Willowmore grootgeword het. Strijdom se oom het hom nadat hy sy regstudie op Stellenbosch voltooi het, na Graaff-Reinet gebring om die moontlikheid van ’n klerkskap in Rupert se praktyk te bespreek. Rupert meen egter dat Graaff-Reinet se moontlikhede te beperk is en raai hom aan om sy geluk in Transvaal te beproef. Strijdom aanvaar klaarblyklik die raad en vertrek na Pretoria, van waar hy na Nylstroom verhuis en bekend word as die Leeu van die Noorde.
Jare daarna, voordat Strijdom die premierskap oorgeneem het, besoek hy Anton Rupert op Stellenbosch. Strijdom, in die jare vyftig Transvaalse leier van die Nasionale Party, wou van dr. D.F. Malan, toe aan die hoof van die regering, wegbreek omdat hy oor die koms van ’n republiek met hom verskil het. Rupert stap twee keer saam met die vurige Strijdom om sy huis en oortuig hom dat hy geduldig moet wees; sy kans as leier sal kom. Strijdom neem daarna wel oor by Malan, maar word siek en sterf in die tuig.
John Rupert is ook die sekretaris en sy vrou ’n bestuurslid van die Hollandse Letterkundige en Toneel Vereniging op Graaff-Reinet, waarvan die ondervoorsitter dr. B.B. Keet is – die teoloog Bennie Keet wat aan die Stellenbosse Kweekskool bekendheid met sy afwysing van apartheid verwerf. Hierdie drietal se name word vermeld in ’n brosjure oor ’n tentoonstelling van “oud- en aardighede” wat op 31 Augustus 1918 op die dorp gehou is. Verskeie inwoners het vir die tentoonstelling bydraes van antieke meubels en gebruiksware en ander besittings gelewer. Anton se latere belangstelling in oudhede is waarskynlik vroeg reeds geprikkel.
John Rupert raak ook in die politiek bedrywig as sekretaris van die eerste tak van die Nasionale Party wat ná genl. J.B.M. Hertzog se opsienbarende De Wildt-toespraak van 7 Desember 1912 op die dorp gestig is. Hertzog het algaande al hoe sterker met genls. Louis Botha en Jan Smuts se konsiliasiepolitiek en hul sienings van die taalkwessie verskil. Wanneer imperialisme in botsing met die belange van Suid-Afrika kom, is hy ’n “besliste teenstander” daarvan en stel hy Suid-Afrika eerste, verklaar hy. As gevolg van sy onwrikbare standpunt laat Botha hom uit die eerste Uniekabinet weg en stig Hertzog, die Vrystaatse regter en oorlogsheld, ’n nuwe party, die Nasionale Party. In 1913 veroorsaak Hertzog, wat Suid-Afrika se langs dienende eerste minister sou word, op ’n Stellenbosse taalfees ’n opskudding toe hy ’n telegram van oudpres. M.T. Steyn, ’n reusefiguur in die Suid-Afrikaanse geskiedenis, voorlees waarin aangehaal word: “Die taal van die veroweraar in die mond van die verowerde is die taal van slawe.”
Die NP groei tot die sterkste party op Graaff-Reinet namate ondersteuners van Botha en Smuts se Suid-Afrikaanse Party na die nuwe party oorloop. John Rupert se vrou, Hester, word die voorsitter van die vrouetak van die party, wat in 1924 die bewind sou oorneem.
John Rupert se stokperdjies is die digkuns en bestudering van tale; hy kon nege tale lees. Hy begin op 70-jarige leeftyd Frans studeer en kon spoedig klassieke werke daarin lees. Hy het egter nooit in die buiteland gereis nie, en kon in sy studiejare ook nie ’n studiebeurs na Nederland benut nie.
Hy tree op in verskeie druk bespreekte hofsake, waarvan sommige uit die Rebellie van 1914 tydens die Eerste Wêreldoorlog gespruit het.
So verskyn hy vir twee koerantredakteurs, onderskeidelik van sy tuisdorp se Onze Courant en Aberdeen se Nuwe Tijd, toe hulle aangekla word van sedisie weens berigte oor genl. Manie Maritz, wat met sy troepe na die Duitsers oorgeloop het. Die klagtes van sedisie, strafbaar met die dood, is teruggetrek. Hy verdedig nog ’n keer Onze Courant se redakteur, J.A. (Sambok) Smith, later ’n leiersfiguur in die Ossewa-Brandwag, toe ’n saak teen die koerant aanhangig gemaak word weens ’n berig dat die Britse lugmag bomme op stede van ’n neutrale land gegooi het. Die berig blyk waar te wees en ook hierdie aanklag word teruggetrek.
Rupert tree ook meermale op vir gekleurdes van die omgewing in hofsake, by geleentheid pro bono – in ’n tyd toe so iets in konserwatiewe wit gemeenskappe soos dié op Graaff-Reinet skepties bejeën is. Bruin mense van die dorp het graag na hom as die Groot Seur verwys; later het sy seun Anton die Klein Seur geheet.
