voordat hy daarvan in sy mond spuit.
Hy is skaars ’n minuut terug agter sy lessenaar, waarop hy dokumente en verslae só gerangskik het dat dit die indruk skep hy is oorlaai met werk, toe sy sekretaresse hom kom inlig Amelia Smit is hier.
Haar voorkoms verras hom. Hy het ’n middeljarige, onversorgde suurknol met ’n knypbrilletjie, geel tande en ’n rokerstem verwag. Dit is hoe hy sy generasie se gerekende vrouejoernaliste onthou. Maar sy is jonk en bitter mooi. ’n Asemrowende brunet met groen oë en ’n glimlag wat die modelle in tandepasta-advertensies tweederangs laat lyk. Sy’s lank, slank, bruingebrand. ’n Lae hals vertoon vol borste, haar kuite is subliem onder die knielengte rok.
Haar handdruk is ferm. “Meneer Graves … ”
Hy glimlag. “Noem my Peter.”
“En ek is Amelia,” sê sy vriendelik. Hy voel hoe sy selfvertroue terugsypel. Hy het nog altyd ’n slag met mooi vroue gehad.
Hy maak verskoning dat hy nie op haar boodskap gereageer het nie, maar stel dit duidelik sy was wel op sy opvolglys. “Ons het ’n effens dol tyd deurgemaak.” Hy skud sy kop dramaties. “Soms eis die korporatiewe omgewing meer as net sy pond vleis.”
Hy besluit om die leiding te neem, haar nie ’n gaping vir lastige vrae te gee nie. “Ek lees graag vir jou ons amptelike verklaring oor die aangeleentheid. En dit is ongelukkig al wat ek vandag vir jou te sê het, want ek het geen ander feite nie.”
Peter lees met nadruk. En sonder die frons, soos hy gisteraand voor die spieël geoefen het. Sy skryf niks neer nie, wat hom effens van stryk bring en hom ’n keer of wat oor sy woorde laat struikel.
Toe hy klaar is, haal hy sy skouers op. “Ongelukkig is dit al inligting tot my en my hoofkantoor in New York se beskikking. Ons wag om te hoor van die rebelle en die Nigeriese regering.”
Haar oë is stip op hom gerig, haar glimlag eensklaps iets van die verlede. “Peter,” sê sy, “kom ons vergeet vir ’n oomblik van die amptelike verklarings. Ek is hier om ten volle in die prentjie gebring te word. Nie net omdat ek ’n indiepte-artikel vir Time oor die gyselaarsituasie in Nigerië skryf nie, maar omdat Lea Deetlefs ’n baie goeie vriendin van my is.”
Hy hou sy handpalms na bo. “Amelia, ek het vir jou alles gesê wat ons weet. Daar is niks meer nie.”
“Wanneer laas was jy met jou hoofkantoor in verbinding?”
“ ’n Halfuur gelede … en dit is die jongste stand van sake.”
“En hoe gereeld is Star Petro se hoofkantoor met hul werknemers in Nigerië in verbinding?”
“Deurlopend. Minstens uurliks.”
Sy frons, skud haar kop. “Nou hoe verklaar jy dat vier van Star Petro se werknemers in Port Harcourt, met wie ek gister telefonies in verbinding was, weet wie die rebellegroep is wat Ryan Deetlefs en sy kollegas ontvoer het en boonop weet wat die eise vir die gyselaars se vrylating is?”
Hy skud sy kop heftig. “Dis blote bespiegelings.” Verdomp, dink hy, werknemers daar is nie veronderstel om met die media te praat nie.
Sy sit ’n vel papier voor hom neer. “Volgens ’n nuusverklaring van Associated Press, wat twee uur gelede al op die internet beskikbaar was, weet Star Petro en die Axo Drilling Company al vier dae lank die Oil For Nigerians-faksie is verantwoordelik vir die ontvoering van drie verskillende groepe buitelanders en hulle eis een miljoen vate olie per gyselaar as losprys. Wat woordeliks ooreenstem met die inligting wat julle werknemers in Nigerië aan my verstrek het.”
Peter voel hoe die sweet op sy voorkop pêrel. Sy mond is droog. Hy beduie na die Associated Press-berig. “Ek … wel, ek … kan nie kommentaar hierop lewer nie.”
“Dit is presies wat julle maatskappy se mediawoordvoerder in New York vir die joernalis van Associated Press gesê het. Julle lewer nie kommentaar nie.”
