. Die koopprys het hul begroting oorskry en die paaiemente op die verband is hoër as wat hulle gemaklik kan bybring. Dit veral, die finansies – oftewel gebrek aan finansies – het friksie veroorsaak.
Vir die eerste keer het sy bewus geword van fundamentele verskille tussen haar en Ruan. Hulle het saam gedroom, gespaar en toekomsplanne gebou. Maar sy is haastiger, bereid om te waag, ’n bietjie te dobbel en kortpad te kies vir vinniger resultate, terwyl hy meer verantwoordelik en konserwatief is. Ruan het haar beskuldig dat sy impulsief is, eers doen en dán dink.