is dat dieselfde syndicate via Adaka aan die Taliban in Pakistan wapens begin voorsien, wat die Amerikaners se broeke laat bewe. Dit ondermyn die stabiliteit van die kerngewapende Pakistan. Die Taliban is ook kop in een mus met die Al Kaïda van Afganistan, wat die Amerikaners nog meer nervous maak. ’n Mens weet eenvoudig nie waartoe dié mense in staat is nie. En as Pakistan deur die fundamentaliste oorgeneem word, kan dit beteken dat Moslem-terries die wêreld óf met kernwapens gyselaar hou óf Westerse stede level met die gravel maak. Genuine ’n onheilspellende vooruitsig.”
September laat Carl plek-plek aan ’n lektor in staatsleer dink.
Wessels knik. “Dit kan katastrofiese gevolge vir almal in die Westerse wêreld inhou.” Hy glimlag. “Maar ons het nou ’n lang draai gemaak voordat ons by die punt uitkom. En dit is dat die wapensindikaat heel moontlik uit die hartjie van Kaapstad deur Suid-Afrikaners bedryf word.”
Carl besef meteens waarom hy betrek is. Die knop in sy maag trek stywer. Dit gaan heeltemal ’n ander ball game wees as toe hy ondergronds gewerk het tussen ’n klomp ongeletterde dwelmhandelaars. “Weet julle wie die sindikaat is?”
“Nee, maar die CIA is honderd persent seker van die Kaapse konneksie,” antwoord September. “Hul kontakte in Nigerië het die afgelope paar jaar by meer as een geleentheid via Adaka bevestiging daarvan gekry. Adaka verwys openlik na sy ‘white boys from Cape Town’ wat die wapens aankoop en versprei. Die probleem is dit is al wat hulle weet. Adaka het nog nie sy groot mond verbygepraat oor presies wie sy manne in Kaapstad is nie. Dit is duidelik hy is ’n vennoot in die syndicate. Só hy sal nie maklik sy groot bron van inkomste se identiteit verklap nie.”
September haal sy bril af, beduie daarmee na die lêer. “Henry Adaka is ’n uitgeslape kalant en seker die bekendste broker in vandag se onwettige weapons game. Maar as hy op ’n manier uitgeskakel word, sal iemand anders hom gou vervang en ons Kaapse ouens sal maar net voortgaan soos nou. Dit is duidelik dat hulle oor die jare ’n baie goeie netwerk van wapenhandelaars opgebou het en hulle gaan uiters slim en versigtig te werk. Nog nie een van hulle sendings het skeefgeloop nie. Hulle het duidelik al die kunsies van die swartmarkhandel onder die knie.”
“Is hulle groot spelers in vergelyking met ander sindikate?” wil Carl weet.
September knik, rek sy oë. “Die CIA skat hulle is verantwoordelik vir tussen sestig en sewentig persent van alle swartmarkwapens aan Afrika. Die groot vrees bestaan natuurlik nou dat hulle dieselfde sukses met wapenvoorsiening aan die Taliban en Al Kaïda sal behaal.”
“En dis waar ons inkom,” sê Wessels. “In kort gaan jou taak wees om hierdie sindikaat binne te dring en hul bedrywighede bloot te lê. Ons het die CIA se volle ondersteuning. Hulle is tot bereid om groot bedrae geld vir dié operasie beskikbaar te stel indien ons dit verlang, vir byvoorbeeld die aankoop van wapens om die persepsie te skep ons mol is ’n groot speler in die bedryf.” Hy glimlag. “Moenie ’n fout maak nie, dit gaan ’n helse uitdaging wees. Maar ek glo as daar iemand is wat dit vir ons kan doen, is dit jy.”
“Klink na ’n tawwe uitdaging,” sê Carl. “Wanneer begin ek?”
Wessels kyk ingenome na September. “Het jou mos gesê, dié man deins vir niks terug nie.”
“Ek like daai positive attitude!” sê September met ’n breë glimlag. Hy bondel die lêers bymekaar en oorhandig dit aan Carl. “My voorstel is jy study daai eers. Ek gee jou ’n dag. Dan ontmoet ons twee en bespreek ’n strategie vir hoe ons dit gaan tackle. Ek en die direkteur het klaar idees, maar ons wil hê jy moet vars daarna kyk en daaroor dink. Ons wil jou nie nou beïnvloed nie.”
“Reg met my,” sê Carl en neem die lêers. Hy probeer homself oortuig dit is net nog ’n polisiesaak dié, niks om onnodig oor gespanne te raak nie.
10
Haar naakte vel vertoon okerbruin teen die ivoorkleurige muur agter haar. Haar swaar borste skommel ritmies in akkoord met hul liefdesdaad. Sy sit op Henry se groot torso, haar kop agteroor gebuig, haar mond oop in ekstase. Hul geluide van genot word verswelg deur die polsende musiek wat uit die reuse-luidsprekers aan weerskante van die bed dreun. Hul gesinchroniseerde orgasme gaan gepaard met ’n ligte trilling in haar onderlyf en ’n siddering wat deur sy liggaam golf.
