M Meiring

Elita en haar lewe met F.W. de Klerk


Скачать книгу

in haar kamer of tydens vakansies op Anavissos weggekruip om boeke soos Emily Brontë se Wuthering Heights te lees. Háár held sou geheimsinnig wees soos Heathcliff, die held in dié Victoriaanse roman, het sy gedink.

      Sy sou hom ook binnekort ontmoet.

      Ses: ’n Anderse man

      Pas vyftien het Elita vir die eerste keer bewus geword van die onstuimige en wisselvallige aard van die Griekse politiek. In April 1967 het ’n groep kolonels oornag ’n dramatiese staatsgreep uitgevoer. Daar was geen betogings in Kolonaki nie, maar Elita het deur haar ouers verneem van militêre versperrings wat in die strate opgestel is, waar lastige studente aangesê is om terug te keer na hul huise. Ook die Lanaras-huispersoneel het kom vertel van die ontstellende veranderings wat skielik in sommige buurte plaasgevind het, en hoe soldate mense in die strate dreig.

      Mense was óf baie bly óf baie bedruk oor die staatsgreep. Talle Grieke het nog ’n burgeroorlog gevrees; ander was bang dat ’n verdrukkende militêre regime hul voorland was. Die mense uit die werkersklas het meestal geglo dat die kolonels vir hulle ’n beter bedeling sou bring.

      Die staatsgreep is voorafgegaan deur ’n drie jaar lange gesagskrisis, toe ’n botsing tussen koning Konstantyn en die eerste minister, George Papandreou, daartoe gelei het dat Konstantyn geweier het om verkiesings toe te laat. Dié faksieverskille het die groep kolonels onder aanvoering van kolonel George Papadopoulos die kans gegee om blitssnel ’n staatsgreep uit te voer. Papadopoulos het gou diktatoriale magte aangeneem, maar het toegelaat dat Konstantyn aanbly as nominale monarg.

      In Desember 1967 het Konstantyn ’n hopelose poging aangewend om met behulp van ’n paar ou vlootvriende die junta se regime omver te werp, en hy en sy familie moes uiteindelik na Italië vlug. In 1973, kort voor die afsetting van die junta, het Papadopoulos die monargie deur ’n dekreet beëindig en Griekeland tot ’n republiek verklaar. Konstantyn sou nooit weer na Griekeland terugkeer nie.

      Die junta het militêre howe ingestel, siviele regters ontslaan, talle mense vir vermeende opposisie in die tronk gegooi en op nougesette tradisie aangedring. Daar was ’n beletsel op minirokke, lang hare en uitspattighede, en ’n nuwe formaliteit het in die Griekse sosiale lewe geheers. Uniforms en formele aanddrag was aan die orde van die dag by dié stywe, stugge geleenthede, hoewel dit algemeen bekend was dat die kolonels uit ’n laer en grootliks onopgevoede stand was. Persvryheid is ingekort en die sensuur van boeke is tot belaglike uiterstes gedryf. Die junta se pogings om die geskiedenis te herskryf vir voorgeskrewe boeke in skole was deel van die aansienlike ontwrigting.

      Hoewel die land in ’n wurggreep van onstabiliteit was, het die junta se regime aanvanklik nie ernstige rimpelings in sakebedrywighede veroorsaak nie, afgesien van die toeristebedryf. Volgens George Lanaras het die junta goed geweet dat hulle nie die land sou kon regeer sonder ’n suksesvolle sakesektor nie. Gevolglik het die junta met sy streng regulasies soms verrassende vryhede toegelaat in die allerbelangrike sakelewe van Griekeland.

      In Elita se jong lewe sou daar tydens hierdie kwaai woelinge in Athene ’n nuwe opwinding kom. George Lanaras het toenemend betrokke geraak by skeepvaart, en het gou opgang gemaak in dié dinamiese bedryf toe hy verkies is tot president van die Vereniging van Skeepvaarteienaars. Dit was ’n omgewing waarin groot name soos Onassis, John Latsis, Costas Lemos en Stavros Niarchos die wêreldseevaart sou oorheers en fabelagtige rykdomme sou opbou. George het ’n leidende rol daarin gespeel, en Elita onthou met trots hoe sy een van sy groot skepe te water kon laat met die breek van die tradisionele bottel sjampanje teen die romp van die uitvarende skip.

      Hierdie nuwe rigting in George se lewe het gelei tot ’n hereniging met sy ou skoolmaat Minos Colocotronis, wat toe in beheer was van een van die grootste rederye in die bedryf. Toe ’n nuwe skip te water gelaat sou word in Portugal, is die Lanaras-gesin ook na die seremonie genooi. Nitsa en die vyftienjarige Elita het die luisterryke viering bygewoon, waar sy voorgestel is aan die 22-jarige Anthony Georgiadis, ’n student aan Oxford.

