styl in ons taal:
•“Dit is nie my styl om dit te doen nie.”
•“Hy (sy) is ’n baie stylvolle persoon.”
•“Ek verkies ’n gemaklike styl.”
•“Hulle doen dinge altyd in styl.”
Styl word in verskillende formate, gebruike, idees en items verpak. Vanaf die kerk tot by die werk volg mense sekere style na: ’n styl van kommunikasie, ’n styl van aantrek, ’n styl van musiek maak, ’n styl van leef, eet, ontspan, kuier, vakansie hou, praat, glo. Daar is wie weet hoeveel kerklike aanbiddingstyle, preekstyle, gebedstyle en evangelisasiestyle. Daarom is dit nodig om ’n slag goed na te dink oor styl, ook ons geloofstyl.
Styl is nooit in sement gegiet nie. Dit is ’n bewegende teiken. Styl verskil van situasie tot situasie en van mens tot mens. Dit wat in een konteks stylvol is, is dalk nie gepas in ’n volgende een nie.
Ek dink hier veral aan een humoristiese voorbeeld. Elizabeth Taylor, die bekende Hollywood aktrise, het op ’n keer in Londen aangekom en ’n plaaslike verslaggewer het haar gevra hoe sy ná die lang vlug voel. Sy het geantwoord: “I’m feeling like a million dollars.”
Tipies van die korrekte styl van beriggewing in daardie tyd het haar woorde in The Daily Telegraph soos volg verskyn: “I’m feeling like a million dollars (357,000 Pounds).” Omdat dit die koerant se styl was om ander geldwaardes altyd in die (superieure) Britse pond uit te druk, het Elizabeth Taylor toe skielik nie meer so goed gevoel soos wat sy in Amerikaanse geldterme bedoel het sy voel nie.
Styl kan nie gekloon word nie
Style is a simple way of saying complicated things.
– Jean Cocteau
Styl is altyd oop vir gesprek … en vir kritiek. In tydskrifte, koerante en op verskillende sosialemediaplatforms evalueer kritici gedurig die styl van openbare figure soos sangers, skrywers, filmsterre, sportsterre en kunstenaars. Gloeiende terme soos highly finished, graceful, classy of classical is tipiese taal wat ’n geslaagde styltoets verklap. Minder gloeiende opmerkings verraai die teenoorgestelde. Ek onthou byvoorbeeld WH Ainsworth se gevleuelde woorde in sy resensie van Edgar Allan Poe se werk Moby Dick: “The style is maniacal – mad as a march hare – mowing, gibbering, screaming, like an incurable Bedlamite, reckless of keeper or strait-waistcoat.”
Omdat dit baie mense se voltydse tydverdryf is om ander se styl te evalueer en te kritiseer, probeer baie van ons dit systap. Ons konformeer dikwels tot die opinies en styl van ander mense, want dan is die druk op ons nie so groot om ons eie stem hardop in die lewe te probeer vind nie. Of om gekritiseer te word nie. Algaande verander ons selfs in fotostate en klone van ander mense, ook wat ons geloof betref. Die opinies en verwagtings van dié wie se oog ons probeer vang, word dan allesoorheersend.
Hierdie ongewenste toestand staan bekend as die performance-acceptance trap. David Seamands sê met reg in Healing Grace: Finding Freedom from the Performance Trap (1999) dat dit ’n ernstige probleem is wat ook gelowiges in die gesig staar. Dit is geskoei op die onstabiele idee dat solank ons aan ander se verwagtings voldoen, al die gevoelens van minderwaardigheid in ons binneste hokgeslaan sal word. Maar dit gebeur nie! Want dit is nie reg nie. Dit is ook nie eg nie.
Ons hoef nie ander mense van vroeg tot laat tevrede te stel nie. Kom ons stel hulle sommer vroeg-vroeg al teleur deur net onsself te wees. “Disappoint them early,” sê ek graag vir myself in situasies waar daar allerhande verwagtings aan my gestel word waaraan ek nie kan voldoen nie. Ek en jy hoef nie en ons moet ook nie onsself probeer kloon om soos hierdie of daardie persoon te dink of te klink nie; om soos daardie celebrity te lyk nie; om soos hierdie of daardie groot Christen te glo nie. Ons elkeen kan op ons eie manier agter Maya Angelou aan sê:
My mission in life is not merely to survive, but to thrive; and to do so with some passion, some compassion, some humor, and some style!
Daar is eindelose druk op almal om voor in die generiese wedloop te wees
Always remember that you are absolutely unique. Just like everyone else.