Sy klim van hom en die bed af en steek ’n sigaret aan, wat sy vir hom aangee. Haar soepel lyf is blinknat van die sweet. Hy beduie dat sy langs hom moet kom lê. Sy vlei haar neer, die agterkant van haar kop in die waai van sy massiewe arm. Hy vryf oor haar borste met sy vlesige vingers, trek ru aan ’n tepel. Die slaapkamerdeur gaan stadig oop. ’n Skraal Oosterling met ’n dun snorretjie, ’n groot glimlag en geel tande verskyn. Hy beduie vir die groot man om die klank sagter te stel.
“Die brigadier is op pad. Hy wil weet of hy jou nog vanoggend kan sien,” sê die Oosterling, sy blik openlik op die swart vrou se gladgeskeerde geslagsorgaan.
Henry Adaka knik net om te wys dit is reg. Hy stoot die vrou van hom weg. “Sammy, betaal haar goed, sy verdien elke dollar.” Hy grynslag toe hy na haar kyk. “Wanneer jy weer kom, bring jy jou suster saam. Julle twee kan net groot pret in dieselfde bed wees.”
Die vrou knik glimlaggend terwyl sy ’n geblomde rok oor haar kop gooi. Henry sien die skraal toeskouer hou vanaf die deur elke beweging van haar dop met waterige skrefiesoë. Sy is bewus daarvan en wikkel die rok tydsaam af oor haar heupe. Sy druk haar broekie in haar handsak, blaas ’n soen vir Henry en skuur styf teen Sammy verby, wat agter haar by die kamer uitloop.
Henry klim steunend van die bed af, stryk die swart laken eers met sy hande glad voordat hy sy rooi satynkamerjas met ’n vinger van die stoelleuning opskep en aantrek. Hy tuur van sy kamervenster uit oor die krioelende stad. ’n Veelkleurige mensemassa beweeg drie verdiepings benede hom tussen die honderde stalletjies deur, die geroesemoes van opgewonde stemme, toetergeskal en die doef-doef van motorradio’s oorverdowend.
Henry glimlag. Sy vriende kan nie verstaan dat sy woonhuis in die middel van Port Harcourt se ou stadsgedeelte staan nie. Maar die geure, kleure, klanke en energie van sy geboortestad voed sy siel. As klein seuntjie het hy sy pa gereeld van hul sinkkaia in die ghetto aan die buitewyke van die stad vergesel na die kern, waar sy pa met groente op die sypaadjie gesmous het.
Hy het al in sy snotkoppiedae besluit hy sal eendag sy huis hier hê. Tien jaar gelede het hy die ou poskantoorgebou met sy koloniale boustyl gekoop en in sy woonhuis en kantoor omskep. Hy glimlag. Die mense verwys daarna as “Adaka’s Castle”.
Hy vryf peinsend oor sy maag. Hy weet hoekom brigadier Odili hom kom sien. Die nuus moes al versprei het. Sy lippe krul. Odili kan niks aan die saak doen nie. Hy sal dit maar net moet aanvaar. Die brigadier is al die afgelope vyf jaar op sy betaalstaat. Hy verdien jaarliks honderd duisend dollar vir sy samewerking en kan nie bekostig om Adaka teen te gaan nie.
Hy stap met die trappe af na die grondverdieping. In die groot eetkamer staan sy kombuispersoneel in gelid teen die muur. Hy klap sy vingers. “Die gewone.” Twee vroue skarrel kombuis toe. “En maak gou,” skree hy agterna, “ek verwag ’n besoeker!”
Binne enkele minute word ’n bord met drie gebakte eiers, spek, wors, aartappels, sampioene en tamaties aangedra. Hy tel die wors eers met sy hand op, verorber dit met twee happe en neem daarna die mes en vurk. Toe hy klaar geëet het, sluk hy ’n glas melk af met ’n paar teue. Die room maak ’n wit snor bo sy pers lippe. Hy vee dit af met sy kamerjas se mou en breek wind op.
Sammy verskyn in die deur. “Die brigadier is hier.”
“Ek kom, neem hom solank na die rooi sitkamer toe.”
Hy steek eers tydsaam ’n sigaret aan en vat ’n paar trekke voordat hy die eetkamer verlaat en na die rooi sitkamer stap. Die brigadier is ’n klein mannetjie, hy toring bo hom uit. Hy klap Adaka gemoedelik teen die arm. “Henry, my vriend, dis goed om jou weer te sien.”
Adaka beduie hulle moet sit. Die brigadier loer ongemaklik na die twee lyfwagte weerskante van die kaggel, gewapen met AK’s.
“Moenie jou aan hulle steur nie,” sê Adaka,