die verlede
So 50 jaar en langer gelede het daar persentasiegewys baie meer mense gesterf (byvoorbeeld aan siektes wat vandag geneesbaar is). Die meeste mense het by hulle huise gesterf en dit het beteken dat hulle families dikwels teenwoordig was. Die versorging van die liggaam ná die dood is meestal deur die familie self gedoen. Baie blootstelling aan die dood het daartoe gelei dat die dood nie vir mense iets vreemds was nie.
Die situasie vandag
Deesdae sterf mense meestal in hospitale, waakeenhede en ander inrigtings soos ouetehuise of weg van hulle huise af as gevolg van motorongelukke of geweld. Kinders word in die meeste gevalle uitgesluit van die dood en ernstige siekte. Professionele persone, soos verpleegpersoneel en begrafnisondernemers, het die versorging van die liggaam ná die dood geheel en al uit die hande van die naasbestaandes geneem.
Vandag het ons baie minder direkte blootstelling aan die dood en aan ander bedroefdes as wat vroeër die geval was. Dit lei tot die vreemdheid van die dood vir ons. Ons is meestal geneig om aan die dood as iets “abnormaals” te dink. Ons het eintlik in ’n negatiewe kringloop beland. Hoe vreemder die situasie van die dood vir ons word, hoe minder blootstelling kry ons daaraan en hoe minder blootstelling ons kry, hoe vreemder raak die situasie vir ons.
Dink na oor …
Gebruik die kans om jouself te evalueer en vas te stel wat jy met die deurlees van dié boek wil bereik.
1.Hoe maklik of moeilik vind jy dit om bedroefdes by te staan? Ken aan jouself ’n punt uit 10 toe (10 punte = Geen probleme nie; 1 = Ek sien nie daarvoor kans nie).
2.As dit vir jou moeilik is, merk met ’n regmerk dít wat op jou van toepassing is:
–Ek voel onseker oor wat om te sê.
–Ek is ongemaklik met moeilike vrae (byvoorbeeld: Hoe kan die God van liefde so iets toelaat?).
–Dis vir my moeilik as ander mense baie emosioneel is.
–Ek is bang dat ek self te emosioneel sal wees.
–Ek is bang dat ek iets sal sê wat hulle ontstel eerder as om hulle te troos.
–Sulke situasies herinner my te veel aan my eie geliefdes se dood.
3. Kan jy aan nog ander faktore dink wat dit vir jou moeilik maak?
Wat behoort ek van die proses van rou te weet?
Rou is ’n proses
Daar bestaan geen kitsoplossings vir rou nie.
Om te rou, kan nie soos ’n tegniek aangeleer en bemeester word nie. Dit kan ook nie vrygespring word nie. Dit moet eenvoudig deurleef word. Dit is ’n proses. Dit neem tyd en dit verloop deur verskeie stadiums. Daar kan nie ’n vasgestelde tydsverloop aan rou gekoppel word nie. In sommige gevalle van traumatiese verlies, soos die dood van ’n kind, mag dit gebeur dat die proses van rou nooit werklik finaal afgehandel word nie.
Hierdie proses is ook nie ’n gelyk pad nie. Dit is ’n opdraande en afdraande pad. Baie mense maak die fout om te dink wanneer jy rou, behoort jy elke dag of elke week geleidelik ’n bietjie beter te voel. Ongelukkig is die teendeel waar. Bedroefdes beleef dat net sodra hulle dink dit gaan ’n bietjie beter, kom daar skielik weer ’n dag wat hulle heeltemal “af” voel. Dan voel hulle asof hulle nog glad nie gevorder het in die verwerking van die dood nie. Hierdie wisselwerking tussen beter dae en slegter dae is heeltemal normaal. Dit beteken ook glad nie dat daar nie vordering is nie. Daar is geleidelik vordering – al is dit moeilik om waar te neem, want die proses van rou is ’n stadige proses. Die verskil tussen die verwagting dat dit geleidelik beter behoort te gaan en die werklikheid van beter en slegter dae kan grafies soos volg voorgestel word:
Rou is ’n normale proses
Rou is nie ’n siekte nie en ook nie ’n “sielkundige toestand” in die negatiewe sin van die woord nie. Dit is ’n normale proses in die sin dat ’n mens dit in die normale verloop van die lewe kan verwag. Rou is ’n natuurlike reaksie wanneer ’n geliefde sterf. Die meeste mense deurleef hierdie proses self. Dit is eintlik net in uitsonderlike gevalle dat die proses skeefloop en tot ’n gekompliseerde roureaksie lei. Die persoon wat in die proses van rou verkeer, moet eerder beskou word as iemand wat ’n wond opgedoen het, nie as iemand wat siek is nie. Soos wat ’n wond geleidelik en van binne genees, so is dit ook met rou die geval.
