Stephan Joubert

Kry styl - Jesus s'n


Скачать книгу

tion>

      

      KRY STYL

      – Jesus s’n

      Stephan Joubert

      Lux Verbi

      Inleiding

      Klop daardie ongesonde infeksie stylvol

      Die fliek A Quiet Passion (2016) begin dramaties. Emily Dickenson, die bekende digter, gespeel deur Cynthia Nixon, staan as ’n jongmeisie saam met haar klasmaats voor Miss Lyon, die skoolhoof.

      “Do you wish to come to God and be saved?” vra Miss Lyon vir hulle. “Those of you who wish to be Christian and saved will move to my right.” ’n Klompie meisies doen dit dadelik.

      Die res wat nie kies nie, kry nog ’n kans. “Those of you who remain and hope to be saved will move to my left.” Almal beweeg na links, behalwe Emily. Sy bly alleen in die middel van die lokaal staan.

      “Have you said your prayers?” vra die skoolhoof haar verbaas.

      “Yes, but that can’t make much difference to the Creator,” kom Dickenson se vinnige antwoord.

      Miss Lyon is geskok. “Do I understand you correctly? Do you believe that your Creator is indifferent to your sins, that in his mercy he sees your slumber?”

      Emily is nie op haar mond geval nie. “No, you misunderstand me. I’ve not gotten so far. I am not even awakened yet. And how should I repent? I am somewhat troubled, to be sure, but my feelings are all indefinite.”

      “The question is not how far you have advanced,” antwoord die skoolhoof dadelik, “but how far you ought to have advanced, not how you feel, but how you ought to feel.”

      Nogmaals deins Emily nie terug nie. “I don’t feel anything. I have no sense of my sins. And how can I? I wish I could feel as others do, but it is not possible.”

      Miss Lyon se frustrasie met hierdie “onbekeerbare” kind is voelbaar. “A sinner against a holy God and under condemnation and liable every moment to drop into a burning, hopeless eternity, yet cannot feel, cannot be alarmed, cannot flee from the wrath to come. The true question is, are you in the Ark of safety?”

      “I fear I am not,” antwoord Emily.

      “You are alone in your rebellion, Miss Dickenson,” sê Miss Lyon dan. “I fear you are a no-hoper.”

      Afgeskryf! Dit is die enigste gevolgtrekking waartoe die skoolhoof kan kom.

      “Yes, Miss Lyon.” Emily is gemaklik met haar “alleenheid”. Sy is nie bereid om onder groepdruk te swig en haarself te “bekeer” nie.

      In die volgende toneel in die fliek kom haal Emily se familie haar by die skool om haar huis toe te neem. “We were concerned by your last letter,” sê haar broer.

      “You spoke of being ill,” voeg haar suster by.

      “Yes. What is it that you are suffering from?” vra Emily se pa met deernis.

      “An acute case of evangelism,” antwoord Emily. Dan lag sy saggies.

      Deur die hele fliek heen staan Emily Dickenson alleen in haar opstand teen godsdiens en teen die lewe. Uiteindelik is sy haar lewe lank ’n no-hoper.

      Hoe ons ook al oor Emily Dickenson oordeel, evangelisasie kry dikwels ’n slegte naam as gevolg van sulke boelietaktieke. Dit maak die slagoffers eintlik net meer kwaad as enigiets anders. Ook verander dit “evangeliste” soos Miss Lyon in selfaangestelde regters. Hulle skryf mense wat nie positief op hulle ongenaakbare draai-of-braai-boodskappe reageer nie blitsvinnig af.

      Wêreldwyd draai die gety teen godsdiens. Godsdiens, in watter gestalte ook al, voel vir baie mense na ’n ongesonde infeksie wat tot elke prys vermy moet word. In sy boek Society Without God: What the Least Religious Nations Can Tell Us About Contentment (2010) bevind die sosioloog Phil Zuckerman dat lande wat die minste godsdienstig is tans die vreedsaamste is, asook die rykste, gelukkigste en gesondste. En as jy Huffington Post ernstig wil opneem, bevind hulle in ’n opname wat in 2014 in Brittanje gedoen is dat die meeste Britte meen godsdiens doen op die ou end meer skade as goed.

      Is godsdiens dan ’n slegte infeksie, of nie? Wat van Christenskap in die besonder? Het dit afgewater tot ’n verstarde godsdienstige stelsel propvol dooie oorlewerings en binnegevegte? Maak dit mense net nog sieker, eerder as gesond?

