Deon Meyer

Ikarus


Скачать книгу

      Sy huil eers met die uitstap na die parkeerterrein, geflank deur haar twee vriendinne. By ’n wit Honda Jazz moet hulle ongemaklik staan en wag terwyl die vroue haar in ’n omhelsing vertroos. Wanneer sy bedaar het, sê Cupido hy sal graag met haar wil praat.

      “Net nie vandag nie,” antwoord sy en begin weer troosteloos huil. Die vriendinne kyk verwytend na Vaughn, asof hy alles veroorsaak het.

      Hy vra vir haar kontaknommers en adres. Sy snik dit uit. Hy maak notas op sy selfoon.

      Dit is al ná halfagt in die aand toe die Honda by die hek van die lykshuis uitry. Die son is nog nie onder nie.

      “Is jy suur oorlat ons die saak vat, of is jy altyd so unsympathetic met victims se relatives?” vra Cupido vir Jamie Keyter.

      “Wat het ek gedoen?”

      “Ek is genuine nie die most tactful cop in die service nie, maar fokkit, Jamie, dis ’n painful situation as ’n ma vir haar kind kom identify. Al is hy groot. Any fool can work that one out. Dit vat ’n bietjie finesse. Jy kan mos sien die antie vat stres, ma’ dis net ‘Is jy reg?’ Watse bedside manner is daai?”

      “Dis hoekom ek haar gevra het of sy reg is.”

      “Daar’s maniere, Jamie, fuck knows … Het jy die docket gebring?”

      “Daar is nog nie ’n docket nie, ek het nog nie tyd gehad vir niks nie, want niemand weet wie se saak dit is nie en ek moes eers die slagoffer laat uitken …” sê hy gekwets.

      “Dis nou ons saak. So ek expect jou om die docket te gaan kick-start. Ek soek vanaand nog jou Part A, en ek soek ’n comprehensive SAPS5 teen môreoggend …”

      “Ek het net een ou ondervra, die een wat die lyk gekry het …”

      “Dan gaan sit jy dit in jou Part A, Jamie. Of wil jy hê ons moet van voor af begin …”

      Cupido se selfoon lui. Hy haal dit uit, sien dis Bennie wat bel. Die verligting spoel oor hom.

      “Benna!”

      “Nee, Vaughn, dis Arrie September van Cape Town Central.” ’n Oudkollega, nou bevelvoerder van die SAPD-stasie wat vroeër as Caledonplein bekend gestaan het. “Ek bel van Bennie se foon af – dis waar ek jou nommer gekry het.”

      “Waar’s Bennie?”

      “Ek het hom hier in die selle. Hulle’t hom ingebring op ’n drunk and disorderly, en ek wil nie sy C.O. bel nie, jy weet watse moeilikheid dit gaan maak.”

      “Jissis, Arrie, baie dankie. Hou hom net daar, moet hom nie boek nie, asseblief. He’s had a very bad day. I’m on my way, give me ten.”

      “Hy’t ’n ou glo assault, Vaughn.”

      “Assault? Bennie?”

      “Ek sal die details uitvind, ma’ jy moet maar aankom,” sê September en lui af.

      Cupido draai om na Keyter toe en hy kan sien die adjudant het met groot aandag geluister.

      * * *

      Op pad Buitenkantstraat toe bel Cupido vir majoor Mbali Kaleni. Hy hoor die TV op die agtergrond toe sy antwoord. Seker al by die huis, met blomkool op die stoof.

      Hy sê vir haar hulle het ’n positiewe uitkenning van Ernst Richter, hy wag nou vir die dossiere van Table View en Stellenbosch. “… and I’ve just spoken to Bennie, he’s having cellphone issues. We’re meeting in town in fifteen minutes.”

      “Thank you, captain. Have you called Cloete?”

      “It’s the next thing on my list.” Wat waar is, want hy het die Ernst Richter-klok destyds hoor lui, maar hy is nie doodseker waar die bel hang nie. Hy wil nie nou hê Kaleni moet dit weet nie.

      Vir wat het sy vir hom JOC-leier gemaak?

