kyk peinsend na die horison. “Die grootste private wildreservaat in die hele Noord-Kaap, eksklusiewe jagterslodge. Gaste soos Prins Charles, ryk Amerikaners. My plek moet mettertyd aansluit by die Kgalagadi-oorgrenspark. Ek loop al tot by die Botswana-grens, maar ek wil graag tot teenaan die park gaan – sodat die diere meer vryelik kan rondbeweeg. Maar ...” Sy stem is plat.
“Sou Huilwater moes deel word van jou reservaat?”
“In die verre toekoms, ja. Maar ek sê weer: nie genoeg om Freddie te wil vermoor nie. Nie op so ’n manier nie. Nie op enige manier nie ...”
Beeslaar staan op. “Ek of een van my manne is laat vanmiddag terug. Ons sal dan met jou mense praat,” sê hy en sit die notaboek terug in sy sak.
Hoofstuk 11
11
“Sit neer. Ek bel terug!” roep Beeslaar in sy selfoon. Die geraas van die grondpad is oorverdowend. Boonop kan die verbinding enige oomblik vrek. Die selfoonnetwerke steek nog nie geld in torings in dié wêreld nie, daar’s nie genoeg klandisie hier nie. So dis letterlik net hier en daar, meestal as jy oor ’n heuweltjie gaan, dat daar ’n sein is.
Beeslaar mik vir ’n doringboom aan die kant van die pad en slaan remme aan. Hy pons Ghaap se nommer in en tuur uit oor die veld terwyl hy wag, sy bel-arm wat deur die oop venster van die kar na buite steek. Buiten die gekraak van die enjin wat afkoel, is dit tjoepstil buite. ’n Snaakse soort stilte, besef hy. Asof dit persoonlikheid het. ’n Teenwoordigheid, soos iemand wat in die donker te na aan jou staan.
“Sersant Ghaap,” onderbreek die swaar draalstem sy gedagtegang.
“Jy soek my.”
“ ’Spekteur. Wou net laat weet het, daar’s iemand wat die lorries gesien het.” Hy verwys na die vragmotors wat al vantevore in die omgewing opgemerk is rondom die tyd dat daar ’n veediefstal was.
“Wanneer?”
“Drie aande gelede. Op die R1706.”
“Huilwater se pad,” konstateer Beeslaar. “Nommerplate?”
Maar hy weet hy vra tevergeefs. Tot dusver was die inligting vaag, sleg opgevolg en die dossier wat hy geërf het, rommelrig en deurmekaar. Dit maak dit meer noodsaaklik dat daar so vinnig moontlik die een of ander formele moniteringstelsel in die gebied moet kom – iets soos ’n plaaswag. Daar is reeds ’n klompie van die ouer boere, weet Beeslaar, wat probeer om ’n gesprek in dié rigting aan die gang te kry. En Beeslaar het al lang gesprekke met hulle daaroor gehad. ’n Professionele plaaswag monitor alle verkeer, stop verdagte voertuie, is in radioverbinding met polisiestasies, is altyd aan diens.
Beeslaar wil help om die gesprek aan die gang te kry. Maar hy’t meer tyd nodig, moet meer vertroue wen, eers hierdie verdomde saak oplos. Sy grootste teenstand is die politiek – boere wat al sy voorstelle met agterdog bejeën. En die moorde van die afgelope tyd, veral Woensdag s’n, is petrol op die vuur.
“Wie’s die bron?”
“Die bron?”
“Fokkit, sersant Ghaap, wie’t vir jou gesê!”
“Ek weet, ek weet. Ek soek sy naam. Dis ’n outjie daar by die koöperasie. Ek ken hom net op sy bynaam, Tros. Sy regte naam is Willie. Willie Draghoender.”
Vir ’n oomblik wonder Beeslaar of Ghaap sy been trek en hy voel hoe die hitte in sy wange opkook. Dan besef hy, die mense hier se agtername het ’n ander geskiedenis. “Goed, goed,” sê hy. “Maak seker dat jy alles kry: Ons wil die tyd hê, beskrywing, hoeveelheid, vanuit watter rigting, was hulle vol of leeg. Enige tekens van uitkenning, logo’s, merke aan die verfwerk, duike. Lyk dit soos die ander wat al opgemerk is? Alles. O ja, en bel vir Jan Steenkamp van Loeriesvlei, die man van die landbou-unie, en vra of hy weet van ’n diefstal Dinsdagnag. Ek het nog een of twee draaie om te gooi, dan kom ek in.”
