Jan-Jan Joubert

Gaan Suid-Afrika oukei wees?


Скачать книгу

wou hê, en dat hulle vir hom moes stem. Hoewel dit ongetwyfeld verkeerde gedrag van De Lille was, is daar baie mense wat meen dis nie die einde van die wêreld nie en dat ’n openbare teregwysing tesame met ’n waarskuwing genoegsame straf sou wees. Uiteindelik was sy egter moeg gestry en het sy bedank om haar eie party, Good, te stig. Sowel De Lille as haar duisende ondersteuners was die DA se verlies. Die DA moet homself afvra of hy interne geskille beter kan hanteer.

      Betreffende die spietkop-ingesteldheid is dit eenvoudig verstommend hoe gemaklik spesifiek DA-parlementslede is om in liederlike bekgevegte op sosiale media met ander mense en selfs met mekaar betrokke raak, meestal sonder om die ander persoon net gou privaat te kontak en die feite na te gaan. As daar iets van die moderne lewe is wat my verstand te bowe gaan, is dit die onblusbare lus van sommige mense (nie net politici nie) om hul hele lewens op sosiale media uit te leef. Mev. Mora van Zyl, wat vir my skoolgehou het, het voor in haar klas ’n groot kennisgewing gehad waarop gestaan het: “Dink maar weer …” Dis goeie raad vir almal van ons, veral op e-pos en sosiale media. Mens hoef nie altyd eerste te reageer nie. Jy moet verstandig en oplossingsgerig reageer. Omdat politici nie engeltjies is nie, is dit nodig vir die DA, as hy hierdie swak plek in sy mondering wil takel, om duidelike, streng reëls rakende gedrag op veral sosiale media in te stel, met spesifieke strawwe. Vanself gaan dit duidelik nie regkom nie.

      Derdens is dit nou regtig hoog tyd dat die DA behoorlike beleid publiseer oor regeringskwessies, soos dit ’n amptelike opposisie betaam. Die finalisering van sommige beleidsvoorstelle, veral oor kontensieuse kwessies, sloer nou al jare lank. Mens kon dit sien in die DA se 2019-verkiesingsplakkate. Wat beteken “Billike toegang tot werk” of “Een Suid-Afrika vir almal” nou eintlik? Nee, ek weet ook nie. Met behoorlik omskrewe beleidskeuses sal bontpratery tot ’n einde kan kom deur behoorlike dissiplinering. Maar wat behoorlike beleid beteken, en wat leierskap verg, is dat dit nie net beleidsopsies insluit nie, maar ook sekere opsies bepaald uitsluit. Baie mense meen – en die Sondagkoerant Rapport het in ’n hoofartikel pertinent hieroor gewaarsku – dat die DA se obsessie om soveel stemme moontlik te kry en die ANC as regering te ontsetel, beteken hy wil geen kiesers vervreem nie en dus geen beleidsopsies uitsluit nie. Wel, hy sal moet, want as jy in die politiek alles vir almal probeer wees, is jy spoedig niks vir niemand nie.

      Een van die kwessies wat die DA dringend moet uitklaar in belang van spesifiek sy Afrikaanse ondersteuners van alle rasse, is die party se siening oor taal in onderwys. En dit is regtig nie so moeilik nie, want die Grondwet maak die situasie glashelder. As die DA die duidelik omskrewe bepalings in die Grondwet en die Suid-Afrikaanse Skolewet daadkragtig en op ’n versoenende wyse uitleef, sal ’n groot deel van sy Afrikaanse probleem reeds opgelos wees. Dit sal egter van die party se onderwyswoordvoerders, spesifiek in Gauteng, vereis om die Grondwet en die Suid-Afrikaanse Skolewet behoorlik onder die knie te kry, spesifiek sover dit onderrigtaal aangaan. Nogmaals: Is dit die DA se erns?

      Vierdens – en dit is dieselfde as wat ons reeds oor swart kiesers gesê het – as die DA wil hê wit Afrikaanse kiesers moet vir die party omgee, moet die DA aantoonbaar en voortdurend by die alledaagse lewe van wit Afrikaanse kiesers betrokke wees. Daar is baie wit Afrikaanse mense wat – ten regte of ten onregte – uitgesluit en geteiken voel in die Suid-Afrikaanse samelewing. Soos ’n briefskrywer dit onlangs in die Sunday Times gestel het, was dit verkeerdelik in die vorige bedeling in Suid-Afrika ’n sonde om swart te wees. Hy vra dan of dit tans ’n sonde is om wit te wees. Kortom, Afrikaanse mense wil tuis voel en voel dat hulle behoort. Die spesifieke omgee vir een groepering hoef natuurlik glad nie te beteken dat daardie groep bo ’n ander bevoordeel word of dat enigeen afgeskeep word nie.

