vertel hom van Willem se briefie. Hy wou mos nie hê dat ek die internasionale speurdiens in sy sake moet insleep nie, en noudat ek weet van sy seun Sherlock se slegte gedrag verstaan ek dit beter.
Ons praat oor ’n videoverbinding en die beeld is glashelder. Selfs al is die son nog nie eens op in Kaapstad óf in Londen nie, is die hoofkommissaris reeds in ’n netjiese gestreepte pak geklee. Hy is ’n man wat sy dag vroeg begin met ’n koppie sterk tee.
Hy sit sy koppie netjies in sy piering neer en vee met ’n vinger oor sy grys snor. “En jy is nie bekommerd oor hom nie?”
Ek sug. “Natuurlik is ek! Maar u ken vir Willem …”
Die hoofkommissaris knik sy kop. “Jy sê jy weet van die storie oor sy seun, Sherlock. Ek het gehoop die saak sal homself uitsorteer. Ek vertrou die jong brak, ek het self gehelp om hom op te lei. Hy is soms hardkoppig en weerbarstig, soos sy pa, maar hy het hope talent. En hy het ’n snuffelneus soos min! Nou al hierdie beskuldigings dat hy aan die verkeerde kant van die gereg beland het. Maar ons het magte op die grond in Australië en hulle gee aandag aan die saak.”
Ek kan dit nie meer langer hou nie. “Ek dink ek moet my hond gaan help.”
“Maar natuurlik moet jy! Dit is uiters belangrik dat Willem in Sydney is vir sy medaljetoekenning. Wat sal die koningin van ons dink as hy nie eens opdaag nie? Laat die saak in my hande.”
Later die middag gil my ma van die voorportaal af: “Kom, Adriaan! Jy gaan maak dat ek laat kom vir die kookkompetisie!”
Ek stoot ’n kam skuins deur my kuif en draf in die gang af. Wanneer gaan my ouers leer om my te vertrou? Die internasionale polisiediens weet ek is ’n man op wie hulle kan reken, maar my ma dink sy moet my neus nog met haar sakdoek afvee.
In die motor rittel my ma se senuwees behoorlik. “Daar is soveel op die spel! Ek hoor Emma van Biesiestraat gaan haar aartappelkrokette bak – almal weet dit is heel gewoon, maar Susan het ’n resep vir beetroulade wat blykbaar hemels is. En dan is daar die mense van Johannesburg, en Durban! Hulle is reeds kampioene daar. En weet julle wat? Ek het netnou-net ’n e-pos gekry: die wenner gaan ons land in Australië verteenwoordig!”
Ek het my ore lankal afgeskakel vir my ma se gebabbel, maar haar laaste woorde laat my regop sit. So dít is wat die hoofkommissaris beplan? Dit sal nie die eerste keer wees dat my ma iets wen net sodat ek en Willem op ’n verre plek kan uitkom nie. En een van my pa se susters woon mos in Australië – my ma por lankal dat ons gaan kuier.
Wat is daardie tannie se naam nou weer? O ja, tannie Maks. Jammer Australië is so ver. Ek het daardie tante van my nog nooit ontmoet nie. Maar wie weet? Ek voel in my derms dat dinge nou gaan begin roer. Ek sak terug in my sitplek met ’n groot glimlag. “Toemaar, Ma, jy gaan hierdie kompetisie wen, so waar as vet!”
Maar dinge werk nie altyd uit soos dit moet nie – teen hierdie tyd behoort ek dit al te weet. Skaars het my ma haar plek voor die ry stowe ingeneem, of die vrou langs haar keer ’n pot kookwarm olie om. Dit spat in alle rigtings, en heelwat beland op my ma se boarm.
Sy krul van die pyn. My arme ma!
Die lomp vrou word dadelik gediskwalifiseer, en my ma word weggedra na die noodhulpstasie. Is dit die einde van haar kookloopbaan?
O nee!
Ek is doodbekommerd oor my ma, maar hier is ook veel meer op die spel. Ek moet op een of ander manier in Australië kom en het net begin dink die kokery vorm dalk deel van die hoofkommissaris se plan om my daar te kry.
