>
Anita du Preez
Mooier as Marilyn
Queillerie
Vir Rina,
omdat sy maar nog altyd daar is vir my.
“It’s not true that I had nothing on. I had the radio on.”
– Marilyn Monroe
1
Die lewe vat en gee mos. Dis nou eenmaal hoe dit werk. En soms kan die onverstaanbare tydsberekening mens nogal jou eie asem laat insluk. So asof die heelal jou aanvat as opponent in die een of ander digitale speletjie en nes jy dink jy kry ’n paar punte, dan verloor jy eintlik. Soos die ding dat ek my man verloor het net mooi toe ek my perfekte styl gevind het. Ek bedoel, dit sou mos nou baie beter gewerk het as ek toegelaat is om al twee te hou, sou dit nie? Watter vrou wil nie stylvol wees aan haar man se arm nie?
En, for that matter, behoort enige girl cool en stylvol te wees die dag wanneer sy die bliksem betrap met daardie einste arm om die een of ander cheap tert?
In my geval het die heelal besluit dat ek binne die bestek van vier en twintig uur een ding sou kry en die ander een kwyt sou wees. As ek terugkyk, kan ek sien presies waar alles begin het, maar die actual papaja se pulp het eers uit die waaier gespat die dag toe ek my liewe eggenoot, Vincent, in Beleza saam met Gloria gesien het. Reg in my gesig. Met my nog skaars in my nuwe uitrusting.
Dit het só gebeur:
Vincent was in Pretoria vir ’n mediese kongres en ek en my vriendin Ina (wat onlangs Christine geword het) is die Sondagoggend Beleza toe. Dis die klein restaurantjie oorkant die ou Rafiki’s in Kloofstraat. Ek was nog nooit daar nie, maar Christine het eenvoudig besluit ons móét soontoe vir ’n laat ontbyt. En Christine weet van.
Sy glo vas daar is so baie eetplekke in Kaapstad dat mens elke dag van die res van jou lewe een kan uittoets (verkieslik elke keer saam met ’n ander man) en doodgaan voordat jy by almal uitgekom het. En sy doen haar bes, want ons kan nie vir ewig duskant veertig bly nie.
Christine is nie ’n huismuis soos ek nie. Sy probeer hard om haar oorlede Reginald se fortuin uit te gee. Op haarself en haar twee Yorkies genaamd Oom Piet en Antie Soes. Omdat hulle al familie is wat sy het, sê sy. Maar boweal spend sy op reis. Waar sy nog nie was nie, is nie nodig om te gaan nie. En tog is sy altyd weer op pad iewers heen. Sy is met ander woorde ’n mover en ’n shaker. En as jy op jou beurt nie move nie, dan kom shake sy vir jou. So ken ek haar al van laerskool af. Ek self sou nooit so ver gekom het nie. Deur die jare het ek my wysgemaak dis oor ek hou van my space en dat ’n naweek sonder Vincent vir my ’n tydjie is om ’n slag te doen wat ek wil. Wat ek die laaste tyd meestal wou doen, was om in my bed te lê en vrot. Christine wou dit nie meer duld nie, toe kom haal sy my. En jaag my uit my bed tot binne-in my jeans.
“Good grief, vrou! Sit tog at least bietjie lipstiffie aan,” het sy met haar rokerstem beveel en my iets uit haar ruim grimeersakkie aangegee toe ek dog ek is klaar. “Sit aan! Jy lyk of jy asemnood het! Só kan dit nie ’n dag langer aangaan nie. Jy sal nog vir my dankie sê. Life goes on. Kom, kom, kom!”
Ek het geluister. Seker omdat ek finaal besef het dat as ek Christine verloor, ek dalk geen enkele vriendin sal oorhê nie. Net Siri, my Apple iPhone met wie ek soms in die nanag diep digitale gesprekke voer.
Dis hoe ek myself dan nou kom kry in die laatoggend-winterson op die restaurant se plankstoepie met ’n bord Eggs Benedict voor my, tussen ’n klomp hipsters in my ou jeans en met Christine se bloedrooi lipstiffie aan.
“Kyk, Desiree, jy is mos nie ’n lelike vrou nie, nè?” verklaar sy hard genoeg dat die mense by die tafel langsaan opkyk. Ek beweeg my kop, onseker of ek veronderstel is om dit ontkennend heen en weer te skud of samestemmend op en af te knik. Mens weet nooit met Christine nie. Toe doen ek maar iets tussenin. Die vrou langsaan gee my ’n foeitog-smile soos vir een wie se lift nie heeltemal tot bo gaan nie. Christine kom niks agter nie, want sy’s nog lank nie klaar met my nie.
“Maar jeez! So kan jy darem nie forever lyk nie. Jy moet bietjie meer styl kry, jong,” gaan sy voort tussen fyn happies eier deur.
“Styl?”
