M Meiring

Elita en haar lewe met F.W. de Klerk


Скачать книгу

      

      Elita en haar lewe met FW de Klerk

      Martie Retief Meiring

      Tafelberg

      Erkenning

      Om in mense se persoonlike lewe te krap is ’n tameletjie. Vir Elita en FW de Klerk was ’n boek soos dié aanvanklik buite die kwessie, maar ná baie huiwering en lang oorweging het hulle wel ingestem om onderhoude toe te staan, ten spyte van ’n veeleisende program. En om selfs toegang tot hul dagboeke en fotoalbums te verleen. Hiervoor sal ek nooit genoeg dankie kan sê nie, en ook vir die feit dat hulle geen eise of voorwaardes gestel het nie. Ook, as joernalis, bedank ek hulle dat hulle aanvaar het dat hulle verhouding hom gedeeltelik in die publieke domein afgespeel het en daarom ’n element van nuuswaardigheid het.

      Talle gesprekke en onderhoude het plaasgevind met vriende en familielede. Hiervoor bedank ek vir Nadia Lanaras, Maria Geurtsos, Jonathan Hudson, Ada Papadopoulos, George Lanaras, Niki Sergaki, Marianne Louw, Una Ramsay, Jeanette Curitz, Theresa Papenfus, wyle Koos Rupert, Dave Steward, George en Tharina Joubert, Nico en Ruda Retief, Nontas Andries, Fana en Wilma Malherbe, Sakkie en Hettie de Klerk, en veral vir Brenda Steyn, wat nooit moeite ontsien het om inligting te help versamel nie.

      My spesiale dank ook aan Marinus Wiechers, wat van Marike de Klerk se laaste briewe aan hom beskikbaar gestel het. Ons glo al twee, uit ons persoonlike kennis van Marike, dat hierdie laaste briewe ’n ietsie van haar humor en moed weerspieël.

      Ten slotte bedank ek graag my geduldige uitgewer Erika Oosthuysen, teksredakteur Suzette Kotzé-Myburgh, proefleser Estelle Crowson en ontwerper Nazli Jacobs.

      Martie Retief Meiring

      Januarie 2008

      Voorwoord

      Op 29 Januarie 1998 flits die nuus deur die wêreld: die gewese president van Suid-Afrika gaan sy vrou verlaat vir die vrou van ’n vriend.

      Dit word ’n opspraakwekkende gespreksonderwerp. Op verskeie kontinente word die vraag herhaaldelik gestel: Hoe is dit moontlik dat twee mense uit sulke verskillende wêrelde by mekaar kon uitkom? Die agtergronde van FW de Klerk, voormalige president van Suid-Afrika, en Elita Georgiadis, ’n Grieksgebore miljoenêrsvrou, kon immers beswaarlik meer uiteenlopend wees. Sý wêreld was in stormagtige politiek gedrenk; háár wêreld was een van reise en onthale en ontmoetings met rykes en beroemdes. Hy was sestien jaar ouer as sy, hy 62 en sy 46. Hulle het verskillende gelowe gehad. Hulle het verskillende huistale gepraat.

      Gissings en bespiegelinge oor die aard van hul verhouding en die ontstaan daarvan – en natuurlik ook die onaanvaarbaarheid daarvan – is wyd in sosiale kringe asook in die media uitgepluis. Nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in Europa, veral in Griekeland, sowel as in die Verenigde State. Hoe kon sy, so gereken in internasionale kringe en bekend as ’n onbevange en simpatieke mens, verlief raak op ’n man wat vir soveel jare van sy lewe die apartheidsbeleid, wat deur die wêreld as so afskuwelik beskou word, aangehang het? Die intrige verbonde daaraan spreek vanself.

      “Wie is sy?” wou Suid-Afrikaners weet oor dié vrou in die lewe van hul bekende politieke leier. “Wie is hy?” het die Griekse gemeenskappe en Britse vriende gevra, wat wel geweet het hy was die president van ’n Afrika-land en dat hy ’n rol in ’n belangrike wêreldgebeurtenis gespeel het, maar wat nie veel van hom as persoon geweet het nie.

      Hul geheime verhouding het beslag gekry teen die agtergrond van ’n politieke omwenteling wat dwarsdeur die wêreld die aandag aangegryp het. ’n Liefdesverhouding het ontwikkel tussen ’n president en Nobelpryswenner wat wêreldroem verwerf het deur die dramatiese verandering wat hy in sy problematiese land gelei het, en ’n vrou sonder enige betrokkenheid by die politieke kwessies wat sy lewe bepaal het. As die eggenoot van ’n gedrewe sakeman was haar lewe dié van rykdom en bevoorregting; sy het oral deur die wêreld gereis, was deel van ’n hegte gesin en gasvrou van vele huise, wat ’n landgoed en herewoning ingesluit het.

      Meer nog: hulle was al twee steeds getroud met ander mense.

