Jacqueline Leuvennink

Wanneer water wyn word


Скачать книгу

meer ontspan. As sy die slag wel lekker kraai van die lag, voel die hele huis gelukkiger. Dan lag almal sommer saam.

      Pa is weer altyd ’n bok vir sports. Ek kom agter hy hou baie van die skoner geslag. Hy skerts en lag graag met hulle. As iemand dan ’n storie aandra, waai die hare. Ma het ’n vurige temperament en boender sommer die ander vroue, haar manier om te sê: Bly weg van my man af.

      Sy hou haar eintlik half eenkant en dit gee aanstoot. Party sal vir haar sê: “Dina, ’n mens issie soe nie.” Dit vat nogals aan my. Dalk is Ma net kwaad oor haar lewe wat nie maklik is met die span kinders en al die werk nie.

      Sy het tog ’n paar gawe vriendinne. Mense soos ant Lang Joyce en ant Kort Joyce. Die een bly bo haar en die ander een onder haar. Sy is ook lief vir Tietie, so ’n klein vroutjie. Hulle was partykeer saam wasgoed en dan gesels en skerts hulle land en sand.

      Hoofstuk 2

      Ek hoor ons is so by die 200 mense op Paternoster. Daarvan is ons bruin mense die meeste. Die wit mense is seker so altesaam tien families. Dit is die fabrieksbase en hul gesinne. Met huise wat effens eenkant staan, so ’n trappie hoër op. Tietie is weer van die kampong, dit word Die blok genoem, ’n entjie uit die dorp waar bruin en swart saam-saam woon. Die mans wat seisoentyd met die trein uit die Transkei kom om te help snoek en kreef vang, bly altyd daar, dit lyk amper soos ’n backpackers vandag lyk.

      Die swart mense wat van Transkei kom, praat ’n ander taal as ons en is ’n bietjie anders as ons. Eers hardloop ons kinders weg wanneer ons hulle sien aankom. Maar toe Pa later bevriend raak met Sam en Tandjies-hulle raak ons gewoond aan hulle, en hulle probeer hard om Afrikaans te leer.

      Die kinders speel almal saam. Daar is nie by ons ’n ding van swart of wit of bruin nie. Ons kom net agter die wit kinders klim in ’n bussie om op Vredenburg skool te loop. Hulle het ook elektriese ligte, toilette binne-in die huis wat met water spoel en dinge soos ’n stouf, yskas en ’n haardroër terwyl ons moet son soek vir die krullers in die hare.

      In Ma se huis het elke ding ’n tyd. Van opstaantyd tot vuurmaaktyd en gaanslaaptyd. Soggens agtuur laat sy die hoenders, kalkoene en eende uit. Dan kom pik hulle die geelmielies op wat sy op so ’n sementblad voor die huis vir hulle gooi voor hulle in die veld gaan skrop-loop. Smiddae vyfuur kom hulle weer terug hok toe aangestap asof iemand hulle geroep het.

      Dis dan dat Ma op die stoel by die agterdeur gaan sit en haar een St. Moritz van die dag rook. Almal weet dis haar stukkie tyd vir haarself wanneer jy haar nie moet pla nie. Sy sit en kyk uit oor die jaart, maar ek dink nie sy sien regtig iets nie.

      Haar pluimvee is vir haar belangrik. Sy gooi aalwyn in hul drinkwater om hulle teen siektes te beskerm, en as hul oë seer is, dokter sy hulle met ’n mengsel van Vaseline en Stinkdruppels. In die winter maak ons die kuikens in die huis groot. Hulle slaap in ’n boksie voor die houtstoof tot hulle sterk genoeg is. Sy is bang hulle word in die hok vertrap of verkluim dalk van die koue.

      My sus Dawn, twee jaar ouer as ek, kry dit eenkeer in haar kop om van Pa se Vaaljapie in die hoenders se waterdam te gooi. Toe Ma haar weer kom kry, lê haar kosbare jong kalkoentjies en hoenders bene in die lug op hul rûe in die water en dryf. Sy gil op ons om te kom help. Ons storm vervaard nader. Die hoenders het seker ’n siekte. Maar Ma is darem nou ook nie onder ’n kalkoen uitgebroei nie. Sy kry gou snuf in die neus en ruik aan die water. Toe sy verwoed na die sondaar begin soek, lê daar al ’n stofstreep agter Dawn en haar medepligtiges.

      Agter die kombuisdeur het Ma ’n werksrooster opgeplak sodat elke kind weet wat sy of haar take is. Jy het oggend-, middag- en aandtake. Langs die werksrooster hang ’n plaks, ’n herinnering aan wat op jou wag as jy durf lyf wegsteek.

      Die waterkraan wat ons met tien gesinne deel, is so 200 m van die huis af en die huisemmers moet gereeld vol water gemaak word; dit kan nie lank staan nie, dit moet skoon en vars wees. Ons loop gereeld op en af met klein emmertjies om die groot emmer in die huis vol te maak.

