Anita du Preez

Mooier as Marilyn


Скачать книгу

gaan sit op die bed, tel die foon op en kliek uit gewoonte op Facebook. Blah. Op WhatsApp. Daar is boodskappe. Ek lees nie een nie. Blah-blah. Ek kliek lusteloos op Gmail. Natuurlik is daar ’n e-pos van Avaaz, wat wil hê ek moet help om die heelal te red. Boggher die heelal. Ek wil niks red nie. Daar’s nog heelwat e-posse. Mitula News, Indeed Job alert, Jobomas alerts. Selfs een van Jobrapido wat belowe daar is 10+ new jobs for teachers/United Kingdom. Só rol die werksgeleenthede waarin ek skynbaar belangstelling getoon het op die skermpie af. Wat op dees aarde?

      Ek kyk in my argiewe na ouer e-posse en geleidelik word die prentjie duidelik. Dis nie ’n mooi prentjie nie. Dit spreek van wanhopige pogings om uitkoms te vind. Waarom het ek nooit agtergekom dat ek nie meer ’n lewe het nie? Hoekom sou ek byvoorbeeld op webwerwe rondgesurf het wat aanbied om jou verouderde CV reg te pluk? Wat het ek gedink? Dat dit só sou lyk?

      PERSOONLIKE INLIGTING: Amper veertigjarige huisvroutjie. Wit.

      ADRES: Duvetstraat 1, Constantia.

      OPLEIDING: Nuttelose doktorsgraad in Geskiedenis. Ekstra tweejaarkursus in Film en Media.

      DIENSREKORD: Nie veel sedert 2013 nie.

      ONDERVINDING: Heelwat harde lewenslesse.

      PRESTASIES: Een wankelende huwelik, twee miskrame en ’n stilgeboorte.

      SPESIALE PRESTASIES: Niksdoen. Posttraumatiese stres en depressie.

      VAARDIGHEDE: Wroeg. Wakkerlê. Kon voorheen lekker koek bak.

      ISSUES: Heelparty.

      STOKPERDJIES: Google. Heeldag. Werksgeleenthede, details van doodgaan, ou films en dooie fifties-filmsterre, veral selfdoodgevalle.

      SPESIALE BELANGSTELLINGS: Niks op die oomblik nie.

      VERWYSINGS: Niemand op die oomblik nie. Behalwe Siri (en my vriendin Christine).

      Waddejoos het ek gedink sal ek tydens ’n onderhoud sê? Of sal ek doen as ek die werk kry? Die werk wat ek gehád het, het dan te veel vir my geword.

      Vincent het my dalk ’n groot guns bewys. Dié wat weet, glo mos as mens kan kwaad word, is jy nog oukei, en dis duidelik ek was donners lank laas oukei. Dis uit suiwer woede dat ek na hierdie goed kan kyk en weer helder sien. Soos Creedence!

      Ek soek dieper in my argiewe. Dit raak erger. Daar is talle bewyse van my obsessiewe romantisering van die makabere. Files op files daarvan gestoor. Deeglike navorsing oor alle aspekte van die dood. Die hiernamaals. Selfdood. En dooies. Veral afgestorwe ou filmsterre. Weke en weke al. Nee, maande. Soos ’n verslaafde. Sedert Benjamin … Nee. Ons wil nie daar gaan nie.

      Alles dui op pogings om uit my selfopgelegde gevangenskap te ontsnap. Uit die veilige vierkant van hierdie bed vol toastkrummels en lekkergoedpapiertjies waaruit ek die laaste tyd al hoe minder wou opstaan. Dis asof ek deur middel van my foon uit die harde werklikheid wou wegbreek na die oneindige beloftes van die kuberruim, sonder om meer te doen as om ’n vinger te lig. Of dalk wou ek iewers heen gaan waar niks meer kon seermaak of saak maak nie.

      Hoe meer ek krities kyk na wat voor my verskyn, hoe meer besef ek dat ek lankal afskeid geneem het van my lewe soos wat dit was. Van Vincent ook. Reality check, Desireetjie! Die afsterwe van jou huwelik vanmiddag was die gevolg van ’n lang siekbed en intense lyding. Dis nog net die begrafnis wat voorlê.

      Ek druk-druk met my vinger en smyt die foon op die grond. Dit voel asof ek ’n lewensaar afgesny het toe ek sien hoe die skermpie flikker en swart word. Die bed is steeds yslik en die huis grafstil. En dis Sondagaand. Toe sluk ek ’n paar van my slaappille en krul my klein op.

