Helena Hugo

Helena Hugo Derde Keur


Скачать книгу

      “Ek het gesê ek wil nie hê nie.”

      “Ons gaan vir Danie vertel wat dink jy van sy sjokolade.”

      “Gaan, voor die pad vol dubbeltjies is!”

      Dit was nog nooit so maklik om haar rug op ’n doos sjokolade te draai nie. Alinda stap kombuis toe soos ’n koningin: regop rug, ken in die lug. Maar toe vang haar blik die almanak wat teen die kombuismuur hang. Junie se prent is ’n sonsondergang oor die see by Jedda. Die herinnering aan hul laaste uitstappie soontoe betrap haar onverhoeds.

      Sy en Danie was die enigstes wat agter die branders gaan swem het. Daardie dag het sy so vry soos ’n kind gevoel, selfs gelukkig.

      Alinda en Regina deel een kamer, Sue Ellen en Sandy die ander een. Patience maak haar kampbed in die sitkamer op. Almal gaan vroeg slaap, ook Patience, wat besluit het om verlore nagdiens-slaap in te haal. Omdat hulle nie Bybels in Saoedi mag hê nie, maak Alinda en Regina beurte om die Bybel op die internet te lees. Hulle het ’n maand gelede besluit om die Bybel van voor tot agter te lees en Alinda is vanaand by Genesis 24.

      Abraham stuur sy getroue slaaf om vir sy seun Isak ’n vrou te soek. Hy gee hom opdrag om terug te gaan na die land van sy geboorte, omdat hy nie wil hê sy seun moet met een van die Kanaäniete trou nie. In Mesopotamië ontmoet die slaaf vir Rebekka, die ideale vrou vir Isak. Eind goed, alles goed.

      Alinda sug diep en klap die skootrekenaar toe.

      “Waar kom daai sug vandaan?” vra Regina, wat reeds haar bedlampie afgeskakel het, maar wat duidelik nog nie slaap nie.

      “Ag … Ek wonder sommer of die Arabiere nie iets beet het nie.”

      Alinda stoot die rekenaar onder die bed in, skakel haar bedlampie af en skuif onder die koel lakens in.

      “Trek jy ook by Isak en Rebekka?” vra Regina met ’n laggie.

      “En Abraham wat sy slaaf stuur om vir Isak ’n vrou te soek, toe werk alles perfek uit.”

      “Ek verkies dit nog om my eie man te soek. Maar ek het nou vrede gemaak – hier gaan ek hom nie kry nie.”

      “Monique het gekry wat sy kom soek het.”

      “Monique tel nie – nie wat ons betref nie.”

      “Jy’s reg. Ons soek ware liefde.”

      “Ja.” Regina bly ’n rukkie stil. “Maar partykeer soek jy iets wat jy al klaar het.”

      Alinda is nie seker wat sy bedoel nie. Verwys sy na Danie of na Karel? Karel is Regina se jare lange vriend wat sy in Suid-Afrika agtergelaat het en wat haar al twee keer gevra het om met hom te trou. Hy het onderneem om vir haar te wag. Dalk besef sy nou dat sy ’n fout gemaak het om hom so lank aan homself oor te laat. Miskien het daar intussen iets skeefgeloop en Regina sê niks nie, sy dra haar hartseer alleen en in stilte.

      Hoe selfsugtig kan ’n mens wees! dink Alinda en voel of sy haarself kan klap.

      “Is dit Karel?” vra sy versigtig.

      “Karel?”

      “Het hy ’n ander meisie?”

      “Nee wat, Alinda, nie hý nie.”

      “O, ek het gedink …”

      “Dis ek. Ek het my met my lot versoen … Ek is lief vir hom.”

      “Jy is lief vir hom, maar jy het jou met jou lot versoen?”

      “Ek wou hoër vlieg, maar ek het besef dis Karel vir my. Dit was nog altyd Karel.”

      “Wat het jy netnou gesê?”