“Ja. Styl. ’n Vrou moet haar eie styl hê, nie waar nie? Veral op ons ouderdom? Ek bedoel, vat nou vir Coco Chanel. Of Jackie Onassis. Kyk, daai vrou het nou vir jou styl gehad. Of al daai ou movie stars soos Rita Hayworth en Marilyn Monroe oor wie jy so gaande was. Almal vrouens met hulle share hartseer agter hulle, maar hulle het deur alles altyd styl gehad. Selfs Madonna of even Rihanna het hulle eiesoortige styl.”
“En jy wat Ina is het dit ook?”
“Christine, asseblief. Ek … wel … mag miskien … e … effens mollig wees, maar dit beteken nie ek het nie styl nie! Ek dra swart in die winter en wit in die somer en tussenin meng ek die twee so bietjie en ek gee dit sjoesh met ’n spatsel kleur.” Haar rooigeverfde naels fladder na haar duur haarkapsel en sy tuit haar rooi lippies, vars gebotox in Switserland of iewers. “Dít, my darling, is my thing. My styl.”
“En dis iets wat ek nie het nie?”
Christine hoes fyntjies, lig een perfek geplukte wenkbrou en fladder haar lash extensions betekenisvol. “Wel, vergewe my, vriendin, maar jou klerekas lyk die afgelope paar jaar soos eergister se vrugteslaai. Jy lyk alewig asof ’n nagmerrie jou deur Pep Stores, Pick n Pay Clothing én Mr Price Clothing gejaag het en jy die eerste die beste goed van hulle rakke af aangepluk het.”
Jy het ook maar geen idee nie, het jy? Hoeveel dit verg om vandag hier oorkant jou te sit nie? vlie die gedagte deur my kop. Niemand verstaan nie.
“Niks fout met …” probeer ek walgooi.
“Sjoesj! Ek’s nie klaar gepraat nie!” Christine se vurk swaai rakelings by my neus verby. Die vrou langsaan kyk simpatiek na haar. Sy verstaan dat dit vir iemand soos Christine swaar moet wees om met iemand soos ek opgesaal te sit. En ek weet hoe dit voel. Ek is per slot van sake ook met my opgesaal.
“Nee, dis nie jou fout nie, skatlam.” Christine is nou behoorlik in haar element. Sy laat rus ’n super-patronising hand op my voorarm. “Wát jy dra, is nie die kwessie nie, my ding. Hoe jy dit bymekaarsit, is wat die verskil maak, verstaan jy? En anything goes is nie stylvol nie. So dis wat ons vir jou moet kry, sien? Jou eie styl.”
Sy kyk rond en ek kan sien iets in die ry vintage-klere op ’n klerehanger langs ons vang haar oog. Sy leun oor en pluk ’n rok nader.
“Dit kan werk. Gaan pas binne aan!”
Ek gehoorsaam om drie redes. Omdat ek nie die energie het om te stry nie, omdat ek nooit die einde daarvan sal hoor as ek dit nie doen nie, en omdat ek so seker is dat ek soos ’n bag lady sal lyk in die verdomde rok, dat ek dit bloot uit spitefulgeit wil aanpas om haar tog net een keer verkeerd te bewys. Buitendien moet ek na twee koppies koffie by ’n toilet uitkom.
Die rok herinner aan die vyftigerjare en is dalk gemaak vir iemand met bietjie minder kurwes as ek, kom ek agter toe ek dit oor my kop sukkel en die ritssluiter optrek. Maar toe ek die oorvou-voorkant oor my bates gladgestryk kry, lyk dit nogal nie onaardig in die besproete antieke spieël nie. Ek was mos nog altyd taamlik geseënd in daardie departement. Miskien tog, dink ek toe ek buitentoe stap.
By die deur is ’n rak met bykomstighede en vir die eerste maal in ’n baie lang tyd verbaas ek myself en vang ’n greintjie gees. ’n Afgewaterde weergawe van die waagmoed waaroor ek beskik het toe ek nog geweet het wie ek is. Ek was mos van kleins af lief vir konsert hou en opdress in my ma se klere, en in my arm studentejare was die Heilsleër se winkel op Stellenbosch my enigste gebaar in die rigting van haute couture.
My oog vang ’n roomkleurige katoog-sonbril. Pure Marilyn. Soos Christine sê, ek het mos nog altyd bietjie van ’n thing oor haar gehad. Ek plak die bril summier op. Sy sou van die paar inglipskoentjies met die katjiehakkies ook gehou het, weet ek die oomblik toe ek hulle sien, en hulle pas my sowaar. Gelukkig is die rooi naellak op my tone nooit getjip nie – so laag het ek nog nie gedaal nie. As toegif gryp ek in die verbygaan ’n outydse krale-handsakkie. Toe mince ek verby die tafeltjies met mense wat liewer maak of hulle my nie raaksien nie.
“Nice.