      Vyfdens is daar die ernstige en belangrike tendens dat al hoe meer wit en bruin Afrikaanse mense fisiek bedreig voel deur misdaad. Onder rykes en die middelklas is dit veral diefstal en roof – wat tot ander misdade soos aanranding, verkragting en moord kan lei – wat gevrees word. In die werkersklas is dit spesifiek bendegeweld wat vrees aanwakker. ’n Deel van die probleem is die bykans algehele gebrek aan politieke wil en vermoë by die ANC-regering om dit op te los. Dit laat ’n gaping so groot soos ’n waenhuisdeur vir die DA om gemeenskapspolisiëring in DA-wyke te organiseer as ’n teken van meelewing en as ’n praktiese bydrae tot die oplossing van die probleem. Die ander kwessie wat spesifiek wit Afrikaanssprekendes emosioneel raak, is plaasmoorde. As die DA die wegloop van sommige van sy Afrikanerkiesers wil keer en omdraai, sal die party as prioriteit eerstens meelewing moet toon en tweedens ’n gemeenskapsoplossing spesifiek vir plaasmoorde moet bedink.

      As die DA aangaan soos hy aangaan, sal sy trajek nie verander nie. Een van die senior joernaliste in die land wat ek die meeste bewonder het in 2019 vir my gesê, “die DA dra die ideaal van ’n nie-rassige Suid-Afrikaanse grondwetlike demokrasie in sy hande”. Dis ’n groot eer en verantwoordelikheid as daardie waarneming korrek is.

      Vir sy ondersteuners is die DA die enigste party wat ’n praktiese alternatief tot die ANC in regering bied – ’n manier om provinsies, munisipaliteite en dalk eendag die land eerliker en beter te regeer tot voordeel van almal, ongeag ras, taal, geslag, oortuiging of afkoms. Dit is die miljoene mense wat die DA so beskou wat sal hoop die party ruk hom reg met praktiese beleidsbesluite en gedragsverandering – tot voordeel van gans die geliefde land.

      3

      Waar kom die VF Plus se stemme vandaan … en waar gaan dit heen?

      DIE VRYHEIDSFRONT PLUS se steun het meer as verdubbel in die 2019-verkiesing – van 165 000 stemme in 2014 tot 414 000 in die mees onlangse verkiesing. Die party het sy persentasie steun van 0,9% na 2,38% opgestoot en sy verteenwoordiging in die Nasionale Vergadering van 4 setels na 10.

      Net die EFF het meer stemme as die VF Plus bygekry. Dit op sigself is natuurlik die hartseer verhaal van die 2019-verkiesing – die kragte is middelpuntvliedend eerder as middelpuntsoekend – die partye wat deur die meeste mense as die verste links en die verste regs in die parlement ervaar word, het die meeste groei getoon.

      As jy wonder waarom, help dit nie om die DA – wat baie van daardie stemme gebloei het – na die redes te vra nie. As die party die redes geken het, sou hy die stemverliese verhoed het. Jy moet gaan na die mense wat die stemme bygekry het, naamlik die VF Plus self.

      Hierdie is ’n belangrike oefening, want baie mense buite Afrikanergeledere, asook sommige minder tradisionalistiese Afrikaners, sukkel om te verstaan hoe enigiemand die VF Plus as ’n toekomsopsie kan sien.

      Die fenomeen van mense wat oorgeskuif het van die DA na die VF Plus is voorts grootliks, hoewel uiteraard nie volkome eksklusief nie, beperk tot wit Afrikaanssprekendes, in die handel en wandel bekend as Afrikaners. Dit was in wese ’n Afrikaner-binnegeveg. Afrikaner-binnegevegte is ’n bietjie soos Joodse binnegevegte – dis intens, en dis intern.

      In ’n onderhoud met die bobaas-profielskrywer Hanlie Retief in Rapport het die leier van die VF Plus, dr. Pieter Groenewald, ’n baie openbarende weergawe van sy verkiesingsbelewing gegee. Daar is min verwysing na VF Plus-beleid, maar baie na die foute van die DA, veral omdat die party sy Afrikanerkiesers as ’n gegewe aanvaar het. Groenewald verwys ook na ’n aantal “onderskepdrieë” – toe die DA deur ondeurdagte oorhaastigheid – eintlik maar politieke domheid – so reg in die kraal van die VF Plus gespeel het.

      Hy verwys daarna dat wit mense, en spesifiek Afrikaners, trots moet wees op wie hulle is en nie teen gediskrimineer moet word as minderhede nie, en dan maak hy die volgende stelling: “Die reënboognasie is dood.”

      Daarin lê die problematiek van die VF Plus se opkoms opgesluit, want hy stippel geen alternatief uit nie. In elk geval, dit is nou werklik nie asof die VF Plus in enige stadium die reënboognasie uitgeleef het nie – in hierdie verkiesing is 22 van die 23 verteenwoordigers wat die party na die parlement en die provinsiale wetgewers stuur, wit.

      Die enigste uitsondering is die Wes-Kaapse oudpremier Peter Marais. Ja, wel. Gaan lees gerus wat hy alles aangevang het die laaste keer toe hy in magsposisies was in prof. Johan C. Moll se deurtastende studie, Kaapstad se Streetgate: Politieke maneuvers en die Peter Marais-debakel (1999-2002), soos in boekvorm uitgegee deur die Vrystaatse Universiteit.

      Vir Pieter Groenewald om hom uit te laat oor die reënboognasie is