met sy siening van deelgenootskap gaan maatskaplike verantwoordelikheid, wat hy as een van die drie groot verpligtinge van ’n suksesvolle sakeonderneming beskou. Dit geld vir medebestaan tussen mens en mens, maar daarbenewens medebestaan tussen mens en natuur, die filosofie waarmee hy uiteindelik as bewaringsbewuste weldoener die konsep van vredesparke, ofte wel oorgrensparke, dwarsoor internasionale grense voer. Vredesparke – met as wenslike voorvereiste vrede tussen volke en nasies, sodat bedreigde spesies veilig sou kan voortbestaan ondanks ’n menslike bevolkingsontploffing wat die biologiese kringloop bedreig – word ’n dwingende visie wat Rupert tot in sy tagtigerjare dag-in en dag-uit na sy hoofkantoor terugbring.
In Millenniapark op Stellenbosch beywer hy hom met die energie van ’n veel jonger man vir die ontwikkeling van transnasionale wild- en natuurparke wat multilaterale samewerking tussen regerings van verskillende lande verg.
Vredesparke is miskien die verbeeldingrykste projek wat die weldoener Rupert aanpak in ’n lang sakeloopbaan wat hy aan vele fronte ten bate van die gemeenskap aangewend het.
Die Ruperts verskyn op die saketydskrif Forbes se lys van die wêreld se 500 rykste mense, die miljardêrs met geskatte bates van meer as 1 000 miljoen Amerikaanse dollar. Naas die Ruperts lys Forbes net een ander familie uit Afrika: die Oppenheimers, erfgename van die Suid-Afrikaanse mynmagnaat sir Ernest Oppenheimer en sy seun Harry.4
Die vernaamste verskil tussen dié twee Suid-Afrikaanse families, wat albei enorm tot die ontwikkeling van hul land sowel as gemeenskapsorg bygedra het, is dat Rupert met feitlik niks begin het om ’n internasionale sakeryk op te bou en ook nie op die basis van sy land se oorvloedige mineralerykdom staatgemaak het nie. In die media loop sy reputasie van die “Koning van Luukse” tot die “Geheime Bemarkingsreus”, die “Skaam Koning van Snob-rokers” en die “Ware Heer van die Sakewêreld”.
Die chemiestudent wat met ’n eie belegging van net £10 ’n internasionale maatskappyegroep begin het wat hom ’n wêreldbekende entrepreneur sou maak, word verbind met van die bekendste internasionale handelsmerke, die fondament waarop sy sakeryk gebou is. Van Cartier, die “koning van juweliers en die juwelier van konings”, tot die luukse goedere van Alfred Dunhill; van Mont Blanc se stylvolle vulpenne tot die oudste Switserse horlosiemakers val onder Richemont, die internasionale arm van die Rupert-sambreel. Dit is voorafgegaan deur die wêreldwye vestiging van ’n ketting van tabakbelange onder die vleuels van Rembrandt en Rothmans sowel as die produksie van die bekendste Suid-Afrikaanse wyne en spiritualieë.
Daarby ontwikkel Anton Rupert in sy loopbaan tot ’n man vir alle seisoene, met aktiewe belangstellings buite die sakelewe: bewaarder van sy land se historiese erfenis, beskermheer van die kunste; rigtingwyser op politieke mynvelde; weldoener wat ander help om hulleself te help . . .
Tog, ondanks die mediablootstelling wat met sy openbare optredes gepaardgaan, bly hy ’n intens private persoon; iemand wat nie geredelik media-onderhoude toestaan nie en wie se private lewe soos sommige van sy groot saketransaksies dikwels in geheimsinnigheid gehul is.
Rupert se rustelose gees en sy alsydigheid is bewonderend opgesom deur die digter Dirk Opperman, wat hierdie “Prins van die Handel” beskryf as iemand wat die handel, wetenskap en kuns kon versoen.5
Uit sy veelsydigheid spruit ook sy belangstelling in die natuur en dierelewe, die grondslag waarop die idee van vredesparke ontwikkel.
Die Vredesparkstigting, met Rupert as die eerste voorsitter, het as emeritusbeskermheer oudpres. Nelson Mandela, ’n ikoon van die twintigste eeu, wat graag na Rupert as sy “ouer broer” verwys.
Agt staatshoofde van lande in Suider-Afrika is erebeskermhere van die stigting, wat oorgrensparke stig en ontwikkel. Rupert beskou dit as ’n katalisator, ’n begrip wat hy met sy agtergrond as skeikundige telkemale in sy lang loopbaan gebruik – ’n stof wat sonder om self ’n verandering te ondergaan ’n verandering in ’n ander stof bevorder.
Die Vredesparkstigting se fondse, hoofsaaklik verkry van private individue en instansies en groot multinasionale maatskappye, word aangewend om die transnasionale bewaringsgebiede uit te bou, maar ook om mense in die toerisme- en dienstebedryf sowel as veldwagters op te lei.
