section>
Tafelberg
There may be a great fire in our soul, yet no
one ever comes to warm himself at it, and
the passers-by see only a wisp of smoke.
– Vincent van Gogh
what matters most is
how well you
walk through the
fire.
– Charles Bukowski
1
“Ek like hamburgers met tonne sous wat oor jou vingers drup as jy dit eet. En krakerige chips met vuurwarm chilli. Ek hou ook van musiek. Nie die soort wat julle like nie, want julle luister seker na goed waarop ’n mens kan dans. Ek dans nie. O ja, ek moes seker eerste my naam gesê het. Dis … um … Arian. Soos Adrian, maar sonder die ‘d’.”
Dis hoe hy hom destyds in graad agt aan die kinders in sy nuwe registerklas van Hoërskool Staatsberg bekendgestel het. In sy verbeelding sien Arian homself weer voor die witbord staan: ’n bleek laitie met donkerbruin hare soos diep modder, en selfs donkerder oë soos nog dieper modder.
Jis, die goed wat hy kwytgeraak het, was flippen simpel. Maar die onnie het gevra elkeen moet iets oor homself sê, toe sê hy dit. Hy praat oor souserige hamburgers en dansmusiek, en hy leer die ouens en meisies spel.
Vanjaar is hy in graad elf. Graad agt is ’n leeftyd gelede, maar party dae voel dit soos gister.
“Adrian, is jy met ons?” vra meneer Britz vandag voor in die wiskundeklas.
Hy antwoord aspris nie. As die meneer nou nog nie sy naam reg onthou nie, kan hy gaan vlieg.
“Adrian?” vra die onderwyser harder.
“Dis Arian, meneer. A-ri-an. Sonder die ‘d’,” kap hy terug. “Dit beteken ‘silwer’, en het iets te doen met Poseidon se perd of stuff. A-ri-an.”
Die kinders in die klas lag. Hulle kan ook gaan vlieg.
“Dis genoeg!” maak meneer Britz hulle stil. Hy trek-trek aan sy das. “Kom sien my ná klas, A-ri-an.”
“As meneer wil,” mompel hy ergerlik.
Met ’n sug keer die onnie terug na die les. Arian weet hy sal netnou weer vergeet dat hy hom wou sien. As die klok lui, is dit pouse. Meneer Britz sal dan so vinnig moontlik na die personeelkamer vlug om die toebroodjies wat in die plastieksakkie langs sy rekenaar lê en sweet, met tee te gaan afsluk.
Maar eers gaan meneer Britz aan met die les. Die hele ding is op ’n PowerPoint-aanbieding op sy skootrekenaar. Arian noem dit “Death by PowerPoint”, want alle klasnotas is deesdae op dié program. Hulle skool se onnies dink hulle is nou tegnologies gevorderd omdat hulle PowerPoint baasgeraak het.
Terwyl die wiskundeklas aan die gang is, dwaal Arian se oë oor die ander kinders. Van agter in die hoek kan hy hulle almal dophou. Die meeste is valser as daai Nike-tekkies wat jy by ’n vlooimark koop.
Langs hom hoor hy twee ouens vir mekaar fluister. Thomas en Byron het seker ook nou belangstelling in die algebra verloor. Daar is net twee goed waarin ouens soos hulle belangstel: supervinnige karre en superwarm meisies.
“Ek sê jou, Thomas, daardie Maddy, sy’s ’n wilde een,” sê Byron onderlangs.
“Vra haar vir ’n date, man,” fluister Thomas.
“Wat? Ek wil nie date nie, ek wil vry.” Byron bly stil en kyk reguit na Arian. “Hei, luister jy ons af, hè?”
“Natuurlik nie,” keer Arian.
“Natuurlik nie,” spot Thomas. Hy lag. “Het jý al ’n meisie gevry?”
Arian draai reg in sy bank. Hy antwoord nie.
“Hè, Arian, het jy?” vra Byron ook.
“Jis, julle, kry ’n lewe,” sis hy.
Vreemd, dis eintlik wat hy vir homself ook kan sê: “Arian sonder die ‘d’: KRY ’N FLIPPEN LEWE!”