      Maar selfs terwyl ek die duvet oudergewoonte oor my trek, weet ek dat dinge nie langer so kan bly nie. Dis egter vir later, troos ek myself. Ek sal later planne maak. Laat ek net eers weer bietjie …

      3

      Ek is nog besig om te droom toe ek iets in die kombuis hoor. Seker Vincent, dink ek loom en rol terug in die droom. Maar dis nie meer ’n lekker ene nie, en ek kan nie daaruit nie.

      Ek is terug voor my Geskiedenisklas, maar ek kry nie my PowerPoint-aanbieding om te werk nie. Die studente begin vroetel en giggel. Magteloos pluk ek drade uit en koppel alles weer, maar die oorhoofse skerm bly dood. Uit desperaatheid vat ek hulle stapel essays bymekaar en begin dit uitdeel. Feitlik almal druip. Ek word onbedaarlik kwaad. Hoe kan derdejaarstudente essays ingee sonder enige verwysings? Het ek hulle dan niks geleer nie?

      Skielik skop die skerm agter my aan. Toe ek omdraai, verblind die lig my. En daar verskyn my lesing oor Post-feminism in Film, maar al my eie verwysings by my voorbeelde is weg. “Hah!” roep Jason van der Walt van Durbanville uit waar hy uitdagend reg voor in die klas sit-lê met sy beanie laag oor sy puisierige voorkop getrek. “And where are your references, Doctor De Lange? Or don’t you practise what you preach?”

      Ek skree myself wakker. Natgesweet sit ek regop, voor verligting stadig deur my sypel. Ek werk mos nie meer daar nie. Hoef myself nooit weer in daardie slangnes …

      “Desiree?” Dis Caz wat vraend in die kamerdeur staan met ’n beker koffie in haar hand, nie Vincent nie. Die besef sink swaar in. Vincent is mos weg.

      “Is jy orraait?” vra sy.

      Ek haal diep asem. “Slegte droom.”

      “Koffie?”

      “Asseblief.”

      “Is my pa al weer uit op ’n mission?” roep sy op pad kombuis toe.

      “You could say that,” mompel ek met my droë mond. Hoe verduidelik ek vir haar dat haar pa weer opgeneuk het – presies soos hy destyds met haar ma gemaak het? Nee. Dit kan wag.

      “Jy lyk terrible,” sê Caz toe sy terugkom met my koffie.

      “Gee, thanks! You do always say the nicest things,” probeer ek die olifant in die kamer miskyk.

      Caz is egter nie een wat doekies omdraai nie. “Nee, rêrig. Jy lyk selfs erger as laas toe ek hier was. What’s up, Desiree? Waarheen is my pa?”

      Ek vat ’n lang sluk uit die beker. “Hy’s weg, Caz. Gister.”

      “Hoe bedoel jy, wég? Wat’s so special daaraan? Hy is alewig weg.”

      “Wel … soos in … weg. Dis klaar. Verby. Tasse gepak. Daardie soort wég.” Die traan wat in my linkeroog begin vorm, maak my sommer weer die vieste in. Ek snuif hard.

      “Gaan julle skei?”

      Ek trek my skouers op. Ek het nog nie so ver gedink nie.

      “Het hy dan weer …?”

      “Ja. Met Gloria van sy spreekkamer.”

      “Asshole!” sug Caz. “Net soos met my ma! Kan hy nie sy donnerse …”

      Ek snuit my neus morsig aan my mou. “Maar ek dink ek gaan oukei wees.”

      Sy som my op met haar pa se ligblou kykers. “Ek weet jy sal. Jy’s ’n sterk vrou. Nes my ma. Maar dis nie die punt nie!”

      Ek knik. Ek het nog nooit juis ooghare vir haar ma gehad nie. Queen Liz. Sy is after all my voorganger. Ek bedoel, hoeveel airs and graces wil ’n girltjie uit Secunda nou eintlik aanplak omdat sy die jong Dokter Vincent de Lange nader gehark het? Dis my opinie van Liz. Maar tog, niemand verdien …

      “My foon lui,” sê Caz en plak haar beker op die bedkassie neer, hard genoeg om te mors. Dit gaan ’n ring op die wit lappie maak. Ek wonder of ek moet worry daaroor. Om kolle uit lappies te kry, is seker nou nie meer my departement nie?

      “Speak of the devil!” voeg sy by toe sy haar foon met twee lang vingers nes Vincent s’n uit haar denim shorts se gatsak uitvis.

      Liz se stem klink blikkerig op, soos iets uit ’n animasiefilm. Blykbaar is sy in die mall hier naby.

      “Relax, Ma!” sê Caz. “Maak jou shopping klaar. Ek’s hier by Desiree.”

      Ek kan nie