Jan-Jan Joubert

Gaan Suid-Afrika oukei wees?


Скачать книгу

wat ook aan die ANC behoort, kortwiek hierdie nodige stap binne die regerende party en verhoed dat dit beleid word. Sadou staan ook streng skoolinspeksies teen en is daarteen gekant dat hul lede vaardigheidstoetse aflê sodat daar sekerheid is dat die onderwysers die werk wat hulle moet onderrig, self onder die knie het. Die agt provinsies waar die ANC in beheer van skoolonderrig staan, vereis dus geen aanduiding dat onderwysers self die eksamen waarvoor hulle die leerders in hul sorg moet voorberei, sou slaag nie. Slegs die DA-beheerde Wes-Kaap vereis sulke toetse, wat enige kundige, hardwerkende onderwyser behoort te verwelkom. Maar al hierdie sake is nie die ergste aspek van Sadou se gedrag nie. ’n Amptelike ondersoek na die rol van Sadou in die KwaZulu-Natalse onderwysdepartement het ’n korrupte en gewelddadige skrikbewind oopgevlek waarin die vakbond bepaal wie poste kry en bevorder word, dikwels deur omkopery en afdreiging. Daar was selfs voorbeelde waar mededinging om poste tot moord gelei het.

      Nou waarom vat die ANC nie vir Sadou vas nie? Eerstens is baie Sadou-lede ook leidende ANC-lede, veral in ANC-takke. Voorts is Sadou-lede vir die ANC onontbeerlik op stemdag. In baie gebiede waar die inwoners brandarm en alte gereeld funksioneel ongeletterd is, is die onderwyser ’n gesagsfiguur met ’n vaste salaris en geleerdheid. Op stemdag tree baie Sadou-lede dus as ANC-party-agente op en sorg dat daar nie teen die ANC gekonkel word nie, of hulle tree as kiesbeamptes op. Om Sadou-lede as tydelike OVK-kiesbeamptes in stemlokale te hê hoef nie die ANC spesifiek te bevoordeel nie – ander partye se agente sal dit aanmeld en keer – maar dit sal beslis nie die ANC benadeel dat soveel Sadou-lede in beheer van stempunte is nie.

      Nehawu se lede is onontbeerlik vir die versorging van die land se siekes, en lewer dus met hul werk ’n belangrike en edele bydrae wat vir kwesbare Suid-Afrikaners die verskil tussen draaglikheid en lyding, herstel en verswakking of selfs lewe en dood beteken. Maar Nehawu-stakings het afgryslike, soms lewensgevaarlike en partykeer selfs noodlottige gevolge vir hierdie siek en dikwels verswakte mense wat van die vakbondlede afhanklik is. Dit is onmenslik wat tydens stakings gebeur in veral staatshospitale waar sorgbehoewendes van Nehawu-lede afhanklik is vir hul welsyn. Dit gebeur gereeld dat Nehawu-lede tydens stakings toegang tot hospitale verhoed, sodat voldoende sorg vir kwesbare, verswakte en dikwels hulpelose mense nie kan plaasvind nie. Male sonder tal het Nehawu-leiersfigure al tydens stakings verklaar dat dit jammer sou wees as daar slegte gevolge is vir die pasiënte, maar dat die werkomstandighede of lone van sy lede, of watter kwessie ook al tot die staking gelei het, vir Nehawu voorrang geniet bo die lot van die pasiënte. Dit is ’n onmenslike en heeltemal onaanvaarbare standpunt en ’n sterk owerheid sal enigeen wat pasiënte se welsyn en lewens so bedreig, dadelik afdank.

      Die ANC-regering se reaksie op sulke pligversaking en laksheid deur lede van sy vakbondvennote is ten beste lamsakkig. Van strengheid en die afdanking van belhamels wat hul plig versuim jeens van die land se kwesbaarste mense, hetsy siekes of kinders, is daar gewoonlik weinig teken. Dit is te verwagte dat ’n party wat sy grondslag as linksgesind sien, ’n hegte band met die werkersklas en die vakbonde sal handhaaf. Dit kan egter nie blinde en onvoorwaardelike steun wees nie. As die ANC sy morele aansien wil terugwen, moet hy die kampvegter wees vir die land se kwesbaarste burgers wanneer vakbondlede ander mense – spesifiek kinders en siekes – se swakheid in eiebelang uitbuit.

      ’n Vyfde swakheid van die ANC wat die land baie duur te staan kom, is die gebrekkige uitvoering van beleidsplanne binne die regulasies en wette van die land. Dit help nie ’n regering wen verkiesings, maar het nie ’n langtermyndoelwit of behoorlike bestuursvaardighede nie. In die geval van die ANC hang hierdie vyfde punt saam met die eerste vier, want dit kom ook neer op gebrekkige dissipline en ’n onvermoë om moeilike keuses uit te oefen en dan effektief te bestuur tot voordeel van die land. Die voorbeelde is legio, maar kom ons begin by die instandhouding van infrastruktuur. ’n Sleutelkonsep by die instandhouding van infrastruktuur wat onder ANC-regering alte dikwels agterweë bly, is voorkomende instandhouding. Dit beteken jy wag nie totdat iets breek voordat jy dit versien of vervang nie. Daar is norme en standaarde vir gereelde en voorkomende instandhouding waarby streng gehou moet word vir infrastruktuur om optimaal te bly funksioneer. Dit beteken dat opwindende nuwe uitbreidings ondergeskik gestel moet word aan die verveliger taak van instandhouding waar daar nie geld vir albei is nie – ’n keuse waarmee ANC-regerings op nasionale, provinsiale en plaaslike vlak dikwels sukkel. Dan val die primêre infrastruktuur waarop nuwe projekte ook staatmaak uitmekaar en stelsels misluk.

