M Meiring

Elita en haar lewe met F.W. de Klerk


Скачать книгу

dit ’n desperate poging om oorlewing. Maar soos so dikwels tevore het Griekeland opnuut opgestaan, soos hy dwarsdeur sy geskiedenis van oorwinnings gevolg deur nederlae telkemale moes doen.

      Die inwoners van Kolonaki is die ellende van uiterste armoede en woningverlies en die byna desperate poging om te oorleef tydens die oorloë tot groot hoogte gespaar. Hier het ’n gees van toekomsgerigtheid geheers, en dit was in dié tyd dat George Lanaras, steeds in uniform maar nie meer aktief in militêre diens nie, die jong Nitsa Zotiadis ontmoet het. Sy was die dogter van die ryk en dinamiese Menelaos en die gewilde, intellektuele Martha.

      George was geoormerk om by Lanaras Tekstiel, die ou en beroemde familiesaak, in te val. Hy en Nitsa is getroud volgens die Griekse tradisie, met al die simboliek daarvan en die uitgebreide families teenwoordig, maar die feesviering is onvermydelik afgeskaal weens die algemene gebrek aan voedsel en ander middele.

      Die heropbou van Griekeland het stadig gevorder toe Brittanje ná die oorlog die verarmde Griekse volk nie kon help nie, ondanks Winston Churchill se uitgesproke beleid dat Griekeland tot elke prys vir die Weste behoue moes bly teen die oormag van Sowjet-Rusland. Dit was die Amerikaners wat die Griekse regering tydens die burgeroorlog gesteun het, en later, onder president Harry Truman, het hul Marshall-plan gehelp om die land weer op sy voete te kry. “Oom Truman”, soos die Amerikaanse president gou in Griekeland genoem is, het die Griekse moreel verstaan, maar selfs hy is mettertyd uitgedaag deur dit wat histories as ’n Griekse onvermydelikheid beskou is: politieke wisselvalligheid.

      Asof verhewe bo die ewige politieke binnegevegte het Kolonaki hom toegespits op ekonomiese herlewing. Al lank die elitebuurt van die land, is dit hoofsaaklik bewoon deur skeepsmagnate en nyweraars soos die Lanaras-familie – mense wat hulle bemoei het met die oer-Griekse talent vir besigheid. Soos George en Nitsa was die meeste van die ander jong entrepreneurs in Kolonaki afstammelinge van ou, bekende en ryk families, en om daar te woon, was soos om deel te wees van ’n eksklusiewe klub.

      In dié omgewing is Elita drie jaar ná die burgeroorlog gebore, in ’n ruim woonstel in die groot Vasissilis Sofia-laan. Sy sou grootword in die amper gesuiwerde lug van die buurt wat die middelpunt gevorm het van wat later beskryf is as die tweede Griekse Goue Periode, ’n vervolg op die Atheense heerser Perikles se Goue Periode in die vyfde eeu voor Christus. Dit was ’n era van opgang en die vestiging van persoonlike rykdom ná die verwoesting van die oorloë van die afgelope dekade.

      Kolonaki met sy spoghuise en weelderige woonstelblokke rondom die pragtige ou paleis is ook die buurt van indrukwekkende ambassadeurswonings, naas talle museums. Die restaurante en tavernas lok internasionaal bekende besoekers, waaronder talle kunstenaars soos die Amerikaanse skrywer Henry Miller, outeur van die gewilde Griekse reisboek The Colossus of Maroussi. Hy sou hier ’n hegte vriendskap aanknoop met die beroemde Griekse skrywer George Katsimbalis, asook met die charismatiese diplomaat-digter George Seferis, wat verbonde was aan die Griekse ambassade in Pretoria en so in Suid-Afrika bekendheid verwerf het.

      Hoewel die wêreld sedert die 1960’s bewus geword het van die rykdom van skeepsmagnate soos Aristoteles Onassis en Stavros Niarchos met hul uitspattige lewenstyl en opspraakwekkende huwelike en egskeidings, het Kolonaki ’n nogal konserwatiewe afsydigheid behou teenoor dié soort flambojante vertoon. Dit was veral belangrik om nie “in die koerante” te verskyn nie, en beslis nie oor skandalige verhoudings nie. In hierdie milieu sou George Lanaras uitstyg tot ’n hoogs gerekende skeepseienaar, maar bekend as een wat nooit sy basis in Griekeland verruil het vir ’n ander land nie, soos Argentinië in Onassis se geval, of Amerika of Engeland soos baie ander Griekse skeepsmagnate wel gedoen het.

      Hoewel Kolonaki baie oorlogsontberinge gespaar was, het van die seuns tog in die oorloë gesneuwel, en het van die ou, gevestigde families hulle in finansiële moeilikheid bevind. Kolonaki het egter ’n duidelike kultuur gehad: die verlede is die verlede, dis die toekoms wat tel.

      Dit was ook die leuse van George Lanaras. Hy het aan die Universiteit van Athene gestudeer om hom as chemikus te bekwaam sodat hy in die ou familiesaak opgeneem kon word. Lanaras (ook die stamwoord van “linne” in Grieks) was so deel van die tekstielbedryf dat die saak danksy die versamelde kundigheid ná die oorlog weer op die been gebring kon word, en kort voor lank kon die groot fabrieke weer produseer.