– Margaret Mead
In die bekende Paul Coelho se boek Veronika Decides to Die (1998) vind daar ’n interessante gesprek plaas tussen dr Igor en Mari oor haar siekte toe sy hom vra of sy genees is.
“No, you are someone who is different. But who wants to be the same as everyone else? And that, in my view, is a serious illness.”
“Is wanting to be different a serious illness?”
“It is if you force yourself to be the same as everyone else. It causes neurosis, psychosis and paranoia. It’s a distortion of nature, it goes against God’s laws for in all the world’s woods and forests, he did not create a single leaf the same as another.”
Gepraat van groepdruk om dieselfde of anders as die res te wees, Suid-Korea word deesdae as die mekka van plastiese chirurgie in die wêreld beskryf. In 2017 het plastiese chirurgie ’n vyf triljoen dollar omset in Suid-Korea gehad. Een van die redes hiervoor is die voorkomsaangedrewe behoeftes van jonk en oud. Of noem mens dit eerder narsissisme? In elk geval, Suid-Koreaanse jongmense wil al meer soos hulle celebrity-helde lyk, of hulle wil net anders lyk as hoe hulle tans lyk.
Opnames in Suid-Korea wys dat al meer ouers wat nie met hulle kinders se voorkoms tevrede is nie, hulle vir plastiese chirurgie stuur.2 Geen wonder nie, want ’n studie van die Gallup-groep in 2016 het bevind dat 86% van Suid-Koreaanse volwassenes glo uiterlike voorkoms is uiters belangrik.
Groepdruk om te voldoen aan die generiese voorkoms en styl van ander neem wêreldwyd epidemiese proporsies aan. Sosiale media is een van die groot sondaars hier. Die alewige likes by jou jongste posts of selfies raak blitsvinnig verslawend. Dit is geen maklike taak om voor in hierdie generiese wedloop te wees nie, een waarin jy gedurig gemeet word aan jou jongste hoeveelheid likes, followers, friends en shares. Daarom is dit vir so baie mense so belangrik om elke sosialemediavlinder of celebrity se styl, voorkoms en gewoontes slaafs na te jaag. Tog maak dit sulke mense net nog meer generies en soos die res wat almal dieselfde doen.
Kunsmatige druk is dodelik, of dit nou in Suid-Korea of hier in Suid-Afrika is. Miskien vat EA Bucchianeri hierdie dilemma goed saam in ’n gesprek in Brushstrokes of a Gadfly (2011):
“It’s just another one of those things I don’t understand: everyone impresses upon you how unique you are, encouraging you to cultivate your individuality while at the same time trying to squish you and everyone else into the same ridiculous mould. It’s an artist’s right to rebel against the world’s stupidity.”
Die oplossing is nie om die hele tyd alternatief te probeer wees nie. Om stroomop en anders te wees, moet jy immers altyd reaktief optree. Jy moet mense gedurig skok, kwaad maak of uitdaag. En dit is geensins uniek nie. Inteendeel, dit is ’n ongesonde manier van leef om jouself die hele tyd teenoor ander te stel en boonop jou sogenaamde uniekheid daarin te vind. Behalwe dat dit net nog ’n generiese reaksie is (daar is reeds oorgenoeg shock jocks op elke terrein van die samelewing), is dit regtig nie Christus se styl nie.
Ons is God-gestileerd
No one has the patent on you.
– Katie St Claire
Die regte pad in God se oë is om vrede te maak met wie Hy jou geskep het om te wees. Met die 3,72 × 1013 selle in jou liggaam (volgens ’n studie van Bianconni, Piovessan en ander in 2013) is jy meer as uniek. Jy is uniquely unique. En met hierdie allemintige meer as 30 triljoen selle in jou lyf (afhangende van jou gewig, lengte, gesondheid en ouderdom) is jy nie ’n presiese kopie of ’n identiese afdruk van enigiemand anders nie. As dit nie iets aardskuddend oor God se gedetailleerde belangstelling in jou uitbasuin nie, weet ek nie so mooi nie.
Nie een van ons was nog ooit deel van die een of ander hemelse massaproduksieprogram nie. Anders as in die res van die lewe, waar stylaangedrewe produkte by wyse van massaproduksie uitgerol word, is ons elkeen superuniek. Ons is individueel deur God gestileer. Psalm 139 vertel vir ons dat ons tot in die fynste besonderhede deur sy liefdevolle hemelse hande gevorm is. Ons is die Here