heelwat ouer as hyself. Hy begin algaande dink dat hy Afrikaners oplei om vir vreemdelinge te werk.
Die staatsdiens was sedert Lord Milner se “Kindergarten”, die groepie Engelse wat hy ná die Anglo-Boereoorlog uit Oxford laat kom het om die landsadministrasie oor te neem, oorweldigend Engels. In 1925 was byna ’n derde van die staats-
amptenare Engels-eentalig. Op kantoor het die taal oorwegend Engels gebly, aan-
gesien die hoofamptenaar gewoonlik Engelstalig was.
In die sakelewe is van Afrikaners verwag dat, as hulle deel van die sake-elite wou word, hulle hul etniese bande moes versaak en Engels as kommunikasiemedium moes gebruik.
Baie Afrikaners het aangevoel dat Engelse op hulle neersien en hul taal en kultuur as minderwaardig beskou. Steeds was onder heelparty Engelse ’n gevoel vaardig wat tydens die Anglo-Boereoorlog, toe die Engelse koerante in Suid-Afrika oorwegend imperialisties-gesind en anti-Boer was, hoogty gevier het. Van die ergste jingoïsme het in die omgewing van Graaff-Reinet voorgekom.2
In die anti-Afrikaanse atmosfeer, wat ná die oorlogsbesluit van 1939 sou vererger, is byvoorbeeld lidmaatskap van die Rand Club geweier aan die briljante chemiese ingenieur dr. Hendrik Johannes van Eck, wat in Vanderbijlpark die hoeksteenlegger van die verdedigingspoging was. Hy was later die voorsitter van die Nywerheidsontwikkelingskorporasie en is as die vader van Suid-Afrika se nywerheidsrevolusie beskou.
Anton Rupert het al hoe sterker tot die oortuiging geraak dat die Afrikaners ’n eie staanplek in die sakelewe moet verwerf.
Die jaar toe hy begin klas gee, 1937, verskyn ’n nuwe Afrikaanse oggendblad, Die Transvaler, in Johannesburg. Anton doen aansoek om daar te gaan werk en voer ’n onderhoud met die redakteur, dr. H.F. Verwoerd. Ná ’n nag se oorweging
wys hy ’n redaksionele betrekking van die hand omdat Hendrik Verwoerd be-
klemtoon dat hy slegs deur middel van ’n korrespondensiekursus verder kon stu-
deer. Sy besluit om terug te gaan en verder te studeer, beskou hy mettertyd as een van die belangrikste vroeë besluite wat hy geneem het – een van dié “wat my altoos helder voor die gees staan”.
Anton het nie ’n goeie indruk van die latere eerste minister oorgehou nie. Hy meen Verwoerd het in die onderhoud voorgekom as ’n “onrustige mens; ’n bietjie outokraties en eiewys” – ’n indruk wat in sy latere botsings met Verwoerd korrek bewys is.
In 1938, die eeufeesjaar van die Groot Trek, vind die landwye opstuwing van Afrikanernasionalisme ook op die UP-kampus sterk neerslag. Die simboliese Ossewatrek is deur die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging gereël “om die nageslag te laat besef hoe hul voorouers met klein, eenvoudige ossewaens en met groot ontbering die beskawing die binneland ingedra het”. Op die hoogtepunt van die fees kom ’n paar honderdduisend mense op Monumentkoppie byeen.
Rupert, toe reeds ’n dosent in skeikunde, dien daardie jaar as voorsitter van sowel die buitemuurse Studente Verteenwoordigende Raad (SVR) as die buitemuurse studentetak van die Afrikaans-Nasionale Studentebond (ANS), gestig in 1933 en die voorloper van die latere landwye Afrikaanse Studentebond (ASB). Hy is ook lid van die ANS se nasionale hoofbestuur onder voorsitterskap van dr. Nic Diederichs. Teen daardie tyd ná Samesmelting was hy ’n Malaniet, ’n volgeling van Malan se Gesuiwerde Nasionale Party, die opposisie teen Hertzog en Smuts se regerende Verenigde Party.
Op die kampus heers onenigheid tussen die ANS en die National Union of South African Students (Nusas), die studentebeweging wat sterker aan Engelse universiteite was. Huberte vertel dat hulle “baie skimpende aanmerkings oor Voortrekkerdrag van Nusas-ouens” gehoor het. Sy sê toe vir vriendinne van haar: “Kom ons kry vir ons Voortrekkerrokke, dan gaan ons een dag almal as Voortrekkers klas toe om te wys ons is trots op dié drag.”