      Dit was deur hierdie doelgerigtheid om eerder te ontwikkel en standaarde te herstel as om die verlede op te haal dat beide Elita en haar sussie, Martha, wat drie jaar ná Elita gebore is, as klein kinders nooit gehoor het van die swaarkry in die oorlogsjare nie. Hulle was ook onbewus van die verskriklike omstandighede waarin hul grootouers hulle in Kolonaki kom vestig het. Eers later sou hulle uitvind dat hulle afstammelinge is van die luisterryke Philike Etairia (Vriende van die Gemeenskap), die beweging wat algemeen aanvaar word as die aanstigters van die Griekse Revolusie van 1821, wat gesien word as die begin van die stryd om Griekse onafhanklikheid van Turkye te verkry.

      Aan Elita het die wete dat sy afstam van die Philike, soos dit in die volksmond genoem word, ’n besondere gevoel van trots gegee. Sy het in haar grootwordjare geglo dat dit haar “Grieksheid” gedefinieer het. Sy en Martha het graag na stories oor die Philike geluister en ook oorvertel: “Ons kom van hulle, die Philike Etairia.”

      Sedert antieke tye word die Griekse geskiedenis gekenmerk deur ’n voortdurende verskuiwing in die eienaarskap van stadstate, eilande, kleiner gemeenskappe en golwe van migrasie en emigrasie. So het ’n diaspora van Griekse gemeenskappe in verskeie Westerse sowel as Oosterse lande ontstaan. Griekse handelaars het dikwels na die groter handelsroetes getrek, want Athene was slegs ’n gehuggie gemeet met die florerende stede in Europa en die Midde-Ooste. Groot Griekse enklaves het dus oraloor ontstaan, maar het deur die eeue Grieks gebly, hoofsaaklik vanweë die Grieks-Ortodokse geloof en die Griekse moedertaal.

      In die veertiende eeu het die Ottomaanse Ryk (gesetel in hedendaagse Turkye) Europa begin binneval, en teen die vyftiende eeu het hierdie invalle die Grieksbeheerde stede en gebiede bereik. Deur talle strooptogte en veldslae is ’n wydverspreide Turkse oorheersing gevestig oor die Griekse diaspora in lande soos Bulgarye, Klein-Asië en die eilande rondom die Griekse vasteland. Vier eeue later het die Turkse oorheersing van die Griekse gemeenskappe gelei tot die Griekse Onafhanklikheidstryd, wat gevloei het uit die groeiende versugting van groepe soos die Philike Etairia.

      Dié beweging is in 1814 in Odessa gestig deur ’n aantal Griekse patriotte wat reeds geslagte lank in die diaspora aan die kus van die Swartsee in Bulgarye onder Turkse heerskappy gewoon het. In 1821, toe die Philike Etairia-held Alexander Ypsilantis die Turke in Roemenië met agthonderd man aangeval het, het die Onafhanklikheidstryd inderwaarheid begin. Ypsilantis het ’n verpletterende nederlaag gely, maar dwarsoor Griekeland het insurgente weer gemobiliseer, en die verset sou uiteindelik ses bloedige jare duur.

      Die Philike se roem het bly voortleef in vele verhale, veral dié oor die krygsheld Theodore Kolokotronis, ’n Griekse stamhoof uit die Peloponnesiese gebied. Sy skouspelagtige en wrede oorwinning in Nauplion het verseker dat die Philike Etairia ’n ereplek in die Griekse geskiedenis gekry het. Of Tony, Elita se toekomstige man uit die Colocotronis-stam, werklik ’n nasaat van Theodore Kolokotronis was, is nie heeltemal seker nie, maar dit het ’n luisterryke naam in Griekeland gebly.

      Ná die Onafhanklikheidstryd het Griekeland in 1930 ’n monargie geword en nasionale eenheid begin nastreef. Dit het bekend gestaan as die Megali Idea (die Groot Idee), en daarvolgens sou die Griekse taal, geskiedenis en veral geloof weer in Griekssprekende gebiede bevorder word. So het baie groepe in die diaspora, soos die Bulgare, Albaniërs, Serwiërs, Jode en ook Turke, hulself in hul etniese tale as Grieks voorgestel en getrou gebly aan die Griekse strewes.

      Elita se grootouers aan moederskant, Menelaos en Martha Zotiadis, was nasate van die Philike wat in Bulgarye gevestig was (Martha se familie het oorspronklik van Anatolië gekom). Hulle het mekaar in Burgas, die Bulgaarse stad aan die Swartsee, ontmoet. Menelaos was ’n gesiene handelaar in onder meer chemikalieë, en Martha, hoog geleerd in die filosofie, was veral lief vir die letterkunde. Hulle was deel van die Griekse elite aan daardie kus, die mense wat die toon aangegee het in die stad se kulturele lewe. Dit word in die familie oorvertel dat Martha ’n gereëlde huwelik met Menelaos moes aanvaar omdat haar ouers nie wou toelaat dat sy met haar geliefde, ’n gebore Bulgaar maar waarskynlik ’n Moslem,