n>
JAN-JAN JOUBERT
GAAN
SUID-
AFRIKA
OUKEI
WEES?
17 Sleutelvrae
TAFELBERG
“Geseënd is die vredemakers,
want hulle sal kinders van God genoem word.”
– Matteus 5:9
Hierdie boek word opgedra aan:
Erika Oosthuysen, waarsonder dit doodgewoon nie sou gebeur het nie;
James-Brent Styan, vir jou vriendskap en die Eskom-hoofstuk en
Gordon Mackay, vir die goeie tye.
Inleiding
AS POLITIEKE JOERNALIS en skrywer kry ek baie vrae van Suid-Afrikaners van alle rasse, samelewingsklasse en tale oor sleutelaspekte van die land se politieke, ekonomiese en samelewingstendense, wat sommige mense as dinamies en ander as kommerwekkend ervaar.
Elke hoofstuk in hierdie boek het een van die 17 vrae wat ek die meeste kry as titel, met die inhoud van die hoofstuk my poging om dit na die beste van my vermoë te beantwoord. Sommige van hulle was vir my lekker en maklik om te takel, met ander het ek gestoei en laastens was daar dié wat ek eerder eenkant toe wou gooi en glad nie beantwoord nie, maar dit was nie ’n opsie nie – niemand het mos gesê dit gaan maklik wees nie.
Niemand wat probeer om deurdag te wees, kan reken dat hulle reeds die antwoorde het nie, en enigeen wat behoorlik na die Suid-Afrikaners om hulle luister, sal weet daar is hope kommer oor sommige van die rigtings wat gebeure in die land inslaan.
Waarvoor ’n mens in sulke tydperke van pessimisme moet oppas, is negatiwiteit. Negatiwiteit kan jou lamlê en jou vermoë kniehalter om vlugvoetig te dink en geleenthede te benut. ’n Mens moet altyd oopkop wees en nie ’n tropdier word nie. Die vermoë van die individu om empiries te dink, met empatie en deernis te handel en selfstandig pro-aktief te funksioneer, is die kern van die nastrewenswaardige liberale lewensuitkyk.
As sulks is die bedoeling van hierdie boek nie om al die antwoorde te verskaf nie, maar eerder vir die hoofstukke om as aanknopingspunt vir feitegerigte, ingeligte nadenke en gespreksverkenning met vriende, familie, kennisse en kollegas te dien.
Uit enige studie van Suid-Afrika se geskiedenis is twee dinge duidelik, en as jy dit nie geleer het nie, het jy niks geleer nie: Eerstens deernis, en tweedens dat dit nooit te laat is nie. Dit is twee kernbenaderings wat hierdie boek ten wortel lê.
Jan-Jan Joubert
Kaapstad
September 2019
1
Kan die ANC homself red?
TOE DIE ANC in 1994 Suid-Afrika se eerste demokratiese algemene verkiesing wen, het min of meer die hele wêreld saam met hulle feesgevier, en het hulle min of meer die grootste morele gesag van enige politieke party in die wêreldgeskiedenis geniet.
Skaars ’n kwarteeu later het sake vir die ANC heeltemal verander. Die party het, veral op munisipale vlak maar ook in sommige provinsiale regerings, sinoniem geword met korrupsie, wanbestuur, nepotisme, selfverryking, geweld en selfs moord. Hoe het dit gebeur, kan die proses omgedraai word, en wat is die kanse dat die ANC homself uit sy afwaartse spiraal kan red?
In hierdie hoofstuk gaan ek ’n halfdosyn praktiese stappe ter verbetering van die ANC aan die hand doen, wat die hele land en elke Suid-Afrikaner tot voordeel sal strek, want die ANC is die party wat oor ons almal regeer.
Daardie morele gesag waaroor die ANC teen 1994 beskik het, het grootliks berus op die stryd teen rassediskriminasie wat die organisasie 82 jaar lank sedert sy stigting in 1912 gevoer het. Met sy stigting was die ANC (destyds nog bekend as die South African Native National Congress, totdat sy naam in 1923 na die African National Congress verander is) ten gunste van gekwalifiseerde stemreg vir “beskaafde mans” (die ANC se eie term, wat verwys het na mans ouer as 21 jaar wat sekere geletterdheidsvlakke bereik en ’n spesifieke hoeveelheid eiendom besit het) van alle rasse – maar aanvanklik nie vir vroue nie. Terloops, van 1959 tot 1978 was nie-rassige gekwalifiseerde stemreg (vroue darem ingesluit) ook die beleid van die Progressiewe Party, die voorloper van die Demokratiese Alliansie (DA). Teen daardie tyd was die ANC lankal ’n voorstander van nie-rassige demokrasie met stemreg vir alle Suid-Afrikaners (mans en vroue) van alle rasse. Waar die ANC met sy stigting slegs swart mense as lede aanvaar het, het dit mettertyd uitgebrei tot nie-rassige lidmaatskap, sodat wit, bruin en Indiërlede ook aangesluit het.
