die Bybelboek Openbaring in die brief aan die gemeente van Laodisea waarsku, word die lou water alte dikwels uitgespoeg.
Die voorbeelde was besig om op te laai, en die gety was besig om te draai.
Enkele dae later het die gety ’n vloedgolf geword met die vyfde voorbeeld: die Schweizer-Reneke-geval. Schweizer-Reneke is ’n dorp in Noordwes wat besig is om vinnig ’n buite verhouding groot reputasie op te bou vir die uitstuur van omstrede foto’s op sosiale media deur verskillende inwoners. Sjoe.
In hierdie geval het ’n onderwyseres, Elana Barkhuizen, ’n foto geneem in die skoolbeginnersklas van ’n kollega, waar al die wit kinders bymekaar gesit het en al die swart kinders afsonderlik bymekaar. Die foto is aan ouers van die kinders gestuur en het op sosiale media versprei. Sonder om op ’n verduideliking van die kant van die onderwyser te wag, het die DA se nasionale jeugleier, Luyolo Mpithi, die kwessie as rassisme bestempel. Mpithi is ondersteun deur die DA se nasionale leier, Mmusi Maimane. Ook die DA-leier in Noordwes, Joe McGluwa, het Barkhuizen se skorsing verwelkom.
Ná ’n paar dae van groot politieke spanning en dreigende geweld in Schweizer-Reneke, wat nogmaals nasionale hoofnuus was met ’n Afrikaanssprekende in die beskuldigdebank, is bevind dat Barkhuizen nie verkeerd opgetree het nie. Haar skorsing is opgehef.
Tydens ’n dramatiese en emosionele mediakonferensie aangebied deur die vakbond Solidariteit, het Barkhuizen op weerlose en geskokte wyse van haar nare ondervinding vertel. Sy het wyd aanklank gevind as iemand wie se hele bestaan onregverdig en omvattend ontwrig is, en wie se professionele integriteit grof en ongegrond beledig is. Nogmaals was dit veral Afrikaanse mense, en by name Afrikaanse wit mense wat reeds geteiken gevoel het, wat hulle die gebeure aangetrek het.
Waar die DA Barkhuizen kwaai en verkeerdelik veroordeel het, het die VF Plus eers gewag dat al die feite aan die lig kom, en toe vir Barkhuizen ondersteun. Dit was op elke vlak die regte ding om te doen, en die gebeure op Schweizer-Reneke was die oomblik toe die gety behoorlik gedraai het na die VF Plus. Maar dit was bloot die finale spyker. Die DA-steunverlies onder sommige Afrikaners het ’n lang aanloop gehad.
Kort voor die verkiesing het die VF Plus munt geslaan uit nog ’n situasie. Die maatskappy MultiChoice het naamlik gedreig om sy borgskap aan die Ghoema-toekennings vir Afrikaanse musiek te onttrek omdat ’n musiekvideo waarin die sanger en politieke polemikus Steve Hofmeyr opgetree het, ’n finalis was vir ’n prys. Die VF Plus het kapsie gemaak en gesê daar word teen Hofmeyr gediskrimineer. Hulle het dit ook uitgebeeld as ’n aanslag op Afrikaanse musiek, op Afrikaans en dus op Afrikaanssprekendes. Hierdie strategie het inslag gevind weens die groeiende belewing van vrees en vervreemding onder die deel van die Afrikanerdom wat vatbaar is vir die VF Plus se boodskap.
Daar is natuurlik ’n ander, groter deel van die Afrikanerdom wat niks met Hofmeyr te doen wil hê nie, wat – Hofmeyr of geen Hofmeyr nie – nooit in der ewigheid met die VF Plus sal assosieer nie en wie se vrae oor die DA nie die VF Plus as moontlike antwoord insluit nie, maar met hulle het ons gehandel in die hoofstuk oor die DA se uitdagings.
Tot dusver in hierdie hoofstuk het ons – soos die VF Plus en sy leier self – grootliks gekonsentreer op die faktore wat kiesers van die DA af weggestoot het, met die VF Plus as bykans passiewe ontvanger van kiesersteun. Daar was egter ook dinge wat die VF Plus spesifiek reg gedoen het in die verkiesingsveldtog.
Iets wat my dadelik opgeval het van die VF Plus se strategie was die plasing van hul plakkate. Jy kon nie in die omgewing van enige Afrikaanse skool beweeg nie, of die VF Plus was skielik ’n faktor op die lamppale. Hulle het ook op ander maniere visgevang waar die vis swem, byvoorbeeld deur in Noordwes spesifiek te fokus op plekke van wit bevolkingsametrekking – ankerdorpe, soos Solidariteit dit noem – eerder as om hul plakkate oor yl bevolkte gebiede te versprei. Dit het beteken plekke soos Rustenburg, Potchefstroom en Klerksdorp kry die leeue-aandeel aan VF Plus-plakkate.
Die VF Plus het besluit om Hofmeyr as stem van sy radio-advertensies te gebruik, wat baie Afrikaners vurig sou afsit, maar ’n ewe vurige minderheid sou besiel. Hy is by uitstek ’n verdelende figuur oor wie min Afrikaners neutraal voel – sommige meen hy sê wat hulle voel en hy is eintlik ’n lekker ou, terwyl ander hom as platvloers, veragtelik en rassisties ervaar.
