wat aan hulle opgelê en skadevergoeding wat van hulle geëis is, juis terwyl die armblankeprobleem ná die Anglo-Boereoorlog steeds vererger het. Voortspruitend uit die Helpmekaar se eerste insamelingsveldtog, wat spoedig ’n kwartmiljoen pond opgelewer het, is op 22 November 1916 op Cradock, buurdorp van Graaff-Reinet, ’n volkskongres oor armoede belê – dus in die jaar dat Anton gebore is. Dit blyk dat daar 105 518 hulpbehoewendes is, van wie 39 021 “dood armen” en dat van die land se 280 000 kinders ’n kwart, 72 000, nie op skool is nie.
Hoewel die kongres weinig vermag het om die verarming te stuit, word die Helpmekaarbeweging een van die heel belangrikste lanseerplatforms om Afrikaners se ekonomiese selfstandigwording aan te vuur. Uit die monstering van Afrikanerkapitaal tydens die Eerste Wêreldoorlog spruit ook die stigting van sommige groot Afrikanerondernemings wat suksesverhale geword het, by uitstek die mediamaatskappy Nasionale Pers (later Naspers) in 1915 en die versekeringsreuse Sanlam en Santam daarna in die loop van 1918, ook die stigtingsjaar van die Koöperatiewe Wijnbouwersvereniging van Zuid-Afrika Beperkt (die KWV). Van hierdie ondernemings sou in Anton Rupert se lewe ’n rol speel, terwyl hy ook later by die Helpmekaar Studiefonds betrek is.
Een van die groot dryfkragte agter die Helpmekaarvereniging was ds. J.D. Kestell, wat ook mettertyd ’n deurslaggewende invloed in die jong Rupert se lewe sou uitoefen. Kestell het die begrafnisdiens gelei van oudpres. Steyn, wat aan die voet van die Vrouemonument in Bloemfontein begrawe is nadat hy in sy laaste toespraak op sy sterfdag op 28 November 1916 in die Gedenksaal van Bloemfontein gesê het: “Die Helpmekaar is uit God gebore.”
In Anton Rupert se jeugjare op Graaff-Reinet woon verskeie bruin mense, destyds stemgeregtig, op die taamlik kosmopolitiese dorp; in Cradockstraat was daar 25 huise van gekleurdes. Die verwydering van gekleurdes uit middedorpe van plekke soos Graaff-Reinet en Stellenbosch ingevolge die Groepsgebiedewet sou vir hom een van die groot dwaashede van die NP bly.
Sy moeder, mev. Hester Rupert, een van tien kinders, was ’n sorgsame, lieftallige vrou wat “die familie bymekaargehou” en ’n groot invloed op Anton gehad het. Hy het meermale lewensriglyne aangehaal wat hy van haar ontvang het, soos: “Wat help dit om die wêreld te oorwin en jou siel te verloor?” En: “Werp jou brood op die water, en na vele dae sal dit na jou terugkeer.”
Sy moeder het volgens alle verslae baie vir haar medemens omgegee, en op haar begrafnis in 1944 kom ’n bruin vrou na haar skoondogter Huberte Rupert en sê dat sy “baie vir ons mense gegee het”.
Ná dr. D.F. Malan se vertrek uit Graaff-Reinet word mev. Hester Rupert in 1915 die sekretaresse van die vereniging Jong Zuid-Afrika. Die vereniging, aanvanklik genoem Zonen van Zuid-Afrika omdat dit as teenvoeter vir die Sons of England ’n gemeenskaplike Suid-Afrikaanse patriotisme wou bevorder, het sy naam in 1912 verander toe vroue ook toegelaat is. Die doelstellings is tweërlei: eerstens die aankweking en versterking van ’n nasionale gees en ’n liefde vir die vaderland en die geskiedenis, en tweedens die handhawing en ondersteuning van die Hollandse taal en die bevordering van die stoflike en geestelike belange van die volk. Jong Zuid-Afrika se bestuur het mettertyd kant gekies teen die destydse premier, Louis Botha, en almal het ondersteuners van Hertzog en die NP geword.
Mev. Rupert se vader, mnr. Jacobus Albertus (Oom Kootjie) van Eeden, ’n Kaapse patriot en ’n medestigter van die Afrikanerbond van J.H. (Onze Jan) Hofmeyr, die eerste politieke party in die land, het eweneens ’n groot invloed op sy kleinseun Anton uitgeoefen. Tot sy dood op 84-jarige leeftyd het hierdie oupa aan moederskant, ’n suksesvolle boer wat op sy plaas, Gannavlakte, 500 morge landbougrond onder besproeiing gehad het, dikwels met sy kleinseun landsake bespreek.
Oom Kootjie, wat soos sy dogter Hester ook in 1944 oorlede is, is ’n afstammeling van een van die oudste Nederlandse families in Suid-Afrika. Die stamvader van die Van Eedens, Jan Janse van Eeden (Jan van Oldenburg), het in 1662 in Suid-Afrika aangeland en mettertyd op die plaas Kromme Rivier (waarvan die latere Bergzicht ’n deel was) by Stellenbosch geboer. Van moederskant is Anton Rupert ’n Suid-Afrikaner uit die negende geslag.