Na hy afgelui het, sit hy nog ’n ruk voor hom en uitstaar. Waar kom die vragmotors vandaan? Dis net of hulle skielik vanuit die niet verskyn as daar die nag ’n diefstal gebeur. Ding soos ’n beestrok is mos groot. Waar stoor jy dit? As hulle van ver af kom, moes iemand dit tog al opgemerk het. Tot dusver is hulle nog net twee keer deur naastenby betroubare getuies opgemerk: ’n trein van vragmotors, drie, vier van die goed op ’n slag. Een keer deur iemand wat laatnag byna in hulle vasgejaag het. Hy kon sweer hulle het sonder ligte gery, teen ’n taamlike spoed. Ander keer was dit ’n plaasarbeider – selle storie met die gedompte ligte en die snelheid. Die res van die inligting is robbiesj. Iemand wat sê die goed is getoor, raak onsigbaar. Daar’s selfs een wat gesê het dis UFO’s.
Beeslaar glimlag by die gedagte – die ou was dalk nie ver verkeerd nie. In hierdie stadium kan dit net sowel Marsmannetjies in vreemde vlieënde voorwerpe wees.
Een ding is seker: die goed moet van buite af kom. Daar’s min boere hier rond wat een so ’n voertuig kan bekostig, wat nog te sê vier.
Nee, hierdie ouens werk seepglad. Stink na een ding: sindikaat. Een met genoeg geld vir toerusting en inligting. Want hoe anders weet hulle waar om toe te slaan? Hoe ken hulle hierdie doolhof van sandpaaie? Hulle moet eenvoudig goeie inligting hê. Maar hy en Pyl en Ghaap is deur al die karretjiesmense van die kontrei, deur al die trekkendes wat draad span en los plaaswerkies doen. Daar’s min van daardie soort mense oor. Maar dié wat hulle nog kon opspoor, het hulle van ’n kant af deurgedraf. Dalk het hulle verkeerd gesoek. Dalk moet hulle onder die plaaswerkers begin soek. Daar moet tog iewers ’n spoor van die inligting lê.
’n Groter raaisel nog: hoekom hiér? Ver van alles af, van die groot markte vir onwettige vleis. Van Johannesburg, laat staan nog die Kaap. Kimberley is die naaste groterige stad. Steeds, Kimberley is ’n klein piskolletjie teen die Rand se stede, selfs digter bewoonde gebiede soos die Vaaldriehoek. Waar’s die afsetgebied vir vee wat hier gesteel word?
Beeslaar tik ingedagte met sy voorvinger teen die stuurwiel. Voor hom strek ’n groot stuk grasveld so ver as wat die oog kan sien. Daar’s ’n versamelnes in een van die doringbome. Dis so groot soos ’n tweemantent en sit komieklik in die boom. Soos ’n hooimied wat daar ingewaai is. Hy’t iewers gelees een so ’n nes kan tot ’n duisend wewertjies huisves. Mooi wêreld, moet hy toegee. Maar vreemd. Jy moet hare op jou tande hê om hier te wil oorleef, sê die mense. Een jaar spoel jy weg, die volgende ses vrek alles van die droogte. Dan kom die sprinkane.
En nou die sindikate ... Watse soort kabouters steel vee? Is dit ’n ander spesie as die dwelmboewe of die motor-merchants van die stad?
Hier’s dit goed wat tyd vat om te laai, moeilik vervoer, maklik opgemerk sal word. En dis stofpaaie, kilometers en kilometers van die goed. Sommige so gelyk soos ’n teerpad. Ander vol sinkplaat en slaggate. Of sand. Driekwart van die paaie is ongemerk. Gemaak en gelaat staan vir die mense wat hier bly. Wat weet waar hulle is, en waarheen hulle op pad is. Sal nie verstrengel en verdwaal raak soos wat hy self al so dikwels het nie. Daar moet iewers ’n insider wees.
Hoe ook al. Die spelreëls bly seker dieselfde: jou intelligensiewerk moet topklas wees, jy moet die beste toerusting hê. En jy moet senuwees van staal hê.
Hy moet net sy kop skuif. Alles is feitlik dieselfde hier as in die stad – tot die omstandighede op kantoor: ervare manne weg, vakuum gevul met snotkoppe sonder opleiding of ondervinding. Lae moraal, wan- en gebrekkige kommunikasie, dose met rang ...
Speaking of which ... Hy onthou met ’n skok hy moet die superintendent nog bel.
Hoofstuk 12
12
Besit jou eie stukkie Kalahari op Red Sands: Sonskyn 365 dae van die jaar. Asemrowende sonsondergange. Die skaars woestynleeu ...
Saar staan hande agter die rug en staar. Oopmond, besef sy na ’n ruk, en klap haar kake toe. Die massiewe plakkaat wat een hele muur met venster en al bedek, nooi mense om te belê in ’n stuk kaal aarde kort duskant Upington. Of minstens, vir haar was dit tot nou toe ’n stuk kaal veld. Sand en stof en klip. Maar Nelmari Viljoen verkoop dit aan mense as die paradys. Red Sands. Liewe Here.
Sy