herkenbaar.’” Sy gebruik haar vingers om die aanhalingstekens in die lug te teken. “Hy’t gesê ons herken onsself daarin. En dís die snaar wat sy roer.”
Saar besef sy staar waarskynlik oopmond na Nelmari, wat skielik ’n skalkse laggie gee: “Ek weet, ek klink soos ’n Omo-advertensie,” sê sy. “Maar ek sal jou die plakboeke wys. Dan sal jy self sien. Ek het plakboeke gemaak van al die knipsels, notas van al die kommentare en ’n lys van wie almal skilderye gekoop het. Ek het twee televisieprogramme gehad wat belang gestel het om ’n ding oor haar te doen. Nader aan die volgende uitstalling.” Sy sug skielik, asof sy terugkom aarde toe. Haar oë dwaal terug na ’n onsigbare kol op die koffietafel. “Miskien sal hulle steeds iets doen. ’n Oorsig, profiel ...”
Sy raak stil, die sigaret in haar hand al kort gebrand, lang as wat dreig om te val.
“Wat het Freddie van al die bohaai gesê?” vra Saar.
Nelmari antwoord nie, skud net haar kop. Haar gesig is stroef, byna verwese. Dan buk sy vooroor en druk die sigaret dood. “Ja,” sê sy moeg, “en haar werk het verkoop, hoor. Ons kon nie voorbly nie.”
“En meer onlangs?” vra Saar. “Hier op die plaas? Het sy nog geskilder?”
Nelmari kyk op. “O ja. Ons is ... was besig met ’n groot uitstalling vir haar in Augustus. In Johannesburg. Nee, jong, sy’t gewerk. Dit was juis een van die redes hoekom sy besluit het om aan te bly. Ek was aanvanklik nie so heeltemal oortuig nie. Haar mark is in die stad. Die geleenthede, die media. Ons het nogal vasgesit daaroor ...” Haar stem draal weg.
“Hoe het dit regtig met haar gegaan, Nelmari? Was sy gelukkig? Ons het laas ’n behoorlike gesprek gehad toe sy nog in Johannesburg was, voor Pa en die siekte ...”
Nelmari vee versigtig ’n los haar uit haar gesig. Dan leun sy vorentoe en verskuif die asbakkie sodat dit presies reg in die middel van die tafel staan. “Ek dink sy was. Gelukkig, bedoel ek. Dit was of sy skielik ... Sy was skielik ’n kúnstenaar, jy weet? Soort van ... gedrewe. Vroeër, net na sy opgehou het met skoolhou, het sy gesukkel om heeltyds te werk. Sy’t gesê sy voel skuldig om heeldag te verf.”
“Maar dis aan jou te danke dat sy die sprong geneem het, nie waar nie?”
Nelmari glimlag verleë. “Ag, ek was eintlik maar net ’n katalisator. Ek het net geweet, die eerste keer toe ek haar sien. Toe ek haar werk sien ... Ek het net geweet sy gaan ’n sukses word. Die afgelope tyd ... Ek dink sy’t dit sélf begin glo. Sy het opgehou om die telefoon te antwoord. Sy was soms buierig, vies as mens haar pla. Selfs emosioneel. Maar sy’t gewerk. Dis die belangrikste. So?” Sy haal haar skouers op. “Sy was gelukkig.”
Saar knik, staar na haar hande, die getjipte lak op haar naels. Sy het nog baie vrae, maar haar kop voel leeg.
“Ek hoop wraggies net die polisie doen vir ’n verandering hulle werk,” hoor sy Nelmari sê.
“Nelmari, wié sou so iets kon doen? Só hatig, so wreed?”
“Ai, Saar, ek weet nie. Ek vermoed maar dis die veediewe. Hulle het ’n maklike teiken in Freddie gesien.” Dan staan sy op, loop met drif deur toe en roep na binne: “Charné, het jy die tee in Tzaneen gaan haal?”
Maar Saar stel nie meer in ystee belang nie. Sy moet beweeg. Iewers heen. Godweet waar. Een ding weet sy en dis dat sy nie by Nelmari gaan kry wat sy soek nie. Daardie ding is nêrens te kry nie. Sy weet nie eens wát sy soek nie. Vergifnis? ’n Skakel met Freddie?
Dis te laat. Alles te laat.
Sy ry stadig terug na tannie Yvonne se huis. By die kafee stop sy vir ’n koeldrank, betaal haastig en vlug onder die nuuskierige blik van die dik meisie agter die toonbank uit.
By die huis trek sy onder ’n boom in, gooi die deur oop om lug in te laat en pons ’n nommer op haar selfoon in.