      “Partykeer soek jy iets wat jy klaar het. Maar ek het nie van my en Karel gepraat nie. Dis jý wat met Karel begin het.”

      “Ek het gedink dis uit tussen julle.”

      “Ek sou jou nog vertel het. Ek het net vanmiddag voor ek by die hospitaal weg is met hom gepraat.”

      “Dis goed, as julle dit saam besluit het. Geluk, Regina.”

      “Dankie.”

      “Nag, Regina, slaap lekker.”

      “Nag, Alinda.” Stilte. ’n Langerige pouse, en toe: “Ek het Danie bedoel, nie Karel nie.”

      “Hoekom?”

      “Jy moet waardeer wat jy het.”

      “Ekskuus?”

      “Ek sê jy moet waardeer wat jy het.”

      “Jy bedoel jy het vir Karel en ek het vir Danie?”

      “Goeiste, Alinda, jy laat dit soos ’n straf klink.”

      “Dit ís. As ek my lewe met Danie moet slyt, gaan ek dood.”

      “Hoekom?”

      “In die eerste plek is hy nes my broer.”

      “Karel ook, ons het saam grootgeword. Dit maak geen verskil aan ons verhouding nie.”

      “O ja, noudat julle gaan trou, weet jy om Karel te verdedig!”

      “Ek het klaar gebaklei.”

      “Klaar geskop teen die prikkels.”

      “Ons praat in sirkels, kom ons slaap. Nag, Alinda.”

      Alinda is vies, sy draai op haar ander sy en lê met haar rug na Regina. Regina en Karel stamp al jare lank koppe, en noudat hulle tot ’n vergelyk gekom het, moet sý skielik met Danie vrede maak! Sy en Danie! Nooit! Hulle sal die grootste onpaar in die geskiedenis wees.

      Sy wip uit haar bed en gaan staan langs Regina se bed. “Danie is nie my soort nie,” sê sy nadruklik.

      Regina doen nie eens die moeite om haar oë oop te maak nie. “Oukei, ek’s verkeerd, kom ons slaap.”

      “Daar is niks tussen ons nie. Dis alles net grappe.”

      “Ja, grappe.”

      “Hy irriteer my só ek kan deur die dak spring.”

      “Oukei, hy irriteer jou. Kan ons nou slaap?”

      “Sy grappe raak nou flou.”

      “Nes jy sê.”

      “Hy het nie eens spiere nie.”

      “Ten minste het hy nie ’n bierpens nie. En hou nou op om my wakker te maak.”

      Alinda wil nog sê Danie maak niks in haar wakker nie, toe dink sy aan sy tong van alle dinge. Sy sluk haar woorde en loop kombuis toe om nog koue water in die yskas te kry.

      Patience lê met oorfone op en TV kyk. ’n Naakte paartjie is besig om mekaar tot raserny te verruk. Alinda is net betyds om te sien hoe die man tong uitsteek, toe kyk sy liewer nie verder nie. Sy sluip op haar tone kombuis toe en druk die deur toe voor sy die yskas oopmaak en haar waterbottel uithaal.

      Die lig deur die gangvenster skyn op die see by Jedda.

      Sy en Danie …

      Dis nie te sê hulle is vir mekaar bedoel net omdat hulle albei graag swem en omdat hulle albei in die mediese veld werk nie.

      Danie is nie haar tipe nie.

      Of is hy?

      Sy sluk ’n halwe slaappilletjie saam met haar water.

      Alinda droom van ’n wit houthuis op die strand by Jedda. Die duinesand waai hope teen die plankestoep aan. Maar die huis staan stewig. Daar hang stringe stukkende skulpe van die dak af. Dit rinkel in die seewind. Alles is blou en wit en skoon. Die kamer ook.

      Die beddegoed is wit, die gordyne deurskynend wit. Die vensterrame is blou, en op die vensterbank staan ’n blou bak met groen appels. Sy lê op die bed. Die vensters is oop en sy kan die dak van die stoep sien, die stringe skulpe, die groenblou golwe wat omkeer en op die strand breek,