Sy plaas ’n gemanikuurde hand op sy lessenaar, tik met ’n slanke vinger op ’n hopie dokumente. “Peter, ek wil dit aan jou stel julle speel vir tyd. Een miljoen vate olie per gyselaar is volgens julle ’n buitensporige losprys. Julle sien nie kans om dit te betaal nie. Dit kan ’n duikie in jul miljard-dollar-besigheid maak. Daarom wil julle eers onderhandel met ’n groep wat duidelik sê hulle stel nie in onderhandelings belang nie. Julle dobbel met die lewens van julle eie werknemers en toon geen simpatie met die gyselaars se familielede nie. Dit is getraumatiseerde mense wat in spanning wag om van hul geliefdes te hoor.”
Hy stamel oor sy woorde, sy gedagtes in ’n warboel. “Ek … Dit … dit is nie so eenvoudig nie … Ons probeer om na almal se belange om te sien … Ons werknemers bly ons eerste prioriteit en … wel … ek … ek kan nie verder kommentaar lewer nie.”
Sy staan op. “Dit is duidelik jy is nie by magte om aan my antwoorde te verskaf nie. Ek sal met julle baas in New York praat.” Sy leun effens vooroor. Dit voel vir hom asof haar groen oë hom deurboor. “Maar glo my, as enige gyselaar iets moet oorkom omdat julle jul voete sleep, sal nie net ek nie, maar die wêreldmedia Star Petro ontbloot vir wat julle is — ’n geldgierige gespuis wat min waarde heg aan die veiligheid van hul werknemers.”
Toe sy uit is, bewe sy hande só dat hy nie hoofkantoor se nommer behoorlik op die telefoon kan insleutel nie.
12
Carl stap sommer weer van die hotel na die gebou in Groenpunt vir sy afspraak met Leroy September. Die mis het sy wit kleed oor die berghange gesprei, dis grou en ’n motreëntjie sif sag op die sypaadjie neer. Die eerste teken dat die Kaapse winter hier is.
Hy kon nooit die wintermaande se nat weer hanteer nie. Hy was te lank in Johannesburg. Soms smag hy nog na ’n egte Hoëveldse somer-donderstorm. Reën wat in groot druppels op die aarde neerstort. Weerligstrale wat soos riviere op ’n landkaart in die hemelruim geëts word. Wolke wat na die storm welkome strale sonlig laat deurfilter. Die verfrissende reuk van nat grond wat uit die dankbare bodem opwalm. Hy het altyd gesê die Kaap sou die wêreld se paradys wees as dit Johannesburg se klimaat gehad het. Maar in die Goudstad wil hy nooit weer bly nie. Die Klein–Karoo was sy goue middeweg.
September wag reeds in die lokaal waar hulle twee dae gelede vergader het. Hy kom vinnig orent toe Carl ingestap kom. “Genoeg tyd gehad om deur al die dokumente te gaan?” wil hy weet.
Carl knik. “Ja, interessante leesstof, goeie agtergrond oor wapenhandel.”
“Dis vir ons ’n belangrike een dié. Dis nie aldag dat die CIA so swaar op ons samewerking steun nie.”
Carl hou van September. Hy lyk geesdriftig en na ’n deeglike kêrel. As jy ondergronds gaan, soek jy ’n vennoot wat jy met jou lewe kan vertrou. Benade, sy kontakman gedurende die dwelmsaak, was só ’n man, maar hy was ’n ou suurknol met geen humorsin nie. Tydens die dwelmsaak het Carl soms gesmag na iemand wat hom kon opbeur. Die lagplooitjies om September se oë dui op iemand met ’n meer ontspanne geaardheid. Carl het ook gehou van die gemaklike manier waarop hy die wapensaak verduidelik het, al was hy soms te langdradig na sy sin.
September haal ’n notaboekie uit sy binnesak, slaan dit oop. “Ek het twee onderwerpe waaraan ons aandag moet gee.” Hy druk sy groot bril reg. “Eerstens, jou nuwe identiteit. Jy is voortaan Carl Weideman. Ons het besluit om jou voornaam te hou. Dit maak dinge vir jou makliker. Indien ’n kennis jou raakloop in die teenwoordigheid van iemand wat jou as Weideman leer ken het, gaan die ‘Carl’ jou nie onmiddellik weggee nie.”
Carl knik. “Goeie idee. Dit was een van ons blapse met my vorige ondergrondse ondervinding.”
September lag. “Ek het dit in jou dwelmverslag opgetel. Jy het twee close encounters gehad.”
“Ek is beïndruk.”
“Gelukkig leer ons mettertyd uit ons foute. En jou dwelmverslag was vir ons ’n lekker kompas om dit uit te skakel.”
Hy stryk sy Hitler-snorretjie met sy voorvinger plat, druk weer sy bril met sy duim hoër op. “Om dit