      Vassos Georgiadis, Tony se vader, is oorlede toe Tony sewe jaar oud was, en sy moeder, Clio, die suster van Minos Colocotronis, is vervolgens getroud met sir Frederick Crawford, die gewese Britse goewerneur van Uganda en destyds ’n hoë amptenaar in Anglo-American se diamant- en goudbedryf in Zimbabwe. Lady Crawford het wonings in Europa sowel as Salisbury, deesdae Harare, gehad en was bekend en gewild in internasionale sosiale kringe.

      Met hul ontmoeting het sy en Nitsa mekaar reeds geken, maar of hulle van mekaar gehou het, is te betwyfel. Daarvoor was hulle gans te verskillend. Clio, ’n oorheersende persoonlikheid, was uitgesproke en flambojant, terwyl Nitsa veel meer teruggetrokke en korrek was. Al twee het later uitdruklik ontken dat hulle by daardie geleentheid gedink het aan ’n moontlike romanse tussen Tony en Elita.

      Elita het met dié ontmoeting met die Oxfordstudent wel ’n erge toeval van kalwerliefde beleef. Hierdie Georgiadis was nie soos haar vriende in Athene nie. Trouens, sy het nog nooit iemand soos hy ontmoet nie. Só selfversekerd en gesofistikeerd, en boonop sou hy binnekort ’n belangrike plek in sy oom se groot skeepsredery beklee.

      Dat sy versot was op Tony, was aanvanklik net haar geheim. Verder was sy onbewus daarvan dat hy haar ook raakgesien het, trouens, méér as net raakgesien. Hy het reeds ’n plan gehad, maar daarvoor moes nog eers heelwat water in die see loop.

      ’n Paar maande ná hul ontmoeting, toe Elita na die Eastbourne Business College in Engeland gestuur is vir ’n kursus in sakeadministrasie, het sy en ’n vriendin weer “uitgebreek”. Hulle het hulle opgesmuk met grimering en uitspattige klere, na ’n restaurant gegaan en koeltjies ’n bottel wyn gesteel toe hulle daar uitstap.

      Dié eskapade het nie die kollege-owerhede óf Elita se ouers geamuseer nie. George en Nitsa het terstond na Londen gevlieg, Elita ontbied, haar uitgevra en betig, en haar toe na die opspraakwekkende musiekblyspel Man of La Mancha, gebaseer op die wedervaringe van Don Quixote, geneem.

      Toe Elita die lied “The Impossible Dream” in die musiekblyspel hoor, het iets in haar gestol. Op sestienjarige ouderdom het sy ’n besef gehad van die lewe: om te reik na ’n onmoontlike droom. In latere jare sou sy keer op keer na opvoerings van Man of La Mancha gaan.

      Intussen het haar drome gewentel om ’n lewe saam met die aantreklike, geheimsinnige, wêreldwyse Oxford-student Tony Georgiadis. Drome van ’n eie lewe vol avontuur; drome van ’n lewe waarin sy verrassende en wonderlike dinge sou doen; drome waarin haar onsekerheid oor haarself uitgewis sou word. En drome om weg te kom van die benouende wêreld van haar ma.

      Sewe: Die geheimsinnige kêrel

      Tony Georgiadis, hoewel met Griekse ouers, het Engels grootgeword. Dit was deel van sy besonderse aantreklikhede, en een van die dinge wat hom so anders gemaak het as die jong manne in Elita se kring. “Hy is geheimsinnig. ’n Mens kan hom nie mooi peil nie,” het Elita aan haar boesemvriendin Maria en aan Myrto en haar ander vriendinne begin vertel. Hy was haar Heathcliff uit Wuthering Heights.

      Dit was gou vir een en almal duidelik dat Elita smoorverlief is, maar Tony, wat pas afgestudeer het aan Oxford en na Columbia in die VSA is vir verdere studie, was nie oorhaastig om te kom vlerksleep nie. Al het hy reeds aan sy Amerikaanse universiteitsmaat Larry Pressler ’n foto van die sestienjarige Elita gewys en gesê: “Sien jy hierdie meisie? Ek gaan nog met haar trou.”

      Elita was pas sewentien toe sy ’n uitnodiging na ’n neef se partytjie aanvaar het. Vanweë haar bekende renons in partytjies en haar bittere skaamheid was haar vriende baie verbaas, maar Elita had ’n geheime plan: sy het geweet Tony Georgiadis sou ook daar wees. Tony was toe inderdaad daar en hy het duidelik net aandag aan Elita gegee, maar hy sou haar nie eens kon soen nie, daarvoor was die protokol waarmee hulle albei grootgeword het te streng.

      Die romanse het tydsaam en pynlik korrek verloop. Tony moes eers beide George en Nitsa se guns wen, en hy moes deur die proses van ’n paar etes en formele besoeke vorder tot die punt dat hy ouers kon vra. Nitsa het gou haar goedkeuring aan Tony gegee, maar George se huiwering om die huweliksmoontlikheid goed te keur was stellig omdat dit sou beteken dat sy dogter Athene moes verlaat, want Tony se lewe en basis was in Londen.

      Tony