      Juis daarom was dit geen eenvoudige en maklike liefde nie. Albei het jare lank probeer om nie van hul huweliksmaats te skei nie. Hulle het voortdurend vir mekaar gesê: “Dit kan nie. Ons moet ons gevoelens aflê.” Albei sou die gramskap van vyande én vriende aan die lyf voel toe hul verhouding uiteindelik in die hoofopskrifte uitgebasuin word. Hulle sou vriende in die proses verloor; daar was beskuldigings van verraad, en selfs dat hulle hul geloofsbeginsels verloën het.

      Hy sou uiteindelik verklaar dat hy teen die skyn van “konvensionele fatsoenlikheid” sy keuse moes maak. “Ek het verlief geraak op ’n eerbare vrou van buitelandse afkoms.”

      Sy sou sê: “Ek het ’n wonderlike mens ontmoet en ek het hom met my hele hart liefgekry.”

      Hulle het mekaar vir die eerste keer in ’n teater ontmoet. Later sou bekendes, die skindertonge en die media ook na hul verhouding verwys as ’n Griekse drama – ’n drama wat hom tot aan sy einde voor die gretige oë van die plaaslike en internasionale media sou uitspeel.

      Hy was gewoond aan die openbare oog, sy was skugter daarvoor. Toe sy onmiddellik ná die bekendmaking van hul verhouding uit Suid-Afrika na Griekeland vertrek het, het ’n verslaggewer van die Sunday Times ook plek op die vliegtuig bespreek en het sy vir die eerste keer in haar lewe ’n onderhoud met ’n koerant gehad.

      Haar swaer, Totis Vernicos, het haar geterg: “Jý, Elita, ’n openbare onderhoud voer!” Die skok daarvan om met die media te praat was vir haar net so groot soos die foto’s en berigte in die Griekse koerante. “Is daardie vrou regtig ek?” het sy verslae gevra. En toe gesug: “Ja, dis ek.”

      Sy het FW toe reeds tien jaar al geken. Sou sy ooit kon droom dat haar lewe só verweef met Suid-Afrika sou raak, ’n land wat sy tien jaar terug skaars geken het, en nog minder verstaan het.

      Een: ’n Jong vrou met ou wysheid

      In Mei 1989 het Tony en Elita Georgiadis ses plekke bespreek vir die musiekblyspel Les Misérables in die Queens-teater in Londen. Hul gaste vir die aand was Tony se broer Alex en sy vrou, Annie, en twee Suid-Afrikaners, FW en Marike de Klerk. Ná die opvoering sou hulle in die uitgelese Marks-klub gaan eet sodat die Georgiadisse die De Klerks beter kon leer ken.

      Tony Georgiadis het intensiewe sakebelange in Afrika en veral Suid-Afrika gehad. Hy was alom bekend in skeepskringe, en sy sakeryk het dwarsoor die Westerse wêreld gestrek. Hoewel hy en Elita Suid-Afrika sedert 1980 gereeld besoek het, het hulle nog nooit die geleentheid – of die nodigheid – gehad om FW de Klerk te ontmoet nie.

      Baie goeie vriende van die De Klerks, doktor Dawie en Suzaan de Villiers, het as ambassadeurspaar in Londen reeds goed bevriend geraak met die Georgiadis-familie, deels as gevolg van die Georgiadis-broers se gevestigde belange in Suid-Afrika. FW de Klerk is pas as leier van die Nasionale Party in Suid-Afrika verkies, en was dus die toekomstige president van die land. As ambassadeur én as vriend van beide het Dawie de Villiers gedink dit sou gaaf wees dat die twee mans kennis maak, en dat Tony met sy internasionale sakebedrywighede ’n goeie klankbord vir FW sou wees.

      Dit was FW se eerste buitelandse besoek in sy nuwe leiersposisie, en sy doel daarmee was hoofsaaklik om die beplande indringende veranderinge aan die apartheidsbeleid aan staatshoofde in die buiteland te verduidelik. Die belangrikheid van die besoek het onder meer geblyk uit Margaret Thatcher, premier van Brittanje, se aanduiding dat sy hom graag wil ontmoet. FW was ’n taamlik onbekende faktor buite Suid-Afrika, en daar was ook in die sake- en politieke kringe waarin die Georgiadis-broers beweeg het nuuskierigheid oor hom.

      Op die aand van hul afspraak was FW nog besig met onderhoude met Britse politici, en daar is gereël dat Tony en Elita Marike de Klerk solank by die hotel sou ontmoet en na die teater sou gaan, waar FW later by hulle sou aansluit.

      Elita het die Suid-Afrikaanse vrou ietwat gespanne gevind, en in ’n poging om haar op haar gemak te stel, het sy lighartig gesê: “Dis tog so waar hoe belangrik die vrou agter die man eintlik is.”

      Tot haar verbasing het Marike onthuts op dié opmerking gereageer. “Wat weet jy dan van my?” het sy agterdogtig gevra.