      Hy ken vir Kaleni. Daai Zoeloe is slim. Stadig en anal, by the book, verskriklik irriterend en konserwatief. Maar slim. Sy is aan die scheme. Altyd. Wat is haar scheme nou, met hom?

      Maak vir Vaughn JOC-leier lat hy kan wys hoe useless hy is? Lat hy kan sien sy moes die senior jop gekry het, en nie hý nie?

      Fuck that, pappie. Hy sal vir haar wys.

      Hy skakel kaptein Cloete se nommer so in die ry.

      “Vaughn?” antwoord die mediaskakeloffisier met die geduldige stem, al moet hy weet dit beteken dié tyd van die aand moeilikheid.

      “John, jy weet van daai Ernst Richter wat missing gegaan het so ’n paar weke terug?”

      “Ja,” antwoord hy met ’n sekere gelatenheid.

      “Hy is nou net ge-ID as die ou wat Table View uit die sand uit opgegrawe het vanmiddag.”

      ’n Lang stilte.

      “John, is jy daar?”

      “Ek het net gou gebid.”

      “That bad?”

      “Ek neem aan hy is nie aan natuurlike oorsake dood nie.”

      “Definitief foul play, ma’ ons moet mooi trap, John, die docket is nog in limbo. Ons het die case eers ’n paar uur terug gevang, en ek is in transit.”

      “Net ’n oomblik … Okay, gee my wat jy het.”

      “Body of a man recovered from the dunes north of Blouberg this afternoon was positively identified as that of Ernst Richter, who went missing … en dan moet jy die regte datum insit. Directorate of Priority Crimes’ Serious and Violent Crimes Group are investigating, more info as soon as blah, blah, blah. Dis genuine al wat ek het.”

      Die lyn is stil terwyl Cloete aantekeninge maak. Dan vra hy: “Wie’s die JOC-leier?”

      “Daai’s ek.”

      “Vaughn, dis nie genoeg nie.”

      “Hoe meen jy?

      “Dié ding gaan ontplof, Vaughn. Dis die grootste storie sedert Pistorius. En Dewani. Die media gaan mal word. Ek sal hulle moet voer.”

      Cupido se hart sink. “Toe Richter missing gegaan het, was ek en uncle Frankie Fillander op die Somerset-West hijackings, so ek het die hype gemis. Kan jy vir my die clippings laat kry?”

      Dit neem ’n oomblik voor Cloete snap: “Jy weet nie wie Richter is nie.”

      “Ek sê jou mos, ek het nog nie eens die missing person report gesien nie. I’ve been on this case for two hours. Ek weet Richter was notorious vir iets op die internet. Porn …?”

      “As dit maar pornografie was. Hy’s die ou wat Alibi … Luister, die vinnigste en die maklikste is as ek vir jou ’n klomp links stuur. Voor ek die verklaring uitreik. Want as dié aap uit die mou is, gaan dit chaos wees. Vir my en vir jou.”

      * * *

      Brigadier Arrie September sluit die sel vir Cupido oop. Hulle stap in en sien Bennie Griessel waar hy op sy rug lê, sy mond oop, sy oë toe. Hy snork lank en luid.

      “Ai, fok, Benna,” sê Cupido.

      “Ons sal hom hier moet uitkry, Vaughn,” sê September. “Voor ek tjaila.”

      “Wie weet almal?” vra Cupido terwyl hy langs Griessel op die kaal betonbankie gaan sit. Hy sien daar is ’n bloupers kneusmerk aan sy kollega se wangbeen.

      “Net ek en die twee uniforms wat hom ingebring het. Maar hulle sal stilbly.”

      “He’s had a really bad day. Ek weet nie of jy van Vollie Vis gehoor het nie …”

      “Ek het. Daai’s tragies, my broe’. Ma’ Bennie het gaan staan en slaan aan twee Hase. En die Fireman’s Arms se mense is ook baie unhappy oor die moleste. Hulle praat van aankla.”

      “Benna moes nooit na Vollie Vis gestuur gewees het nie. Sy kop was nog nie reg ná die Giraffe se