M Meiring

Elita en haar lewe met F.W. de Klerk


Скачать книгу

dis mos maar wat hulle altyd sê,” het sy die situasie probeer ontlont.

      Ná die eerste pouse het FW by die geselskap in die teater aangesluit en sy plek tussen Elita en Marike ingeneem. Hy het dadelik Marike se hand in syne geneem en Elita het dié gebaar opgemerk. ’n Goeie man, het sy goedkeurend gedink.

      Toe hulle agterna by die Marks-klub gaan eet, was Marike steeds senuagtig, maar dit was ook duidelik dat sy die opvoering geniet het. Vir Elita was dit opvallend hoeveel aandag FW (wat sy “Efwia” uitspreek) tydens die ete aan sy vrou gegee het, en sy het ook opgelet hoe gemaklik hy lyk. Sy pak en das was nie die formele soort wat die Europeërs dra nie. Hy was warmer en toegankliker as die Europese sakemanne wat sy ken, met geen aanstellerigheid of pogings om te imponeer nie. Amper naïef op ’n mooi manier, en baie eerlik, het sy hom opgesom.

      Sy vriendelike oë, ’n amper onnatuurlike diep blou, het haar getref, en ook sy skoolseunagtige sjarme. Hy het gemaklik met haar gesels en “hy het regtig belang gestel in wat ek dink”, sou sy agterna sê.

      Op sy beurt onthou hy sy eerste ontmoeting met haar só: “Ek was verbaas oor en ingenome met so ’n jong, intelligente vrou met sulke ou wysheid.”

      Die Georgiadis-broers het baie belang gestel in FW se politieke sienings en het hom indringende vrae gevra. Sy antwoorde daarop het Elita laat besef dat dié man vasberade was om dinge in sy land ingrypend te verander. Die beeld het by haar opgekom van iemand wat ’n moeilike en riskante kruistog onderneem, en sy het instinktief gevoel dat sy hom wil help.

      Saam met haar, aan haar onderklere gespeld, dra sy altyd, ’n porseleinknopie bekend as ’n “evil eye” iets wat in die Midde-Ooste beskou word as ’n beswering teen onheil of ongeluk. In die kleedkamer het sy die knopie gou gaan losmaak, dit in haar hand toegevou en toe vir die ietwat verbaasde en verleë FW gegee.

      Hy het nie geweet wat dit voorstel nie en Elita het laggend gesê dis ’n talisman teen onheil. “Dis ’n ‘oog’ wat jou sal help om die ongeluk af te weer en wat goeie geluk vir jou sal bring – so glo ons Grieke,” het sy verduidelik. Agterna sou sy dikwels wonder waarom sy so impulsief opgetree het deur aan ’n vreemde man so ’n persoonlike item te gee.

      Uit FW se reaksie op dié gebaar het sy hom geskat as ’n konserwatiewe man, maar dit het wel gelyk asof Marike plesier daaraan gehad het. Elita het weer opgelet hoe gemaklik Marike en FW by mekaar gelyk het toe Marike hartlik saamgelag het oor sy onbeholpenheid met die onverwagte geskenk.

      Hoewel hy die knopie later verloor het, sou FW nog deeglik kennis neem van Elita se bygelowe. Jare later sou hy self nooit sonder soortgelyke talismanne in sy sakportefeulje reis nie – ’n seeklippie in ’n goue hartvormpie, ’n silwerkruis en ’n miniatuurvouertjie met haar foto – hoewel hy geen bygeloof daaraan sou heg nie.

      Dié klein episode het ekstra vrolikheid om die tafel gebring, maar gou daarna het Marike weer teruggeval in haar gespannenheid. Sou sy nie van hulle hou nie? het Elita gewonder. Of sou sy baie besorg wees oor FW se missie in Londen?

      Só voelbaar was Marike se afsydigheid dat die Georgiadisse laat die aand op pad huis toe vir mekaar gesê het: “Gawe man, gekompliseerde vrou.”

      Kort daarna het die twee egpare weer in Londen ontmoet en feitlik onmiddellik ’n toegeneë vriendskapsband gesmee. Tony was baie bewus daarvan dat FW op ’n soort bekendstellingsending deur die wêreld reis en het, gedagtig aan sy sakebelange in Suid-Afrika, die De Klerks na hul onthale genooi. FW en Marike is ook verseker dat hulle baie welkom is in die Georgiadis-huis in Londen.

      Wat aanvanklik bloot as kontakte beskou is, het gaandeweg ontwikkel in vriendskap. Hoewel dit FW se streng voorneme was om nie betrokke te raak by die Georgiadis-sakeondernemings nie, het die twee mans mekaar goeie gespreksgenote gevind oor allerhande sake. As nyweraar en internasionale belegger kon Tony sy sienings meet teen FW se juridiese en politieke insigte. Daarby het hulle ’n strawwe rookgewoonte gedeel.

