Nelia Engelbrecht

Die vierletterwoord


Скачать книгу

      “Honderd meter en diskus.”

      “Wow, dis nice. Jy gym seker baie – jy lyk goed.”

      Hy glimlag. “Jy lyk self nie sleg nie – lyk of jy lekker getan het die vakansie.”

      Ek glimlag vir hom. Ek moet seker vir Duane dankie sê – ek en Penny het amper die hele vakansie langs hulle swembad gelê.

      Dan versnel ek my pas. “Sien jou,” roep ek oor my skouer. Hy begin natuurlik ook dadelik vinniger draf, nes ek verwag het.

      Dis die ding van lang afstande – baie ouens dink as hulle sterk en vinnig is, het hulle genoeg stamina om by te hou. Ek kan ure lank teen hierdie pas aanhou, hy nie. Te groot en swaar.

      Nie lank nie, of hy blaas soos ’n stoomtrein langs my. Dan begin hy uitsak. Ek kyk om en glimlag vir hom. “Baai.”

      Hy probeer nog een keer om my in te haal, toe gee hy maar op. Ek kyk om. Hy staan vooroor gebuig met sy hande op sy knieë.

      Wow, Clarissa het die held kapoet gehol.

      “Jy moenie die man se ego so mishandel nie,” waarsku Penny my toe ek later paviljoen toe gaan.

      “Moenie worry nie, ek sal later weer ’n pleistertjie op­plak,” sê ek terwyl ek my gesig afvee. “Gee aan my waterbottel?”

      Penny haal dit uit my atletieksak. “Hier.”

      Sy het haarself al op laerskool aangestel as my bestuur­der. Ek los haar maar, want sy weet nogal waarvan sy praat – sy lees baie oor lang afstande op die internet.

      By die huis is daar ’n silwer BMW in die oprit. Seker een van my ma se kliënte. Ek loop agterdeur toe. Ek is nie nou lus vir vreemde mense nie.

      “Hallo, Clarissa,” groet my ma toe ek instap.

      Daar sit ’n vreemde man by ons kombuistafel. Hy het ’n ligblou hemp aan en ’n bloupers das hang losserig om sy nek. Sy swart hare het grys strepies in. Hy’s nogal aantreklik, so op ’n Richard Gere-manier.

      “Dis ons nuwe bestuurder, meneer Cameron,” stel my ma die man voor.

      Dis creepy. Jason se van is ook Cameron.

      Die man steek sy hand uit na my. Die hand lyk bekend. Dit lyk soos die een wat gister op my arm was. Ek kyk op na die man agter die hand. Hulle het dieselfde oë, dieselfde smiley face.

      Dit moet sowaar Jason se pa wees.

      “Clarissa?” My ma kyk fronsend na my.

      Ek het seker nie ’n keuse nie. Ek skud sy hand. “Aange­name kennis,” mompel ek terwyl ek na die yskas agter hom kyk.

      “Meneer Cameron het my huis toe gebring. My kar se battery was pap toe ek wou ry.”

      “O, dis gaaf,” sê ek. “Gelukkig het Penny se pa kabels – hy sal ons help om die battery te laai.”

      “Dis nie nodig nie,” sê my ma. “Alex het ’n battery­laaier. Hy het reeds die battery uitgehaal en sal dit oornag by sy huis laai.”

      Ek moet keer of my kakebeen val oop. Alex? Wat het van meneer Cameron geword?

      Jason se pa staan op en sit ’n leë koffiebeker in die was­bak neer. “Nou ja, ek moet seker aanstaltes maak.” Hy glimlag vir my ma. “Dis dan afgespreek, Alison, ek kom laai jou môreoggend op werk toe.” Dan draai hy na my. “Bly om jou te ontmoet, Clarissa.”

      Ek knik en lig my een mondhoek effens.

      “Ek stap saam buitetoe,” sê my ma.