Met die entoesiasme van ’n lykbesorger dreun meneer Britz voort: “En as x gelyk is aan y plus die vierkantswortel van—”
Die skyfies op die skerm rits meteens vorentoe, skynbaar vanself. Hulle jaag verby die volgende vyf oefeninge en die antwoorde van die latere evaluering, wat veronderstel was om ’n geheim te wees. Dan blits hulle weer terug tot aan die begin van die skyfies waar die doelwit van die les blink.
Pandemonium bars los. Meneer Britz spring op van sy stoel. Die dataprojektor gaan vanself af. Net ’n klein kolletjie blink in die middel van die skerm, maar gou is dit ook weg.
“Wat gaan nou weer met die ding aan?” vra die meneer in sy minder tegnologies vaardige stem. Hy klik-klik met die afstandbeheer na die dataprojektor. ’n Frons plooi diep oor sy voorkop.
Onderdrukte lagbuie klink op. Almal in die klas weet wat aangaan. Thomas het sy selfoon met die projektor gesinchroniseer, nou is sy selfoon die afstandbeheer. Hy skakel die projektor aan en af, en glip deur die aanbieding soos hy lus het terwyl die onnie sweet.
Dis groot pret as dit jou idee van pret is. Maar nie vir Arian nie. Hy klap sy wiskundeboek toe, sug en kyk by die venster uit na waar die fietse staan en blink by die fietshokkies.
As die res van sy lewe so sielsvertrappend sleg gaan wees, wil hy eerder ’n skerp vurk in sy kopbeen indruk en dit van binne af skoonskraap. So kan dit nie aangaan nie.
* * *
Dis uiteindelik pouse. ’n Groep matriekseuns drentel op die stoep voor Estie Swart. Soos altyd laat sak sy vinnig haar kop toe sy haar lyf klein maak om verby te stap.
“Hei, ouens, kyk!” roep een hulle. “Dis mos daardie meisie wat altyd so eenkant sit en miere dooddruk.”
“Arme miere,” spot ’n ander matriekseun.
Estie hoor hulle lag en verder grappies maak. Hulle dink dis oukei. Maar dit is nie. Elke vieslike woord laat haar binnekant pyn. Sy vou haar arms om haar lyf asof dit sal help dat sy nie uitmekaarval nie. Sy is al ’n ent weg, maar sy voel steeds hulle oë op haar brand. Sy druk g’n miere dood nie, maar dis wat hulle van haar dink. Hulle maak goed op en lag daaroor. Nee, hulle lag vir háár.
Selfbewus dwaal sy weg en probeer tussen die ander kinders op die skoolgrond verdwyn. Haar oë is vasgenael op die stoflagie op haar skoenpunte terwyl haar gedagtes ander paaie loop.
By die waterfontein buk sy om ’n slukkie water te neem. Haar beeld blink in die druppels. Groen oë soos klam mos. Steil skouerlengte hare – bruin met fyn strepies goud. ’n Vel soos koffie met te veel melk in.
Sy hoor weer die ouens en waag ’n vinnige kyk. Dié keer bondel hulle by die seunstoilette saam. Hulle raak stil toe sy verbystap. Bars dan uit van die lag, sommer hard en ongeskik.
“Hei, dude, daar gaan jou laaste kans!” sê een van hulle vir ’n pel.
“Ag, voertsek, vat jý haar as jy haar wil hê.”
“Hei, Estie, soek jy ’n date?” roep die eerste ou toe sy wegstap. “Ons kan begraafplaas toe gaan. Jy sal dit like.”
Estie knyp haar oë toe. Die ouens se gespot vou soos ’n swaar kombers om haar. Die begraafplaas … Sy en haar pa gaan nog af en toe soontoe om blomme op haar ma se graf te sit. Sy sal November al twee jaar dood wees.
Nee, sy moenie by die skool aan haar ma dink nie. Dis nog ’n seer wat sy in haar lyf moet wegsteek.
Vinnig maak sy haar uit die voete. Daar is ’n plek op die skoolgrond waar sy altyd gaan sit wanneer sy van die kinders af wil wegkom: die trappie by die gym se agterdeur. Pousetyd gooi die boom langsaan ’n lekker skaduwee oor die trap. Niemand kom ooit daar nie, nie eens die ander rokers nie.
Ingedagte gaan sit sy, haar skouer teen die reling.