Albert Schweitzer oor eerbied vir die lewe. Die Duitse dokter-filosoof en filantroop, wenner van die Nobelprys vir Vrede in 1952, het sy lewe aan die genesing van Afrikane in sy hospitaal in Lambarene in Gaboen gewy. Hy het etiek beskou as niks anders nie as eerbied vir die lewe. “Eerbied vir die lewe gun aan my my fundamentele beginsel van moraliteit, te wete dat die goeie bestaan uit die handhawing, bystand en bevordering van die lewe, en dat om die lewe te vernietig, te skaad of te belemmer, boos is,” het Schweitzer verklaar.
Eerbied vir die lewe word ook weerspieël in ’n aangrypende bronsbeeld in die ingangsportaal van Rupert se kantoorgebou op Stellenbosch. Daar stap besoekers verby die Duitse kunstenares Käthe Kollwitz se Mutter mit Zwillingen, die uitbeelding van ’n moeder wat haar tweeling in haar arms koester.
Op ’n verdieping daarbo in ’n kleinerige kantoor, naas ’n ontvanglokaal waaroor Rodin se Katedraal waak, het Rupert ná sy aftrede sy dagtaak voortgesit.
In sy tagtigerjare loop die eens energieke donkerkop-entrepreneur geboë weens ruggraatverkromming. Hy begin in later jare moeilik lees. Alle korrespondensie en leeswerk moet met behulp van ’n videoskerm op sy lessenaar vergroot word. Sy oogprobleem is dalk die gevolg van ’n sonsverduistering sestig jaar tevore, toe hy en sy jongste broer, Koos Rupert, wat soortgelyke oogprobleme het, in Oktober 1940 op Graaff-Reinet na die algehele sonsverduistering gekyk het deur film wat waarskynlik nie genoeg beskerming vir hul oë gebied het nie. Tipies van Rupert wend hy sy swakker sig as ’n bate aan – soos hy meermale in sy loopbaan ’n nadeel in ’n voordeel probeer omskep het. Omdat hy minder kon lees, bied dit aan hom “die kans om meer te dink”.
Die merkwaardige lewensverhaal van hierdie entrepreneur-weldoener, ’n sakeleier wat as een van Afrika se legendes beskou word, oorspan teen die eeuwisseling byna ’n kwart van die moderne Suid-Afrika se geskiedenis. Dit begin byna nege dekades tevore met sy geboorte tydens die Eerste Wêreldoorlog in sy geliefde Karoo, waar die Rupert-familie deel van die land en die land deel van hulle geword het.
DEEL II
VORMING
Hoofstuk 2
Oos-Kaapse wortels
Die eerste Rupert het in 1857 in Suid-Afrika aangekom. Dié Suid-Afrikaanse stamvader, Rupert se oupagrootjie, was Johann Peter Ruppert (die van is destyds met twee p’s gespel; die een p het mettertyd in Suid-Afrika deur gebruik verdwyn).
Johann Peter was van Duitse herkoms. Hy het uit Pruise gekom, volgens die familieherinneringe vanaf Gräfrath by Solingen. Op sy doodsertifikaat in die Argief in Kaapstad is aangeteken dat hy verder suid in Trier, die oudste stad in Duitsland, gebore is. Hy was dus een van die aansienlike aantal Duitse stamvaders van die Afrikaners – volgens Heese in Die herkoms van die Afrikaners 1657-1867 was 33,7% van die Afrikaners van daardie tydperk van Duitse herkoms, die naasgrootste groep teenoor die Nederlandse aandeel van 34,8%.
Die stamvader van die Ruperts kom in diens van die Britse regering na Suid-Afrika, omdat hy hom ná die uitbreek van die uitgerekte Krimoorlog (1854-’56) aangesluit het by die Britse leër, wat soldate op die Europese vasteland gewerf het. Die oorlog eindig voordat die German Legion, die Britse leëreenheid waarin hy gedien het, na die Swartsee gestuur is.
Die Duitse soldate vir die oorlogspoging kry toe die keuse om as vrywilligers na die Kaapse oosgrens te gaan. Die Britse regering, swaar getref deur die koste van die Oos-Kaapse grensoorloë, was begerig om militêre pensioentrekkers aan die grens op kleinhoewes te vestig sodat hulle geredelik vir militêre pligte opgeroep kon word.
Voor sy koms was Johann Peter Ruppert by Colchester, noordoos van Londen, gestasioneer as lid van die German Legion, onder bevel van die flambojante generaal-majoor baron Richard von Stutterheim. Die jong krygsmanne wat vir emigrasie na Brits-Kaffraria gewerf is, is aangemoedig om voor hul vertrek te trou weens die tekort aan vroue in die Kaap.
Ruppert tree op 19 Oktober 1856 op agttienjarige leeftyd in die huwelik met ’n Engelse meisie van Colchester, Emma Susanna Grandfield-Crosby, ’n jaar jonger as hy.
