M Meiring

Elita en haar lewe met F.W. de Klerk


Скачать книгу

Poseidonfees, ’n skouspelagtige en uiters gewilde byeenkoms aan die Sounion-kus om die god van die see te vereer. Terwyl George en Nitsa deeglik bewus was van die twee jong mense se gevoelens vir mekaar, is dit nie openlik bespreek nie – die gesprekke het wye draaie geloop om elke denkbare onderwerp behalwe die verhouding tussen Tony en Elita!

      Kort daarna was Tony weer in Athene, en aangesien Elita se ouers op reis was in Afganistan, het sy, met haar heimlike genot in rebelsheid, alleen saam met hom uitgegaan – nie juis die soort ding wat ’n goed opgevoede meisie van Athene in daardie jare sou doen nie.

      George en Nitsa was skaars terug toe Tony in Desember 1970 formeel kom besoek aflê het om die Lanaras-gesin te nooi om saam met sy gesin – sy moeder, lady Clio Crawford, en sy ouer broer Alexander en sy vrou Katingo – vir vyf dae na die ski-oord Zermatt te gaan. Dié uitnodiging was stellig op aanstigting van lady Crawford.

      ’n Byna komies-formele reëlingsnetwerk is opgestel. Lady Crawford sou as gasvrou in Zermatt optree, en dit was in haar aard om in die oortreffende trap te onthaal. Later sou sy graag skimp dat dit sy was wat George tydens daardie skivakansie oorreed het om sy seën aan Tony en Elita se toekomsplanne te gee.

      Met die aanvang van die vakansie het Tony tussen die ski-lope deur ’n afspraak met Elita gereël vir aandete in die restaurant. Daar het hy haar gevra om te trou, en ná die ete het hy George en Nitsa formeel om hulle toestemming gevra. Vir Tony en Elita was die hele komplekse gedoente ’n belaglike charade, maar die twee families het met gepaste, en selfs kamma verbaasde geesdrif die verlowing gevier.

      Toe het die intensiewe reëlings begin wat ’n Griekse huwelik verg. Reëlings oor gaste en spyskaarte en protokol en nogmaals reëlings, want so ’n troue is met amper militêre presisie van minuut tot minuut beplan. Elita, pas negentien jaar oud, sou in die vereiste – dus gróót – tradisie van Kolonaki trou.

      Eers sou daar die Britse burgerlike huwelikseremonie wees, aangesien hulle in Engeland sou gaan woon.

      Voor die burgerlike troue in Londen se Caxton Hall in Mei kon plaasvind, moes Elita eers die – vir haar – uitmergelende proses deurmaak van trousseau koop saam met die geesdriftige Nitsa. Daar is na Parys, Milaan, Londen en Genève gevlieg vir tallose inkope. Moeder en dogter het, soos te verwagte voor ’n troue, vasgesit, opgemaak, vasgesit, opgemaak en uiteindelik doodmoeg saamgestem oor die klere, kleure en juwele.

      Kort voor lank het Elita haar in Londen bevind, waar Alexander en Katingo as getuies opgetree het by hul burgerlike huwelik. Alexander-hulle het ook gesorg vir die onthaal daarna, en toe eers het die bloedjong Elita besef dat dinge in Engeland anders gaan wees as in Griekeland. Nóg sy, nóg haar ouers het gedink die siviele seremonie sou meer wees as net dit, en hulle het glad nie voorsiening gemaak vir ’n viering nie. Nitsa het die onthaal bygewoon, maar by dié gulle geleentheid het Elita ’n ernstige toeval van heimwee beleef, en veral ’n intense verlange na haar pa wat nie daar kon wees nie. Dit sou nie die laaste keer wees dat sy sou vind dat die Engelse manier van doen en die Griekse manier om dit te begryp bots nie.

      In Junie is die groot, luisterryke Griekse troue in die Gholfklub in Athene gehou. Vierhonderd gaste was teenwoordig, en die lang, skouspelagtige seremonie het met gepaste Griekse religieuse simbole en emosie afgeloop.

      Vir Elita was haar huwelik heimlik ’n kans om van haar ma weg te kom, maar die werklikheid dat sy die huis finaal verlaat, het haar behoorlik getref toe haar vriendinne met ondeunde grappies kom afskeid neem het voor die jong egpaar op hul wittebroodsreis sou vertrek. Haar kinderlike mistroostigheid moes gou verdwyn toe sy en Tony Rome nader, en ná ’n paar dae in die Algarve aan die Portugese kus het hulle na Harare gevlieg om by haar nuwe skoonma en sir Frederick te gaan kuier.

      Dit was Elita se eerste besoek aan Afrika, terwyl Tony daar gebore is toe sy vader en Clio nog ’n vooruitstrewende tabakboerdery en uitvoerbesigheid in Kampala in Uganda gehad het. Vader Vassos was die derde seun van Hippocrates en Annie Georgiadis, gesiene inwoners van Smirna in Klein-Asië, waar ’n ryk Griekse gemeenskap reeds geslagte lank gevestig was en waar Hippocrates verbonde was aan die tabaknywerheid. In 1920 het die Turke in hul bloedige stryd teen die Grieke Smirna binnegeval en dit totaal verpletter, en die Griekse bevolking het en masse gevlug. Baie Grieke uit daardie streek het in dieselfde groot volksverskuiwing as Menelaos en Martha Zotiadis in Athene aangekom.

