Maggie Jooste
MAGGIE
TAFELBERG
Opgedra aan elke mens –
Afrikaans- of Engelssprekend,
wit of swart – wat deur die
Anglo-Boereoorlog geraak is.
“My verhaal is nie ’n geskiedkundige een nie.
Dit is net die persoonlike ondervinding van ’n jong
meisie van 14 jaar.” – Maggie Jooste
Voorwoord
Toe Margaretha (Maggie) Jooste se boeiende vertelling van haar herinneringe van die Anglo-Boereoorlog as ’n jong meisie op my lessenaar beland, het ek geweet dit is ’n treffer. Daar is talle persoonlike verslae van die oorlog deur diegene wat hierdie epiese gebeurtenis in Suid-Afrika se geskiedenis meegemaak het, maar dié een is opvallend vanweë sy ongewone gesigspunt. Dit is ’n blik deur die oë van ’n intelligente en oplettende tienermeisie wat aanvanklik die oorlog op haar tuisdorp Heidelberg in die Zuid-Afrikaansche Republiek (die ZAR of Transvaal) beleef en toe na twee Natalse konsentrasiekampe, eers in Pietermaritzburg en daarna in Howick, weggevoer is.
Maggie, wat in 1886 gebore is, was 13 jaar oud toe die oorlog in Oktober 1899 uitbreek. Haar verstand was nog glashelder toe sy haar storie in 1962 op die ouderdom van 76 laat uittik het. Sy het haar herinneringe oorspronklik in Afrikaans opgeteken en dit toe in Engels vertaal. Dit ly geen twyfel dat sy baie goed kon skryf nie. Daarvan getuig haar gesensorde brief wat sy as 14-jarige aan haar gewese onderwyseres geskryf het, ’n brief wat in Emily Hobhouse se boek The Brunt of the War and Where It Fell ingesluit is. Net so innemend is Maggie se pryswenner-inskrywing vir sir David Graaff se opstelkompetisie – ’n verslag van die kamplewe, wat sy in Engels moes skryf. Sy het duidelik oor ’n spesiale skryftalent beskik, in haar jeug sowel as op haar oudag.
Maggie het uit ’n Afrikaanssprekende gesin gekom. Om na hulle as “Dutch” (Hollanders) te verwys is onakkuraat, want hulle het Afrikaans gepraat en hulself as Afrikaners of Boere beskou, wat ook gegeld het vir die meeste van die Boere wat in die twee republieke, die Oranje-Vrystaat en die ZAR, woonagtig was. Maggie se vader, Jakobus Petrus Jooste, was ’n suksesvolle wamaker en hoefsmid op Heidelberg. Hy “het ’n goeie inkomste gehad en kon ruim voorsien in alles wat ons groot gesin nodig gehad het”. Haar moeder was Anna Susanna Jooste, wie se nooiensvan ook Jooste was. Die gesin se Engelssprekende vriende op die dorp, veral die Russell-gesin, het klaarblyklik ’n invloed op die jong Maggie se beheersing van die Engelse taal gehad.
Vir die inwoners van die klein dorpie was die oorlog aanvanklik iets wat ver weg aan die onderskeie fronte aan die gebeur was. Ons hoor van die mans van die Heidelberg-kommando (haar vader en ouer broers inkluis) wat gaan veg het, eers aan die Natalse front en toe aan die wesfront. Baie van die nuus was in dié stadium bloot gerugte. Maar toe het die Britte Heidelberg beset. Maggie dui die datum korrek as 23 Junie 1900 aan. Vanaf dié punt kry ons ’n insig in die benarde situasie van die dorpenaars, hul hongersnood en ontberings.
En dan, op 5 Desember 1900, ontvang Maggie se moeder bars instruksies. Sy en haar kinders moet hulle gereed maak – hulle gaan die volgende dag na ’n konsentrasiekamp vervoer word.
Die konsentrasiekampstelsel is in September 1900 deur die Britse opperbevelvoerder, lord Roberts, ingestel. Die kampe is oorspronklik opgerig om die Boere te huisves wat die eed van neutraliteit afgelê en ingestem het om hulle by Roberts se proklamasie van 15 Maart 1900 neer te lê. Daardeur het hulle onderneem om hulle van verdere deelname aan die oorlog te weerhou en sou toegelaat word om na hul plase terug te keer. Maar ná die inname van Pretoria deur Roberts in Junie 1900 was daar ’n herlewing van die Boere se militêre poging, en diegene wat die eed afgelê het is weer gemobiliseer of heropgekommandeer deur die Boereleiers. Hierdie herlewing van Boereverbetenheid het so ernstig geword dat Roberts besluit het om die eedondertekenaars – wat “hendsoppers” genoem is deur die bittereinder-Boere wat steeds op kommando was – en hul gesinne in “refugee camps” byeen te bring om hulle teen die heropkommandering te beskerm. Die eerste twee kampe van dié aard is in September 1900 in Pretoria en Bloemfontein opgerig.