      Met die Georgiadisse se eerste besoek aan Suid-Afrika ná die ontmoetings in Londen het FW en Marike hulle in Kaapstad ontvang. Albei pare het gevind dat hulle baie gemeenskaplike Suid-Afrikaanse vriende het. Dit het ’n gereelde gebruik geword dat die egpare mekaar in Engeland of in Suid-Afrika ontmoet het.

      Gaandeweg het hulle die dinge begin doen wat goeie vriende doen: mekaar laatnag gebel, mekaar se kinders ontvang, saam inkopies gedoen, roomys by straatkafees geëet, kunsaankope bespreek, vakansies saam deurgebring. Hulle sou moeite doen om tyd en ruimte vir mekaar te skep, en in die volgende drie jaar sou hulle mekaar baie goed leer ken.

      FW sou verneem van Elita se bevoorregte kinderlewe in Griekeland en hy sou ook bewus word van die eensaamheid van die grootwordjare van ’n sensitiewe kind wat soms as ’n “poor little rich girl” bestempel kon word.

      Twee: ’n Kind van Kolonaki

      Elizabeth Lanaras is op 11 Maart 1952 gebore in Kolonaki, ’n weeldebuurt van Athene. Haar ouers, George en Helen (wat as Nitsa bekend was), het behoort tot die jonger geslag bevoorregte Grieke wat besig was om hul lewens ná die Tweede Wêreldoorlog te herbou.

      Elita, hul eersteling, was ’n gesonde, ronde baba, gretiglik verwelkom deur haar oumas, ’n oupa, en ’n versameling tantes, ooms, niggies en nefies wat, soos die talle foto’s getuig, al die rituele rondom die geboorte van ’n Griekse baba bygewoon het. Outydse kiekies toon die baba in haar badjie, op haar bedjie, die doopplegtigheid, haar eerste treetjies, haar eerste babapartytjie, sittend op oumas se skote, vasgehou deur ’n stugge oupa, as ’n peuter met ’n vet magie aan haar pa se hand op die strand.

      Dié foto’s verraai geen sweem van die sukkelende, stuwende wêreld buite hierdie kring van mense wat so dikwels en so graag laggend gegroepeer het om afgeneem te word nie. Dié beelde van ’n vrolike familie en vriende rondom verjaardagkoeke, aan keurig gedekte tafels, by monumente, die arms om mekaar se skouers geslaan, vertel baie van die onverwoesbare Griekse gees. Want buite Kolonaki was Athene nog grotendeels ’n verpletterde stad. Die verwoesting van ’n wêreldoorlog, gevolg deur ’n burgeroorlog, het “mooi Griekeland” in ’n ellende van armoede en hongersnood gedompel.

      Ná die aanvanklike welslae wat die Griekse magte teen Mussolini se Italiaanse inval in Oktober 1940 gehad het, het Hitler sy eie troepe, die Duitse SS, met tenks en Stuka-bomwerpers vroeg in 1941 Griekeland ingestuur. Die ganse land is beset tot 1944, toe die Nazi’s uiteindelik verdryf is.

      Ten spyte van hul bevoorregte posisie het jong Grieke soos George en Nitsa ook gely onder die gebrek en verskrikking wat die land in ’n knelgreep gehou het tydens die Duitse okkupasie. Reeds voor die oorlog was daar sterk verdeeldheid in Griekeland, maar tydens hul weerstand teen eers die Italianers en daarna die Duitsers is die faksieverskille op die agtergrond geskuif. Voorlopig was daar samewerking tussen die militante, kommunisties gesinde Nasionale Liberale Front en die pro-regeringsmagte, die Griekse Demokratiese Liga, wat die monargie ondersteun het.

      Onmiddellik ná die onttrekking van die Duitsers het hierdie samewerking verbrokkel toe die pro-kommunistiese magte probeer het om die regering oor te neem. ’n Bittere burgeroorlog het gevolg en in die volgende vier jaar nog meer lyding veroorsaak, sodat sowat ’n agtste van die Griekse bevolking altesaam in die twee oorloë uitgewis is. Die Griekse moreel is verder ondermyn deur die sogenaamde pedomasoma, waartydens sowat 28 000 kinders deur die kommunistiese guerrillas ontvoer en na naburige kommunistiese lande geneem is. Daar is hulle totaal opgeneem en geïndoktrineer in die kommunisme, en net enkeles is ooit weer met hul ouers versoen.

      Tydens die burgeroorlog het die pas afgestudeerde George Lanaras aan die kant van die Griekse Demokratiese Liga geveg. Hy het in die gevaarlike noordelike dele van die land diens gedoen, waar hy groot voertuie deur die bergagtige dele moes bestuur en waar die skerpskutter-guerrillas van die Nasionale Liberale Front die pro-regeringsmagte gevoelige verliese kon toedien. George het agterna vertel dat hy graag daardie gevaarlike roetes gery het, want dis geleë in die Naussa-gebied waar die Lanaras-familie hul oorsprong het. Dié waagsame houding sou kenmerkend word van George, ook in sy latere sakelewe.

      Ná die twee verwoestende oorloë is die erg getraumatiseerde Griekse volk verder uitgedun deur ’n grootskaalse