stuur die gesprek in ’n ander rigting. “Ek ken eintlik net hoërskoolkinders, soos dié vir wie ek skoolgehou het. Waarvan hou vierjarige seuntjies? Lokomotiewe en brandweerwaens?”
“Bietjie afgesaag. Kies iets meer oorspronklik vir ’n eerste poging, om vir jou ’n spysenieringsnaam op te bou. Kies ’n sentrale tema wat reflekteer in die koek, die versierings en die res van die verversings. Wat van ’n dieretema? Wilde diere? ’n Koek wat soos ’n luiperd lyk? Siende dat jy dit op ’n hoewe aanbied, half in die veld tussen die bosse, is so ’n tema gepas.”
“Uitstekend!” stem Nikka entoesiasties saam.
Haar ma was lank betrokke by die Vrouediens en Landbou-unie. Sy is bekwaam en ervare en dit was ’n slim gedagte om haar te betrek. Haar ma sal dit geniet om besig te wees en nuttig te voel. As hulle so saam-saam werk, gaan dit hulle ook nader aan mekaar bring. Solank haar ma net nie soos gewoonlik weer oorneem nie, te veel in haar persoonlike lewe krap en arme Ruan kritiseer nie.
“Ek sal ’n paar stukke klere in ’n tas gooi en vroeg môreoggend oorkom, dan kan ons voortydig begin,” sê haar ma.
“Liewer vroegmiddag. Ek gaan môreoggend eers weer winkels toe om klein tafeltjies en stoeltjies te koop, soos dié by kleuterskole. En ’n erdeskottel en lampetbeker vir hande was. En hondekos en hoenderkos. Die spulletjie eet my bankrot!”
“Ja, daaraan dink mans mos nie. Piekel ’n string troeteldiere aan en bekommer hulle oor niks verder nie, die arme vrou moet maar sien en sorg.”
Nikka tel tot by tien; dit help dat sy haar ma nie ’n skewe antwoord gee nie. Maar dit laat haar skuldig voel. Is sy dan van nature humeurig en opvlieënd? doen sy onwillekeurig selfondersoek. Dan was Ruan waarskynlik reg: dat sy die blaam moet dra vir hulle verhouding wat verswak het. ’n Ontstellende en versoberende gedagte.
Dit was nie alles my skuld nie, peins sy. Maar ek sal aan my gesindheid en menseverhoudings werk. Ek is nie ’n feeks en ’n suurknol nie, dit was omstandighede. Die skool het my reserwes uitgeput en ons albei was moeg en gestres. Ruan is my man en ek het hom lief. Hy is die middelpunt van my bestaan. Ek gaan veg om hom te behou, want ek sien nie kans om sonder hom aan te gaan nie. Dis net ’n laagwaterdriffie waardeur ons ry, ’n pap band op ons pad. En ek gaan daardie band regmaak. Mysélf regmaak …
“Dankie dat Ma kom help,” sê Nikka, en bedoel dit opreg. “Ek waardeer dit. Sonder Ma se hulp sou ek regtig met my hande in die hare gesit het. As’t ware neergestort het nog voor ek opgestyg het.”
“Dis ’n plesier, kind. Jy moes lankal net gevra het.”
“Ek wou nie pla nie.”
“Dis ’n ma se voorreg om deur ’n kind gepla te word. Onthou dit en moenie skuldig voel nie. Jy weet mos ek geniet bakwerk en om besig en betrokke te wees. Ek sal klein soetkoekies bak en tertjies en beskuit. Sorg jy net dat ons al die bestanddele het.”
“Ek sal solank ’n lys maak, ook van ekstra items soos servette, papierborde, ensovoorts. Wat ek vergeet het, kan ons sommer hier by die supermark op Schoemansville kry. Die kuiertjie gaan heerlik wees! Sien Ma so teen drieuur, betyds vir koffie en melktert.”
Onmiddellik nadat Nikka die selfoon doodgedruk het, lui dit weer. Dis Ruan, soos sy gehoop het.
Hy groet skaars. “Wat is verkeerd? Hoekom het jy my gesoek?” wil hy bekommerd weet.
So, hy gee darem om of sy oor die kop geslaan is of ’n blindedermaanval of iets gehad het. Dié wete laat ’n warm gevoel in haar nesskop. Dit laat lig die swaarmoedigheid wat soos ’n nat kombers om haar gehang het sedert hy weg is.
“Niks is verkeerd nie. Ek het gebel sommer net om jou asem en jou hartklop te hoor.”
“Oor ’n foon, duisende kilometer ver? Jy’t ’n ryk verbeelding.”
“En …” Haar stem is sag en pleitend. “Om te sê ek is jammer. Oor alles …”
“Ek is ook jammer, Nieks, meer as wat ek ooit sal kan sê.”
