aan ’n verhouding nie ons hele lewe hoef te kaap nie. Ons moet die wrede werklikheid van die verlies beleef, maar ons kan met ons lewe aangaan en weer suksesvolle verhoudings hê.
Ons het genoeg tyd nodig om deur ’n verhoudingsverlies te werk, maar ons hoef nie daar vas te haak en toe te laat dat die verlies nou die inhoud van ons lewe bepaal nie. Neem genoeg tyd om deur die emosies te werk, maar gaan aan met die res van jou lewe.
’n Paar vrae wat jy jou kan afvra om te bepaal of jy klaar gewerk het aan die verliese in jou lewe:
1.Is daar mense in my lewe vir wie ek steeds kwaad is, al het die verhouding reeds lank gelede geëindig?
2.Dra ek nog daagliks seer met my saam oor ’n gebroke verhouding?
3.Is daar verhoudings waaroor ek glad nie kan praat nie?
Soos met alle pyn en seerkry, speel vergifnis uiteindelik die deurslaggewende rol in gesondmaking. Deur die woede en hartseer saam te dra, saboteer jy slegs jou eie lewe en nie die lewe van die persoon oor wie jy so negatief voel nie. Wanneer die proses van vergifnis afgehandel is, sal jy kan onthou dat jy baie seergekry het, maar jy sal dit nie meer kan voel nie.
Ek is ’n reeksverneuker
Toe gebeur dit weer
As 16-jarige verneuk Christiaan sy eerste meisie. Dit gebeur op ’n skooltoer en hy is baie verlig toe sy nie daarvan te wete kom nie. Dis nie asof hy werklik ’n verhouding met die ander meisie wou hê nie, dit was net so opwindend om te dink aan die avontuur van ’n nuwe romantiese oorwinning. Die ander meisie is diep teleurgesteld en praat nooit weer met Christiaan nie.
In sy matriekjaar ontmoet hy ’n meisie waar hulle met vakansie is. Sy woon in ’n ander deel van die land, maar die twee val behoorlik vir mekaar. Hulle besluit, teen alle raad in, om wel die verhouding ’n kans te gee. Hulle bel gereeld en is gedurig in kontak deur middel van tegnologie. Mettertyd ontwikkel hulle diep gevoelens vir mekaar. Twee weke voor die eindeksamen verneuk Christiaan dié meisie ook. Agterna besef hy dat hy nie eintlik sleg voel daaroor nie, hy is dan nie uitgevang nie. In die jaar wat volg, is hy ’n paar keer betrokke by ander meisies sonder dat sy verhoudingsmeisie snuf in die neus kry.
Hy is ’n goeie ou
Christiaan is ’n goeie ou. Hy werk hard, hy is ’n goeie vriend en geniet tyd saam met sy ouers. Hy is gewild onder sy vriende, want hy hou daarvan om nuwe en interessante dinge te beleef. En aan sy sy is daar gewoonlik ’n mooi meisie. Hy is dan ook gewoonlik in ’n verhouding met daardie meisie, want Christiaan hou daarvan om te weet dat daar iemand nét vir hom is. Hy is ook meetbaar ’n goeie kêrel vir sy meisies. Hy bederf hulle met tyd en aandag.
Maar daar is die uitdaging van getrouheid. Vir Christiaan is getrouheid ’n begrip wat hy dikwels in sy verhoudings bespreek. Hy maak seker dat die meisie met wie hy uitgaan, weet dat sy getrou aan hom moet wees. Hy wil nie die teleurstelling van ontrouheid beleef nie. En dit is hierdie beeld wat hy dan aan hulle voorhou in terme van sy eie gedrag.
Maar dan, as hy hom weer kom kry, is hy in ’n flirtasie met iemand by die werk, of by die gim of ’n kongres. Die flirtasie laat hom goed voel oor homself, hy beleef hom as aantreklik en begeerlik en voer dan die proses verder.
Dis ’n roetine
Hy ken nou al die ritueel goed. Hy skep nie doelbewus die idee dat hy enkellopend en beskikbaar is nie, hy stuur net die gesprek weg van daardie onderwerpe af. Hy kom altyd baie rustig voor, maar laat min twyfel oor sy belangstelling. Sy strategie sluit altyd die begrip “kom ons kyk wat gebeur” of “kom ons vat dit rustig” in. Vroue is gefassineer hierdeur, aldus Christiaan. Dit gee hom ook die nodige tyd om steeds sy huidige verhouding in stand te hou.
Hy is ook nie die ou wat aktief na die ander verhoudings soek nie. Hy speel gewoon die spel wanneer daar iemand oor sy pad kom wat dalk sou belangstel. Dis ’n kwessie van opportunisme, aantreklikheid en waagmoed, reken hy.
