Helena Hugo

Helena Hugo Derde Keur


Скачать книгу

hy is aan die skraal kant, maar dis beter so, gesonder.”

      “Ja, maar dis nie mooi nie.”

      “Hy’t mooi hande en oë.”

      “Miskien, maar hande en oë maak nie die man nie.”

      “Jy bedoel sy lyf is nie sexy genoeg nie?”

      Alinda sien in haar geestesoog hoe Danie ’n druppel Tab met sy tong opvang, hoe hy met lang hale agter die branders by Jedda swem. Sy sien hom onberispelik in sy swart aandpak by ’n deftige hospitaalfunksie.

      Vinnig onderdruk sy die sluimerende ekstase. “Ek hou van spiere,” sê sy pront.

      “Tussen die ore ook?”

      “Jy weet goed dis nie wat ek bedoel nie.”

      “Alinda, Danie is briljant, ons weet dit almal. Maar in sake soos hierdie dink ’n mens nie. Jy word aangetrek en voor jy jou kom kry, is jy verlief en verlore.”

      “Is hy verlief op haar?”

      “Irmina is ’n bekoorlike jong vrou en Danie is ’n man.”

      “Wat moet ek doen?”

      “Hang af wat jou gevoel vir hom is,” sê Regina en kyk Alinda vas in die oë.

      Alinda raak ongemaklik en kyk weg.

      “Gee jou wasgoed, ek gaan die masjien aansit,” sê Regina prakties.

      Omdat dit haar beurt is om wasgoed te was en kos te maak, kan Alinda in die kamer agterbly en haar gesig in die wasbakkie in die hoek was. Teen die tyd dat hulle aandete gereed is, sal haar dikgehuilde oë beter lyk.

      Sy baai haar oë beurtelings in warm en koue water, maak haar waslap nat, vou dit dubbel en gaan lê op die bed met die lap oor haar voorkop en oë. Waarom sy altyd soos ’n brulpadda opblaas al stort sy net drie trane …

      Sy is seker Irmina kan heeldag en heelnag deur huil en nog steeds beeldskoon wees. Prinses Irmina Al Sa’ud. Sy het hulle al die een en ander oor haarself vertel. Haar pa is ’n oliemagnaat en sakeman, een van die verligte Al Sa’uds wat sy dogters – Irmina het drie susters – Amerika toe gestuur het om verder te studeer.

      Solank hulle nie hul geloof versaak nie en by die kultuurgebruike hou, is hulle vry om te doen wat hulle wil en om self die mans te kies met wie hulle wil trou. Irmina se oudste suster is ’n prokureur in die middestad van Riaad, haar middelste suster werk in die stadsbiblioteek, en die jongste studeer elektroniese ingenieurswese.

      Hulle is slim, ryk, beeldskoon en perfek, en al vier nog ongetroud. Irmina wou van kleins af ’n verpleegster wees en met ’n snydokter trou. Daar was iemand in Amerika, maar hy wou nie haar geloof aanneem nie. Alinda wonder of Danie hom sal bekeer net om Irmina te kry. As hy haar regtig wil hê, het hy geen keuse nie.

      Ag tog! Hoekom was sy gisteraand so naar met hom? Sy mis hom. Hy bel gewoonlik saans of stuur ’n simpel SMS. Vandag is hy tjoepstil. Werk natuurlik aan sy Arabies, of maak seker dat hy die etiket vir ’n paleis-majil deeglik onder die knie het.

      Alinda draai die lappie op haar oë om. Sy het ’n dowwe hoofpyn en sy raak elke oomblik meer gespanne. Haar lewe gaan so vervelig wees sonder Danie. Ná twee en amper ’n halwe jaar in Riaad het sy die stad van hoek tot kant deurgewerk, selfs Jedda ook.

      Danie is die ideale reisgenoot. Hulle was in Katar en oral in die Emirate; Dubai, Abu Dhabi, Al Khaiman, Fujairah. Hy het belowe hulle gaan een van die dae Oman toe …

      Abdel Mahmoud, die Egiptiese dokter wat saam met hulle werk, is altyd laat en sy reisdokumente is nooit in orde nie. Alinda vertrou ook nie die Egiptenare nie. Hulle is goeie dokters, maar hulle verstaan mekaar nie altyd nie. Laas keer het Abdel sonder ’n woord verdwyn en eers weer in Riaad sy verskyning gemaak. Toe hulle hom vra waar hy was, het hy hulle beskuldig dat hulle hom in die steek gelaat het. Engels beteken ook nie vir almal presies wat gesê word nie. Nee, sonder Danie kan sy Oman op haar maag skryf en met haar T-hempie afvee.

