die golwe in my kop my nie diepwater toe kan sleep nie.
My ma hou nie daarvan nie, maar sy erken darem dat dit beter is as om my naels te kou of te binge. Solank ek net nie in die huis rook nie en ook nie by die skool nie, sê sy.
Ek rook klaar en gaan badkamer toe. Die vertrek ruik nog na my ma se badskuim. Ek maak die muurkassie oop. Sy’t vanaand vergeet.
Ek vat die happy pill en ’n glas water vir haar. “Ma?”
“Kom in.”
Sy sit voor haar spieëlkas. Waar ander mense juweelkissies en beeldjies op hulle spieëlkaste het, het my ma ’n shrine gebou. Vir my pa.
Voor hulle troufoto lê sy horlosie en mansjetknope. Tot sy kam. Ek sweer as ’n mens mooi kyk, sal jy nog een van sy hare daarin kry.
“Hier’s Ma se pilletjie.”
“O, dankie. Jy moet lekker slaap, my skat.”
Ek soen haar op haar hare. Dit ruik soos appels. “Dankie. Ma ook.”
Ek bad klaar en lê lank op my bed en luister na Roxette, totdat die musiek die golwe wat in my ore suis, stil gemaak het en ek uiteindelik aan die slaap kan raak.
Die volgende oggend, nog voor die son behoorlik op is, gaan die klokradio aan. Ek sukkel om uit droomland te kom, totdat ek die datum op die klokradio sien.
My pa se verjaarsdag.
Oukei, Clarissa, stay in the moment.
Ek staan op en trek my T-shirt en sweetpak aan. Dis lekker buite so vroeg in die oggend. Die dag is nog vol potensiaal – mens kan actually nog hoop vandag gaan beter as gister wees.
Hoop. Die famous vierletterwoord in my lewe.
Die huise en bome flits by my verby toe ek begin draf. Ek is heeltemal verslaaf aan hardloop. Dis seker maar die endorfien. As dit nie daarvoor was nie, was ek lankal op twee pakkies sigarette en vyf pizzas per dag en het ek dalk nog drugs op die sideline gedoen ook.
As ek hardloop, voel dit of my lyf een groot, awesome masjien is, met elke deel wat presies weet wát om wánneer te doen. Ek kan voel hoe my longe tot teen my ribbes uitsit en hoor hoe my hart die bloed en suurstof tot in elke spier en elke sel pomp.
Om my ma gelukkig te hou, hou ek mooi by die roetes wat ek vir haar met ’n rooi koki-pen op ’n straatkaart van die dorp moes trek.
“As ek jou moet gaan soek, moet ek darem weet wáár om te soek,” het sy gesê.
Ek dink dis omdat sy bang is ek verdwyn ook soos my pa.
Terug by die huis stort ek, eet my Kellogg’s en stap skool toe. Ek gaan wag vir Penny by die scooters en motorfietse se afdak.
Die klok gaan al amper lui toe sy daar aangesuiker kom. “Waar bly jy?” vra ek terwyl sy haar helmet afhaal. Haar kort hare lyk vir my vreemd, maar ek probeer om nie daarna te kyk nie.
“My ma het al weer haar karsleutels weggesmyt en almal moes help soek,” sê Penny vies terwyl ons vierkant toe loop.
Penny se ma het ’n blomwinkel. Penny sê die winkel is eintlik net ’n stokperdjie, want haar ma het vreeslik baie geld geërf.
Penny se ouers is vir my nogal ’n vreemde couple. Die tannie is kort en rond en die oom lank en maer, met ’n hengse skerp neus. Hy is ’n landdros en as hy sy toga aanhet, lyk hy vir my nes ’n kraai wat te lank op ’n diet was.
Ons loop deur die palmlaning tot by die vierkant. Ons het skaars ons tasse neergesit, of die klok lui.
“Teiken op drie-uur,” sê Penny toe ons saal toe stap.
Ek kyk na regs. Dié jaar se hoofseun, Wilhelm Pienaar, staan by die deur en probeer die bondel nuwe graadagts so naastenby in rye in die saal te laat instap.
Die nuwe klomp lyk – soos die res van die skool – na ’n nice mix: Afrikaners en Engelse, Sotho’s en Zulu’s.