Rou is ’n groeiproses
Terwyl mense die een routaak na die ander hanteer, sal hulle innerlik sterker word en groei. Hulle sal meer van hulleself en van ander mense ontdek en die lewe in ’n nuwe lig sien. Wanneer ’n skaap geslag en die vel nie bewerk word nie, sal dit uitdroog en kliphard en onbruikbaar word. As dieselfde vel egter gesout en deeglik gebrei word, sal dit sag, sterk en bruikbaar wees. Die proses van rou kan ’n mens “brei” sodat jy ook emosioneel sterker, wyser en meer bruikbaar anderkant uitkom. Dit is ’n belangrike groeigeleentheid in ’n mens se lewe – nie net vir die treurendes nie, maar beslis ook vir diegene wat die treurendes bystaan.
Mense rou verskillend
Daar sal deurgaans in hierdie gids na die proses van rou verwys word, eerder as na die rouproses. Die rede daarvoor is dat wanneer daar van die rouproses gepraat word, dit die indruk kan wek dat dit ’n vasgestelde proses is wat oral en altyd dieselfde verloop. Deur die begrip proses van rou te gebruik, sal nie net die prosesmatigheid van rou beklemtoon word nie, maar ook dat dit ’n “oop” proses is, ’n proses wat uiteenlopend by verskillende mense kan verloop. Dis ’n proses waarin daar ’n geweldige verskeidenheid van uiteenlopende roureaksies kan voorkom wat álles normaal is.
Die volgende is drie van die belangrikste redes waarom mense se roureaksies verskillend kan wees:
Indiwiduele verskille
Sommige mense is meer emosioneel, groter ekstroverte, of meer spontaan as ander. Sommige mense kom uit huisgesinne of kulture waar hulle geleer het om openlik uiting aan hulle emosies te gee. Ander kom uit ’n agtergrond waar die onderdrukking of beheer van emosies as die ideale gedrag voorgehou is.
Daar moet voortdurend rekening gehou word met die feit dat mense as gevolg van hierdie en ander redes nie eenders tydens hulle rou sal reageer nie. Vermy uitsprake en selfs gedagtes soos: “Jy móét huil!” of: “Jy moet jouself regruk en sterk wees!”
Alhoewel daar ongesonde roureaksies kan wees, moet ’n mens voortdurend toelaat vir indiwiduele reaksies by elke bedroefde persoon. Veral wanneer jy hulp wil verleen, is dit noodsaaklik om geen vooropgestelde idees te hê van hoe mense behoort te rou nie.
Wie is dit wat dood is?
As dit jou kind is wat dood is, sal jou rou totaal anders wees as wanneer dit, argumentshalwe, jou kleinniggie se man is. ’n Kind, huweliksmaat, ouer, broer of suster se dood bring ander roureaksies na vore as die dood van mense met wie daar nie so ’n hegte verhouding bestaan het nie. Dit is belangrik om te besef dat dit nie net oor die aard van die verwantskap gaan nie, maar oor die aard van die verhouding. Rou oor ’n huweliksmaat, waar daar ’n gelukkige huweliksverhouding was, sal anders beleef word as waar dit ’n gespanne of ongelukkige of andersins problematiese verhouding was. Net so is sommige ouer-kind-verhoudings baie heg en ander weer verhoudings waarin daar groot afstand ontstaan het.
Hoe is die persoon dood?
In die geval waar iemand ná ’n lang lyding aan kanker sterf, sal dit ander roureaksies tot gevolg hê as wanneer iemand skielik sterf aan ’n hartaanval of as gevolg van ’n motorongeluk of moord. In die geval van selfdood kan daar weer heeltemal ander reaksies by die treurendes na vore kom. Dit het nie alleen te maak met die kwessie dat óf die dood te wagte was óf skielik ingetree het nie. Dit het veral te doen met die aard van die dood en die gepaardgaande oorsaak van die dood.
Tipiese simptome van rou
Daar