Die VF Plus het voorts geleer en skaamteloos gesteel by die DP-veldtog van 1999, soos die “Slaan terug”-slagspreuk aantoon. Dit was ’n eenvoudige, negatiewe, ietwat kinderlike veldtog. Slaan terug waarmee? Met tien parlementslede? En koop mense regtig nog sulke infantiele slagspreuke soos “Nou of nooit”? Is tien parlementslede “nou” of “nooit”? Maar nou ja, dié strategie het onteenseglik vir die VF Plus gewerk, so geluk aan die party.
Wat die VF Plus verwoord en verword het was ’n tipe ongefokuste woede en keelvolheid by sommige – en ek benadruk sommige – Afrikaners. Dis ’n gevoel wat ek nie gaan voorgee om te deel nie – ek is ten diepste nie so grootgemaak nie – maar dis iets waaraan ek uit hoofde van my werk baie blootgestel word en na die beste van my vermoë probeer verstaan. Deur openlik te verklaar dat ek dit nie deel nie probeer ek dit ook nie delegitimeer nie. So kom ons kyk hoe mens hierdie woede kan probeer verwoord sonder om daarmee te assosieer.
Dit is, kortom, die gevoel dat jy geblameer word vir alles wat in Suid-Afrika skeefloop, terwyl jy juis jou bes doen om alles te laat werk deur persoonlik hard te werk. Dis die gevoel dat jou kinders vir ewig geblameer gaan word vir ’n verlede waaraan hulle nie aandadig was nie. En dis die gevoel dat die huidige regering regtig nie die land verbeter nie, want infrastruktuur gaan ten gronde, min nuwe dinge van waarde word geskep, buitelandse beleggers word afgeskrik, binnelandse beleggers word verjaag, produktiwiteit is onbelangrik en weinig ekonomiese groei vind plaas, so wat gaan oorbly nadat alles herverdeel is?
As hierdie frustrasies, wat in ’n mindere of meerdere mate deur enige denkende mens ervaar word, jou politieke denke begin oorheers en jou politieke keuse begin rig, sit dit om in ’n tipe radelose woede wat ’n onverwagse eggo en die skyn van ’n aanvaarbare gesig gekry het in die anti-immigrantepartye van Europa, die Brexit-beweging in Brittanje en die Trump-groepering in Amerika. Dis krummeltjie wat brood geword het, ’n stem (en dus stemme) gekry het en nou diknek raak – wie weet vir hoe lank? ’n Vreemde eienskap van hierdie groepering is dat hulle soveel uitlaatkleppe het wat hulle so deurgaans gebruik, en tog meen dat hulle nie gehoor word nie. Hulle wil hul woede telkens verwoord, eintlik uitskreeu soos ’n motor sonder ’n knaldemper, en as jy nie met hulle saamstem nie, dink hulle dis omdat jy hulle nie verstaan nie. Maar jy verstaan hulle juis – dis hoekom jy van hulle verskil!
Terwyl enigeen begrip kan hê vir sulke kiesers se frustrasies, haak baie mense vas by waar die VF Plus se stemme vandaan kom, en vergeet hulle om te vra waarheen daardie stemme gaan. Wat is die boodskap wat dit stuur, en wat is die gevolge vir die toekoms? Ons as Afrikaners was nog altyd goed daarmee om in die spieël te staar en vas te stel wat ons van onsself dink. Maar in die proses vergeet ons alte dikwels dat ons gedrag nie net ’n spieël vir onsself is nie. Dis ook ’n venster vir ander. Wat ander sien, bepaal hul gedrag teenoor ons. Ons woon nie op ’n Afrikaner-eiland nie. Daar is gevolge aan dade. Waar gaan dit heen?
Ja, wat sien ander in hierdie Afrikaner-kiesersgedrag? Een van die stukkies mitologisering waarmee die VF Plus tot hul krediet baie suksesvol was, is dat die party nie aanstoot gee met sy gedrag nie. Ek wonder dikwels waar mense daaraan kom. Daar is eindelose voorbeelde van gedrag wat wel as aanmatigend ervaar word, maar die VF Plus kry dit reg om dit te verswyg, of dalk is hy in so ’n mate op homself gefokus dat hy dit bloot nie agterkom nie; straks omdat hy dit nie so bedoel nie. Miskien gee die party eenvoudig nie om wat ander mense dink nie. Maar die kommunikasiekunde leer ons dat ’n boodskap – ’n kodering – se oordrag in drie fases geskied. Daar is die kodering, dit wat jy bedoel. Dan word die boodskap versend (deur jou aan die ander oorgedra) en aan die ander kant deur die ontvanger gedekodeer. Dekodering is hoe die ontvanger die boodskap verstaan. Daar is gevolge aan dade.
Waar dit gaan om aanstoot gee, word dit geheel en al deur die ontvanger (dekodeerder) gedefinieer. Vir die stuurder (enkodeerder) van die boodskap om dit te probeer definieer, dui reeds op verwaande onbegrip. So min as wat jy die DA kan vra wat met sy verkiesingsboodskap verkeerd geloop het, so min kan jy die VF Plus vra hoe sy gedrag deur ander ervaar word.