het tot 25% aangegroei. Die skokke is wêreldwyd gevoel, ook in Suid-Afrika.
Hier te lande het plattelandse armoede vererger en verstedeliking versnel in die naweë van die Anglo-Boereoorlog. Teen 1900 was minder as 10% van die Afrikaners verstedelik; teen 1926 het dié syfer tot 41% aangegroei. En teen 1933, so bevind die Carnegiekommissie van ondersoek na die armblankevraagstuk, het die getal blankes wat as “baie arm” beskryf kon word, tot 300 000 toegeneem. Hierdie drievoudige toename van arm blankes sedert 1921 se geskatte 106 000 verteenwoordig sowat 30% van alle Afrikaners en sowat 17% van die wit bevolking van 1 800 000.
Die verstedelikte armes was in groot mate van welsynorganisasies afhanklik; diegene op die plase het in gehawende armoede geleef, ook weens die Groot Droogte van 1933-’34. Vir die mense van Graaff-Reinet, destyds ’n groter dorp as Stellenbosch, wat reeds met ’n universiteit kon spog, was dit buitengewoon moeilike tye. Verskeie boere van die distrik, soos boere elders in die land, is gedwing om na die stede te trek; in die Oos-Kaap meesal na Port Elizabeth. In die stedelike omgewing moes baie vroue hul gesin onderhou deur ’n losieshuis te bedryf.
Die Depressie het ’n ingrypende uitwerking op die jong Rupert se toekomsplanne gehad. Die enigste mediese fakulteite van destyds, aan die universiteite van Kaapstad en die Witwatersrand, was te duur. Sy vader se jaarlikse inkomste het in die depressiejare van £3 000 tot £120 gedaal, deels ook omdat eksekuteurskamers ’n aansienlike deel van prokureurs se inkomste weggeneem het. Die gesinsmotor moes ’n paar jaar in hul motorhuis toegesluit word.
Die ekonomiese knyptang waarin Suid-Afrika beland het, is hagliker gemaak deur die Hertzogregering se vasbeslotenheid om die goudstandaard te handhaaf. Juis omdat hy voorsien het dat die regering die goudstandaard sou moet laat vaar, het Anton op sestienjarige leeftyd sy eerste saketransaksie onderneem, soos hy dit self beskryf.
Engeland het die pond in 1931 gedevalueer, maar Suid-Afrika as goudproduserende land het nie gevolg nie. Dit het die Depressie verhewig, want uitvoerprodukte het tot 30% duurder geraak. In pond sterling was Australiese wol ná daardie land se devaluasie omtrent 40% goedkoper as Suid-Afrikaanse wol. Die Suid-Afrikaanse mynhuise het goud in pond sterling verkoop en kon die opbrengs in die buiteland hou. Geld het die land uitgevloei namate al hoe meer teen die Suid-Afrikaanse pond gespekuleer is.
Anton, oortuig dat Suid-Afrika van die goudstandaard gaan afstap, smeek sy vader om sy pondnote vir goue ponde om te ruil. Die ouer Rupert staan egter vas, want hy het die minister van finansies, Klasie Havenga, as ’n man van sy woord vertrou.
Die kapitaaluitvloei, vererger deur die opportunistiese Tielman Roos se dramatiese terugkeer tot die politiek vanaf die regbank, dwing Havenga oplaas om op 28 Desember 1932 aan te kondig dat Suid-Afrika die goudstandaard laat vaar.
Op Graaff-Reinet erken Anton se vader dat sy seun gelyk gehad het. Hy wys na sy brandkas waarin sewe goue ponde gelê het: “Jy kan dit vat; jy verdien dit.” Elke goue pond was 27 pleks van 20 sjielings werd – ’n welkome meevaller vir ’n jong aspirantstudent wie se eerste jaar op universiteit £100 sou kos.
Nogtans was sy planne om medies te studeer voorlopig van die baan. Anton skryf hom gevolglik begin 1934 vir ’n B.Sc.-kursus aan die Universiteit van Pretoria in. Dit is ’n keerpunt in sy lewe, waaroor hy agterna gesê het: “Ek het die Voorsienigheid dikwels dankie gesê vir dinge wat ek nie gekry het nie toe ek dit wou gehad het.”
Hoofstuk 4
Student in die depressiejare
Vroeg in 1934, midde-in die Groot Depressie, vertrek Anton Rupert na Pretoria die Jakarandastad, ’n ontluikende Afrikaanse studentesentrum en ook die administratiewe hoofstad van Suid-Afrika waar hy die land se bekendste politieke figure sou teenkom.
Op 26 Februarie skryf hy sy naam as ’n B.Sc.-student in sy eerste jaar neer in die registrasieboek van die Universiteit van Pretoria (UP), die alma mater waarvan hy uiteindelik die kanselier sowel as die Oud-Tukkie van die Eeu sou word.