“Saar,” hoor sy Harri se stem uitasem aan die ander kant. “Here, mens sukkel om jou in die hande te kry. Het jy jou foon afgeskakel? En het jy die boodskappe gekry wat ek by tannie Lambrechts gelos het?”
Daar’s iets aan sy stem wat haar altyd ’n bietjie beter laat voel. Hy is net een van daardie soort mense. Hy’s wakker, gesond, lewenslustig, gebalanseerd, onverstoord opgewek. Nie op ’n naïewe manier nie, net ... heel. En dis aansteeklik. Hulle het vriende geword toe hy by haar woonstelblok in die Kaap ingetrek het, toe sy ontdek het hy is ook in die joernalistiek, ofskoon hy vir homself werk. Hy’s soos ’n mens se beste gay pêl, altyd daar as jy ’n skouer nodig het om op te huil. Behalwe dat hy beslis nie gay is nie, want hy vertel haar gedurig hoeveel beter hy vir haar sou wees as die drol met wie sy tot onlangs betrokke was.
“Sorrie, Harri. Ek was bietjie besig.”
“Hoe lyk dit, jong?”
“Ek was vanoggend by die lykshuis. Op ’n ander dorp.”
Hy bly stil, wag seker vir haar om uit te brei, maar sy sukkel.
“Weet die polisie al iets, Saar?”
“Nee. Ek dink nie daar’s al enige idee nie. Sover hulle kon vasstel, is daar nie veel gesteel nie. Haar handsak is weg, hulle vermoed dalk ’n paar stukke klere en ’n hangertjie van my ma wat sy gedra het. Niks groots nie. Daar wás ook nie veel om te steel nie.”
“Die koerante hier het nogal groot gegaan met die storie. Foto’s van jou sus en so. Maria Bosch het my gebel. Sy soek na jou. Hulle werk aan ’n storie vir Sondag se koerant. Sy wou jou selnommer hê.”
“Ek hoop nie jy’t dit gegee nie.”
“Nie sonder jou toestemming nie, meisie. Maar jy moet jou maar regmaak. Ek dink dit gaan ’n hoëprofiel-storie word. Met jou sus ... jy weet? Jy’t my nooit eintlik veel van haar vertel nie.”
Hoëprofiel. Asof dit nou vir Freddie gaan terugbring.
“Saar?”
“Ek’s hier, Harri. Ek dag plaasmoorde is nie meer nuus nie. Aan ’t afneem.”
“Jy dag verkeerd. Dit haal net nie meer die koerante nie. Maar jou suster ... dis anders met haar. Om dit nou kru te stel: sy was baie mooi, jonk, kunstenaar, die koerante sê sy was ’n weldoener in die gemeenskap. Dit gryp mense aan. En die stof het so by so nog nie gaan lê oor die Wonderboom-moorde nie.” Hy verwys na ’n gewilde televisie-sepie, ’n geliefde akteur uit die reeks en sy vrou wat onlangs in ’n motorkaping in Johannesburg vermoor is. Die hele land was in opstand.
“Hier in die Kaap praat die mense nou van ’n opmars na die Parlement. Saar, is jy nog daar?”
“Ek’s hier. En ek hoor wat jy sê. Help my net uit met die koerante. Ek sien eenvoudig nie kans nie. Selfs nie eens vir Maria nie. Sy’s ’n pêl en alles, maar steeds.”
“Is daar iets anders waarmee ek kan help? Ek het al klaar daardie verdorde varing op jou balkon gaan red.”
Saar glimlag. Sy wens meer mans was soos Harri. Nie soos al die dose wat daar reeds in haar lewe was nie. Wat belangstel tot op ’n punt. En dan kom die ander vrouens uit die houtwerk gekruip. In die geval van haar laaste romanse was dit die man se eie vrou ... En Harri, op wie se skouer sy kan huil, wat net weet hoe om te troos sonder om haar neus daarin te vryf.
Dan sien sy die groot polisie-inspekteur voor tannie Yvonne se huis stop. “Ek moet gaan, Harri.”
“Net nog ’n ding. Hoe lank dink jy gaan jy weg wees?”
Die vraag vang haar onkant. “Ek weet nie. Hoekom?”
“Ek het ’n opdrag. Eintlik nog net ’n moontlikheid.”
“En?”
“Dis bietjie moeilik. Die Britse Sunday Times Magazine. Hulle soek ’n foto-essay oor ... e ...”
“Jissis, Harri. Hoe kan jy dit eers oorwéég? En jy wil hê ek moet glo hulle het jóú genader? Uit die bloute? Die oomblik toe jou beste vriendin in haar kar klim plaas toe vir die begrafnis ...”