en Laurens het laas nag gesels.”
Soos gewoonlik weet hy watter woord of woorde hy moet ignoreer. “Waaroor het julle gesels?” Nie waarom het julle juis in die nag gesels nie.
Sy glimlag verlig. Hy kom altyd so direk tot die punt. Maar tot haar ontsteltenis begin haar mond beef. Sy pers haar lippe saam, voel die branding van trane.
“O, liewe land, dit moes ernstig gewees het.” Oupa Fritz leun vorentoe om haar fyn te betrag.
Sy sluk die emosie terug. “Dit is ernstig, ja. Laurens gaan weg Leiden toe om te studeer.”
Hy sit terug, tuur na die plafon. “Dis vir jou ’n ding.”
“Dit is, ja. Vir my is dit erg.”
“Ek weet. Wil hy graag gaan?”
“Nee, hy wil nie. Hy wil …”
“Wyn maak. Brandewyn en rooiwyn.”
“Hoe weet Oupa?” vra sy enigsins verbaas.
“Omdat hy my al lankal daarvan gesê het. Hy was pas op universiteit. Toe’t hy gesê hy geniet die regstudies, maar sy hart is in die wingerd waar hy vandaan kom.”
Carijn kry weer die ou gevoel om haar hart. Asof vingers te styf daarom vou. Nes daardie dag toe Laurens so verwese aangestap gekom en sy geweet het sy moet iets doen, maar nie geweet het wat nie. “Ai, Oupa,” kry sy dit uit.
“H’m, maar ek het vir hom gesê hy moet onthou die wingerd is nie sy oorsprong nie.”
“Hoe bedoel Oupa?” Maar sy weet.
“Ek bedoel,” antwoord hy afgemete, “dat Laurens Erasmus iewers ’n herkoms het wat hy moet gaan ontdek.”
“Maar hy wil nie,” maak sy kapsie. “Hy’t self gesê hy wil nie!”
Oupa se swaar kop kantel. “Hy sal nou so sê. Nietemin, die drang om te weet waar hy vandaan kom, sal wen. Dis ’n baie sterk behoefte, my kind. Hierdie ding om te weet waar ’n mens se oorsprong is. Dalk begryp jy dit nie, want jy weet nog altyd jy is ’n Den Hagen van Houwhoek. Erfgenaam van een van die bekendste wynplase in die Kaap.”
Sy bly stil, wil hom weerspreek, maar haar nugter kop hou haar hart teë.
Dit kom tog voor asof hy haar stryd begryp. Hy vat ’n paar stadige slukke van sy koffie. “Onthou, Carijn, jy weet als van jouself af. Al ontdek jy nou en dan nuwe dinge. Jy leer selfs goed waarvan jy nooit gedroom het nie. Maar hy, Laurens Erasmus, ken net sy naam. En tussen jou en my gesê, ek dink hy ken weinig anders.”
“Hoe kan Oupa so sê? Hy is ’n briljante student. Hy is geliefd en bekend op die kampus. Hy het naam gemaak. Veel meer as Cecil.”
“Ja, jy is reg. Hy is bekend en bemind. En hy het veel bereik vir so ’n jong man. Maar Carijn, dis soos om ’n baksteenhuis op ’n houtstellasie te bou. ’n Sterk wind kan dit omwaai.”
“Nee,” sy staan driftig op, “nou verstaan ek nie. As hy hier bly en net aangaan en leef, sal dit hom nie pla waar hy vandaan kom nie. Dit het dan nog nooit.”
“Dis wat jy in jou hart hoop, Carijn.”
“Ja. Maar hy sou my gesê het as dit hom pla.”
“En as hy self nie weet dat dit hom pla nie? Soms vreet iets aan mens sonder dat jy dit agterkom, maar as die wind jou skep en die gewone los gedagtes wegwaai, dan weet jy daarvan.”
“Ag, Oupa. Wag, ek moet seker in die kombuis gaan help.”
“Reg so.” Hy skud sy kop. “Carijn, ek wens ek kon vir jou iets anders sê, maar dit sou nie eerlik wees nie. Wag vir my, ek kom saam na die groot huis toe.”
Sy wag tot hy sy kierie kry en rustig saam met haar om die rietbos en die vlak pannetjie water oor die werf na die agterdeur loop.
Op die kombuis se drumpel hou hy haar ’n oomblik terug. “Ek dink aan jou. En aan hom.”
“Ek weet, Oupa,” fluister sy. “Dankie.”
Hulle blyk net betyds vir ontbyt te wees.
Nelia herinner hul ligweg verwytend daaraan. “Ons is klaar gewerk, Carijn. Môre, Pa. Kom sit solank.”
Oupa Fritz glimlag sy oggendgroet en almal neem plaas.