Sy besluit om in Pretoria eerder as aan die ouer universiteite van Stellenbosch of Kaapstad te studeer, hou regstreeks verband met sy liefde vir Afrikaans. Toe hy in 1933 in ’n koerant lees dat die stadsraad van Pretoria weens die Afrikaanswording van die UP sy spesiale jaarlikse bydrae van £2 500 tot die inrigting teruggetrek het, besluit hy dat hy dáár moet gaan studeer, synde ’n leerling aan Kaapland se eerste Afrikaansmedium-hoërskool en dus ook lid van die eerste geslag in Kaapland wat volledig in Afrikaans opgelei is. Naderhand, sê hy self, was hy bevoorreg om in die eerste M.Sc.-klas in skeikunde te sit wat Afrikaans as voertaal gehad het.
Jare later terwyl hy in die direksie van die Reserwebank gedien het (1971-’92), kom hy agter dat een van sy mededirekteure, E. O’Connell Maggs, die seun is van ’n voormalige raadslid van die UP, Charles Maggs, wat as gevolg van die destydse gebeurde in die raadsverkiesing uitgestem is. Maggs sr., ’n prominente Pretoriase sakeman en jare lange donateur wat een van die twee verteenwoordigers in die raad van die donateurs van die UP was, was ’n voorstander van tweetaligheid en gekant teen die gedagte van ’n eksklusief Afrikaanse universiteit, daarom is hy uitgestem. Toe Rupert vir Maggs jr. daarop wys dat die stadsraad se besluit die regstreekse oorsaak daarvan was dat hy aan die Afrikaanstalige universiteit gaan studeer het, kon hulle maar net lag oor die gebeurde van lank tevore.
In sy eerste jaar, bedoel om toelatingskwalifikasies vir ’n kursus in die medisyne aan een van die ander universiteite te verwerf, gaan Rupert in die manskoshuis Sonop tuis. Die jaar daarna is hy in Buxton en in sy derde jaar keer hy terug na Sonop, waar een van sy studentevriende, dr. Hilgard Muller, ’n latere minister van buitelandse sake, in ’n kamer langs hom tuis gaan.
Soos ander eerstejaarstudente word hy aan ’n ruwe ontgroening onderwerp wat tien dae lank duur. Die eerstejaars, wat met min slaap moes klaarkom, is snags “gedop” – uit hul beddens gegooi. Daarby moes hulle as deel van die ontgroeningsproses met elke hand ’n baksteen optel totdat hulle nie meer kon nie. Hulle moes ook van die koshuis na die Uniegebou hardloop om die trappe te gaan tel. En hulle moes met ’n pennie van die seniors na die stasie hardloop om vuurhoutjies te gaan koop. Toe Rupert teruggestuur word om nog ’n dosie te koop, klop hy aan by die huis van dr. G. von W. Eybers, die Graaff-Reinetse skoolhoof wat intussen na Pretoria verhuis het, en leen geld. Daarmee koop die jong entrepreneur ’n hele klomp vuurhoutjies en gaan op die sportveld slaap voordat hy terugkeer, gereed om nog vuurhoutjies te gaan haal as hy weer so ’n simpel opdrag moet uitvoer. Die laaste strooi van die doopritueel was dat die groentjies deur ’n vol watersloot moes kruip waarvan vertel is dat doringdraad daarin weggesteek is.
Aan die einde van die ontgroening was twee eerstejaars in die hospitaal en ’n derde een in ’n gestig. Die gevolg is dat die rektor, prof. A.E. du Toit, op 7 Maart 1934 van eenuur daardie middag alle ontgroening in die koshuise summier stopsit. ’n Komitee van dosente en studente is aangestel om die hele kwessie te ondersoek. Ontgroening gegrond op “fisieke uitputting” en in die nagtelike ure word daarna verbied.
Midde-in die hardhandige mishandeling en slapelose nagte lê Rupert die eerste keer in sy lewe ’n intelligensietoets af en vaar so goed dat hy ’n beurs van £40 per jaar vir sy driejarige kursus ontvang – nog welkome hulp.
Hy is spoedig aktief in die studentelewe op ’n kampus waar die studentetal weens die Depressie gedaal het. In 1930 was daar nog 1 074 studente, maar die getalle het in die depressiejare afgeneem en eers weer in 1936 die duisendkerf verbygesteek. In Rupert se eerste jaar is daar in die tweede semester in Pretoria slegs 829 studente, binne- en buitemuurs, plus nog 25 in Johannesburg. Oor die algemeen het die studente op die Pretoriase kampus mekaar goed geken.
Anton is reeds ’n senior student toe hy ’n meisie ontmoet wat vorentoe ’n baie groot rol in sy lewe sou speel. Haar naam is Huberte Goote.
Hy kom van dié aanvallige medestudent te hore by ’n vriend, Colijn van Bergen, ’n student in die entomologie wat op die lemoenplaas Zebediela begin werk het voordat hy hom later ook as medikus bekwaam het. Hy vertel Anton van die “oulike meisie” terwyl hulle in sy motor sit en gesels voor die huis van Fritz Steyn, waar Anton daardie tyd ingewoon het. F.S. (Fritz) Steyn, skrywer van die vermaaklike toneelstuk Die wildsboudjie