Teen daardie tyd was die destydse Kaapkolonie aan die seeweg na die Ooste so voorspoedig soos nog nooit tevore nie. Die wol- en wynhandel floreer, en die owerheid kon met grootse openbare projekte begin. Geskoolde arbeid was egter skaars, sodat immigrasie aangemoedig moes word.
Daar was twee oorsake van die arbeidstekort.
Die een was die pokke-epidemie van 1857, wat die lewens van baie vakmanne en werkers geëis het. Die ander was die Xhosas se nasionale selfmoord van 1857, die gevolg van gesigte wat die profetes Nonqwase sou gesien het.1
Altesame 2 362 offisiere en manskappe van die German Legion, vergesel van net 361 vroue en 195 kinders, is teen 1858 gevestig in die gebied wat in daardie tyd drasties ontvolk is, die latere Ciskei. Nog 2 700 Duitse burgerlike setlaars, vriende of familie van die militêre setlaars sluit hulle daarna by die groep aan.
Johann Peter Ruppert (manskap no. 1678, in die derde kompanie van die tweede regiment van die German Legion) het per skip in Oos-Londen geland. Volgens oorlewering was hy musikaal aangelê en het hy die viool in die militêre orkes gespeel.
Hy word aanvanklik gestasioneer op Berlin, een van die Oos-Kaapse dorpe wat soos Hamburg, Stutterheim, Braunschweig en Frankfort, ’n Duitse naam gekry het. Grond is daar aan hom toegeken.
Die poging met die Duitse setlaars in die bufferstrook verloop egter nie soos die Britse owerheid beoog het nie. Die grensprobleme het afgeneem, en met die uitbreek van die Indiese muitery kort daarna vertrek meer as duisend lede van die German Legion vrywillig na Indië. Net 386 keer terug. Weinig van die Duitse setlaars kon ook suksesvol boer, want hul kleinhoewes was te klein, net 5 acre, en meesal ongeskik vir landbou. Teen 1861 word die German Legion ontbind.
Ruppert en sommige ander setlaars verhuis gevolglik na Graaff-Reinet, waar die Ruperts ’n blywende invloed sou hê. Ook dáár was ontvolking weens die Groot Trek. Nogtans was Graaff-Reinet teen die middel van die negentiende eeu een van die grootste dorpe in Kaapland, en ook een met ’n besonder kleurryke geskiedenis.
Die dorp, gestig in 1786 as die vierde distrik in die land en dus geregtig op ’n drosdy ofte wel ’n setel van plaaslike bestuur, is uit die oostelike gedeeltes van die distrikte Swellendam en Stellenbosch saamgestel. Dit is genoem na goew. Cornelis Jacob van de Graaf en sy vrou, Cornelia Reynet, en het gestrek van die Gamtoos in die weste tot die Groot-Visrivier in die ooste, en van die Indiese Oseaan tot ’n paar kilometer van die Garieprivier, dus van die Xhosas in die ooste tot die Griekwas en San in die noorde. Met die stigting is die distrik deur 600 boeregesinne bewoon.2
Graaff-Reinet raak populêr bekend as die eerste Boererepubliek weens die opstand van Graaff-Reinetters wat in 1795 die gesag van die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie verwerp. Die opstand is gelei deur Adriaan van Jaarsveld, wat reeds voor die proklamering van die distrik as militêre kommandant aangestel is.
Twee Oos-Kaaplanders wat landwye bekendheid verwerf het, Andries Stockenström (1792-1864) en ds. Andrew Murray (1794-1866), is daarna as die ware stigters van die dorp beskou.
’n Indrukwekkende kerkgebou en pastorie (later Reinethuis) is opgerig en die eerbiedwaardige ds. Murray het moderator van die sinode van die NG Kerk geword. Naas hom was lede van die Londense Sendinggenootskap op Graaff-Reinet aktief, onder wie dr. John Philip en dr. J.T. van der Kemp, stigter van die sendingstasie Bethelsdorp.
Landdros (later luitenant-goewerneur) Stockenström stel die stelsel van plaaslike bestuur in, lê die dorp in strate en erwe uit en laat watervore aanlê. Hy was slegs 23 toe hy in 1815 as landdros aangestel is, en hy verwerf roem as een van die mees invloedryke en versiende Oos-Kaaplandse leiers. Sy siening van medebestaan in die onstuimige grensgebied sowel as die twee beginsels vir die lewe – waarheid en geregtigheid – wat hy aanhang en teenoor onder andere die Britse sendelinge voorstaan, stem grootliks ooreen met die filosofie waarmee Anton Rupert ’n eeu later uit Graaff-Reinet kom.
Vroeë reisigers in die binneland gee vleiende beskrywings van Graaff-Reinet as die “Juweel van die Karoo”, die dorp met ’n groot aantal indrukwekkende geboue wat in