Intussen het Boereleiers soos generaal Christiaan de Wet so aktief geword met hul aanvalle op die Britse verbindingslyne – waartydens die spoorlyne opgebreek, treine gekaap en Britse voorrade gebuit is – dat Roberts op 16 Junie 1900 nog ’n proklamasie uitgevaardig het. Dit het bepaal dat in die geval van ’n aanval op ’n spoorlyn, die plaashuis naaste aan die voorval afgebrand sou word. Maar selfs dié drastiese maatreëls het misluk. Begin September 1900 het Roberts die omvang van sy beleid uitgebrei deur te beveel dat alle voedsel- en veevoervoorrade binne ’n radius van 16 km van so ’n voorval vernietig of verwyder moet word. So wou hy die kommando’s van hul voorraadbronne afsny. Dit het meegebring dat ’n gebied van 547 km2 verwoes en met die grond gelyk gemaak is ná elke aanval of gepoogde aanval op die Britse verbindingslyne.
Dit is geen wonder nie dat Britse offisiere in die veld die indruk gekry het dat hulle Roberts se amptelike goedkeuring het om na willekeur af te brand en te verwoes. Talle plaasopstalle en selfs dorpe het in vlamme opgegaan in gebiede waar geen Boere-aanvalle plaasgevind het nie.
Met dié dat die beskermde Boere en hul gesinne in die sogenaamde vlugtelingkampe byeengebring is, het Roberts besluit dat Boerevroue en -kinders wat haweloos gelaat is weens die verskroeideaarde-beleid ook daarheen geneem moet word. Die getalle van hierdie “undesirables” (ongewenstes), soos die Britte na dié Boere verwys het, het spoedig die getalle van die “hendsoppers” en hul gesinne oortref. Hierdie kampe het nou konsentrasie- of interneringskampe geword.
Toe lord Kitchener in November 1900 as Britse opperbevelvoerder by Roberts oorneem, het hy die vernietiging van voorrade en hulpbronne op die plase met selfs groter beslistheid as sy voorganger voortgesit. Sy instruksies het offisiere in die veld aansienlike beweegruimte gegee. Gesaaides is voor die voet verwoes en beeste, skape en perde is doodgemaak of na die Britse kampe aangejaag.
Dorpsmense van hoë aansien is geensins die vernedering van die konsentrasiekampe gespaar nie. Die welaf Jakobus Petrus Jooste en sy vrou Anna Susanna, Maggie se ouers, het tot dié kategorie behoort, en op 6 Desember 1900 is Anna Susanna en haar kinders na ’n konsentrasiekamp weggevoer.
Die leser word in ’n haas ondenkbare wêreld van ontbering en wanhoop ingetrek. Daar is lewendige beskrywings van die aaklige treinreis na die kampterrein, die alledaagse geswoeg van die kamplewe, die veragting en wrewel waarmee die “ongewenstes” die “hendsoppers” bejeën het, die moedhou-volksgees wat onder die “ongewenstes” geheers het, die godsdiens waaraan hulle vasgehou het, die onderwys in die kampskole, die voordele daarvan om geld te hê, die hospitaal, die dood, en nog meer.
Waar sy sestig jaar ná die gebeure terugkyk, koester Maggie geen haat teenoor die Britte vir wat met haar en haar gesin gebeur het nie. Soos sy dit stel: “Ek wil niemand veroordeel nie, of bitter wees nie, maar kan nie ons bittere lyding en ontberings vergeet nie.” Sy is merkwaardig ewewigtig in haar kommentaar oor die Britse soldate en vertel van sporadiese dade van welwillendheid, byvoorbeeld ’n Britse wag wat vir hulle blikke stroop gegee het. Maar sy skryf ook oor ’n Britse soldaat wat probeer het om haar te “vang”, waar ons ’n glimp kry van die donkerder kant van die kamplewe, van seksuele predasie en misbruik. Hierdie kwessie is terloops ook in Mei 1902 met besorgdheid by die vredesonderhandelings in Vereeniging geopper.
Daar is geen pretensie of aanstellerigheid in dié teks nie. ’n Mens leer om die narratief te vertrou en raak gou verdiep in hierdie baie persoonlike verslag van ’n jong meisie se ondervindinge tydens die Anglo-Boereoorlog.