Vir ’n wêreld met krimpende hulpbronne kan Afrika met sy wye, steeds onbewoonde ruimtes ’n laaste toevlugsoord vir ’n onvervangbare dierelewe en ongerepte natuurskoon wees. Dit is waarom Rupert die idee van vredesparke begin koppel het met nasionale parke.
Boonop kan wild- en natuurbewaring as die basis dien om baie Afrikalande se armoede en werkloosheid teen te werk. Want daarmee hang saam die wêreld se grootste bedryf, toerisme, wat op die konflikgeteisterde kontinent nog ligjare ver van sy groot potensiaal ontgin is.
Hy kon dit beleef dat ses vredesparke regstreeks met sy vaderland verbind word slegs enkele jare nadat die projek beslag gekry het. Die “Afrikasafari” as ’n gesogte toeristebestemming word reeds aanmerklik uitgebrei met hierdie sestal transnasionale parke en bewaringsgebiede wat by Suid-Afrika aansluit en waaroor ooreenkomste met die onderskeie regerings onderteken is.
Saam met twee ander vredesparke in Suider-Afrika sal die agttal, met hul rykdom van wild en natuurlewe, sowat 60 miljoen hektaar beslaan. Daarby is ’n verdere veertien oorgrens-bewaringsgebiede in Suider-Afrika geïdentifiseer om oor die volgende dekade ontwikkel te word. Die 22 vredesparke sal meer as 100 miljoen hektaar dek, so groot soos Frankryk, Duitsland en Spanje tesame.
Die idee van vredesparke groei steeds, met belangstelling van elders in die wêreld, soos die gedemilitariseerde gebied tussen die Koreas, die bergpark Mont Blanc, Suid-Amerika en elders.
Verreweg die omvangrykste van die projekte waarby Suid-Afrika regstreeks betrokke is, is Groter Limpopo, die wildpark wat die grootste diereryk ter wêreld kan word. Die wêreldbekende Krugerwildtuin sal aansluiting vind by drie nasionale parke in Mosambiek en met die Gonarezhou- nasionale park in Zimbabwe. Die beoogde vredespark, vier keer so groot as die reeds aansienlike Krugerwildtuin, sal ’n versameling van Afrika se diere, voëls, visse, plante en bome huisves wat ongeëwenaar in die wêreld sal wees. Met hierdie transnasionale park, wat oor die grense van drie lande strek, word beoog dat dit aanvanklik 35 000 km2 sal beslaan wat uiteindelik tot 100 000 km2 kan aangroei – groter as Portugal, Hongarye of Oostenryk.6
Grootwild is reeds uit die Krugerwildtuin na die Mosambiekse terrein oorgeplaas. Uiteindelik gaan onder meer duisend olifante na die Mosambiekse kant gebring word; dus na ’n gebied waar wilde diere tydens Mosambiek se burgeroorlog meedoënloos uitgeroei is, maar ook die land waaruit die eerste olifante vir die latere Krugerwildtuin dekades tevore geskenk is.
Die verskuiwing van die eerste trop olifante uit die Krugerwildtuin vind plaas op 4 Oktober 2001, op Rupert se 85ste verjaardag. Die eerste oorplasing van grootwild na die beoogde vredespark is vir hom ’n verjaardaggeskenk sonder weerga: die verwesenliking van ’n tien jaar lange droom.
Steeds aan Rupert se sy by hierdie groot eksperiment in die Laeveld is sy eggenote, Huberte. Die sterk en aantreklike vrou is reg deur sy loopbaan, van hul studentedae af, sy steunpilaar en klankbord, die lewensmaat met wie hy ’n week tevore op 27 September 2001 hul diamantbruilof, die sestigste herdenking van hul huwelik in 1941, gevier het.
Rupert sê meermale die idee is sterker as die mens. Sy oortuiging dat niks so onstuitbaar is soos ’n idee waarvoor die tyd aangebreek het nie, is vroeër ook waargeneem deur die ekonoom John Maynard Keynes: “The ideas of economists and political philosophers, both when they are right and when they are wrong, are more powerful than is commonly understood. Indeed, the world is ruled by little else. I am sure that the power of vested interests is vastly exaggerated compared to the gradual encroachment of ideas.”7
Vir Anton Rupert val dit in sy tagtigerjare te beurt dat die idee van vredesparke al hoe wyer posvat – ’n idee wat vir hom, die sakeleier wat deur ’n internasionale handelsmerkdeskundige as die orakel van handelsmerke beskou word, miskien sy grootste en blywendste handelsmerk kon word. Niks sou hom groter bevrediging gee nie as dat so ’n begeesterde, hoopgewende idee internasionaal uitbrei vanuit Suid-Afrika, sy vaderland; die tuiste waarheen hy pal teruggekeer het