Onder sy goeie vriende en kliënte tel ook die NG pastoriepaar, ds. Jozua Francois Naudé, medestigter van die Afrikaner-Broederbond (AB), die geheime organisasie wat as teenvoeter vir die Vrymesselaars en Sons of England gestig is om Afrikanerbelange te bevorder, en mev. Ada Naudé. Die egpaar was die ouers van die latere anti-apartheidstryder dr. C.F.B. (Beyers) Naudé en dogters genaamd Ligstraal, Hymne en Vryheidster. Beyers Naudé is genoem na kmdt. genl. Christiaan Frederick Beyers, die Boeregeneraal onder wie sy vader in die Anglo-Boereoorlog geveg het en wat in die Rebellie van 1914 in die Vaalrivier verdrink het.
Ds. Naudé, eerste president van die AB, was ook die voorsitter van die beheerraad van die Hoër Volkskool op Graaff-Reinet, die eerste Afrikaansmedium-hoërskool in Kaapland. John Rupert was medestigter en 21 jaar lank eresekretaris van die beheerraad van die skool, waar Anton sou matrikuleer. Hy verset hom in een stadium manalleen, en suksesvol, daarteen dat Latyn, wat hy as ’n noodsaaklike fondament vir taalonderrig beskou, aan die skool afgeskaf word.
Reeds in 1922, ’n jaar voordat Boetie Rupert begin skoolgaan, betrek die Hoër Volkskool – met as leuse Ons Sal Handhaaf – die statige gebou van die Midlands Seminary. Die hoof, dr. G. von W. Eybers, wat sy doktorsgraad in Londen verwerf het, voel sterk oor moedertaalonderrig. Hy begin al in 1919 in Afrikaans pleks van Nederlands klas gee. Dit ontketen ’n opvoedkundige taalstryd op die dorp wat lei tot die stigting van die Union High School, ’n Engelsmedium-kosskool wat die Springbokvleuel Chum Ochse onder sy oudleerlinge tel.1
Kerklike verdeeldheid ontstaan ook oor die taalkwessie nadat ds. Naudé, een van die ses Bittereinders wat aan die einde van die Anglo-Boereoorlog by die Vrede van Vereeniging geweier het om die akte van oorgawe te onderteken, as nuwe NG leraar sy intreepreek in 1921 in Afrikaans lewer. Beswaardes, onder wie heelparty wat Nederlands as die geskikte taal vir die kerkdiens beskou, protesteer heftig teen die gebruik van “Kitchen Dutch” in die Groot Kerk van die Murrays. Een Sondag speel die orreliste, Amy Asher (gebore Murray), selfs ná die erediens “God save the king” op die orrel van die indrukwekkende Gotiese kerkgebou. Die NG gemeente skeur oplaas en die Nuwe Kerk word afgestig.
Anton Rupert se eggenote, Huberte, vertel in ’n onderhoud dat haar skoonvader tydens ’n aanrandingsaak waarin hy vir die eggenote van ’n vriend opge-tree het, kliënte verloor het, want mense het hom kwalik geneem dat hy haar verdediging help behartig het – ’n voorteken van die lojaliteitsbeginsel wat in die latere sakeman se loopbaan so swaar sou weeg.
Toe Anton se pa in 1961 sterf, “het Anton gedink hy gaan vir Beyers Naudé vra om sy pa te begrawe,” sê Huberte. Dr. Naudé het ingewillig en die begrafnisdiens van die 73-jarige John Peter Rupert in die Groot Kerk op Graaff-Reinet gelei. Dr. Naudé, toe leraar van die NG gemeente Aasvoëlkop in Johannesburg, het van die kansel vertel dat hy as kind dikwels boodskappe van sy vader se pastorie na die oorledene moes neem en dat hy deur sy “opregte beskeidenheid, ware volksliefde, ruimheid van visie en sin vir regverdigheid” getref is.
John Rupert ontmoet sy eggenote, Hester Adriana van Eeden, van wie hy ’n broer geken het, op die trein van Port Elizabeth na Klipplaat, ’n spoorweghalte naby haar vader se plaas in die distrik Jansenville. Hulle trou in Desember 1915, en ’n jaar later word Anton in hul kliphuis in Cradockstraat 110 op Graaff-Reinet gebore. Die oorspronklike geboortehuis bestaan nie meer nie; die tennisbane van die Laer Volkskool is daar gebou. Die gesin verhuis mettertyd na Cradockstraat 84, waar hulle regoor dr. Karl Bremer, later minister van gesondheid in die Malanregering, woon.
Anton Rupert se geboorte val midde-in die Eerste Wêreldoorlog, wat op 4 Augustus 1914 uitgebreek het. Teen daardie tyd was die groter eensgesindheid in Suid-Afrika ná Uniewording in 1910 ook verby, en die land weer eens verdeeld oor Botha en Smuts se besluit om Duits-Suidwes-Afrika (vandag Namibië) binne te val en dus aan die kant van die gehate Britse empire te veg.
’n Rebellie breek uit nadat genl. Manie Maritz hom by die Duitse magte aangesluit het. Hoewel die Rebellie van 1914 gestuit word, neem verset teen Botha en
Smuts se konsiliasiepolitiek toe, veral nadat Hertzog met sy toespraak op De Wildt die meesleurende beleid Suid-Afrika Eerste verkondig het. Op die koop toe haal Smuts se teregstelling van die rebelleleier Jopie Fourie hom bittere verwyte op die hals wat hom sy lewe lank