Die ANC het voorts morele gesag verwerf omdat die organisasie van 1912 af teen ernstige en gewelddadige onderdrukking ’n beleid van vreedsame protes onderskryf het totdat die verbanning van die organisasie deur die Verwoerd-regering in 1960 vreedsame protes onwettig gemaak het. Dit het die ANC gekonfronteer met die opsie om moed op te gee en die ideaal van ’n nie-rassige demokrasie te laat vaar, of om oor te gaan tot ’n gewapende stryd.
Die ANC het van 1961 af die gewapende stryd gekies. Tesame met internasionale isolasie, die gevolglike ekonomiese druk en ’n veldtog om swart townships deur burgerlike verset onregeerbaar te maak het dit die apartheidsregering gedwing om rassediskriminasie te laat vaar en tot ’n nie-rassige demokrasie in te stem. Terselfdertyd is daar egter ’n paar nare nalatenskappe geskep wat Suid-Afrika steeds kniehalter. Die ergste hiervan is waarskynlik die ontwrigting van onderwys. Dit het ’n kultuur geskep van gebrekkige dissipline en onvoldoende werkywer in baie skole wat die armste gemeenskappe van die land bedien. Die tweede is die kultuur van nie-betaling vir basiese dienste. Telkens doen ANC-staatshoofde ’n beroep op individue en gemeenskappe om vir spesifiek elektrisiteit te begin betaal, maar die kultuur van nie-betaling – hoe verstaanbaar dit ook mag wees in die lig van die verlede en mense se voortgesette armoede – beteken dat die elektrisiteitsvoorsiener Eskom en ’n groeiende aantal munisipaliteite versink in ’n skuld-moeras. Dit word as aanvaarbaar beskou om dienste te kry en nie daarvoor te betaal nie, maar daardie dienste is nie kosteloos nie. Dit kos geld om elektrisiteit op te wek en te versprei, en die nodige instandhouding en uitbreiding van infrastruktuur te doen. En dit kos geld om munisipale dienste te lewer, want die einste vakbonde waaraan die ANC deur sy vennootskap met die vakverbond Cosatu verwant is, beskou dit as hul roeping om die hoogste moontlike lone en salarisse vir hul lede te beding, anders staak hulle.
Nou wie moet daarvoor betaal as die verbruiker nie daarvoor betaal nie? Hoe is dit standhoudend as niemand wil betaal om dit in stand te hou nie? En spesifiek die ANC-beheerde stadsrade het nie die durf om dienste af te sny nie, want hulle wil nie ongewilde besluite neem nie. So raak die stadsrade onlewensvatbaar en sowel die ANC as die EFF weier om veel aan die kultuur van nie-betaling te doen.
Die eerste ding wat die ANC behoort te doen, is om sy laksheid met wetstoepassing te laat staan. ’n Goeie manier om te begin is om van almal te verwag om ten minste kosprys te betaal vir die basiese dienste wat hulle gebruik, met elektrisiteit en munisipale dienste eerste in die ry. ’n Mens weet die ANC weet dit – dis regtig nie moeilik om te verstaan nie. Sommige ANC-leiers asook die ouditeur-generaal, Kimi Makwetu, sê dit openlik. Maar wat gebeur op grondvlak? Populisme seëvier – alte dikwels van ANC-kant, en van ervare, senior ANC-leiers van wie ’n mens regtig meer verwag.
Hier is ’n voorbeeld uit die 2019-verkiesingsveldtog: Ek het ’n debat tussen verskillende politieke partye in Oudtshoorn bygewoon. Oudtshoorn se stadsraad is onder DA-bewind. Die ANC se verteenwoordiger in die debat was iemand vir wie ek tot in daardie stadium baie respek gehad het, eerw. Shaun Byneveldt, ’n voormalige speaker van die Wes-Kaapse provinsiale wetgewer en boonop ’n voormalige ambassadeur. En daar probeer hy toe so wrintiewaar die oorwegend arm gehoor opstook met die stelling: “Dit is die DA wat julle krag afsny in Oudtshoorn!” Die onverantwoordelike populisme was skokkend. Al die ander deelnemers (Bonginkosi Madikizela van die DA, Laetitia Arries van die EFF en Patricia de Lille van Good) was verantwoordelik genoeg om te sê munisipale rekeninge moet betaal word, anders sneuwel die munisipaliteit. Maar Byneveldt se opportunisme