      Ná Annie Georgiadis se dood het Hippocrates die gesin in Kaïro gevestig, waar hulle deel geword het van die groot Griekse gemeenskap. Daar het Vassos volgens die gebruik van die tyd ’n gereëlde huwelik met die jong Clio Colocotronis gesluit. Saam met twee van Vassos se broers het die jong egpaar na Uganda getrek, waar Vassos mettertyd die grootste tabakbedryf in Oos-Afrika gevestig het.

      Ná hul pa se dood aan ’n hartaanval is Tony en Alexander na Nairobi gestuur vir hul skoolonderrig, en daar het die twee seuns, hoewel veilig in hul omgewing, bewus geraak van die Mau Mau-opstand waarin wit koloniste wreed uitgemoor is. Tony is vir verdere opleiding na King’s School in Engeland gestuur, en daarna het hy aan Oxford en Columbia gestudeer.

      Hy is bekend as ’n rustelose, dinamiese man wat vroeg al ’n fyn sakesin ontwikkel het. Teen die tyd dat hy en Elita getrou het, het hy reeds sakebelange oor die wêreld gehad, en ’n byna koorsagtige gereis was deel van sy lewe. Omdat sy as kind dikwels gereis het, het sy die reise saam met Tony baie opwindend gevind, want sy het gehou van nuwe en vreemde plekke.

      In haar nuwe lewe as getroude vrou het sy weelderige pelse gedra, en Tony het haar leer bestuur in sy duur Mercedes-sportmotor. Sy het vir die eerste keer in haar lewe ’n knoop aangewerk – aan ’n kortbroek van Tony – en hy het selfs ’n foto van dié deurbraak geneem!

      Tussen Elita en haar skoonsuster Katingo het gou ’n band gegroei, deels omdat hulle ’n verenigde front gevorm het teen hul nimmereindigend sosiale en energieke skoonma. Die twee mooi, jong vroue is kort voor lank as trofeevrouens van hul gesofistikeerde en aantreklike mans raakgesien.

      Ná hul besige wittebroodsvakansie het die paartjie in Tony se eenslaapkamer-woonstel in Carlyle Lodge in Chelsea ingetrek, en daarna het hulle ’n groter woonstel in Basil Place, in die skadu van Harrods, gekry. Maar Elita was swanger en Tony was haastig om ’n vaste vesting te kry voordat die baba gebore word. Toe koop hy ’n huis.

      Agt: Die paradys is te stil

      Die huis was tipies die soort ding wat Tony met sy besonderse geaardheid sou doen: dit was ’n herehuis. Die pragtige historiese woning het deels uit die sestiende eeu, die tyd van koning Hendrik die Agtste, gedateer. Genaamd The Stud House vanweë die aanliggende stalle vir die koninklike perde, is dit geleë in die eksklusiewe Hampton Court Park, ’n huis met agt slaapkamers, groot onthaalvertrekke, ’n glasomhulde conservatory en uitgestrekte tuine.

      Die Georgiadisse was onbewus daarvan dat die huis ’n verbintenis met Suid-Afrika het: dit het behoort aan lady Sarah Wilson, die dogter van die hertog van Marlborough en die tante van Winston Churchill. Haar man, luitenant-kolonel Gordon Wilson, was tydens die Anglo-Boereoorlog die aide de camp van kolonel Baden-Powell. In 1909 het lady Sarah in Stud House ’n boek, South African Memories, oor haar avontuurlike verblyf tydens die oorlog geskryf. Sy het Suid-Afrika deurkruis, en het onder meer vir Cecil John Rhodes goed leer ken en ook by sy huis in Groote Schuur gekuier.

      In Londen het Elita ’n toegewyde poging aangewend om haar Engels te verbeter. Sy het ’n “juffrou” gekry, wat haar uiteindelik veel meer as Engels geleer het. Soos sy met feitlik alle persoonlike verhoudings maak, het Elita nie geskroom om haar onkunde te wys en indringende vrae te stel nie. “Toe begin ons sommer met geskiedenislesse ook,” vertel Elita. “En op ’n manier het ek ook lesse in gasvrouskap gekry, want sy het my geleer hoe om na te lees oor die agtergrond van die mense wat by ons sou kom eet.”

      Gevolglik het die jong mevrou Georgiadis, wanneer Duitse gaste opdaag, geweet dat Duitsland ’n federasie is, en dat die Verenigde State ’n tweepartystelsel het. Gelukkig, erken sy, was sy nooit in ’n situasie wat sy enige van dié politieke stelsels moes kritiseer of verdedig nie!

      “Jy sou beslis navraag kon doen oor ’n tafelgenoot se kinders, maar maak eers seker of hy wel getroud is en kinders het,” het sy ook haar ma se voorskrif