’n Paar koue kompresse later, en Ma voel baie beter. “Ek gaan terug na my potte toe!” kondig sy aan. Maar die beoordelaar skud sy kop. “Nee, Mevrou, ek is baie jammer, maar jy verkeer duidelik nog in te veel pyn. Ons kan nie verdere risiko’s waag nie.”
En net daar, ewe galant, tree my pa in die stryd. “In daardie geval, staan opsy. Ek ken haar resep, ek moes dit al soveel kere aanhoor. Amelia, ek gaan in jou plek kook.” Hy gryp haar voorskoot, en daar trek hy!
Ek staar hom verdwaas agterna. My pa – kook?
Maar my ma se oë skitter. “My held!” roep sy hom agterna.
Ek sak op die naaste stoel neer.
Alles is verlore!
5
Ek sit nog so, toe hoor ek hoe die mense hande klap.
’n Paar fluit selfs.
Ek kyk op – almal staan nader om beter te kan sien.
Ek glip tussen hulle bene deur.
Daar is my pa: my ma se blommetjiesvoorskoot swierig om sy middel gebind, en hy kook!
Ek weet nie waar dit vandaan kom nie, maar my pa verander net daar en dan in ’n superster. Sy brillense stoom toe, sy hare staan regop, maar hy klits en roer met windmakerige styl. Hy leun selfs oor na die tannie langs hom en flip haar pannekoek tot hoog teen die dak.
Die mense is mal oor hom!
Twintig minute van pure kookstyl (hy bou ’n slaai van babaspinasieblare en aarbeie, hy roer ’n heuningsous met net ’n tikkie suurlemoen – lepels en spane dans in sy hande!) en my pa sleep ’n veerligte brokkoli-soufflé uit sy oond.
Ek ruik dit tot waar ek staan – dis verruklik.
Die mense raak mal.
Hy is vir seker ’n kampioen.
Kameras flits toe hy aan die einde van die aand op die verhoog verskyn. Hy glimlag breed en ontvang die beker met ’n kniebuiging. Hy dra nog steeds die voorskoot, en as ek toevallig daar verbygestap het, sou ek hom glad nie kon herken nie. Wat het geword van die man met die ligblou werkshemp en die netjiese das? Waar bêre hy nou al die syfers en grafieke waarmee hy heeldag ander ouens se finansies in toom hou?
“Is hy nie wonderlik nie?” sug iemand in my nek. Dis my ma. Haar linkerarm, toegedraai in dik verbande, pryk soos ’n babamummie aan haar sy.
Haar oë blink. Is dit pynverdowers of sommer net pure liefde?
Die burgemeester maak ’n afkondiging: “Ek is trots om, namens die inwoners van die Wes-Kaap en die hele Suid-Afrika, hierdie prys aan ons wenner te oorhandig. Twee vliegkaartjies na Australië en ’n inskrywing vir die Suidelike Halfrond se kookkampioenskapreeks in Australië – met die finaal in Sydney!”
Die mense klap weer woes hande, die fluiters raas opnuut, en ’n paar tannies gooi hulle voorskote neer.
“Ons gaan Australië toe,” sug my ma bly, en pink ’n traan uit die hoek van haar oog.
Ek wonder wat hoofkommissaris Servin beplan. Hulle twee gaan nou wel Australië toe.
Maar wat baat dit my?
6
Ek moet sê ek kry my ma jammer. Sy glimlag dapper, maar dit moet vir haar ’n vreeslike terugslag wees. Want die dokter het gesê dat sy onder geen omstandighede met só ’n brandwond só ver kan vlieg nie.
“Die Australiese owerhede is baie streng. En wat gebeur as die wond daar in die vreemde ontsteek?”
“Maar dis glad nie so erg nie!” het my ma geprotesteer. Die dokter het net sy kop geskud.
Ek is seker die kookolie op my ma se arm was net ’n ongeluk, maar het hoofkommissaris Servin iets met hierdie besluit te doen gehad? Want nou gaan ek Australië toe, saam met my pa!
By