Terwyl onse hoofseun ’n oog oor die rainbow nation hou, kry ek kans om hom goed te bekyk. Sy ligte hare krul nog effens nat bokant sy hemp en baadjie, asof hy pas gestort het. Too delicious.
Ek en Penny het van die begin van verlede jaar af soort van ’n jaarlikse weddenskap met Duane aan. Wie ook al die jaar hoofseun is, ek moet sorg dat ons tweetjies voor die helfte van die jaar ’n item is. As ek dit regkry, moet Duane vir my en Penny elkeen ’n nuwe outfit koop, en as ons verloor, moet ons vir hom een koop.
Ek het laas jaar se hoofseun, Ruben Scott, al vroeg in April gehoek. Hy was Engels en bruin en het in die koshuis gebly. Hierdie jaar is dit die wit boertjie Wilhelm se beurt.
“Hallo, Wilhelm,” groet ek liefies toe ons by hom verbystap. Sy oë blink toe hy my teruggroet.
“Mooi so,” fluister Penny toe ons agter in die saal gaan sit. “Ons kan solank begin dink watter outfits Duane vir ons moet koop.”
Ons staan op toe Miss Sweeney begin klavier speel. Ons sing die boring skoollied eers in Engels en toe in Afrikaans. Dis omdat ons skool ’n baie eksklusiewe dubbelmedium-privaatskool is. Behalwe vir Palm Lane High, is daar nog ’n Engelse en ’n Afrikaanse skool op die dorp ook.
Net die heel rykstes op die dorp kan Palm Lane se skoolgeld bekostig. Nie dat ek en my ma ryk is nie – ek het ’n beurs gekry omdat ek slim is en vir die res van die skoolgeld sorg die polis wat my pa vir my uitgeneem het toe ek gebore is.
Ná saalopening het ons Afrikaans by ’n nuwe onderwyseres. Milla Notnagel, staan op die bord geskryf.
“As my van Notnagel was, het ek dit eerder verander na Snotsnawel,” sê ek kliphard terwyl ons instap, maar darem eers nadat ek seker gemaak het sy is nog nie in die klas nie.
Almal lag vir ’n paar sekondes, en word toe stil. Ek draai stadig om. ’n Lang vrou met rooi pennetjieshare staan in die deur. Dan stap sy reg op my af.
Ek hou my asem op. Die jaar het nog skaars begin of my mond het my in die moeilikheid. Maar dalk het sy my nie gehoor nie.
Sy vra my naam.
“A, dan is jy die redakteur van die skoolkoerant. Interessant.” Dan beduie sy na die stapels handboeke voor in die klas. “Kry vir jou ’n paar handlangers en deel julle taalkundehandboeke uit, asseblief.”
Ek knik. “Goed, Juffrou.” Hoekom is sy so geïnteresseerd in die skoolkoerant?
Ons het net begin boeke uitdeel, of daar is ’n klop aan die deur. Die ou wat in die deur staan is tall, dark en bitterlik handsome. Boonop het hy ’n gorgeous Hollywood-glimlag. Hy stap in en – sowaar as vet – gaan skud hand met juffrou Notnagel.
“Môre, Juffrou,” sê hy met ’n effense Engelse aksent. “Ek is Jason Cameron. Jammer ek is laat; ek is nuut en kon nie dadelik die klas kry nie.”
Sy kyk na hom asof hy aangekondig het dat hy die Nobelprys vir letterkunde gewen het. “Alles reg. Kry vir jou ’n sitplek.”
Ons sit skaars, of juffrou Notnagel begin met die eerste hoofstuk in die handboek. Gelukkig lui die klok voor sy vir ons huiswerk kan gee.
“Jason en Clarissa, sal julle asseblief vir ’n oomblik agterbly?” vra sy.
Dan hét sy my netnou gehoor.
Penny kyk bekommerd oor haar skouer toe sy sonder my deur toe stap. Ek glimlag een van my cool glimlagte en waai vir haar.
“Clarissa, die skoolkoerant is deel van my naskoolse verpligtinge, so ek sal toesig hou daaroor,” sê juffrou Notnagel dan.
Ek staar na die vrou asof sy Russies praat.
Ek run die Palm Review al vir meer as ’n jaar sonder dat ’n onderwyser oor my skouer loer. Ek plak ’n mooi glimlag op. “Juffrou hoef nie bekommerd te wees nie, ek kom heeltemal goed reg as redakteur. Ons het