Hulle kon by die Volksteater Voortrekkerrokke leen, “want ek en Anna Neethling-Pohl was van daardie tyd af al vriende. Die dag wat ek gekies het, was toevallig die 14de September. Toe Anton met iemand daaroor praat – ek weet nie of dit Fritz Steyn-hulle was nie – toe sê hulle, maar besef julle dit is die dag waarop die universiteit honderd persent Afrikaans verklaar is? Toe vier ons dit sommer. Toe’s dit ons eerste Lentedag.” ’n Week of twee daarna op sy verjaardag, 4 Oktober 1938, woon Rupert saam met Wouter le Roux as SVR-afgevaardigdes in Bloemfontein die huldiging van Vader Kestell by. Hy word besiel deur die eerbiedwaardige kerkleier se boodskap: “’n Volk red homself.”
Daardie woorde van Kestell, versterk deur latere ervarings wat hom teen ’n loopbaan in die politiek laat draai, gee die deurslag om Rupert tot die sakelewe te laat toetree. Dit het hom in sy oortuiging gesterk dat Afrikaners selfversorgend moet wees en hulleself aan hul eie skoenrieme moet optrek – in sy eie geval dat hy hom tot kleinsake moet wend. Inderdaad het dr. J.D. Kestell, wat as prediker te velde die hele Anglo-Boereoorlog te perd op kommando meegemaak het, die inspirasie gebied vir die ekonomiese opheffing van die Afrikaner wat in die Reddingsdaadbond neerslag sou vind.
Op die trein terug na Pretoria stel Le Roux voor dat hulle die dag vier. Toe eers op so ’n beslissende dag in sy lewe onthou Rupert dat dit sy verjaardag is, en hulle klink daarop ’n glasie Witzenberg in die trein.
In die studenteblad Trek sluit Rupert sy voorsittersverslag vir 1938 soos volg met ’n woord van dank aan die studente af:
“U weet wat u roeping is en waarheen u wil. Laat die Universiteit die Voortrekkerstempel bestendig en wees aan die voorpunt van die Trek tot op die hoogtes.
“Ons van die geslag wat nou gaan plek maak vir die nuwes sal u doen en late met gespanne aandag volg en as ons oud is nog saam met dr. Kestell sê: ‘Ons hou van die vuur en ywer van die jeug want hulle voer ons mee!’ ”
Rupert neem aktief deel aan die Ossewatrek van 1938, wat ’n hoogtepunt bereik op die destydse Geloftedag, 16 Desember – die herdenking van die Slag van Bloedrivier, waar die Voortrekkers ’n oorwinning oor ’n Zoeloe-oormag behaal het nadat hulle ’n gelofte afgelê het.
Reeds ’n paar weke tevore reis Rupert en Fritz Steyn namens die Tukkiegemeenskap na Bulhoek om die geboortedag van pres. Paul Kruger op 10 Oktober, Krugerdag, saam met die trekgeselskap daar te herdenk. Volgens Ad Destinatum, gedenkblad van die UP, word by die geleentheid namens die studente ’n versoek tot die hoofleier van die Ossewatrek gerig om ’n wa wat as blywende besieling vir die studente kon dien. “Op die aand van 14 Desember het Henning Klopper (later speaker van die parlement) aan die menigte rondom Monumentkoppie buite Pretoria waar die Voortrekkermonument in aanbou was, meegedeel dat die wa Louis Trichardt aan die studente van die Universiteit van Pretoria ter bewaring toevertrou gaan word. Op die oggend van 17 Desember (die dag ná Geloftedag) het die studente die tweede Voortrekkereeu ingelui met die trek van die wa na die universiteit.”3
Ook op die universiteitskampus is die Voortrekkerfakkel brandend gehou wat van Jan van Riebeeck se standbeeld in Kaapstad na die onvoltooide fondamente van die Voortrekkermonument gedra is. Rupert herinner hom dat sy jonger broer Jan toe, as jong Voortrekker op besoek uit Graaff-Reinet, die fakkel moes vashou terwyl hy sy oopdakmotor so moes bestuur dat die fakkel nie doodwaai nie.
Die tradisie word gevestig dat die uittredende studenteraadsvoorsitter jaar ná jaar die versorging van die kakebeenwa aan sy opvolger oordra. In ’n oorkonde wat in Ad Destinatum afgebeeld is, teken Rupert as eerste sodanige voorsitter dat hy die wa – “teken van die adel en vryheidsdrang van ons voorouers” – oordra aan Hans Nel, wat “dit sal beskou en huldig as simbool van ons Afrikaanse verlede wat elke geslag van die jeug opkommandeer om Kristelik, eerbaar en eendragtig te stry vir die volle ontplooiing van die Afrikaanse nasie en moontlikhede in ’n vrye, magtige en regverdige Boerestaat”.
Rupert het boonop tydens die hoogtepunt van die Ossewatrek ’n koerant uitgegee, een wat weliswaar net vier dae bestaan het. Hy word die uitgewer, redakteur en reklameman van De Oude Emigrant, en die geskiedskrywer Gustav Preller die erehoofredakteur. Die naam is ontleen aan die eerste koerant in Transvaal, wat in 1859 op Potchefstroom in Nederlands verskyn het.
Die koerant, uitgegee in opdrag van die hoofbestuur van