Sy woorde gee haar die moed om verder by hom te pleit. “Niks het verander nie. Ek het jou lief, Ruan, nog net so lief soos altyd. Liéwer! Asseblief, gee my ’n kans om reg te maak waar ek verbrou het. Ek sál, ek belowe.”
“Dis nie jy nie.” Dit klink of hy die mondstuk toedruk of sy kop wegdraai. Daar is ’n stilte en dan kom sy stem koel en saaklik: “Nou is nie ’n goeie tyd nie. Ek kan nie praat nie.”
Asof hulle skielik vreemdelinge is. Wat makeer daar? Hy klink onnatuurlik … Is hy besig of nog steeds afsydig, soos voor hy weg is? Nikka wil nie aan hom torring nie.
“Ek wou net sê ek het jou lief, ek wou jou stem en jou asem hoor. Maar die eintlike rede hoekom ek gebel het, is om vir jou goeie nuus te gee!”
’n Stem praat op die agtergrond, skerp en ontevrede. Dit klink na ’n vrou, maar Nikka kan nie mooi hoor nie.
“Luister … e …” Hy huiwer. “Dis moeilik op die oomblik. Kan ek later weer bel?”
“Natuurlik, enige tyd.”
So dís die probleem: daar’s blykbaar iemand by hom, in ’n dispuut of bespreking gewikkel. Maar hoekom bel hy as dit nie vir hom geleë is nie? Hoekom nie wag tot die persoon weg is nie?
In die ou dae sou Nikka haar vervies het en gevra het wat só belangrik is dat hy nie twee minute het om haar goeie nuus te hoor nie. Maar Ruan het teruggebel en hy was bekommerd oor haar welstand. Vir eers is dit genoeg.
Sy maak koffie en gaan sit by die tafel om haar inkopielysie te maak, terwyl sy wag dat Ruan weer bel. Wat was die “moeilike” omstandighede wat hy eers moes oplos? Sy wil nie daaroor tob nie en konsentreer liewer op versiersuiker, bakpoeier, meel, vanilla en eiers. En al die bérge ander goed.
Sy het omtrent ’n trok nodig en kan haar nie voorstel hoe sy sonder die bakkie sou reggekom het nie. Thys Vorster is die dierbaarste, meelewendste man wat sy ken. ’n Absolute skatlam. Hoekom het een of ander vroumens dit nog nie raakgesien nie? Daarby is hy ’n robuuste, manlike hunk van ’n ou. Elke meisie se ideale trou-man. Hoe is dit dat so ’n vonds nog los rondloop?
Of hét hy dalk ’n nooi? Hy praat nooit oor homself nie. Op ’n dag verras hy hulle dalk en kondig aan dat hy al maande lank met ’n diamantring in ’n fluweelboksie in sy binnesak loop, reg vir die groot vraag …
Nikka kou ingedagte aan haar pen. Dis logies dat enige normale, robuuste man een of ander tyd in sy twintigerjare tot trou sal kom. Thys is Ruan se ouderdom – op pad dertig toe. Hoekom is die gedagte dat hy ’n meisie het, in ’n verhouding wat hy graag permanent wil maak, so ontstellend vir haar?
Sy hou op kou en voeg onderaan haar lys by: Malvalekkers, suiker. Sy is tog nie jaloers nie, is sy? Op ’n onbekende meisie wat dalk nie eens bestaan nie? Wat maak dit saak as Thys trou? Hy is sy eie baas, hy skuld haar niks. Of wil sy Thys vir haarself gehad het? Gehad het hy moet vir háár wag?
Sy gooi die pen neer. Natuurlik nie! Sy is getroud, sy gaan nie skei nie. Selfs al wás sy beskikbaar, is Thys buite die kwessie. ’n Mens trou nie met jou broer nie.
Dis hoegenaamd nie jaloesie of besitlikheid nie, herhaal sy ergerlik teenoor haarself. Sy gun Thys geluk saam met ’n vrou vir wie hy lief is, gun hom kinders en ’n gesinslewe, soos sy en Ruan ook graag wil hê. Dis net dat sy bang is Thys kies verkeerd en trou met ’n vrou wat sy goedhartigheid misbruik. Hy is so ’n besondere ou, hy verdien ’n vrou wat besef hy is ’n ongeslypte diamant, duisend maal meer werd as daardie klip aan haar vinger.
Wieldop kom lê by Nikka se voete. “Oom Thys is groot genoeg en oud genoeg om vir homself te sorg, sonder dat ek my kop oor hom breek,” vertel Nikka vir hom en frommel sy ore. “Julle twee ouens is eenders – albei kosbaar en getrou – en het ’n spesiale plek diep in my hart.”
Dit word laat en sy trek al by haar derde beker sterk swart koffie, sonder dat Ruan weer van hom laat hoor. Sy tik drie voorlopige spyskaarte en e-pos dit aan Janet Viljoen om uit te