      Danie is soos ’n tweede paspoort na die mees eksotiese plekke wat die Midde-Ooste haar kan bied. Vroue reis nie alleen nie. Wel, dit kán gedoen word, maar dit word nie aanbeveel nie – veral nie vir hulle wat kontrakwerkers is en met die bruinrooi Saoedi-identiteitsboekie reis nie.

      Danie reël altyd alles. Hy neem die voortou, hy doen die praatwerk. By hom voel sy veilig – al het hy nie spiere nie, is hy seningtaai. Hy ken Oosterse gevegskuns en hy is ’n kampioenskut. Hulle mag nou wel nie met vuurwapens reis nie, maar hy sal ’n aanvaller kan ontwapen en die bordjies verhang as iemand hulle met ’n pistool of mes dreig.

      Daar skort niks met sy vaardighede nie, niks met sy wakker brein nie.

      Alinda sit regop. Dis al skemer in die kamer.

      Wie gaan haar humor verstaan? Wie gaan haar geselskap wees? Selfs Regina het nie so ’n wye algemene kennis soos Danie nie. En wat van hom? Hoe gaan hy dit hou met Irmina? Sy weet alles van mediese sake, maar praat oor iets anders, dan sukkel sy met haar Amerikaanse Engels. Vreeslik sjarmant en fyntjies, maar die skewe sinne wat uit daardie mooi mondjie kom!

      Danie weet nie wat vir hom wag nie. Iemand sal hom moet wys op die gevare van kultuurverskille binne ’n intieme verhouding.

      Daar is ’n kloppie aan die deur.

      “Binne!”

      Die lig uit die woonkamer skyn van agter op Regina. Sy lyk soos die goeie fee in haar witterige huisrokkie. Dalk kan Regina met hom praat?

      “Aantreklike alleenlopermans is ontsettend selfgesentreerd. Hulle moet leer om verhoudings te respekteer en nie vir elke mooi gesiggie te val nie,” kondig sy aan.

      Die magiese oomblik is verbreek. Alinda kan nie dink hoe Danie op so ’n teregwysing sal reageer nie. Regina trek die deur toe en skakel die hooflig aan. In die blakerende lig lyk alles meer doodgewoon as ooit tevore.

      “Hoe voel jy nou?”

      Die magic is weg uit my lewe, wil Alinda sê.

      “Goed, ek voel goed,” sê sy met soveel oortuiging dat sy dit self ook glo. “Danie kan val soos hy wil, ek gaan aan met my lewe.”

      “Ditsim. Wil jy eet? Kos is reg.”

      “Dankie. Hoe lyk my oë?”

      “Nie so erg nie. Ek’t vir die ander gesê jy’t migraine – hulle sal nie vrae vra nie.”

      Alinda glimlag. “Regina, jy’s ’n ware vriendin.”

      Casino Royale met Daniel Craig in die Bond-rol is op TV en die meisies sit almal vasgenael.

      Regina reken dat sy mondjie darem regtig te klein is. “Tiekiebekkie, sou my ouma gesê het.”

      “Solank hy kan soen – wat maak dit saak?” sê Sandy en trek haar wye mond op ’n klein tuitjie. “Ek sal inpas, dankie.”

      “Dis deel van sy act, kan julle nie sien nie?” Patience wat so briljant is.

      “Ja, nogal, hy maak so as hy gespanne raak,” meen Sue Ellen.

      “Dink julle nie hy’s ’n bietjie te grof en rof vir James Bond nie?”

      “Ek hou meer van hom – die ander was te unreal.”

      “Hy’s darem nie ’n beauty nie.”

      “Lyk bietjies te veel soos ’n huursoldaat.”

      “Hou nou op, julle bederf hom vir my!” Sandy kan niks fout vind nie en gluur die ander aan asof sy Daniel Craig se beskermvrou is.

      Regina brom nog onderlangs.

      Toe skeur die held sy hemp van hom af en eensklaps gaan almal se oë oop. Sandy los ’n wolwefluit en selfs Regina moet haar genoegdoening uitspreek. Alinda, wat besluit het om niks van haar slegte gemoedstoestand te laat deurskemer nie, maar wat die skyn van ’n migraine moet bewaar, sluk haar woorde betyds. Om bo die res hoorbaar te wees, sal sy haar stem