Oom Kootjie het ’n veelbewoë geskiedenis gehad. Hy beskryf dit in ’n geskrif wat hy nagelaat het, en wat hy afsluit: “Wat ’n lewe van moeite, sorg en kommer – dit is maar als ’n droom.”
Sy vader is op Somerset-Oos oorlede toe hy nege jaar oud was, en hy en sy suster was vaderloos. Hy word toe, soos hy dit in die geskrif stel, “as wild en ontembaar van natuur aan ’n ryk boer, ene C. Buys, as ingeboekte gegee”. Hy moet daar met drie ander seuns hout kap om stene vir ’n waterleivoor te brand. “Waarlyk dit alles laat ’n mens dink aan die Israeliete by Farao in Egipte,” merk hy op.
Hy moet ook ’n plaasskool bywoon voordat hy ná vyf jaar teruggaan na sy moeder, wat intussen met ’n gegoede boer van Jansenville, C.J. Grobler, getroud is. Op die plaas word hy ingespan as bokwagter, maar hy loop weg om in die grensoorlog te gaan veg. Nadat hy gewond is, word hy transportryer totdat hy in die huwelik tree met Anna Gertruida Lötter, ook ’n weeskind. Hulle koop vee met spaargeld wat hy verdien het, en hy gaan ’n paar gewaagde spekulasies met grond aan wat hom “’n groot stoot” gegee het.
Ná 14 jaar koop hy Gannavlakte, ’n plaas aan die Sondagsrivier in die distrik Jansenville, vir £3 250 aan. In teenstelling met die latere waternood in die dorre Karoo kon destyds volop water vir besproeiing uit die rivier gepomp word. Dit stel hom in staat om ’n groot boerdery te behartig. Op die plaas was daar volgens sy oudste kleinseun, dr. O.R. (Boy) van Eeden, destydse hoof van Geologiese Opnames in Pretoria en ’n neef van Anton, ’n vrugteboord en wingerde, ’n smidswinkel, ’n brandewynstokery, ’n koringmeul, skaaptroppe en volstruise, waarvan die vere in die begin van die twintigste eeu hemelhoë pryse opgelewer het.
Sedert 1884 neem Oom Kootjie aktief aan die politiek deel, onder meer 22 jaar as voorsitter van die distriksbestuur van die Afrikanerbond, en hy is ook assistentveldkornet, voorsitter van die skoolkomitee, ouderling in die kerkraad en lid van die runderpes- en die brandsiektekomitee.
Hy word in die Anglo-Boereoorlog, waarin sy simpatie sterk aan Boerekant lê, ’n ruk op Port Alfred geïnterneer. Dit gebeur terwyl die oorlog teen die Brits-imperiale oormag teen die einde in groot mate in Kaapland woed as gevolg van invalle uit die Boererepublieke Transvaal en die Vrystaat.
Sy twee oudste seuns, Frederick (Frik) en Francois (Soois) – ouer broers van mev. Hester Rupert – het hulle op 7 Maart 1901 as jong seuns by die verbytrekkende Boerekommando van kmdt. Willem Fouché aangesluit. Ná ontberings op kommando het hulle hulle aan die Engelse kolonne oorgegee. As Kaapse rebel is die 17-jarige Soois op Graaff-Reinet deur ’n krygshof skuldig bevind aan hoogverraad, strafbaar met die dood, maar hy is deur lord Kitchener begenadig en tot ’n jaar tronkstraf gevonnis. Die Vrede van Vereeniging op 31 Mei 1902 bevoordeel hom, want ná net ses maande in die tronk op Grahamstad word ’n vry spoorwegpas op 26 September 1902 aan hom uitgereik en kon hy huis toe gaan.
Die jongste seun van die Van Eedens, hul vierde seun, is op 27 Maart 1901 gebore. In die naweë van die oorlog wat uiteindelik as die begin van die einde van Britse imperialisme beskou sou word, word hy met die enkele naam Smartryk gedoop. Sy naam verwoord die emosies van duisende Afrikaners, ook in die Kaapkolonie, wat gely en in armlastigheid verval het as gevolg van die konflik. Vir sulke Afrikaners, ook in Oos-Kaapland, was die oorlog ’n ramp. Honderde het op die rand van hongersnood gestaan. Boonop het die Britse regering se karige aanbod van £3 miljoen skadevergoeding aan die einde van die oorlog verdere bitterheid veroorsaak. Louis Botha, die eerste premier ná Uniewording in 1910, wat ’n aanbod van £900 vergoeding vir £20 000 se oorlogskade ontvang het, het die tjek teruggestuur.
Oom Kootjie, hoewel sonder veel boekgeleerdheid, is as ’n leier en raadgewer in die gemeenskap aanvaar. Hy en die predikant van Jansenville het meermale die sportbyeenkomste toegespreek wat ná Uniewording in 1910 jaarliks op Uniedag, 31 Mei, op die plaas De Toekomst van ’n welgestelde boer, mnr. P. Weyer, gehou is. Wyse woorde van Oom Kootjie, aanduidend van die kaliber van ’n oupa wat Anton Rupert in sy vormingsjare leer respekteer het, word soos volg in ’n koerantberig aangehaal: “. . . the common fault on the sportsground, as well as in life, is to look at the man who is behind you. If we could keep the man in view who is