      Ek loop kamer toe en gooi my atletieksak dat hy doer trek. Ek ruk van my boeke uit my tas en begin huiswerk doen. Ek kyk op toe my ma in die deur kom staan.

      “Meneer Cameron sê vir my sy seun is ook in Palm Lane,” sê sy.

      O, nou is dit weer menéér.

      “Hy is glo in dieselfde graad as jy,” praat sy verder. “Het jy hom al raakgeloop?”

      “’n Mens kan maar so sê, ja.”

      “En?”

      “En niks.” Ek staar intens na my algebraboek.

      “Ek sal jou roep as die kos reg is.”

      Terwyl my ma kos maak, stuur ek vir Penny ’n SMS oor Jason se pa wat sowaar my ma se baas is.

      Soos altyd het Penny nie veel simpatie met my nie. Sy dink nog steeds Jason is God’s gift to Palm Lane.

      Ek kry die laaste woord in: Kry vi jou. Moet nou gan. Bi.

      Ek gaan lê op my bed en druk my iPod se oorfone in my ore. As ek bietjie af voel, hou ek daarvan om na Leonard Cohen se sad songs te luister. My lewe lyk sommer beter as ek hoor hoe goor iemand anders s’n is.

      Die volgende middag staan ons klomp nog so op die atletiek­baan en strek toe die heks op haar besem aange­vlieg kom.

      “Middag, julle. Vir dié wat nog nie weet nie: ek is juffrou Notnagel en ek gaan vanjaar die lang afstande en die landloop afrig.”

      Ek dag amper ek kraam net daar. “Waar’s meneer Croucamp dan?”

      “Hy het vanjaar oorgeskuif middelafstande toe.”

      Soos verwag, is die oefensessie ’n disaster. Ek kry glad nie ritme nie. Ek vergeet selfs om uit te kyk vir Wilhelm.

      “Jy hol reg langs die man verby en jy sien hom nie eens raak nie,” raas Penny ná die tyd terwyl ek my sweetpakbroek aantrek. “Ek kon sien hoe hy na jou kyk.”

      “Tough luck,” brom ek terwyl ons na haar scooter toe stap.

      “Jy moet fokus, vriendin. Jy moenie toelaat dat juffrou Notnagel jou atletiekloopbaan én ons hoofseun-projek verongeluk nie.”

      By die huis wag my ma in die kombuis met ’n brokkie Cameron-nuus.

      “Meneer Cameron het sy personeel genooi vir ’n braai by sy huis. Hy wil graag ons gesinslede ontmoet. Sy seun gaan glo van julle vriende ook nooi.”

      “Ek hoop nie Ma het gesê ek kom saam nie?”

      “Natuurlik het ek.”

      “Hoe kan Ma sommer ’n uitnodiging namens my aanvaar?”

      My ma frons. “Ek het nie geweet jy het iets anders aan môreaand nie?”

      “Ek het nie, maar …”

      “Gaaf, dan is dit afgespreek,” val sy my in die rede. “Ons moet sewe-uur daar wees. Ek sien nogal uit daarna. Ons het lanklaas saam met mense gekuier. Dit raak soms eensaam, so sonder …”

      Haar sin rafel uit. Sy staar dwarsdeur die stoof. As sy so treurig lyk, smelt my ysige hart.

      “Oukei dan. Solank ons net nie te laat bly nie,” sê ek en loop kamer toe.

      Dis alles my pa se skuld. As hy hier was, sou ons Vrydag­aand gaan fliek het.

      Dis deel van die make-believe-lewe wat ek vir ons uitgedink het. Vrydagaande is fliekaande en Saterdag­aande sit ons drietjies buite onder die afdak en braai tjops en wors. Sondae gaan ons saam kerk toe en agterna gaan eet ons ribbetjies by die Spur.

      Ja, right.

      Ek haal my boeke uit en begin met my huiswerk.

      Конец ознакомительного фрагмента.

      Текст предоставлен ООО «ЛитРес».

      Прочитайте эту книгу целиком, купив