      ’n Helder lig het vroeg reeds geskyn

      Jesus wou hê sy dissipels moes ’n genesende impak op die samelewing hê. Hy self het dit laat gebeur, en die vroegste Christene het Hom dit nageleef. Daarom dat ek keer op keer verstom staan oor die vroeë kerk se enorme positiewe impak op hulle omgewings in die eerste drie eeue. Sonder enige noemenswaardige mag in die samelewing, en sonder enige formele infrastrukture, het hulle gegroei vanaf ’n minderheidsgroepie in die Romeinse Ryk tot ’n beduidende gedeelte van die Romeinse bevolking teen die middel van die vierde eeu. Nie eens die brutaalste vervolgings kon die mooi stem van die vroeë Christendom stilmaak nie.

      Een saak wat ’n mens nie kan miskyk nie, is dat die vroegste Christene die boodskap van Jesus van harte, maar ook van kop tot tone, omhels het. As nobodies in die Romeinse Ryk het hulle al die somebodies en everybodies rondom hulle met Jesus se Goeie Nuus gedien. Nee, hulle was nie engeltjies nie. Daar was baie stryd en konflik in die vroeë kerk, maar wanneer dit regtig saak gemaak het, het hulle vir diens aangemeld. Wanneer God hulle geroep het, was hulle op hulle pos. Dink maar aan die getuienis van die 40 martelare in 320 nC waarvan Basilius die Grote (330-379 nC) en ander kerkvaders ons vertel. Dit is wat gebeur het …

      Die Edik van Milan in 313 nC het die vervolging van Christene amptelik tot ’n einde gebring – in elk geval in die Weste waar Konstantyn as keiser regeer het. In daardie stadium was Licinius die keiser van die oostelike deel van die Ryk. Daar is die vervolging van Christene steeds ooglopend toegelaat. Lojaliteit aan Romeinse gode is juis weer in 320 nC van die Legio XII Fulminata, die Twaalfde Legioen van die Weerligstraal, in die stad Sebaste (oftewel Sivas in huidige Turkye) gevra. Soldate is verplig om offers aan sekere gode te bring. Toe 40 Christensoldate weier om offers te bring, is hulle van dislojaliteit aan die Romeinse Ryk beskuldig.

      Lisias, die aanvoerder van hierdie Romeinse legioen, het alles probeer om hierdie soldate te oortuig om hulle offers te bring, sonder enige sukses. Goewerneur Agricola was baie ontsteld hieroor. Tog kon nie eens wrede marteling van sy kant af die soldate oortuig om Christus te verloën nie. Uiteindelik is hierdie 40 soldate op ’n yskoue wintersnag op ’n bevrore meer in Sebaste kaal laat staan. Ander soldate is rondom hulle opgestel, met houers vol warm water waarin dié wat hulle geloof sou verloën hulle kon gaan warm maak.

      Iewers in die loop van die nag het ’n Christensoldaat ingegee. Een van die Romeinse soldate wat daar wag gestaan het, was egter so aangegryp deur die oorblywende soldate se lofliedere en hulle helder geloof dat hy net daar uitgeroep het hy is nou ook ’n Christen. Hy sou saam met hulle leef en saam met hulle sterf. Dadelik het hy sy klere uitgetrek en by hulle aangesluit. Nadat hulle almal weens hulle ontberings gesterf het, is hulle liggame verbrand. Maar hierdie 40 soldate se getuienis brand vandag steeds helder.

      Daar is gesonde infeksies, selfs in Japan

      Die vroeë kerk, en miljoene ander Christene deur die eeue heen, se helder geloof was magneties mooi. Hulle het inderdaad ’n gesonde infeksie veroorsaak, die soort waaroor CS Lewis in sy klassieke werk Mere Christianity (1952) skryf: “He (Christ) came to this world and became a man in order to spread to other men the kind of life He has – by what I call ‘good infection’. ” Die uitdaging voor ons is hoe ons almal ’n gesonde infeksie vir die Here kan veroorsaak. Hoe gaan ons dit op ’n stylvolle manier regkry, soos dit tans in Japan gebeur?

      Weet jy wie is op hierdie oomblik die grootste evangelis in Japan? Niemand anders nie as die bekende komponis Johann Sebastian Bach (1685-1750). Bykans 250 jaar ná sy dood oorspoel sy musiek Japan op ongekende maniere. Meer nog, dit stel baie Japannese aan Jesus bekend.

      Bach was vanaf 1723 ’n tyd lank die kantor van die St Thomaskerk in Leipzig waar hy onder meer musiek vir verskillende kerke gekomponeer het. Dit is veral Bach se fugas wat sterk resoneer met die Japannese met hulle klem