François Bloemhof

Vergeet my nie


Скачать книгу

verfrommelde pakkie Camels en ’n aansteker afkom.

      “Hoekom lyk jy so vies?” vra Lara, voor sy sien wat Mardaleen vashou. “O.”

      “As Braam skelm wil wees, kan hy nie ten minste groter versigtigheid aan die dag lê nie?”

      “Hy het nie met Speurder Mardaleen rekening gehou nie.”

      “Speurder Mardaleen hoef nie veel speurwerk te doen nie, die leidrade val in haar skoot.”

      “Gelukkig is jou skripsie betyds in,” herinner Lara haar aan die feit dat die dag tot dusver darem nie slegs uit onaangename oomblikke bestaan het nie.

      “Min te danke aan daardie simpel pierewaaier.”

      Lara giggel. “Dinge het amper warm geraak dánksy daai pierewaaier!”

      Ter antwoord skiet Mardaleen die kortbroek by die wasmasjien se oop bek in.

      “Jy hoef nie skaam te voel nie,” sê Lara.

      “Skaam waaroor?”

      “Hugo is ’n legend.”

      “Dink jy nou regtig …” Maar sy voltooi nie die sin nie. As sy begin stry, gaan Lara dink dis iets wat vir haar belangrik genoeg is om oor te stry.

      “Ja, ek dink regtig,” kom dit met ’n giggel.

      Mardaleen grawe in haar rugsak en haal ’n boek uit. Lara is deeglik vertroud met die heiligheid daarvan: haar droomboek. ’n Gewone dun aantekeningboek waarin sy enigiets skryf en plak wat ’n rol in haar lewe speel of dalk gáán speel. Ook wat sy die vorige aand gedroom het, en haar toekomsdrome. Los gedagtes. Iets moois waaraan sy gedink het. Waar sy dalk eendag sal wil trou. Wittebrood hou. En wat sy haar en haar man (seker maar Braam, solank hy finaal die rookgewoonte laat staan) hul eersteling sal noem.

      Onder die seunsname waarvan sy hou en wat sy neergeskryf het, is daar ’n sekere een …

      “Daar gaan nog ’n naam.”

      Sy krap Hugo dood.

      Die mandjie met klere eers vergete, kry sy ’n knus, snoesige gevoel in haar binneste toe sy beskryf hoe sy haarself graag eendag sou wou sien: “M. Malherbe, die bekende fiksieredakteur en ma van Elizabeth en Claude – wat albei in September gebore is, want …”

      “Lente is lewe!” sluit Lara af.

      Mardaleen maak die boek toe. Raak liggies aan die voorblad. Soveel doelwitte is hierin vervat.

      Graad vang.

      Londen.

      Studielening terugbetaal.

      Kaap toe gaan.

      Redakteur word by ’n uitgewery!

      “Wat is dit met die ‘Malherbe’?” wil Lara weet. “Ek dog jy gaan Coetzer bly?”

      “Die alliterasie van Mardaleen Malherbe is aanloklik.”

      “Ek weet darem nie. Jy is so te sê hoof van die Maidenhead Movement?”

      Sy raak ernstig. “Ek weet nie of ek meer my pa se van wil hê, na alles waardeur my ma is nie.”

      Dis die soort ding wat sy net vir hierdie meisie kan sê. Die maltrap wat vir almal glimlag en almal láát glimlag, en wie se enigste doel dit skynbaar is om vier-en-twintig uur van die dag ’n jol te hê, is ook iemand met soveel begrip en deernis dat Mardaleen nie weet hoe sy dit die laaste sewe maande – nadat die jare lange affair op die lappe gekom het – sonder haar sou gemaak het nie.

      Die vastigheid wat so vanselfsprekend was dat sy nie eens daaroor nagedink het nie, was in ’n oogwenk iets van die verlede. Daar was niks meer by die plaas vir haar nie; dit was haar pa se plek. Met hom wou sy nie praat nie. En in die gesprekke met haar ma oor wat gebeur het, moes Mardaleen háár steun.

      Maar Lara Hattingh was hier en is nog altyd.

      “Hoe gaan dit nou met jou ma?”