Hy laat die interaksies tydens hierdie flirtasies nie noodwendig tot verhoudings ontwikkel nie. Dis die belangstelling, die aanvanklike onsekerheid en opwinding wat vir hom die lekkerste is. Dit laat hom vrolik en opgewek voel.
Hy is uiters planmatig oor hoe hy sy slimfoon gebruik. Daar is rituele en roetines wat hy hom aangeleer het. Hy vee élke teksboodskap uit nadat die gesprek voltooi is. Ook die teksboodskappe van sy meisie en sy vriende. So kan niemand sê dat hy agterdogwekkend optree nie. Sy slimfoon is altyd op “silent” gestel en lê altyd met die gesig na onder. Niemand anders antwoord sy foon nie. Daar is nie ’n wagwoord op die foon nie, dit sou agterdog wek.
Soms gaan daar maande verby dat Christiaan gelukkig en tevrede binne sy verhouding leef. Hy voel vervuld binne die verhouding. Hy het al baie hieroor gedink en besef dat hy nie weens ’n gebrek aan verhoudingsgeluk rondkyk nie. Hy was al uiters gelukkig en tevrede en het tog ook in emosionele ontrouheid met iemand anders verval.
Hoe gebeur dit?
Sommige mense, soos Christiaan, se geluk word primêr bepaal deur die omgewing rondom hulle. Ander mense se binnewêreld bepaal hulle geluk. Indien ek dan self gelukkig is, steur ek my minder aan wat om my aangaan. My selfbeeld word nie bepaal en gerig deur wat ander van my dink nie. Ek is ook minder kwesbaar om aanvaarding te vind in die gedrag van mense teenoor my.
Christiaan se selfbeeld as man word diep geraak en gerig deur die aandag wat hy van vroue ontvang. Dit maak hom kwesbaar vir ontrouheid. Die gebrek aan selfaanvaarding en selfliefde veroorsaak dat hy voortdurend na nuwe bronne van aandag soek. Hy dink nie hy soek nie, maar indien daar ’n emosionele “voedingsgeleentheid” oor sy pad kom, neem hy dadelik die kans waar. Sy huidige verhouding voed hom nie genoeg nie. Geen enkele verhouding kan daardie plek vul wat deur ons eie goeie selfbeeld gevul moet word nie.
’n Goeie en gesonde verhouding met die self dra daartoe by dat ons gelukkig en tevrede kan leef binne ’n eksklusiewe liefdesverhouding. Dan voed die verhouding dit wat reeds binne die mens bestaan. Die gebrek aan selfliefde laat ’n gaping in die self en die persoon probeer daardie leemte deur middel van veelvuldige, oppervlakkige flirtasies vul.
Hierdie gedrag kom teen ’n hoë prys vir die persoon self, maar veral teen ’n hoë premie vir die verhouding waarin so iemand tans is. Indien die persoon nie sy selfbeeld kan verbeter nie, sal die soeke na meer aandag bloot voortduur tot in bejaardheid.
Daarom sien ons die Christiaans van die wêreld in hulle 1970’s en 1980’s wat steeds nie getrou in verhoudings kan wees nie.
’n Paar vrae wat jy jou oor jou selfbeeld en getrouheid in verhoudings kan afvra:
1.Aanvaar ek myself en hou ek van myself, of word my selfaanvaarding bepaal deur die gedrag van ander?
2.Kom ek agter dat ek aandag by ander soek om beter oor myself te voel?
3.Is ek emosioneel ontrou in my verhoudings?
Onthou tog dat ons wel emosionele verhoudings met iemand kan hê sonder om ’n seksuele verhouding te hê. Die skade wat emosionele ontrouheid aan ’n verhouding aanrig, is dikwels net so intens soos seksuele ontrouheid. Die doeltreffendste manier om hierdie dilemma op te los, is om by jouself te begin. Wees eerlik genoeg dat jy eintlik redelik min van jouself dink en dat hierdie najaag van aandag soos ’n verslawing werk. Deur diep na jou eiewaarde te soek, sal jy jou minder kwesbaar maak vir die versoeking om aanvaarding buite jouself te probeer vind.
Ek is steeds afhanklik van my ouers
Ek sê dit nie meer vir mense nie
Emile woon gerieflik in die woonstel op sy ouers se erf. Die hele opset werk goed. Dit het aanvanklik begin toe sy pa siek geword het en hy moes inspring met die versorging van die huis en die tuin, maar dis nou 12 jaar later, sy pa is gesond en hy woon steeds daar. Hy eet elke aand saam met sy ouers en kuier dan ’n bietjie voor hy na sy eie plek oorstap.
Hy geniet sy werk, maar voel verveeld met die gebrek aan uitdagings. Hy is al agt jaar by dieselfde maatskappy en sy werk is voorspelbaar en doenbaar. Hy is meestal reeds teen vroegmiddag klaar met sy take en sit dan rond en bring sy tyd