      Een aand is dit weer Landie se beurt om water te gaan haal. Sy stel uit tot dit reeds stikdonker is. Daar is geen straatligte nie en in die donkerte kan ’n mens jou maklik allerhande goed begin verbeel. Sy kom uitasem en skree-skree by die agterdeur ingehardloop. Daar is ’n ding buite wat lyk soos ’n perd wat lê …

      Dit laat Pa, Ma en al wat kind is buite toe spaander. En Landie het haar sowaar dié keer nie verbeel nie. Daar roer beslis iets in die donker. Dis Mankie, een van Pa se maters, wat aan ’t sukkel is om met sy krukke orent te kom. Katswink geswael.

      Met Landie nou ietwat lugtig vir die donker, kry ek lus om haar ’n streep te trek. Toe sy een aand weer sing-sing van die kraan af aangestap kom met die twee emmertjies water, spring ek agter die droë takke uit wat om Ma se bleiktuin lê. Landie gee ’n harde gil. Sy gaan staan botstil. Haal diep asem. Tel weer haar emmertjie op. En keer dit summier op my kop om. Ek sê maar liewers nie vir die ander hoekom ek nog teen slapenstyd sukkel om my hare weer droog te kry nie. ’n Boontjie weet wanneer sy haar loontjie kry.

      Kort daarna gaan sit ek eendag in die kruiwa om ’n stuk brood te eet. Ma het gebak en ek mag dié keer die korsie kry. Dis lekker dik gesmeer met botter en konfyt. Ek kan omtrent nie wag nie. Net toe ek my regmaak om my eerste hap te neem, kom Landie en keer die kruiwa om. Ek en my warm korsie beland in die sand. En ek weet ek sal maar net my verontwaardiging moet sluk. Ma staan gelukkig nog ’n sny brood af toe ek sê dit het per ongeluk in die sand geval.

      Een van my take is om die lampies vol olie te maak, die lampglase skoon te maak en die lampe dan aan te steek wanneer dit donker raak. Ek sorg dat ek ekstra pasop met die mêtjies. Toe ek nog baie klein was, wou ek eenkeer die primusstoof opsteek om teewater vir my pa te kook. Ma was nog doenig met die wasgoed. Met die skraap van die mêtjie het ’n oop spiritusbottel wat langs die stofie gestaan het, vlam gevat en die houttafel aan die brand gesteek. Ek het my asvaal geskrik, vreesbevange in ’n hoekie langs die tafel ingekruip en so hard geskree as wat ek kon. Gelukkig kon Ma tot my redding kom en betyds die vlamme met ’n nat vadoek dooddruk.

      ’n Ander keer vermaak ons ons weer tog te lekker deur in kartonbokse buite voor die vuur te speel. Dis koelerig en Ma-hulle is binne. Ons verbeel ons die boks is ons skip en Dawn is die skipper wat met ons op die oop blou see moet uitvaar. Die volgende oomblik tuimel die boks onverwags om. Toe ons ons kom kry, lê ons skipper hande-viervoet in die vuur. Beenvelle afgebrand.

      June, my tweede oudste suster, reageer dadelik. Sy spring regop, laai Dawn op haar rug en abba haar na die verpleegsuster toe. Gelukkig woon sy in die huis net langs ons. Nurse Veronica Coraizin verbind die snikkende Dawn se brandplekke. Sy sit sulke geel goed op wat hulle vir alle oop seerplekke gebruik. Voortaan is ek baie versigtiger vir vuur.

      Gewoonlik sê my ouma sommer vir Ma wat sy van die plante uit die veld uit kan gebruik. Hulle dokter ons ook met Dutch remedies, Wonderkroonessens, Rooilaventel, Jamaika-gemmer en al daai botteltjies medisyne met die geel labels.

      Hoofstuk 3

      Die see op Paternoster is nog net ’n werksee. Niemand kan raai dit gaan later ook ’n vakansiesee word nie. Waar ’n man hande agter die rug of hande in die broeksak met sy oë vasgenael op die see staan, weet jy hy kyk vir kos. In die winter kan die skuite soms glad nie in die see kommie. Maar die manne staan steeds in die sleg weer buite om die vis in die brandwater raak te sien. Teen die tyd dat hulle nette intrek, is almal druipend nat.

      Winteraande wanneer die ysgrys branders met mag strand toe stoot en dit voel asof die wind alles platvee, hou almal deur en vensters dig. Op stiller aande gaan sit ons egter graag styf langs mekaar om die vuur, pure sardiens in ’n blikkie. As Ma nie kyk nie, waag ons dit om stokkies in die vuur te steek en versigtig ligkringetjies in die donker te maak.

      Partykeer ril jy liggies van die koue. Soms ook van opgewondenheid. Daar is altyd ’n kans dat die ooms op so ’n aand ’n storie of twee vir ons kan uitryg. Seestories loop met gemak diepsee in en duine oor. Ons hoor van swerwers en skipbreukelinge wat hier aan wal gestap het.

      Terwyl oom Kok