      Hiervoor, en vir die bedryf van enige groot staatsprojek, is bestuursvaardighede soos die formulering van ’n prakties haalbare doel, die opstel van ’n realistiese begroting, die aanwys van die vaardigste beskikbare mense (ongeag ras, politieke voorkeur of vriendskaps- en familieverband) noodsaaklik. Daarby moet die ooreengekome tydsraamwerk en standaarde toegepas word, met strawwe vir diegene wat nie hul kant bring of binne die regulatoriese en regsraamwerk bly nie. Dit beteken dat die bestuurder soms ongewild sal wees, maar suksesvol. Die ANC in regering skiet te dikwels tekort aan verskeie van hierdie suksesvereistes. Dit is waarom dit lyk of die uitstekende nasionale ontwikkelingsplan nie suksesvol afgehandel gaan word nie. Die ANC-regering is nie bereid om die ongewilde besluite te neem wat vir die uitvoering daarvan nodig is nie.

      Die laaste verbeteringstap wat die halfdosyn voltooi, is dat die ANC meer toekoms- en oplossingsgerig en dus minder rasbehep sal moet raak as die party meer suksesvol wil regeer. Die ANC het inderdaad ’n trotse geskiedenis en dis in die haak om dit te gedenk. Maar een van die redes waarom die party terugsak in verkiesings en veral veld verloor onder jong kiesers, is dat dit dikwels voel asof die ANC so behep is met sy geskiedenis dat die party klink asof hulle stry om ’n beter verlede eerder as ’n beter toekoms. Daar is ’n geneigdheid by ANC-lede om so omvattend stil te staan by die onontkenbare onregte van die verlede dat te min aandag gegee word aan omvattende, kreatiewe en realisties uitvoerbare planne om probleme op te los en Suid-Afrika ’n dinamiese wenland te maak. Terwyl die onregverdige, verdeelde en diskriminerende verlede grootliks die hede bepaal en sekerlik die toekoms gaan beïnvloed, gaan geen mate van herhaling en beskuldiging selfs een van daardie onregte ongedaan maak nie. Dit beteken hoegenaamd nie dat daardie voortgesette lyding en mensonterende armoede ontken of gering geskat moet word soos dit deesdae mode geraak het by sommige regse Suid-Afrikaners nie. Maar vir die ANC om ’n presterende regering te word moet die fokus eenvoudig daarop wees om die beste moontlike toekoms te bou.

      Ons land is goed daarmee om ’n probleem of uitdaging tot aan die wortel na te vors en te ontleed, maar ons is minder goed met die uitdink en deurvoer van oplossings. Suid-Afrika het omvattende uitdagings, probleme en tekortkominge. Om dit te oorkom het ons al ons beste mense nodig, al lyk hulle ook hoe, al praat hulle ook watter taal en al was hul ouers ook hoe arm of bevoorreg. Die ANC het maar laat – eintlik eers in 1985 – alle rassediskriminasie binne die party afgeskaf, maar vergeleke met baie ander politieke groepe was dit in Suid-Afrika tussen 1985 en omtrent 2001 (toe oudpres. Thabo Mbeki weer ’n rasnasionalisme begin predik het), ’n nastrewenswaardige voorbeeld van nie-rassigheid en hoop dat wat NP van Wyk Louw so raak hierdie wye en droewe land genoem het, uiteindelik ’n gelukkige en vervullende tuiste vir al sy kinders kan bied. Maar die ANC is daardie spoor byster. In die vorige bedeling was dit ’n sonde om swart te wees, maar daar is te veel openbare verteenwoordigers van die ANC wat deur hul uitsprake die indruk skep dat dit deesdae ’n sonde is om wit, bruin of Indiër te wees. Hierdie land kan nie bekostig om sy opgeleide kinders te verloor nie. As die ANC homself wil red en die land ten beste wil dien, moet die party beter, meer uitvoerbare planne beraam wat gedissiplineerd uitgevoer word – en hy moet veg om nie-rassigheid te laat seëvier en niemand ontuis te laat voel in die land nie.

      Ja-nee, maklik gaan dit nie wees nie. Maar as die ANC daadwerklik erns maak daarvan om die wet streng toe te pas, ophou wegskram van ongewilde maar noodsaaklike besluite, kaderontplooiing vervang met ’n beleid wat effektiewe bestuursvaardighede vooropstel, die welsyn van die land stel bo die eiebelang van sy lede en vakbondvennote, oorkoepelende beleid planmatig en streng deurvoer en laastens op ’n nie-rassige manier toekomsgerig en oplossingsgerig werk, kan die party sy agteruitgang omkeer, tot voordeel van die hele land. ’n Mens wens hulle wil dit probeer – dis eintlik nie so moeilik nie.

      2

      Wat is fout met die DA?

      IN DIE 2019-verkiesing het die Demokratiese Alliansie (DA), Suid-Afrika se naasgrootste en verreweg veelrassigste