      Sy blaas stadig asem uit. “Sy sit soos ’n voël in ’n hok. Die deurtjie is oop, maar sy sit net en staar voor haar uit.”

      Só was dit die enkele keer wat sy “huis toe gegaan het”. Sy het nie op die plaas gaan bly nie, maar by ’n ou klasmaat in dié se woonstelletjie. Sy het nie haar pa gesien nie, slegs haar ma, en net op die dorp.

      En die ironie: in daardie selfde woonstelblok woon Liesbet du Plessis – a.k.a. juffrou Du Plessis – ook. Mardaleen kan die vrou weer voor in die klas sien staan, besig om met hulle ’n gedig te behandel. Braam was saam met haar in matriek. Ou Doepies, het hy die onderwyseres genoem. Toe nie so oud nie, en ook nie te koud om Sarel Coetzer met – hoe het Braam dit in Bourbon Street gestel? – haar omarmde rym te vang nie.

      Asook haar koeplette.

      Daar op die dorp in haar ou klasmaat se woonstel was dit by tye vir Mardaleen byna onmoontlik om nie tot by haar voormalige juffrou se deur te loop en haar met die kaal hand te pak nie.

      Tot sy bly lê.

      “Jou ma is nie ’n voël nie, Marda,” ruk Lara haar terug na die hede. “Vir wat los sy hom nie net nie?”

      Presies wat sy al hoeveel keer gewonder het. Maar: “My ma is nie jy nie.”

      “Ek sou buite die hof skik en dan die wêreld vol reis met die geld. Waarvoor sal ek my aan ’n man steur?”

      “Om die vrede te bewaar.” Sy maak dit duidelik dat sy nie met daardie rede saamstem nie.

      “My pa sê dit altyd.”

      “Presies, want happy wife, happy life.” Mardaleen wend haar weer na die wasgoed, dis immers hoekom sy hier is. En haar hande is rusteloos, hierdie hande waarmee sy sekere mense wou moker. “Maar mans sê dit oor iets wat hulle in elk geval nie veronderstel is om te doen nie.”

      “Marda …”

      Sy dwing haar stem kalmer, sy besef dit het gestyg. “Maar wanneer ’n vrou sê: ‘Ek het dit gedoen om die vrede te bewaar,’ verwys sy gewoonlik na haar loopbaan, haar drome.”

      “Dit was tog haar keuse?”

      “Meisies word van kleins af geleer dat ambisie goed is – maar te veel van ’n goeie ding is sleg. ‘Maak jouself klein, my kind. Want ’n man het baie trots.’ ” Sy kan nie die bitterheid uit haar stem hou nie. “My ma het haarself al so klein gemaak, daar is skaars iets van haar oor. En vir wat? Om vasgevang te wees in ’n vals huwelik omdat alles op my pa se naam is?”

      “Sy kan tog seker ’n eenslaapkamer bekostig?” stel Lara voor.

      “Sy kan nie eens ’n karavaan bekostig nie!”

      “Hei! Ek konfronteer jou nie.”

      “Sy het nie pensioen nie, Lara. Sy’t nie beleggings nie, haar spaargeld het die plaashuis help afbetaal, want dit was maar altyd ’n gesukkel. Sy’t bleddie niks!”

      “Ek’s jammer …”

      “Ergste van alles – selfs al was geld nie ’n probleem nie, sou sy nie sonder hom wou lewe nie. Sy’s nog steeds lief vir hom.”

      Sy kyk af. Besef wat sy vashou.

      Maar dit kan nie wees nie.

      Maar dit is. In haar hand is nie ’n kortbroek of een van Braam se T-hemde of selfs ’n onderbroek nie. Onderklere, ja, maar nie ’n man s’n nie. Meer spesifiek, ’n panty. Nog meer spesifiek, ’n gele.

      Een wat aan ’n inwoner van Wanda-koshuis behoort, want op die etiket pryk daar langs die eienaar se naam die kameelperdjie wat daarvoor gesorg het dat daar dikwels na dié koshuis as “Wydsbeen Wanda” verwys word.

      Die panty is hiér, tussen Braam se klere, waar dit beswaarlik sonder goeie rede kon beland het.

      Slegte rede. Bose rede.

      Haar woorde van ’n kwartier of wat