“Noudat ons almal hier is,” sê Carijn se pa, “wil ek net noem dat ek stiptelik om negeuur kerk toe ry. Dié wat nie in die Hudson is nie, gaan agterbly.”
“Ou dreigement daardie,” lag Alexa, min geraak.
“Tot ek die dag vir jou wegry, juffrou Pas Gematrikuleer!” lag hy ook.
“H’m, daarvan gepraat. Ek gaan nie volgende jaar studeer nie.”
Die stilte raak donderend.
Nelia herstel eerste, lig haar ken vererg. “Jy praat nou sommer twak, Alexa. ’n Den Hagen gaan altyd studeer. En dis nou die einde van die saak. Veral jy, jy wat so goed in tale is. Onderskeidings kry jy altyd, maar altyd in Afrikaans, Engels, Latyn en wie weet wat nog.”
Carijn sien aan haar ma se hals hoe ontstig sy is. Dis bloesend bokant die wit kantkraag van haar kerkrok. En sy kan nie verhelp nie om te vra: “Wat het jou op dié besluit gebring, Alexa?”
Alexa smeer dik botter op die vars sny brood, gooi moskonfyt in ’n dammetjie daaroor. Neem ’n groot hap en praat al kouende. “Ek het nog altyd gedink dis ’n mors van tyd en geld. Nou, met die oorlog hangende, dink ek des te meer so.”
“Hokaai,” begin pa Ben en hou sy hand op, soos altyd as ’n gesprek na sy sin te ver gaan. “Jy praat nou sommer. Dis geen uitgemaakte saak dat daar ’n oorlog gaan wees nie. En ons praat ook nie nou daaroor nie.” Hy bly kortaf stil. “Kom, laat ons bid.”
Die pad kerk toe is vanmôre lank. Almal is stil. Wie sou nog van Laurens se weggaan weet? Oupa Fritz swyg daaroor. Daarom bly Carijn liewer ook stil.
Net voordat hulle die spierwit Moederkerk instap, kyk Nelia den Hagen oudergewoonte om. Haar geoefende blik flits ondersoekend oor haar twee dogters. Carijn kan dit amper tasbaar oor haar voel gaan. Hang haar roksoom laag genoeg oor die knieë? Is haar sykouse nie geleer nie? Sy druk senuagtig aan haar hoed, wend haar oë af omdat sy nie wil hê haar ma moet sien hoe irriteer hierdie ondersoek haar nie. Sy is nou ’n volwasse vrou. Hou al ’n jaar lank in die Oos-Vrystaat skool. Wêrelde weg van hier. En nog hou haar ma die leisels. So voel dit.
Toe hulle by hul bank inskuif, begin die goddelike orrelspel. Carijn ontspan. Altyd doen dié musiek dit aan haar. Sy is versot op Bach en Handel en hierdie ervare orrelis se fyn, dog sekure aanslag. Die melodieë dring deur haar ongedurigheid. Sy vou haar hande rustig in haar skoot net toe die klomp Erasmusse verbystap na hul bank skuins oor die paadjie. Heel laaste en ’n paar tree agter die ander, kom Laurens se lang, regop figuur. Hy wag tot almal inskuif en gaan sit op die punt langs Cecil. Vreemd dat dié twee, tog so verskillend, so goed oor die weg kom. Hulle het begrip vir mekaar. Klaarblyklik het dit Cecil nooit gepla dat Laurens in byna alle opsigte sy meerdere op universiteit was nie. Cecil, skiet dit haar onverhoeds te binne, is nie waar hy moet wees nie. Hy sleep nie verniet al die jare soveel vakke nie. Dalk wil hy nie regtig landbou studeer nie. Maar die gedagte verskiet weer sodat sy net na Laurens se agterkop kyk.
Laurens draai sy kop skielik. Haar hart ruk ’n slag. Sy reguit neus, sterk ken en vol mond tref haar vanmôre soos nog nooit vantevore nie. ’n Hol kol kom sit op haar maag. Só voel mens as jy besef dat jy iets gaan verloor. Want dis wat gaan gebeur. Nog altyd het sy gedink en gedroom dat sy sal terugkom na Houwhoek om naby Laurens te wees. Maar dan het die droom vaag geraak. Soet sou dit wel wees, hierdie ondeurdagte verwagting. Iewers sou alles mooi inmekaar pas. Sy sou net ’n jaar of wat op Bethlehem skoolhou. ’n Ander plek ondersoek. Dit sou bloot ’n wegkomkans wees om haarself beter te leer ken. ’n Bietjie weg te kom van die huis af. Sy staar na Laurens se donkerkop. Hy sit weer roerloos voor hom en kyk. En sy besef dat die orrelis begin het om ’n